Suid-Afrika se kleiner dorpies is wat ons land werklik mooi maak en waar die ware pret skuil. Kom verdwaal in die geskiedenis, proe ’n verskeidenheid disse, lê op die strande en verken roetes eie aan die Suid-Afrikaanse natuurskoon in dié tien besonderse dorpies. 

1. Wakkerstroom, Mpumalanga

Forellenhof Guest Farm (Foto: LekkeSlaap)

Wakkerstroom, wat soms die juweel van Mpumalanga genoem word, se slagspreuk lui: “tussen riviere en berge” en dit is juis wat dié dorp een van Suid-Afrika se mooiste bestemmings maak. Dié oase is versteek tussen vleilande wat beteken dat ’n prentjiemooi omgewing en rus vir die siel op elke besoeker wag, maar al kan jy hier kom afskakel, is Wakkerstroom tog ook op en wakker. Die berg net duskant die dorp, Voortrekkerkop, sorg vir opwindende bergfiets- en voetslaanroetes wat aangedurf kan word en twee groot damme net ’n entjie buite die dorp sorg weer vir visvangpret. By Hare’s Rest, naby die Wakkerstroom Vleilande Reservaat,  kan hengelaars kurpers in die rivier vang terwyl die res van die gesin in die son baai. ’n Besoek aan Birdlife SA is ook ‘n móét, aangesien Wakkerstroom een van die top-voëlkykbestemmings in Suid-Afrika is, met meer as 350 voëlspesies wat besigtig kan word. 

Kom wakker weer die avonturier in jou aan in Wakkerstroom.

2. Paternoster, Wes-Kaap

Die winkel op Paternoster (Foto: Bigstock)

Dié dorp, waar bokkoms volop en die mense vriendelik is, is een van die oudste dorpies aan die Weskus en is net 145 kilometer van Kaapstad af. Ons is seker dat daar in elkeen se laai ’n ou foto van jou op Paternoster se strand is, en met goeie rede: Die dorpie bekoor Suid-Afrikaners al jare lank met kleurvolle vissersbootjies, wit huisies en die reuk van suurlemoenbotter om elke hoek en draai. Hier kan jy tien maande van die jaar walviskyk en tydens die veldblomseisoen kan jy in die Columbine Natuurreservaat ’n blomkombers oor elke heuwel aanskou. Winkeltjies soos Magrietjie en The Dune Shop hou verskeie skatte aan en Die Winkel op Paternoster is bekend vir smaaklike seekosdisse en is een van dié dorp se bekendste stopplekke. Kom wees weer kind, ry fiets, lees ’n boek of ry perd op die strand en ervaar eenvoudiger dae in Paternoster. 

Kom hou luilekker langnaweek in Paternoster

3. Underberg, KwaZulu-Natal

Sani Valley Lodge (Foto: LekkeSlaap)

Underberg lyk op die oog af soos ’n stil dorp wat onder die Drakensberge dut, maar van nader is dit alles behalwe! Dié poort tot die Drakensberge staan seisoen na seisoen gereed om besoekers te verwelkom. Hiér kan jy sneeukyk in die wintermaande in ’n omgewing soortgelyk aan die Alpe. En dan kan jy natuurlik Sanipas te voet of per motor aandurf, om nie eens van die talle damme waar jy salig forel kan vang te praat nie. Jaarliks word die Splashy Fen Musiekfees ook in die dorp gehou en sorg vir musiek, kos en pret omring deur die majestueuse berge. Om Lesotho te perd te verken is nog ’n trekpleister van die dorpie. By die Khotso Guest Farm kan jy die unieke geleentheid kry om in ’n grot te oornag en Cedar Garden kan ’n rit saam met ’n toerleier na Sanipas of ’n begeleide voëltoer en staproete na die rotstekeninge reël.

Het jy geweet die hoogste kroeg in Afrika, 2 874 meter bo seespieël, is naby Underberg? Kom na Underberg, jou gesin sal jou bedank!

4. Cradock, Oos-Kaap

Die Tuishuise & Victoria Manor (Foto: LekkeSlaap)

Cradock is die Karoo-hartland se hoofstad en is bekend vir die sulferbron wat die dorp se spa nou gebruik om besoekers te pamperlang. Natuurlik vloei die Groot-Visrivier ook deur Cradock, wat dit gewild maak onder vissermanne in Suid-Afrika. Die dorp is merkwaardig mooi, van binne en buite ─ binne die dorp spog die strate met geboue soos die NG Kerk en buite word Cradock deur die mooiste berge omring. Daar is staproetes soos die Impofu- en Indwala-roetes, asook verskeie 4×4-roetes wat vir entoesiaste lê en wag. By Die Tuishuise & Victoria Manor kan jy in dié dorp se bekende tuishuisies bly en sodoende uit die alledaagse ontsnap en in ’n droom uit die 1840’s instap. Boonop kan Buffelshoek Dirosie Lodge ’n besoek aan die Olive Schreiner-graf reël. Indien jy ’n plaasjapie en waaghals is, is Sanctuary Guest and Adventure Farm nét die plek. Op dié plaas kan jy Zipline, gholfspeel, ’n hindernisbaan aanpak of 4×4-ry. Die museums en monumente wat die dorp se geskiedenis uitbeeld en die verskeie winkels, padstalle en koffiewinkels waarmee die dorp spog, sal daar nie ’n vervelige dag in dié dorpie wees nie.  

Het jy geweet daar is ’n graf in Cradock met die naam, Harry Potter, op? Kliek hier om te gaan inloer. 

5. Magaliesburg, Gauteng

Stone Hill (Foto: LekkeSlaap)

Dié dorpie, wat in die Witwatersberg wegkruip, is die ideale wegbreekplek uit die stad ─ dit is naby genoeg vir ’n naweekuitstappie, maar tog ver genoeg om die stadsgedruis agter te laat. Jy kan sommer die stoomtrein, Magaliesburg Express, van Johannesburg af neem en die negentigminuut lange rit na Magaliesburg geniet. Die dorp se stil strate sal jou verwelkom en so ook die vriendelike inwoners. ’n Naweek hier is gewoonlik gevul met kleilatgooi, visvang, ’n spa-besoek, ’n Magaliesburg Canopy Tour en verkenning van die dorp se kuns. Die dorp is ’n voëlkykparadys en spog met spesies soos die kransaasvoël, grootswartooievaar en witrugnagreier. Oorweeg ook om by La Provence d’ Afrique ’n draai te maak tydens Februarie, want hier kan jy ’n romantiese pakket versoek wat ’n driegang-aandete in ’n mandjie by ’n Franse straatkafee  en terapie-massering met warm klippe in die woud insluit. Indien jy in die winter wil gaan, bied Nullarbor Cottages kaggels en Jacuzzi’s vir die koue aande. 

Kom maak ’n draai in Magaliesburg.

6. Haenertsburg, Limpopo

Sequoia Garden Retreat (Foto: LekkeSlaap)

Haenertsburg se hoë reënval, mis en groenigheid weerspieël Kanada se woude en klimaat. Dit is ’n lafenis in Limpopo en bied ’n rustige wegbreek soos min. Die dorp het nie baie nie ─ ’n hoofstraat en ’n paar inwoners, maar dit is juis wat dit ’n verfrissende bestemming maak. Doendinge in Haenertsburg sluit omtrent altyd die natuur in ─ ’n Magoesbaskloof Canopy Tour wat jou via ’n Zipline deur die woud neem, voetslaan op verskeie roetes soos die Magoebaskloofpas of die Louis Changuion-roete, kloofspring in die George’s Valleikloof of ’n besoek aan die ekovriendelike plaas, Wegraakbosch, vir kaasproe. Om Haenertsburg se natuurskoon op sy beste te beleef, kan jy by Sequoia Garden Retreat ’n draai maak, waar kranige fotograwe graag die natuur en die tientalle voëlspesies wat hier voorkom afneem. Daar is ook twee damme waarin jy kan visvang en twee bergfietsroetes kronkel hier deur. Stanford Lake Lodge spog ook met meer as 67 voëlsoorte. Maak nie saak wat jou stokperdjie of ideale vakansie is nie ─ dié dorpie is geskik vir elkeen. 

Loer in by Haenertsburg.

7. Loxton, Noord-Kaap

Four Seasons Guest House (Foto: LekkeSlaap)

’n Besoek aan Loxton is ideaal vir diegene wat so effe nostalgies oor die ou dae is. Die dorp spog met eeue oue Victoriaanse geboue, nog ouer bome, donkiekarre by die stowwerige stopstrate, die geslote kragstasie en die Old Truck-motormuseum met karre uit die Eerste Wêreldoorlog en ouer, wat alles tot ’n wegbreek uit die verlede bydra. Loxton is ’n groen oase in die dorre Karoo met bloeisels en voëls wat die grondpaaie versier. Die Rooi Granaat Koffiewinkel bied ’n lafenis in die hitte met verskeie melkskommels en heerlike vars disse en as die hitte net te veel is, kan jy in die Loxton-dam gaan swem. Die aantal bome in die dorp beteken ook dat daar verskeie voëlspesies is en dat dié dorp ’n paradys vir voëlliefhebbers is. Loxton is ’n Karoodorp met ’n kinkel, en ’n bestemming wat nie vanjaar misgekyk moet word nie. 

Kom hou sommer ’n lang vakansie in Loxton.

8. Hartbeespoort, Noordwes

Stillwaters Waterfront Apartments (Foto: LekkeSlaap)

Een rit op die Harties-kabelkarretjie en jy sal presies sien hoekom Hartbeespoort een van Suid-Afrika se mooiste en gewildste dorpe is: Die Krokodilrivier vloei rustig verby en die 1620 hektaar-Hartbeespoortdam lê stil onder die Noordwes-son. Vanuit die karretjie sal jy ook die Magaliesberge sien wat vir asemrowende sonsonderogange sorg. Die dorp is gesinsvriendelik en doendinge sluit perdry, abseil, riviervlotvaart en lugballonvlugte in. Hartbeespoort is die antwoord op ’n moeë stadsiel wat net moet wegkom en weer die natuur op ’n prettige manier wil ervaar. Die Ann van Dyk Cheetah Centre is beslis ’n besoek werd om jonk en oud te vermaak en in te lig en Miracle Waters net buite die dorp bied unieke duikgeleenthede aan. Indien die kabelkarretjie na jou smaak te stadig is, kan jy die Ama Zwing Zwing Zipline Tour aanpak! Magalies Park is nog ’n trekpleister en het ’n spa, gholfbaan, mini-gholfbaan, tennisbaan en muurbalbaan, so niemand in die gesin sal ’n oomblik verveeld wees nie.

Kuier na hartelus in Hartbeespoort.

9. Clanwilliam, Wes-Kaap 

Rondegat Cottages (Foto: LekkeSlaap)

Al ooit gewonder hoe om jou tee te drink sonder dat jou snor nat raak? In Clanwilliam se Ou Tronk Museum kan jy dié antwoord en nog meer kry. Clanwilliam skuil aan die voet van die Sederberge en is die enigste dorp ter wêreld wat rooibos plant en kweek ─ dit is beslis genoeg rede om hier te kom kuier. Besoek gerus die Rooibos Teahouse om meer as ’n honderd rooibosgeure te proe. Jy kan selfs die rooibostee-fabriek besoek! Wat die dorp nog meer uniek maak is die feit dat dit talle provinsiale erfenisgebiede het, soos die Ou NG Kerk, die Clanwilliam Museum en blokhuise in die dorp. ’n Rotstekening-roete aangebied deur Clanwilliam Living Landscape Project, die Clanwilliam- en Bulshoekdam, die Beaverlac- en Matjiesrivier Natuurreservaat en die Olifantsrivierwynroete is van die dorp se bekendste trekpleisters. Gravel Travel-toere is beskikbaar vir 4×4-entoesiaste wat die Sederberge per motor wil verken en ’n bietjie meer waaghalsig is. 

Clanwilliam wag op jou.

10. Bethulie, Vrystaat

Bethulie Guest Farm (Foto: LekkeSlaap)

Negentig minute se ry suid van Bloemfontein, lê ’n Vrystaatse dorpie en wag, gretig om sy ryk geskiedenis te deel. Bethulie herinner dat Suid-Afrika se geskiedenis diep in die harte van die klein dorpe skuil. By Ou Vellies Sleap-Inn in dié eksentrieke dorpie kan jy ’n toer reël om al die Anglo-Boereoorlog-besienswaardighede in die omtrek te besigtig en ’n besoek aan die Pellissierhuismuseum kan ook hiér gereël word. Dié museum is die oudste setlaarshuis in die Vrystaat. Die sandsteenbrug, wat oor die Oranjerivier loop, is ook ’n bekende trekpleister. Die geskiedkundige Royal Hotel met sy ingeligte eienaar, Anthony Hocking, is ook ’n besoek werd, of jy kan voëlkyk en saans die sterre gadeslaan. Die dorp se strate is nie al wat interessant is nie ─ een kykie na links en regs en jy sal nie spyt wees dat jy die dorpie besoek het nie ─ die omgewing pronk met fantastiese uitsigte en natuurskoon. Kajakvaart op Bethulie-dam, gholfspeel, bootvaart op die Gariepdam en  ’n masseersessie is waarna jy ook op pad na Bethulie kan uitsien.

Beter dae as in Bethulie kry jy nie, kliek hier vir verblyf-opsies.

Suid-Afrika spog met van die wêreld se mooiste natuurprag en dit skuil gewoonlik in die kleinste dorpies. Doen vanjaar iets anders en verken die land se weggesteekte juwele! 

Hooffoto: MistyCrown Self-Catering Homes – Skordi 47, LekkeSlaap