Die Swartland lê tussen Malmesbury in die suide, deur die Riebeekvallei tot by Piketberg in die noorde, en by Darling in die weste, tot by die Olifantsberg by Porterville in die ooste. Dié uitgestrekte, vrugbare vlaktes is deurtrek van goue koringlande wat die rede is dat dié area as die broodmandjie van die Kaap bestempel is. Tussen die koringlande lê daar ook vrugteboorde, wingerd, olyfboorde en fynbos — ’n lappieskombers van kleur en ’n prentjiemooi gesig vir reisigers wat hiér kom uitspan. Die Swartland is net sowat 50 kilometer buite Kaapstad en dus lekker naby vir stadsjapies wat ’n slag uit die stad wil ontsnap, maar nie lus is om te ver te ry vir ’n naweekwegbreek nie. LekkeSlaap wys jou sewe van ons gunstelingblyplekke in dié geweste, sodat jy lekker kan slaap terwyl jy alles wat Die Swartland het om te bied, rustig kan verken.

Waarom “Die Swartland” vra jy? Wel, dié wat weet sê dis van die frase “Het Zwarte Land” (die Swart Land) afgelei en dis vir die eerste keer in 1701 skriftelik só deur korporaal Tarus van die Riebeek-Kasteel Militêre Pos genoem. Dit is waarskynlik as gevolg van die inheemse renosterbossies wat sekere tye van die jaar, meestal ná baie reën in die winter, in ’n donker skakering verkleur en die landskap met ’n donkergrys kombers oortrek.

Shiraz Estate Villa & Studios
Riebeek-Kasteel

Shiraz Estate Villa & Studios, Riebeek-Kasteel, lekkeslaap

Dié gasteplaas bied verblyf in gastekamers, ateljeewoonstelle en ’n herehuis vir ’n groep in die buitewyke van Riebeek-Kasteel. Diegene wat in die gastekamers bly, het toegang tot ’n gemeenskaplike kombuis, en dié in die ateljeewoonstelle en die herehuis het elkeen hulle eie kombuis. Wanneer julle nie in die swembad afkoel of die uitsig oor die wingerd en op Kasteelberg bewonder nie, kan julle sommer na die middedorp stap. Daar is meer as genoeg om te sien en te doen — van wyn- en olyfproe, mikrobierbrouerye en uitstekende restaurante en koffiewinkels, tot ’n rits kunsvlyt- en boetiekwinkels om in rond te snuffel.

Shiraz Estate Villa & Studios, Riebeek-Kasteel

AA Badenhorst Family Wines
Malmesbury

AA Badenhorst Family Wines, Malmesbury

Kies koers Malmesbury toe en klop by AA Badenhorst Family Wines aan vir ’n outentieke, tog luukse plaaswegbreek teen die hange van Paardeberg. Dié wynplaas skuil sowat 20 kilometer buite Malmesbury en bied unieke en bekoorlike verblyf in die Wynmakerskothuis wat meer as 100 jaar oud is en tussen die ou wingerd, groentetuin en plaasdam geleë is. Daar is ook ’n oorspronklike plaassilo met ’n uitstekende uitsig oor die omgewing en die opgeknapte plaasstal agter die kelder met ’n lieflike braai-area en ’n reservoir-plonspoel. Gaste kan gerus deur die wingerd stap, in die damme afkoel en ’n wynproesessie by die kelder geniet — onthou net om dit vooraf te bespreek. 

AA Badenhorst Family Wines, Malmesbury

Vleidam Guest Farm
Koringberg

Vleidam Guest Farm, Koringberg

Koringberg is dalk een van die minder bekende dorpies in Die Swartland, maar dié skaap- en koringdorp lê sowat 17 kilometer noord van Moorreesburg, en dis hiér waar jy Vleidam Guest Farm se selfsorgkothuise sal vind. Hiér kan jy tussen vier geskiedkundige kothuise kies, wat almal in die 1920’s gebou is en steeds met hulle oorspronklike fondasies spog. Die kothuise bied slaapplek aan twee tot vyf gaste elk, het kombuise met al die nodige kookgerei, WiFi, lugversorging en groot stoepe met braaigeriewe. Die plaas spog ook met ’n uitsig oor die Swartlandvallei, ’n seisoenale swembad, landboutoere en staproetes.

Vleidam Guest Farm, Koringberg

Meerhof Luxury Glamping
Riebeek-Kasteel

Meerhof Luxury Glamping, Riebeek-Kasteel

Die Meerhof-wynlandgoed lê teen die hange van Kasteelberg en word deur koringlande, wingerd en olyfboorde omring. Behalwe vir die restaurant op die perseel waar jy smullekker maaltye kan eet en ’n wynproesessie kan geniet, bied die landgoed ook ’n unieke glanskamp-ervaring. Grenache maak van sonkrag gebruik en bied slaapplek aan twee gaste in ’n tent met ’n dubbelbed, ’n kaggel,  ’n en suite-badkamer, ’n toegeruste kombuis en ’n houtvuurwarmbad. Ná ’n dag van die vallei verken, kan jy langs die vuurput met ’n glasie Meerhof-wyn agteroor kom sit.

Meerhof Luxury Glamping, Riebeek-Kasteel

Abbotts Hill
Malmesbury

Abbots Hill, Malmesbury

Kyk net dié pragtige plaashuis! Die ouwêreldse Abbotts Hill sit op ’n heuwel op ’n wynplaas en spog met soliede houtdeure, -vloere, -skuifraamvensters en -hortjies. Dit is ideaal vir ’n groep familie of vriende en beskik oor vier slaapkamers met privaat badkamers en lugversorging. Die enorme plaaskombuis is met al die nodige toebehore toegerus, en julle is welkom om jul eie Nespresso-kapsules en koffiebone saam te bring. Die kuierstoep strek om die huis en bied ’n uitsig oor die groot swembad en die koringlande in die verte. Die eienaar is ’n gekwalifiseerde toergids en sal julle graag na die plaaslike wynlandgoedere en besienswaardighede neem. Andersins kan julle by die boetiekwynmakery op die plaas inloer vir ’n wynmaakaktiwiteit waar julle self pluk, snoei, fynmaak en dan jul eie bottels kan huis toe neem.

Abbots Hill, Malmesbury

Merindol Manor
Riebeek-Wes

Merindol Manor, Riebeek-Wes

Merindol Manor is een van die oudste erfenisgeboue in die Riebeekvallei. Hierdie boetiekgastehuis in die dorp was destyds ’n statige huis en is later pragtig gerestoureer. Vandag bied dié gastehuis verblyf in vier gastekamers wat elkeen ’n berg-, swembad- en ’n tuinuitsig het. Elke kamer het ook ’n en suite-badkamer en sluit ontbyt in. Daar is ook ’n ontwerperstuin en ’n olyfboord, vrugte en groente word in die tuin gepluk, en die ontbyt-eiers word soggens by die hoenderhok versamel. Gaste kan in die klein biblioteek rondblaai, in die swembad afkoel, ’n vleisie oor die kole by die braai-area gooi, of sommer net dorp toe stap en die omgewing verken.

Merindol Manor, Riebeek-Wes

Witklip Guest Farm
Moorreesburg

Witklip Guest Farm, Moorreesburg

Net buite Moorreesburg, op ’n plaas omring deur graan- en kanolalande, bied Witklip Guest Farm selfsorgverblyf in ’n pragtige, ou plaashuis. Die huis is opgeknap om gerieflike verblyf te bied, maar terselftertyd die outentieke atmosfeer van die huis te behou. Daar is drie slaapkamers, een badkamer, ’n kombuis met vuurmaakplek en ’n stoep langs die houtvuurwarmbad buite. Let dat paraffienlampe en kerse lig verskaf, maar dat kragproppe wel vir haardroërs en selfoonlaaiers beskikbaar is. Kom stap op die plaas, ontspan in die warmbad, lees ’n boek op die stoep, of kies koers na een van die nabygeleë dorpe vir ’n lekker daguitstappie.

Witklip Guest Farm, Moorreesburg

As dié lekker blyplekke en alles wat Die Swartland het om te bied, nie jou aandag trek nie, weet ons nie wat sal nie! Daar is wyn, olywe, toprestaurante, kunsvlytmarkies, boetiekwinkels, buitelugaktiwiteite én gerieflike slaapplek – wat meer wil ’n mens vir ’n naweekwegbreek hê? Nou toe, moenie op jou laat wag nie, bespreek nóú jou Swartland-naweek!

Hooffoto: Vleidam Guest Farm