Daar is ’n hele rits doendinge in Suid-Afrika wat jy maar gerus op jou emmerskoplysie kan sit. Ons land spog met lekker weer en ’n magdom buitelug-aktiwiteite en ons het 10 avonture geïdentifiseer wat beslis jou adrenalien sal laat pomp!

Cape Canopy Tour

Cape Canopy Tour deur @capecanopytour op Instagram

Sweef tussen die berge rond en bewonder die Kaapse fynbos en natuurskoon van bo af, net ’n uur se ry vanaf Kaapstad tussen Grabouw en Villiersdorp. Die zipline-toer sal jou omtrent 4 ure neem en kos om en by R695 per persoon. (As jy ’n Wild Card het, kry jy R40 afslag.) Die tarief sluit die 4×4-rit boontoe, die volle zipline-toer (13 platforms, 11 glybane en ’n swaaibrug), ’n ligte middagete en reën-toerusting (indien nodig) in. Bring net gemaklike stapskoene en warm klere saam. Dié avontuur is egter nie beperk tot die Kaap nie. Jy kan ook gaan sweef in die Magaliesberge, Karkloof, Drakensberge, Tsitsikamma en Magoebaskloof. Kliek gerus op die skakels vir kontakbesonderhede en om meer uit te vind.

Reksprong

Bungee Mogale deur @wai_za op Instagram

As jy nie ’n bang haar op jou kop het nie, en hoogtes jou nie van stryk af bring nie, is dié doending nét vir jou! Dit is die perfekte uitstappie om jou besig te hou terwyl die bangbroeke hulle bene rek op pad na die volgende vakansiebestemming. As jy baie graag van ’n brug of gebou af wil spring, kan jy ’n draai maak by Bungee Mogale in KrugersdorpBig Rush in Durban, die Bloukransbrug (die hoogste kommersiële  reksprongbrug in die wêreld) naby Plettenbergbaai, die Orlando Towers in Soweto en die Big Swing in Graskop. Kliek op dié skakels om meer uit te vind.

Leer branderplankry

Learn 2 Surf – @surf_waipu_cove op Instagram

Suid-Afrika se kus is langer as 2 500 km en is bekend vir sy pragstrande en lekker branders! Wat is dan nou ’n beter manier om die waters teen die kus te verken as om te leer branderplankry? Al gaan jy net een keer per jaar see toe, is dit ’n indrukwekkende en heerlike sport om jouself mee besig te hou. LEARN 2 SURF het branderplankskole oral teen die kus waar ervare instrukteurs vir jou alles sal leer wat jy moet weet voor jy ’n brander kan vang. Kliek gerus op die skakel vir kontakbesonderhede en om meer uit te vind.

Voetslaanroetes 

Die Whale Trail – @eduank7 op Instagram

Staproetes is een van Suid-Afrika se grootste trekpleisters as dit by buitelug-aktiwiteite kom. Dit is ’n unieke ervaring wat soms oor ’n hele paar dae en kilometers strek. Op dié roetes stap jy gewoonlik oor berge, deur valleie en langs die kus af. Daar is ook korter staproetes wat net ’n paar uur of ’n dag lank neem. Durf gerus die staproetes in De Hoop Natuurreservaat, Tafelberg, die Cederberge, Drakensberge, Tsitsikamma en aan die Wildekus aan. Lees ook meer oor die Outeniekwa/Harkerville-staproete op die Tuinroete. Kliek op die skakels as jy kans sien en meer wil uitvind oor dié avontuur.

Haaihokduik

Haaihokduik – @tiaanhoniball op Instagram

Suid-Afrika het van die beste haaihokduikplekke ter wêreld en toeriste stroom na ons waters om saam met dié vreesaanjaende roofvisse te swem. Die haaihokduikbote vertrek kort-kort na die oop see met passasiers wat bewe van opwinding en senuagtig wag om die bekke vol tande te ontmoet. Jy kan by Gansbaai, aan die WalviskusSt. Lucia, Valsbaai en die Aliwal-bank gaan kyk hoe glimlag die haaie vir jou. Kliek gerus op die skakels indien jy meer wil uitvind oor dié opwindende onderwater-avontuur.

Riviervlotvaart op Suid-Afrika se riviere

Orange River Rafting deur @anrustander op Instagram

Daar is ’n hele paar riviere wat soos are oor ons landskap vertak, en om in ’n bootjie op een van hulle te vaar, is ’n belewenis wat jy nie sommer sal vergeet nie. Bring jou hele familie en al jou vriende: hoe meer mense, hoe beter. Party van die ekspedisies sal jou ’n paar dae neem en jy kan nét daar aan die oewer van die rivier in jou slaapsak slaap. Die Doringrivier, Breederivier, Ashrivier en Oranjerivier is maar net ’n paar van die gewildste riviervlotvaartbestemmings. Kliek op die skakels om meer uit te vind as jy kans sien om in ’n bootjie op die rivier af te vaar.

Verken die natuur op ’n perd se rug

Saalsafari deur @luxurylondonguy op Instagram

Daar is nie ’n beter manier om die natuur te beleef as op die rug van ’n perd nie. Die afstand tussen jou en die natuur word oorbrug en jy word deel van die natuurskoon om jou. Daar is geen vensterrame wat die uitsig belemmer of raserige enjins wat die wild wegjaag nie. Daar is ’n paar plekke op LekkeSlaap se boeke wat dié tipe avonture bied. Hier is ook ’n nuttige lys dorpe en kontakbesonderhede wat perdryroetes bied. Wil jy meer uitvind? Kliek op die skakels!

Loer bietjie wat onder die Aarde se oppervlak aangaan

Kangogrotte deur @southafricaza op Instagram

Vir elke beeldskone berg en fraaie vallei in Suid-Afrika is daar ’n skeur of gat in die Aarde se oppervlak wat wag om verken te word. Jy kan byna sonder enige toerusting by van die grotte ingaan, maar vir sekere grotte benodig jy effens meer gesofistikeerde gereedskap. Hier is ’n lys van al die grotte in SA, maar ons stel voor jy maak ’n draai by een van dié bekende grotte: Die Sterkfontein-grotte in die Wieg van die Mensdom, Kangogrotte in Oudtshoorn, Sudwala-grotte in Nelspruit, Echo-grotte in Limpopo en die Klipgat-grot in Hermanus. Kliek gerus op die skakels indien jy in dié dieptes wil gaan delf.

 Valskermsweef

Valskermsweef in Wildernis deur @holder_gevers op Instagram

Stel jouself voor … jy sweef soos ’n arend hoog bo die strand, krans of vallei en bewonder die mense wat soos miere daar doer onder dwaal. Verken die stad vanuit ’n unieke ander oogpunt en maak ’n regmerkie langs dié avontuur op jou emmerskoplysie. Jy kan onder andere in Kaapstad, Hermanus, Wildernis en Clarens gaan valskermsweef. Kliek gerus op die skakels vir die kontakbesonderhede om ’n sweeftog te reël.

Tjoepry in Suid-Afrika se riviere

Swartwater-tjoepry deur @rossco_14 op Instagram

As roei nie noodwendig jou idee van pret is nie, kan jy jou eie sitvlak en ’n tjoep as vaartuig gebruik. Die Stormsrivier en Palmietrivier is die bekendste plekke waar mense swartwater-tjoepry. Die term “swartwater” kom van die rustige teekleurige rivierwaters waarin die avonturiers graag dobber. As jy lus is vir meer opwinding, kan jy gerus witwater-tjoepry aandurf. Dit is wanneer daar ’n bietjie meer reën geval het en die riviere effens sterker vloei. Kliek gerus op die skakels as jy op soek is na ’n rivier om in te vaar.

Sien jy kans vir enige van dié avonture? Laat weet ons watter doendinge jy op jóú emmerskoplysie het.

adventure icons

Hooffoto: Frontierofficial op Flickr