Suid-Afrikaners is bederf met een van die mooiste lande op die blou planeet, al wat jy hoef te doen is om in jou kar te klim en te ry. Dit maak nie saak in watter rigting jy ry nie, jy sál by ’n asemrowende bestemming uitkom. Dit is baie moeilik om net ’n paar mooi plekke uit te sonder, maar ons het dit wel reggekry om ’n lekke lysie van 10 prentjiemooi plekke regoor Suid-Afrika te maak. So kom kyk self of jy saamstem ─ ons hoor graag wat jy dink!

Die Sederberge se dramatiese rotsformasies en San-rotskus is die grootste trekpleister vir voetslaners en avonturiers na dié asemrowende omgewing. In die somer is dit warm en droog, maar in die winter val daar ’n ligte sneeukombersie wat ook heelwat Suid-Afrikaners lok. Gaan verken die natuurskoon te voet op een van die menigte staproetes hier rond.

Dié pragtige toneel is in Mpumalanga in die Noordelike Drakensberge. Dit is een van die grootste canyons in die wêreld en mag dalk die grootste “groen” een wees weens die welige subtropiese flora wat die landskap in skakerings van groen tooi. Die Blyderivierspoort vorm deel van die Panorama-roete wat Graskop, God’s Window en Bourke’s Luck Potholes insluit.

Dié beeldskone area in die Noord-Kaap deel die grens tussen onse Suid-Afrika en Botswana en strek oor meer as 38 000 km². Die Kalahari Gemsbok Nasionale Park, wat ook deel van die Oorgrenspark vorm, is in 1931 gestig om hoofsaaklik die wild wat elke jaar migreer, teen stropers te beskerm.

Dié pragstreek strek vanaf Oos-Londen tot teenaan KwaZulu-Natal en vorm deel van die voormalige Transkei. Een van die grootste toeristebestemmings in dié streek is Koffiebaai met die bekende Hole in the Wall wat ’n plekkie in almal se fotoalbums losslaan na ’n vakansie in die Oos-Kaap.

Dié streek lê, soos mens van die naam kan aflei, aan die weskus van Suid-Afrika. Dit strek van Yzerfontein tot by Lambertsbaai en sluit die Swartland in die binneland in. Bekoorlike vissersdorpies lê teen die kus af en as jy binneland toe ry, is koringvelde aan die orde van die dag. Die blommeprag in die veldblomseisoen is beslis iets om te aanskou. Darling het selfs sy eie Veldblommeskou wat in September elke jaar plaasvind.

Die hoë reënvalsyfer maak dat dié majestueuse deel van die Tuinroete stroompies en riviere het nét waar jy kyk. Welige woude, die rotsagtige kuslyn en die asemrowende uitsigte om elke hoek en draai verseker dat ’n besoek aan dié plek hoog boaan talle Suid-Afrikaners se emmerskoplysies is. Wandel oor die klippe en tussendeur die bome op een van die staproetes in die area, byvoorbeeld die gewilde Otter-staptoer.

Die Klein Karoo lê in ’n vallei tussen twee bergreekse: die Swartberge in die noorde en die Langeberg-Outeniekwa-bergreeks in die suide. Nooi ’n paar vriende en verken die vallei op Roete 62 wat jou verby Montagu, Barrydale, Ladismith en tot by Oudtshoorn sal neem ─ die perfekte roetereis.

Die Richtersveld is ’n UNESCO Wêrelderfenisgebied wat oor 160 000 hektaar van dramatiese berg- en woestynlandskap in die noordweste van Suid-Afrika strek. Dit is ’n  geharde, woestynagtige landskap met ruwe klowe en hoë berge, maar die unieke skoonheid sal maak dat jy keer op keer wil terugkeer.

Die Kaapse Wynlande (of die Boland) is vanselfsprekend: Dit is natuurlik waar die meeste van Suid-Afrika se bekroonde wyne vandaan kom. Dit sluit dorpies soos Stellenbosch, Paarl, Worcester en Franschhoek in wat deur luisterryke wynplase en beeldskone berge omring is.

Dié magiese bergreeks vorm die grens tussen KwaZulu-Natal, die Vrystaat en Mpumalanga en dit strek tot in Limpopo. Dit spog met die mooiste uitkyk-punte, uitsigte, natuurtonele en doendinge wat dit ’n wêreldbekende bestemming maak.

Untitled design