As jy meen museums is vir die ouer garde en bied nét stowwerige ossewaens en vergeelde foto’s uit vergange dae, het ons vir jou ’n heerlike verrassing! Buiten museums wat verhale uit ons land se verre verlede vertel, is daar ook ’n magdom spesialiteitsmuseums ─ van speelgoed en sport tot wetenskap en wyn. Dié museums vorm deel van Suid-Afrika se ryk erfenis en laat die verlede beslis weer lééf. Daarom het LekkeSlaap 10 museums regoor die land opgespoor waar jy en jou gesin talle genotvolle ure kan deurbring. En as die museum nie in jou tuisdorp is nie, stel ons ook ’n klompie blyplekke voor waar jy snoesig kan slaap nadat jy heeldag in die gryse geskiedenis gedelwe het!

Die Groot Gat en Kimberley Mynmuseum

S Circular-weg, Kimberley, Noord-Kaap
☎ 053 839 4600

As blink klippies jou oë laat glinster, kom maak gerus ’n draai by die grootste mensgemaakte krater ter wêreld! Die Groot Gat het in 1870 gedurende die diamantstormloop ontstaan en 2 722 kilogram diamante is hier ontgin voor die myn in 1914 gesluit is.

Vandag kan jy ook, nes die delwers van ouds, die eertydse mynskag verken. Daarna kan jy by die mynmuseum meer oor die Diamantstad se myngeskiedenis te wete kom, historiese versamelstukke bewonder en ’n paar edelstene effens goedkoper aanskaf. Daar is ook ’n fassinerende herkonstruksie van die “ou dorp” wat jou ’n kykie na die lewe in die laat 1800’s gee.

Pret in die omgewing: Trem-rit | Star of the West-kroeg | Wildebeestkuil-rotskunssentrum
Oornagopsies: Hadida Guest House | Harseshoe Inn | Oleander Guesthouse

Franschhoek Motormuseum

R45, Franschhoek, Wes-Kaap
☎ 021 874 0000

Wanneer jy jou motor met ’n afstandbeheer oopsluit en die ratte outomaties verwissel, is dit bykans onmoontlik om te dink dat daar ’n era sonder moderne voertuie was. As jy dié vervloë dae wil beleef, stuur jou motor in die rigting van Franschhoek se motormuseum waar enige motorliefhebber in die sewende hemel sal wees!

A post shared by Lee-Ann Staniland (@leestani) on

Dié unieke versameling beslaan vier vertoonlokale en sluit meer as 220 voertuie in ─ van stokou fietse en ’n 1898-Beeston-driewielmotor, tot ’n 2003-Ferrari Enzo-supermotor.

Pret in die omgewing: Hugenote Monument | perdry | Cafe de Arts
Oornagopsies: Petit Plaisir Cottage | Franschhoek Boutique Hotel | Franschhoek Farm Cottage

Bartolomeus Dias Museumkompleks

Markstraat 1, Mosselbaai, Wes-Kaap
☎ 044 691 1067

Dis nie net uitgestrekte strande en ’n matige klimaat wat Mosselbaai ’n gewilde vakansiebestemming maak nie, maar ook die aangrypende skeepsgeskiedenis. Dié museumkompleks bestaan uit ’n kus-, skulp- en graanskuurmuseum en is amptelik in 1989 geopen. Dis vernoem na die beroemde seevaarder, Bartolomeus Dias, wat in 1488 hiér voet aan wal gesit het en vars water gekry het by die fontein wat vandag nog vloei.

A post shared by Carika Oosthuizen (@carika1410) on

By die kusmuseum kan jy ’n lewensgrootte weergawe van Dias se skip besigtig en daar is ook ’n geskenkwinkel. Die graanskuur stal inheemse plantegroei soos fynbos uit en konferensies kan hier gehou word. Die kompleks sluit Maleier-grafte wat uit die negentiende eeu dateer, asook ’n botanies tuin in. Verder staan die ou melkhoutboom, oftewel die poskantoorboom, steeds op die perseel. Dié boom is tot Nasionale Monument verklaar omdat die skeepsbevelvoerder, Pedro de Ataide, in 1500 ’n belangrike brief in ’n skoen daar naby gelos het.

Pret in die omgewing: Dias-strand | kunsvlytroete | Oystercatcher-voetslaanroete
Oornagopsies: Villa Dajovice | The Point Beach House | Oceans Hotel

Melrose House

Jeff Masemolastraat 275, Pretoria, Gauteng
☎ 012 322 0420

As dit pap reën, moet jy skep ─ dis hoe George Heys sy fortuin tydens die diamantstormloop gemaak het deur ’n koetsdiens tussen Kimberley en Pretoria te begin. In 1886 het hy ’n statige Victoriaanse herehuis vol tierlantyntjies laat bou en dit na Melrose Abbey in Skotland vernoem. Tydens die Anglo-Boereoorlog het Britse troepe dié huis 18 maande lank as oorlogkantoor gebruik en die Vereeniging-vredesverdrag, wat die oorlog beëindig het, is op 31 Mei 1902 om die massiewe etenstafel onderteken. Melrose House het tot in 1968 aan die Heys-gesin behoort waarna die Pretoria-stadsraad dit gekoop en in ’n museum omskep het.

Al is die huis opgeknap, is die oorspronklike struktuur behou. Jy kan self deur die kamers toer waar van die Heys-gesin se meubels, satyn en goue items, vergulde plafonne en kleurglasvensters gesien kan word. Heys se motor, ’n Minverva wat hy in 1920 gekoop het, staan steeds in die koetshuis. Daar is ook ’n kleitennisbaan, biblioteek en smeedyster-konservatorium met Anglo-Boereoorlog-uitstallings. Antieke kunsmarkte word menigmaal in die tuin gehou waartydens meer as 200 uitstallings, soos juwele, meubels, porselein en munte ten toon gestel word.

Pret in die omgewing: Austin Roberts Voëlbewarea | Hazel-kosmark | Jan Cilliers-park
Oornagopsies: Morning Star Express Hotel | Villa San Giovanni Akkommodasie | Muckleneuk Guest House

Afrikaanse Taalmuseum

Pastorielaan 11, Paarl, Wes-Kaap
☎ 021 872 3441

Die Afrikaanse Taalmuseum en -monument, asook die Paarl-amfiteater, is sedert 1975 ons mooie Moedertaal se tuiste. Dié museum en monument weerspieël Afrikaans se groei as taal en streef daarna om dié taal onder jeug en nie-moedertaalsprekers te bevorder, en om die kulturele geskiedenis daarvan te bewaar.

A post shared by Wim Wilri (@wimwilri) on

Jy kan dikwels uitstallings by die nuwe besoekersentrum bywoon en in die boekwinkel rondsnuffel. Daar is ’n lieflike tuin met speelplek vir die kleinspan waar julle kan piekniek hou. Volmaan- en sterrekykpieknieks, asook piekniekkonserte is immergewild. Jy kan van hier af ook verskeie voetslaanroetes teen Paarlberg aanpak. Die perseel se gesellige Volksmond-koffiewinkel bedien ontbyt, middagete, piekniekmandjies, koek, tee en koffie, asook bier en wyn.

A post shared by gosatravel (@gosatravel) on

Pret in die omgewing: Paarl Mall | Fairview Wine and Cheese | Drakenstein Leeupark
Oornagopsies: Groendraai | Bona Vista | Madeliefie

Iziko Groot Constantia-landgoed en Wynmuseum

Groot Constantia-weg, Constantia, Wes-Kaap
☎ 021 794 5067

As jy meer oor wyn wil leer, is ’n besoek aan dié pragplaas beslis ’n móét! Groot Constantia dateer uit 1685 toe die grond aan Simon van der Stel toegeken is en is die oudste wynproduserende landgoed in Suid-Afrika. Die herehuis se ou meubels, skilderye, keramiek, brons- en koperware bied ’n blik op die lewe van ’n suksesvolle Kaapse boer uit die agtiende en negentiende eeu.

Kom ervaar die nuwe Groot Constantia-besoekersroete wat deur die landgoed se historiese hart loop. Dié roete begin by die kulturele museum in die herehuis en vorder na die bekende Cloete-kelder. Dié oorspronklike kelder en wynmuseum bied Groot Constantia se wêreldberoemde soetwyn, asook antieke wynvaatjies. In die proelokaal teug ’n mens aan wyn in ’n Spiegelau-kristalglas wat jy daarna as aandenking kan huis toe vat. Daar is ook ’n moderne produksiekelder, wingerdtoer, Suid-Afrikaanse kuns by Art@Constantia-galery en twee toprestaurante, Jonkershuis en Simon’s Restaurant & Deli.

Pret in die omgewing: Constantia Village Winkelsentrum | Stillness-spa | Kirstenbosch Nasionale Botaniese tuin
Oornagopsies: Alphen Vines | Taronga Villa | Willow Way

Comrades-marathon Huis

Connaught-weg 18, Scottsville, Pietermaritzburg, KwaZulu-Natal
☎ 033 897 8650

Die grootste ultramarathon ter wêreld word jaarliks op eie bodem gehou en toets al sedert 1921 deelnemers se uithouvermoë. Dis daarom g’n wonder dat ’n museum ter bewaring van dié besonderse wedloop geopen is nie. Jy vind dié museum in ’n ou Victoriaanse huis wat onder leiding van die voormalige Springbok-rugbykaptein en Comrades-deelnemer, Wynand Claasen, opgeknap is.

A post shared by Olaf Olgiati (@olafmeister) on

Museumuitstallings sluit ’n groot fotogalery van eertydse wenners, soos Bruce Fordyce, in, asook ’n versameling trofeë en skilde uit die stigtersjare. Verder is daar ’n indrukwekkende 1:25 000-skaalmodel van die roete met kommentaar wat deelnemers se hoogte- en laagtepunte vertel. Wie weet, dit moedig jou dalk net aan om jou tekkies af te stof!

A post shared by @bestside1 on

Pret in die omgewing: KwaZulu-Natal Botaniese tuin | Liberty Midlands Mall | Cascade Bergfietspark
Oornagopsies: Wensleydale Guest Lodge | Thembelihle Gastehuise | Tancredi B&B

Iziko Planetarium en Digitale Koepel

Queen Victoriastraat 25, Kaapstad, Wes-Kaap
☎ 021 481 3900

As jy ook in die ruimte wil rinkink, kom loer gerus by die Planetarium in. Dié astronomiemuseum dateer uit die 1950’s en in 1987 is die stermasjien bekendgestel wat die naghemel teen die museumplafon laat verskyn het.

A post shared by Cape Town (@capetown) on

Buiten die innoverende koepeltegnologie wat gebruik word om beelddata te versamel en die samewerking met Suid-Afrikaanse teleskoopprojekte, is daar ook ’n ander trekpleister ─ ’n virtuele ruimtereis! Deesdae kan jonk en oud met behulp van die nuutste satellietbeelde ’n 3D-toer deur die sonnestelsel meemaak, tussen Saturnus se ringe baljaar en rondom Pluto sweef.

Pret in die omgewing: Tafelberg-kabelkarretjie | V&A Waterfront | Kasteel de Goede Hoop
Oornagopsies: Cape Town Hollow Boutique Hotel | Gill’s Apartment | Dreamscape

Willem Prinsloo Landboumuseum

R104 Ou Bronkhorstspruit-pad, Cullinan, Gauteng
☎ 012 736 2035

’n Egte plattelandse ervaring wag by dié landboumuseum op Kaalfontein buite Pretoria. Dié plaas is in 1889 deur die grootwildjagter, Willem “Wragtig” Prinsloo, gekoop en drie Prinsloo-geslagte het hier geboer. Vandag is dit ’n lekker gesinsuitstappie wat stads- en plaasjapies sal geniet.

Trouens, op dié plaas kan jy heeldag besig bly met koeie melk, kaas en kerse maak en brood bak. Daar is ook outydse plaasimplemente en vervoermiddels, soos donkie- en perdekarre, ossewaens en koetse. As jy ’n rukkie uit die son wil kom, kan jy die twee huismuseums en buitegeboue verken wat uit 1880 en 1913 dateer. Verder is daar Nguni- en Afrikanerbeeste, Persiese skape en inheemse hoenders op die plaas. Die jaarlikse mampoerfees wek ook groot belangstelling. As al die plaasplesier verby is, kan jy by die restaurant, Tant Miertjie se Kombuis, gaan smul!

A post shared by Dutchy (@dutchygeldenhuys) on

Pret in die omgewing: Rietvlei Natuurreservaat | Ukuthula Bos-spa | Warmlugballonvlugte
Oornagopsies: Cullinan Diamond Lodge | Dolphin Whisper Guest House & Spa | Lakeview Cottage

Warrior Speelgoedmuseum

St Georgestraat, Simonstad, Wes-Kaap
☎ 021 786 1395

Herleef jou jeug by dié besonderse speelgoedmuseum aan die Kaapse Skiereiland. Hiér kreun die rakke onder ’n indrukwekkende versameling antieke en moderne speelgoed, van modelkarretjies en miniatuur pophuise, tot twee volledige treinspore in werkende toestand.

A post shared by Ighsaan Robinson (@igy30) on

Die jongspan kan hulle vergaap aan Mr Bean se motortjie en ’n bataljon speelgoedsoldate. Daar is ook ’n miniatuurklavier, sirkustent vol akrobate en ’n reuse-versameling porseleinpoppe wat jou dalk net die skrik op die lyf kan jaag!

Pret in die omgewing: Boulders-strand | Seaforth Restaurant | Cape Point Vinyards
Oornagopsies: Delahilcremat | Mariner Guesthouse | Bay Vista Garden Flat

So, as jy graag jou geskiedeniskennis wil opskerp of bloot op soek is na naweek- of vakansiepret, sorg dat dié museums bo-aan jou lysie is!

Hooffoto: Afrikaanse Taalmonument (BigStock)