Wat vakansies betref, kry groter dorpe en die kus gewoonlik al die eer. Maar ver van die skares van ’n gewilde stad of groot kusdorp skuil daar dorpies met interessante geskiedenis, onverwagse doendinge en ’n bekoring wat jy nét in ’n klein dorpie sal vind. Vandag wys LekkeSlaap vir jou tien dorpies wat jy dié jaar móét besoek as jy lus is vir iets anders. 

1. Beaufort-Wes, Wes-Kaap

LekkeSlapers sê:

’n Ou historiese en interessante dorp en omgewing wat meer as net oorslaap en aanry regverdig. Bly gerus vir meer as een nag en verken en geniet wat die omgewing bied.

Nieuwoudt, Januarie 2021
Die Skooltjie (Foto: LekkeSlaap)

Beaufort-Wes is soveel meer as net ’n oornagdorpie tussen Kaapstad en Johannesburg. Vanaf dié dorp kan jy die Karoo Nasionale Park, wat slegs vyf kilometer van die middedorp af is, besoek as jy mal is oor wildkyk en 4×4. Die 4×4-entoesias kan die Karoo Nuweveld-roete ook aandurf, die geskiedenis-fanatikus kan vir ure deur die dorp op ’n begeleide toer wandel en nasionale monumente verken en die sportiewe besoeker kan die talle voetslaanroetes geniet. Daar is omtrent iets vir almal!

Topwenk: Maak ’n draai by die toerismesentrum met vriendelike mense en wenke oor wat jy alles in die dorp kan doen. Besoek ook die Spinwiel-antiekwinkel vir ’n interessante ervaring. 

2. Graaff-Reinet, Oos-Kaap

LekkeSlapers sê:

Graaff-Reinet is nie ’n bestemming nie, dis ’n tuiskoms.

Walkenshaw, Januarie 2021
Graaff-Reinet (Foto: Bigstock)

Dié dorp is propvol doendinge wat jou vakansie uniek en sommer net lekker gaan maak. Besoek die Vallei van Verlatenheid wat een van ons land se mooiste valleie is. Jy kan ’n pragtige uitsig oor die vallei van ’n uitkykpunt in die Kambedoo Nasionale Park af geniet. Wandel in Kerkstraat, besoek die oulike kunsgalerye en maak ’n punt daarvan om dié dorp se geboue te verken, want 200 daarvan is as nasionale monumente aangewys! Gaan loer ook by die Kamdeboo se enigste teater, die John Rupert-teater, in. En as jy nie een is vir stilsit nie, gryp jou fiets en verken al die fietsry-roetes in die omgewing. 

Topwenk: Besoek die Kambedoo Nasionale Park wat dié dorp omring vir wildkyk, 4×4-roetes en watersport. Gaan loer ook by The Village in  ─  ’n koffiewinkel wat in ’n dorpie omskep is.

3. Gariepdam, Vrystaat

LekkeSlapers sê:

Wonderlike plek vir natuurliefhebbers.

Van Der Ryst, Desember 2020
Driekwartblou Gastehuis en Venue (Foto: LekkeSlaap)

Gariepdam mag dalk vir baie net ’n oorslaap-dorpie wees, maar dié uiters stil dorpie het skatte wat lê en wag vir enigeen wat dit wil verken. Dié dorp is die ideale plek vir diegene wat hul selfone wil afskakel en weer gehaltetyd saam met hul geliefdes wil deurbring. Die Gariepdam Natuurreservaat spog met die enorme dam, die Oranjerivier en ’n wildbewarea met ’n rits doendinge. Die wildbewarea is die tuiste van die grootste trop springbokke in die land! Daar is 242 voëlspesies om voor uit te kyk en 100 kilometer lange grondpaaie en tweespoorpaadjies al langs die water wat fietsryers nie kan weerstaan nie. Die dam sorg ook vir watersportgeleenthede en jy kan ook die dam op ’n damwaltoer van nader bekyk. Sweefvlieg is net so gewild in dié area en is die ideale geleentheid om die wêreld van bo te verken. 

Topwenk: Die area is bekend vir sy sterrehemel wat besoekers nag na nag betower. Maak seker jy kry die geleentheid om ’n bietjie op te kyk na die duisende sterre in die nag. 

4. Clarens, Vrystaat

LekkeSlapers sê:

Dis een van die oulikste dorpies in Suid Afrika, word hoogs aanbeveel. Prentjiemooi tussen die berge. Interessante winkeltjies en restaurante.

Theron, Januarie 2021
Golden View Luxury Self Catering (Foto: LekkeSlaap)

Nie net bied Clarens van Suid-Afrika se mooiste uitsigte nie, maar is dit ook ’n kunstenaarsparadys. Om elke hoek en draai sal jy ’n galery vind, propvol kuns vir elke smaak, om nie te praat van die strate self wat in kuns omskep is nie. Clarens is ook bekend vir die bierbrouerye waar jy ou gunstelinge en iets nuut kan probeer. Besoek Clarens Brewery vir die lekkerste craft-bier en -sider. As jy op soek is na iets uitdagend kan jy uitsien na riviervlotvaart, vierwielmotorfietsritte, Zipline, boogskiet en abseil in dié dorp. 

Topwenk: Besoek die Golden Gate Nasionale Park en doen gerus die kulturele toer vir ’n interessante blik op die verlede.  

5. Victoria-Wes, Noord-Kaap

LekkeSlapers sê:

Netjiesste en skoonste plattelandse dorp wat ek in baie jare gesien het. Baie vriendelike mense. 

Schoeman, Desember 2020
Victoria-Wes (Foto: Bigstock)

LekkeSlapers wat al in dié dorpie oornag het sê gereeld dat hulle graag weer sal wil terugkeer, en ons kan sien hoekom! Victoria-Wes mag dalk klein wees, maar staal het nie dikte nodig nie. Die strate spog met Kaapse kothuisies, Karoo-huisies en Victoriaanse huisies wat net wag om verken te word. Die Victoria-Wes en Noord-Kaapse Streeksmuseum is ’n skatkis van kennis en nostalgie wat jou vir ure kan bekoor. As jy ’n natuurliefhebber is, verken dan wildspesies wat eie is aan die Karoo by die Victoria-Wes Natuurreservaat. Voëlkykers sal die fantastiese uitkykpunt bo die damwal aan die einde van Kerkstraat geniet. 

Topwenk: Mense gons oor die Ka’roux Restaurant en ’n besoek aan die Apollo-teater is beslis ’n móét.  

6. Yzerfontein, Wes-Kaap

LekkeSlapers sê:

Ongelooflike mooi, ongerepte strande en besonderse seetuine en staproetes teen die see.

Van Zyl, Desember 2020
On the Beach (Foto: LekkeSlaap)

Yzerfontein is nét die plek om te wees as jy iemand is wat mal is oor die see, maar die skare wil vermy. Hier kan jy vir ure deur die strate ry en jou vergaap aan die huise, sonbaai op die strand wat nie net ongerep is nie, maar stil ook, en daarna deur winkeltjies stap wat allerhande interessanthede aanhou. Yzerfontein is ’n kusdorpie wat jou nooi om roomys langs die strand te koop, heerlike seekos-disse by die restaurante te geniet, en sommer ook ’n draai by die hawe te maak waar jy die bote kan dophou en ’n paar blare vir die dassies voer. 

Topwenk: Neem ’n mooi foto by die hawe waar die massiewe beton-letters Yzerfontein spel, en besoek die sportsklub as jy lekker wil swem. 

7. Hoedspruit, Limpopo

LekkeSlapers sê:

Baie toeriste-aantreklikhede en […] vriendelike mense. Stilte van die bos, […] dit is die perfekte vakansiebestemming!

Airoldi, Januarie 2020
Tshukudu Game Lodge (Foto: LekkeSlaap)

Dié Bosvelddorpie skuil tussen die Krugerwildtuin en die Blyderivierspoort. Dit maak dit die ideale basis vanwaar jy dié twee areas kan verken en wildkyk vir dae lank! Maar jy hoef nie noodwendig die dorp te verlaat vir ’n heerlike wegbreek nie. Die dorp fokus op toerisme en bied doendinge soos perdry-safari’s, mikrovlugte, warmlugballonvlugte, en as jy eerder rustiger wil verkeer, kan jy een van vele spa’s in die dorp besoek. 

Topwenk: Maak ’n draai by die Wag ’n Bietjie-padstal wat lekkernye en pragtige vellies verkoop. 

8. Heidelberg, Gauteng

LekkeSlapers sê:

Heidelberg is ’n fantastiese mooi dorpie! Almal moet dit besoek.

Loftie-eaton, November 2019
Heidelberg Kloof Lodge and Conference Centre (Foto: LekkeSlaap)

Heidelberg is die tipe dorpie wat jy vir ’n naweek besoek om jouself te omring met geskiedenis, kleindorpie-sjarme en ’n rustigheid wat jy net hier sal kry. Pak jou tekkies in en verken roetes soos die Klipkraal- en Suikerbosrand-voetslaanroetes. Die Alice Glockner Natuurreservaat is ’n versteekte juweel wat elkeen móét besoek. Dit spog met ’n indrukwekkende verskeidenheid plant- en diersoorte. Heidelberg is die perfekte voorbeeld van ’n bekoorlike Suid-Afrikaanse kleindorpie: Daar is iets lekker om om elke hoek en draai te doen ─ jy moet net weet waar om te kyk! 

Topwenk: Besoek die Heidelberg Vervoermuseum vir ’n unieke ervaring. 

9. Himeville, KwaZulu-Natal

LekkeSlapers sê:

Ons het ’n kort staptog deur Sani Pass en Lesotho Private Tours onderneem. […] Ek sal almal aanbeveel om hierdie staptog te doen en om Himeville en die omgewing te besoek, dit is so die moeite werd.

Livingstone, September 2020
Dunford’s Loft (Foto: LekkeSlaap)

Daar is drie gholfbane in en om Himeville en watersport is ook gewild in die dorp. Swem, vlotvaart, kanovaart en tjoepry is maar net ’n paar van die doendinge waarna besoekers kan uitsien. Besoek ook nie Cobham Staatswoud of die Himeville Natuurreservaat, waar jy dié omgewing se prag ten volle kan ervaar. Die Himeville Museum spog met ’n versameling San-artefakte vir diegene wat mal daaroor is om vir ’n rukkie na die verlede te ontsnap.

Topwenk: Gaan stap by die Garden Castle Staatstuin as jy lus is vir ’n uitdaging. 

10. Dullstroom, Mpumalanga

LekkeSlapers sê:

Mal oor Dullstroom. Pragtige klein dorp met die mooiste berge. Vir seker ’n bestemming om heen te gaan om te ontspan.

Koedyk, Januarie 2021
Blue Crane Farm (Foto: LekkeSlaap)

Dullstroom is een van daardie dorpies wat net al hoe meer gewild raak, en om goeie rede! Dié dorp spog met uitstekende forelhengel-geleenthede, maar as die vis nie byt nie is daar steeds ’n hele rits doendinge in dié pragtige omgewing. By die Dullstroom Bird of Prey & Rehabilitation Centre kan jy kom kyk hoe roofvoëls vlieg en jag en by die Dullstroom Perdry-sentrum kan jonk en oud op perdritte gaan. Besoekers is mal oor die Ama Poot Poot-voetslaanroete, en ná jy dit aangedurf het, kan jy gaan keel natmaak by Wild About Whiskey met ’n whiskey-proe-ervaring. 

Topwenk: Jy kan die forel wat jy gevang het na die restaurant, Plat Du Jour neem waar hulle dit vir jou sal voorberei. 

Nou ja toe, waarvoor wag jy? Dis tyd om dieselfde ou vakansies ’n bietjie meer opwindend en interessant te maak ─ verken Suid-Afrika se dorpies, dis elke keer die moeite werd.