Droom jy al jare daarvan om die ongelooflike Baviaanskloof in jou 4×4 of op jou bergfiets te verken of brand jy net om terug te keer nadat jy jare gelede daar was? Dan is dit tyd om jou volgende avontuur in hierdie wildernisarea te beplan, en met dié kompakte gids en LekkeSlaap se eenvoudige besprekingstelsel kan dit nie makliker wees nie! 

Die Baviaanskloof-omgewing in die Oos-Kaap sluit unieke Karoodorpe soos Steytlerville en Willowmore in wat elkeen ’n besoek op hulle eie werd is, maar vir nou verken ons eers die Baviaanskloof-wildernisarea van wes tot oos. 

’n Tipiese plaastoneel in die Baviaanskloof.

4×4 in die Baviaanskloof

Dié wêreldbekende kloof strek vir sowat 200 kilometer tussen die Baviaanskloofberge in die noorde na die Kougaberge in die suide met ’n enkele grondpad en talle bergpasse wat daardeur kronkel. Die naam Baviaanskloof, wat van Nederlands afgelei is, beteken die “vallei van bobbejane” en jy kan sien waarom Kees en sy familie so gaande oor dié enorme, bergagtige omgewing is. Die reservaat is onlangs tot ’n Wêrelderfenisgebied verklaar en is vir sy ongetemde natuurskoon met majestueuse berge, plantspesies wat sewe van Suid-Afrika se agt biome verteenwoordig, ’n ryk voëllewe, wild en eindelose avonture bekend! 

Op pad na een van die uitkykpunte op die roete.

Dis elke 4×4-entoesias se droom met 42 rivierkruisings wat ietwat uitdagend kan wees gedurende die reënseisoen en vreesaanjaende bergpasse met steil afgronde wat deur Thomas Bain gebou is. Die uitsigte slaan jou asem om elke nuwe kronkeling weg, maar daar is darem genoeg aftrekplekke om ’n vinnige fotosessie in te werk en die natuurprag in te neem. 

Aktiwiteite in die Baviaanskloof

Indien jy nie lus is vir rondry nie, is daar ook tientalle aktiwiteite en besienswaardighede by verblyfplekke in die kloof, insluitend voetslaanroetes, bergfietsroetes, rotsklim, visvang en voëlkyk. Een van die hoogtepunte op die roete is die voetslaanroete deur ‘n nou kloof in die berge by Bo-Kloof Guest Farm met sy onverwagse natuurtonele ─ julle sal net self moet gaan om dit te beleef!

Dis ook die moeite werd om by die hele rits besienswaardighede op die roete te stop, ’n foto te neem en bene te rek. Daar is interessante rotsformasies, veral aan die Willowmore-kant van die roete, wat oor die jare heen vernoem is en met bordjies aangedui word. Die roete begin naby die Baviaanskloof Sleutel ─ ’n rots wat die vermoë het om die hele roete vir ewig te versper. Dan is daar ook die Sewe Dwergies, ’n versameling ronde rotse in die berg, wat maklik vanuit die voertuig sigbaar is, en Vensterklip met sy loergaatjie in die massiewe rots. 

Die ongelooflike voetslaanroete deur die kloof by Bo-Kloof Guest Farm.

Verblyf in die Baviaanskloof

Voor jy die reservaat van weerskante af binnegaan, is daar ’n verskeidenheid verblyfopsies om van te kies, van kampeerplek, grotverblyf en eenvoudige selfsorgverblyf tot ’n luukse lodge!

Vaalwater Bush Camp

By Vaalwater kan julle selfsorgverblyf vir tot ses gaste en kampeergeriewe met ’n netjiese ablusieblok en kragpunte verwag. Die plaas is net twee kilometer vanaf die Baviaanskloof-ingang op die Vaalwaterpad tussen Uniondale en die Baviaanskloof geleë, so dis die ideale oornagbestemming voor jy jou avontuur aanpak of aan die einde van jou tog. Die plaas spog met verskeie roetes langs die rivier, so julle kan voëlkyk, voetslaan en bergfietsry, en verder is daar ook plaasdiere vir die kinders se vermaak.

Foto: LekkeSlaap.co.za

Uitspan Baviaanskloof

Uitspan is soos ’n oase met groen gras en lowerryke bome in hierdie bergagtige omgewing en, soos die naam te kenne gee, is dit nét die plek om by uit te span. Daar is lieflike selfsorg-eenhede, dubbelkamers en onderdak-karavane aan die voet van die berg om van te kies. Daar is ’n swembad op die perseel, twee pragtige voetslaanroetes met rotspoele en onvergeetlike uitsigte, ’n 4×4-roete en natuurlik hope voëlkykgeleenthede. 

Foto: LekkeSlaap.co.za

Duiwekloof Lodge

Duiwekloof skuil op ’n privaat plaas in hierdie ongerepte omgewing en bied kothuise, kamers en netjiese kampeerplekke met ’n ablusieblok, kragpunte en gemeenskaplike braaigeriewe. Julle kan maaltye en drankies teen ’n ekstra koste bestel indien julle nie lus is vir kosmaak nie. Daar is ’n gemeenskaplike onthaalarea met braaigeriewe, ’n pool-tafel en veerpyltjiebord vir ekstra vermaak. Die lodge se naam is van die eggo van die duiwe se oggendgeroep afkomstig, so julle kan uitsien na stilte en ’n rustige omgewing op hierdie plaas.

Foto: LekkeSlaap.co.za

Baviaanskloof Guest Cottages

As julle ’n groot groep is, is Baviaanskloof Guest Cottages die ideale plek vir julle. Daar is ’n gerieflike selfsorghuis met slaapplek vir veertien gaste en twee ander eenhede met slaapplek vir vier gaste elk. Elke eenheid het ’n kaggel vir koue wintersaande en braaigeriewe buite. Die plaas is ook die tuiste van die gewilde BaviJAANS Padstal waar julle beslis ’n paar peuselhappies en roosterkoek moet koop. 

Foto: LekkeSlaap.co.za

Sederkloof Lodge

As julle op soek is na ’n luukse wegbreekplek vir ’n groot groep is Sederkloof Lodge net die plek vir julle. Dié lodge word as ’n geheel bespreek en bied slaapplek aan twaalf gaste in ses bergchalets met ’n gemeenskaplike eetsaal, kroeg, sitarea en ’n kombuis. Verder is daar ’n swembaddek vanwaar julle die skilderagtige uitsig oor die omgewing kan geniet en ’n lapa met braaigeriewe. 

Foto: LekkeSlaap.co.za

Baviaanskloof Bakkrans

As jy nog altyd in ’n grot wou slaap, is hierdie jou kans! Baviaanskloof Bakkrans bied ’n unieke kampeerterrein vir vyftien gaste in die inham van ’n grot. Matrasse word voorsien en daar is ’n basiese kombuisie, ’n stort met warm water en spoeltoilette. Dit is die ideale manier om die natuurskoon in te neem en julle kan op die perseel voëlkyk, rotsklim en wildkyk. 

Foto: LekkeSlaap.co.za

Laaste Kamp

Laaste Kamp se naam is heel gepas, aangesien dit kampeerplek naby die westelike hek van die natuurreservaat bied. Daar is vier kampeerplekke met hul eie spoeltoilette, wasbakke en storte wat met sonkrag werk, asook braai-areas. Die kamp bied ook ’n plonspoel om in af te koel. Die netjiese geriewe skep ’n aangename ervaring in hierdie ongelooflike omgewing en julle kan lekker rus vóór julle huis toe vertrek of julle tog deur die kloof afskop.

Foto: LekkeSlaap.co.za

’n Paar goed om te onthou: 

  • Daar is geen vulstasies in die kloof nie, so maak jou voertuig in Willowmore of Patensie vol brandstof voor jy met die roete begin. 
  • Daar is nie selfoonopvangs in die kloof nie. 
  • Daar is geen kruidenierswinkels in die kloof nie, so bring alle noodsaaklikhede saam. 
  • Neem genoeg kontant saam om die besighede in die kloof te ondersteun ─ daar is nie oral kaartgeriewe nie. 
  • Troeteldiere word nie toegelaat nie. 
  • Maak seker jy het ’n spaarwiel en die nodige toerusting. 

Moenie langer jou avontuur in die Baviaanskloof uitstel nie. Bespreek vandag nog jou verblyf en geniet ’n onvergeetlike paar dae in een van die mooiste plekke in Suid-Afrika! 

Hooffoto: Daniëlle Terblanche. Alle foto’s is deur Daniëlle Terblanche geneem, tensy anders vermeld.