Die Moederstad se verkeer en geraas kan soms te veel raak vir haar burgers. Dis geen wonder dat jy ’n bietjie uit die Moederstad se malligheid wil ontsnap nie. Kapenaars kan sommer nóú al begin ontspan danksy al die heerlike blyplekke op LekkeSlaap.co.za waar hulle uit die geroesemoes van die stad kan wegbreek. Die volgende lêplekkies bied iets vir elke smaak én is minder as 2 ure se ry van die middestad af!

Waarvoor wag jy? Pak jou oornagtassie en bespreek vandag nog ’n lekker naweekwegbreek!

1

Word een met die natuur by De Hoop Cottages

Verlustig jouself in die wonderskone natuurtonele en uitsigte op die Langeberge, en vind rus vir jou moeë stadsiel. Buiten die wonderskone berguitsigte spog dié omgewing met ongerepte natuurskoon, voëllewe, wandelroetes op die plaas of in die kloof met sy helder bergpoele, heerlike swemsessies in die plaasdamme en ’n atmosfeer wat jou gedagtes vrye teuels gee. Daar is slaapplek vir 16 gaste in 5 aparte eenhede. Die kothuise is net 10 minute buite die dorp agter ’n koppie geleë en bied ’n stil, vreedsame wegbreek. Maak gerus ook ’n draai by ’n paar wonderlike wynplase terwyl jy in die Robertson-wynvallei kuier.

6

’n Plattelandse wegbreek tussen Tulbagh en Wolseley

Dié gasteplaas aan die voet van die Winterhoekberge is ’n toevlugsoord vir verskeie diere wat nou ’n hemelse lewe op dié plaas lei. Daar is 2 swembadjies en verskeie doendinge in die omgewing, soos perdry, stap en visvang. Daar is 3 kothuise, 2 B&B-kamers en  9 kampeerplekke met slaapplek vir altesaam 58 gaste. Tulbagh is net 15 minute van die gasteplaas af en jy kan in dié bekoorlike dorpie gaan rondstap en by al die winkeltjies en restaurante  inloer. Die Ceres Zipline is ook lekker naby indien jy op soek is na iets wat die adrenalien sal laat pomp.

3

3

Net ’n paar treë van die see af en omring deur ongerepte fynbos met ononderbroke uitsigte oor die see en die berg

Dié helderkleurige huis is in Bettysbaai, ’n prentjiemooi kusdorpie tussen Pringlebaai en Kleinmond en bied slaapplek vir ’n gesin of groep vriende van 6. Dit is die ideale bestemming vir ’n gesinsvakansie of romantiese wegbreek. Hier kan jy die wonderlike strande verken, Silver Sands en Hangklip se duine trotseer, en vir die pikkewyne by Stoney Point gaan kuier. Kom sit op die stoep en verkyk jouself aan die wonderskone uitsig oor die oseaan.

4

Net 50 m van die strandmeer en stapafstand van die middedorp af

Dié afgewitte houthuisie bied gerieflike akkommodasie vir 8 in Langebaan. Bring gerus jou boot saam as jy op die strandmeer wil gaan vaar of visvang (daar is ’n dubbelmotorhuis). Daar is verskeie besienswaardigehe in Langebaan, soos die Weskus Fossielpark, Club Mykonos en die Weskus Nasionale Park. Gaan swem in die strandmeer of gaan wandel op die strand nadat jou honger by een van die restaurante teen die kus gestil is.

5

’n Gewilde bestemming vir besoekers danksy die dorpie se verafgeleë ligging en bekoorlike atmosfeer

Wild Almond spog met ongelooflike uitsigte op die Langeberge en die bekoorlike dorpie, McGregor, verseker ’n rustige wegbreek vir 4. Die kothuisie is net 5 minute se stap van die restaurante en kroeë af. Daar is ’n swembadjie waarin jy kan afkoel en braaigeriewe in die tuin. Lees hier meer oor McGregor.

6

’n Bekoorlike kothuis op ’n pragtige kleinhoewe met asemrowende uitsigte op die Langeberge

Perde, donkies, skape en voëls is gereelde besoekers as jy by Golden Harvest Cottage bly. Dit is net buite Swellendam, so jy kan oor naweke ontsnap van die gonsende middedorp. Daar is ’n aantal natuurreservate in die omgewing waar jy kan gaan stap en piekniek hou. Die kothuis vir 4 is toegerus met alles wat jy sal nodig kry, en jy kan heerlik braai of ’n skemerkelkie geniet op die dek langs die dammetjie. Lees ook hier meer oor Swellendam.

7

7

Oppiekoppie 2

Teen die kus met ononderbroke uitsigte oor Kleinbaai se hawe en die Indiese Oseaan

Kleinbaai (of deesdae Van Dyksbaai) is teen die kus verby Gansbaai geleë. Oppiekoppie bied slaapplek vir 8 gaste en is perfek vir ’n familie-wegbreek. Daar is niks behalwe ’n grondpaadjie wat tussen jou en die pragtige oseaan staan nie. Jy kan ure lank op die stoep sit en oor die see tuur ─ teen sononder is dit nét so ’n mooi gesig as met sonsopkoms. Heelwat haaihokduik-maatskappye het hulself gevestig by die hawe, so as jy braaf voel kan jy saam met die toeriste op een van daai bootjies klim om die haaie te  gaan ontmoet. Wandel al langs die kus, koel af in die rotspoele, tel skulpies op, hou die voëltjies dop of ontspan bloot op die heerlike, beskutte stoep. Alhoewel die kus aan Kleinbaai se kant effens klipperig is, is Franskraal se lang sandstrand minder as 10 minute se ry hiervandaan.

8

8

Plaas-paradys in die hartjie van die Swartland

Vleidam Guesthouse is nét die plek vir jou! Die gastehuis is op ’n werkende plaas (Vleiland) geleë en dit bied rustige, landelike akkommodasie vir die hele gesin met uitsigte oor die vrugbare landerye. Daar is heelwat om te doen op Vleiland ─ klim die koppie, verken die 4×4-roetes en bewonder die omgewing van die uitkykpunte af. Moorreesburg, Riebeek-Kasteel en Misverstand-dam is minder as 10 minute van die plaas af.

9

Centre-Ville Guest House2

’n Grasieuse Victoriaanse huis wat dateer uit 1905

Dié 4-ster-gastehuis is in die middel van Franschhoek geleë, net 2 minute se stap vanaf die gewilde hoofstraat met al sy winkeltjies, galerye en restaurante. Daar is 8 pragtige kamers met slaapplek vir 2 gaste elk en jy kan langs die swembad of op die stoep ontspan en die wonderskone uitsigte oor die omliggende berge bewonder. Franschhoek is veral gewild as ’n bestemming vir naweekwegbreke omdat dit ’n fynproewesmekka is. Die romantiese atmosfeer maak die dorpie natuurlik ook ideaal vir ’n spesiale naweek saam met jou geliefde. Lees hier meer oor Franschhoek.

10

’n Pragtige eenheid net ’n paar tree van Long Beach af

Storyhouse bied 2 selfsorg- en  2 B&B-eenhede (altesaam slaapplek vir 12) in Kommetjie, ’n versteekte dorpie teen die kus tussen Chapmans Peak en Kaappunt Natuurreservaat. Daar is heelwat wandelroetes en selfs voetslaangeleenthede in die omliggende koppies vir meer gesoute stappers. Long Beach is ’n gewilde branderplank-strand, so bring gerus jou branderplank saam. Daar is restaurante en ’n geriefswinkel in dié kusdorpie, wat beteken jy kan die hele naweek nét hier ontspan.

Dit is hoog tyd dat jy bietjie van die stad af wegkom, al is dit net vir ’n kort rukkie. Bespreek vandag nog jou naweekwegbreek en verkwik ’n slag jou stedelike siel.

*                                   *                                   *

Hooffoto: Roete 62 deur Willemien Engelbrecht