Met dié Covid-regulasies wat alewig aan die verander is en dinge so onvoorspelbaar maak, is dit amper onmoontlik om deesdae lekker lang wegbreke vroeg vooruit te beplan. Maar net omdat ons dit nie vroeg vooruit kan beplan nie, beteken nie dit hoef nie ’n behoorlike wegbreek te wees nie. As jy op die nippertjie op ’n Vrydag besluit jy en jou wederhelfte of gesin wil nóu die pad vir die naweek vat, het ons nét die lekke’ste opsies vir jou om van te kies.

Reiskenners sê die aantal aande wat jy wegbreek, moenie meer as die aantal ure wat jy agter die stuur deurbring om by jou bestemming uit te kom wees nie, en daarom wys LekkeSlaap vir jou ’n rits uitstekende wegbreekopsies wat net sowat drie ure of minder se ry van Kaapstad af is ─ net vir ingeval jy dalk ’n verlofdag by jou naweek wil voeg.

Paddahoek Cottage, Vermaaklikheid

296,3 kilometer vanaf Kaapstad

Dié prentjiemooi klipkothuis vir ’n klein gesin is in ’n stil grondpadstraat in Vermaaklikheid geleë. Die oopplan-kombuis, -eetarea en -sitarea lei na ’n groot onderdakstoep met ’n ingeboude braai en ’n Dover-koolstofie waar julle lekker knus kan kuier, ongeag die weer. Aangesien die erf omhein is, is dit ook ideaal vir reisigers wat graag saam met hulle troeteldiere reis. Vir dié wat hulle boot wil saambring en op die Duiwenhoksrivier wil baljaar, is die openbare toegangspunt waar bote gelanseer kan word net 750 meter van die kothuis af. Let wel: Die kothuis is onafhanklik van die plaaslike kragnetwerk, maar het wel ’n betroubare kragstelsel.

Muishondbaai, Stilbaai

340,8 kilometer vanaf Kaapstad

Muishondbaai is ’n grasdakvakansiehuis met ’n uitstekende uitsig in Stilbaai. Die huis het drie slaapkamers en ’n ten volle toegeruste oopplan-kombuis en -leefarea, en spog met skuifdeure op die onderste verdieping wat na ’n lang stoep lei, vanwaar julle die uitsig ten volle kan inneem. Daar is ook ’n smeulstofie in die sitarea wat die huis gedurende die winter lekker snoesig maak, én ’n braai-area agter die huis wat teen die wind beskut is, waar julle ’n vleisie oor die kole kan gooi.

Tides River Lodge, Malgas

243,7 kilometer vanaf Kaapstad

Tides River Lodge bied vier huise wat in ’n beskutte baai met ’n sand-eiland op die Breederivieroewer skuil. Die Boathouse-eenheid is ideaal vir ’n paartjie of klein gesin en spog met ’n lieflike houtdek met ’n uitsig oor die rivier. Die Heron House-, Cob Cottage- en  Zebra Lodge-eenheid is elkeen ideaal vir groter groepe en beskik oor verskeie slaapkamers, ’n kaggel, braaigeriewe en ’n uitstekende uitsig oor die rivier. Die ligging van dié lodge is absoluut ideaal vir natuurliefhebbers wat graag voëlkyk en kanovaar.

Old Sam’s Cottage, Bredasdorp

187,6 kilometer vanaf Kaapstad

By Old Sam’s Cottage word stilte en rustigheid vervleg. Daar is een slaapkamer, ’n oopplan-kombuis en -leefarea en ’n stoep met ’n ingeboude braai. Hiér kan julle met ’n glasie wyn agteroorsit en die sonsondergang oor die plaas bewonder. Die kothuis maak nie van elektrisiteit gebruik nie, maar die water word met ’n donkie verhit en lanterns en herlaaibare ligte word voorsien. Behalwe vir die elande, springbokke en sebras wat op die plaas wei, is daar ook ’n sirkelfietsroete van vyftien kilometer en die nabygeleë Karsrivier is ideaal vir visvang, voëlkyk en kanovaart.

River Valley Farm, Klein-Brakrivier

397,2 kilometer vanaf Kaapstad

Op ’n pragtige, organiese plaas langs die Moordkuilrivier, diep in die woud van die Outeniekwaberg is waar jy gaan asemskep as jy hiér ’n wegbreek bespreek. River Valley Farm is ’n tradisionele plaashuis van omgewingsvriendelike meubelmakers wat rustieke meubels vervaardig, so jy kan beslis besonderse, natuurlike houtmeubels hiér verwag. Daar is ’n goed toegeruste kombuis, knus leefarea en ’n onderdakstoep met braaigeriewe wat onder ’n wingerd- en jasmynprieel skuil. Bring vir Wagter saam en kom verken die organiese vrugte- en groenteplaas. Neem asseblief in ag dat daar ook ander honde, katte, eende, ganse en hoenders op die plaas woon.

Jan Hoppie, Bonnievale

187,1 kilometer vanaf Kaapstad

Jan Hoppie is rustieke dog gerieflike plaaskothuis in Bonnievale en het ’n uitsig oor die wingerd en die Breederiviervallei. Die tweeslaapkamerkothuis is met interessante artefakte versier, soos ’n oorspronklike skoenmakerstafel waarop gaste die braaigoed kan uitpak, ou paraffienlampe, plaastoerusting, Victoriaanse krane en ’n staldeur is as ’n voordeur ingespan. Bespreek ’n wegbreek hiér en sit op die lieflike voorstoep met ’n glasie wyn agteroor, terwyl jy die uitsig oor die rivier in die verte bewonder.

Na Genoeg, Paternoster

160,4 kilometer vanaf Kaapstad

Hierdie keurige strandhuis is langs ’n openbare strand geleë, so jy sal beslis met ’n uitstekende uitsig oor die waters bederf word. Die goed toegeruste oopplan-kombuis en -leefarea lei na die stoep met ingeboude braaigeriewe, ’n etenstafel met bankies en, natuurlik, ’n ongelooflike uitsig oor die see en strand. Die sitarea spog ook met ’n binnebraai, ’n iPod-koppelstasie en ’n TV. Let daarop dat die openbare strand veral gedurende die spitsseisoen baie besig en raserig kan raak.

32 Blouvin Street, Struisbaai

218,1 kilometer vanaf Kaapstad

32 Blouvin Street is ’n selfsorghuis in Struisbaai, net een kilometer van ’n swemstrand en die hawe af. Die huis beskik oor vier slaapkamers en drie badkamers, en is dus ideaal vir ’n groot familie of ’n groep vriende. Die kombuis spog ook met ’n wasmasjien, tuimeldroër en ysmasjien, en die oopplan-leefarea het stapeldeure wat oopgeskuif word en na ’n dek lei, wat gedeeltelik onderdak is en ’n lekker groot ingeboude braai en etenstafel vir tien het. Die erf is ook omhein, so die kinders kan lekker buite speel terwyl julle op die dek kuier.

Berard’s Pringle Bay Beach House, Pringlebaai

82,7 kilometer vanaf Kaapstad

Dié oulike houthuis in Pringlebaai is omring deur fynbos en ideaal vir ’n klein gesin of twee paartjies. Die huis is lig, ruim en pragtig, kleurvol versier en die sitarea spog met ’n smeulstofie wat van die ergste koue ontslae sal raak. Die eerste slaapkamer en die oopplan-kombuis en -leefarea lei na die dek met buitemeubels, ’n etenstafel en Weber-braaigeriewe, sowel as ’n lieflike uitsig op die berg en oor die see in die verte.

Bergen Dam Cottage, Bredasdorp

187,6 kilometer vanaf Kaapstad

Bergen Dam Cottage is ’n oulike kothuis aan die voet van die Soetmuisberg, met ’n uitsig oor die veld, dam en op die berg. Die kothuis is onafhanklik van die plaaslike kragnetwerk, so die kombuis is met ’n gasstoof en gasyskas toegerus, paraffienlampies word voorsien en water word met ’n donkie-geiser verhit. Daar is ook ’n onderdakstoep, ’n beskutte braai-area en ’n heining om die eenheid sodat gaste hulle troeteldiere kan saambring. Kom verken die plaas en hou by die melkery stil vir ’n bietjie vars plaasmelk!

Slaley Beach Cottage, Langebaan

133,7 kilometer vanaf Kaapstad

’n Oorspronklike visserskothuis wag net ’n paar meter van die strandmeer af in Langebaan op jou! Dié selfsorghuis is ideaal vir ’n groter groep van tien en beskik oor drie slaapkamers. Die kombuis is goed toegerus en sluit ’n skottelgoedwasser, wasmasjien en ’n tuimeldroër in, en die leefarea lei na ’n stoep met ingeboude braaigeriewe, ’n etenstafel en ’n pragtige uitsig oor die strandmeer.

***

Wel, daar het jy dit! En as hierdie verblyfopsies reeds vir jou op-die-nippertjie-wegbreek vol bespreek is, sal ons lekke filter vir vinnige naweekopsies buite Kaapstad beslis die truuk doen!