Pick your preferred language

English

Afrikaans

Successfully reported

North West

+25

Beskrywing

“O, Magalies, o, Magalies, o, Magaliesberg, Bob’jane boggom in Magaliesberg. O, Magalies, o, Magalies, o, Magaliesberg. Tarentale trippel om die boer te terg. Die Kwêvoël kwê in die doringboom. Die wildegans droom op die waterstroom...” Tussen die rooibruin mure van die Magaliesberge, die wildernis van Botswana en die vlaktes van die Karoo, lê Suid-Afrika se Noordwes provinsie. Hier is natuurskoon en avontuur soos Vinkel en Koljander. Sweef met 'n lugballon oor die vlaktes, gil in die Valley of the Waves en klim die berge – in hierdie provinsie kan jy behoorlik speel. Talle natuurreservate, kostelike dorpies en Sun City maak uitstekende bestemmings vir 'n naweek-wegbreek. Kom boggom saam bobbejane, trippel saam tarentale en bly saam met LekkeSlaap, dit gaan moeilik wees om die Noordwes te verlaat!

In die Noordwes kan jy aan die natuur jou hart ophang. Tussen die Magaliesbergreeks en die Vaalrivier is 'n bosveldlandskap waar wild wei, en jy kan maar in die winter Noordwes mik as jy die Groot 5 wil sien. Twee voortreflike wildsreservate is in die Noordwes geleë – Pilansberg en Madikwe. Wat Madikwe so uniek maak, is dat dit deur ekonome bekragtig is. Die area het aanvanklik uit veeplase bestaan, maar dit is saamgesnoer om Madikwe te vorm en volhoubare werkskepping te verseker. Tydens hierdie projek was daar meer as 8000 diere na Madikwe oorgeplaas – die grootste wildverplasing ter wêreld! Vandag bied Madikwe 'n pragtige omgewing en uitstekende wildritte aan besoekers. As jy in Gauteng bly, is Pilansberg ook 'n gerieflike plek om die Groot 5 te sien, omdat dit slegs 2 ure van Johannesburg af is. Alhoewel die park tydens wintermaande en naweke redelik besig kan raak, is dit lekker om op 'n Vrydag nog voor sonsondergang te arriveer en 'n olifant langs die pad te sien.

Die Noordwes sal 'n avontuurlustige smaak bevredig, want hier is eindelose pret en vermaak. Die Mekka hiervan is sekerlik Sun City, wat Suid-Afrika se eie Las Vegas is. Net soos die Amerikaanse stad verrys Sun City soos 'n oase in die Noordwes vlaktes. Sun City is meer 'n stad as 'n pretpark, veral wanneer mens die grootte en verskeidenheid aktiwiteite in ag neem. Teaterliefhebbers en sosiale vlinders kan hulself verlustig in Sun City. Die uitspattige Afrikaanse konsert, Skouspel, en die Mej. Suid Afrika-skoonheidskompetisie vind jaarliks hier plaas. Kom pronk saam en waag 'n kans in die kasino, of geniet 'n fynproewersmaaltyd in een van die talle restaurante. Adrenalienvrate kan ure spandeer in die pretpark en 'n rondte gholf speel by die wêreld-bekende Gary Player Country Club, waar die Nedbank Golf Challenge jaarliks gehou word. Terwyl jy gepamperlang word in die spa, kan die kinders baljaar by Kamp Kwena, 'n speelpark met trampoliens en kinder-vriendelike aktiwiteite. In Sun City is daar nie tyd vir verveeld-wees nie.

Slegs 200 kilometers, maar wêrelde ver van Sun City se weelde en spog, lê die pragtige dorpie van Groot Marico. Hier leef die vriendelike mense naby aan die aarde. In Groot Marico is daar nou weer nie tyd vir 'n gejaag nie – die kerkklok het nie horlosiearms nie en die inwoners gebruik nog 'n telefoonsentrale. Groot Marico was Herman Charles Bosman se hartsplek, hy het in Marico Revisited geskryf: “daar is geen ander plek met só 'n gelaaide atmosfeer nie, 'n atmosfeer wat op 'n vreemde en misterieuse wyse 'n lewensgees vasvang, outentiek aan Suid-Afrika.” Groot Marico is geleë tussen Swartruggens en Zeerust, langs die oewers van die Maricorivier. Alhoewel die dorpie klein is, is die stories groot en die aktiwiteite volop. Daar word elke Oktober 'n Herman Charles Bosman-fees gehou, en daar is jaarliks 'n Marico Bergfietsresies vir die avontuurlustiges. Besoek dwarsdeur die jaar die dorpie vir 'n plaaslike mampoer-toer, of gaan snuffel in kunswinkeltjies. Hier kan jy ook net rus, jou skoene uitskop, en jou stadsjapie klere verruil vir kakies.

Tussen Gauteng en Noordwes rus die Magaliesberge en die Hartbeespoortdam. In die rooi Magaliesberge kan jy staproetes aanpak, wat kronkel tussen die klowe en verby helder watervalle. Dit is ook 'n uitstekende omgewing om voëls te kyk, want daar is meer as 300 spesies wat hier nesmaak. Die Hartbeespoortdam is 'n gewilde naweekbestemming vir Pretorianers, hier kan jy ure lank op en in die water baljaar. Die mense wat hulle voete wil droog hou, kan met vierwielmotorfietse ry of selfs in die lug met 'n valskerm sweef. In die Magaliesberge en Hartbeespoort distrik is daar verskeie lugballon-operateurs, wat 'n wonderlike aktiwiteit is vir 'n spesiale geleentheid of om sommer dit van jou emmerskoplysie te skrap. 'n Halfuur se ry van Hartsbeespoortdam is een van min binnelandse duikplekke in Suid-Afrika – Miracle Waters. Die watergat is 'n ou myn waarin skoon water vanuit 'n ondergrondse fontein spruit. Die dam is 33 meter diep en daar is 'n bus, vliegtuig, helikopter en twee seiljagte wat duikers kan verken.

Die Noordwes se beeldskone natuur weerspieël avontuur en ontspanning. Vlaktes met doringbome, rooi kranse en riviere roep jou naam. Antwoord op Noordwes se roepstem saam met LekkeSlaap, ons het spog akkommodasie en die beste slaapplekke.

Kaart

As jy al so ver gekom het, het jy dit duidelik geniet om oor North West te lees! Hoekom maak jy nie 'n vakansie daarvan nie? Kliek hier om meer akkommodasie–opsies in North West te sien.
Sien Akkommodasie
Kliek hier om meer akkommodasie–opsies te sien
Kliek hier om terugvoer te gee. Laat weet ons asb. as iets op dié webblad verouderd of onakkuraat is.