Met die koms van die somervakansieseisoen kan talle mense ’n sug van verligting slaak na ’n verwarrende jaar. Om dit te vier het LekkeSlaap ’n lys met ’n honderd redes waarom ons mal is oor ons land opgestel. Wat is alles op jou lysie? Laat weet ons in die kommentaar hieronder.  

1. Aangesien hierdie ’n lang lys is, begin ons sommer by die spesiale konsep van Suid-Afrikaanse tyd. Suid-Afrikaners verstaan dit goed. Ons wéét mos wat ons bedoel as ons sê ons kom “nou-nou”. Dit kan enigiets van twee minute tot twee ure wees, so moenie ons aanjaag nie!

2. Afrika-pikkewyne met hulle koddige waggelstappies en netjiese broekpakkies kom nét in Suid-Afrika en Namibië voor. Hulle is inheems aan Algoabaai naby Port Elizabeth, maar die bekendste kolonie kan by Bouldersstrand in die Kaap gevind word.

african penguins
Afrika-pikkewyne by Bouldersstrand. Foto: Bigstock

3. Die Giant Flag-projek in die Camdeboo-streek poog om ’n enorme Suid-Afrikaanse landsvlag, wat uit die ruimte gesien kan word, uit sonpanele en helderkleurige vetplantspesies op te rig ─ als in die naam van toerisme, hernubare energie en werkskepping. Koop jou vetplantjie en dra tot dié nasiebouprojek by!

4. Sand wat vir jou brul? Die suidelike duine van die Witsand Natuurreservaat in die Kalahari brul as jy daaroor stap! Hierdie “kwaai duine” is egter temperamenteel en “brul” net onder sekere omstandighede, soos wanneer dit baie warm en droog is. 

5. Legendariese Lae- en Hoëveld-donderstorms. Wanneer dit op ’n somersmiddag drukkend raak, trek die Hoë– en Laeveld skielik toe sodat die vlaktes deur bulderende donderstorms geles kan word. Dan, skielik, trek dit weer oop sodat ons om die vuur kan kuier. 

6. Kli-MATIG! Dit is altyd ’n goeie tyd vir reis deur ons mooi land, want, in vergelyking met die res van die wêreld, het Suid-Afrika ’n relatiewe matige klimaat. In sekere dele van die land, soos Durban, die Tuinroete en die Wildekus sou jy op die meeste dae nie eens aan die temperatuur kon aflei of dit winter of somer is nie!

7. Suid-Afrika ervaar bitter min skielike natuurrampe, soos vulkaniese uitbarstings, siklone, tornado’s, aardbewings en tsunami’s. Dit is een van die topredes waarom ons land so ’n gewilde bestemming vir oorsese toeriste is.

8. Die Groot 5 is een van ons kosbaarste trekpleisters. Ironies genoeg is dié term aanvanklik geskep om die vyf diere wat die moeilikste is om te jag saam te groepeer. Vandag stroom die ganse wêreld na Suid-Afrika om die olifant, swartrenoster, buffel, luiperd en leeu in lewende lywe op safari te sien. 

lioness
Leeuwyfie. Foto: Nyumbani Estate Safari Bush Lodge op LekkeSlaap

9. Hoewel die Groot 5 werklik besonders is, is die springbok se grasieuse pronkspronge, helder, intelligente oë en perfekte wit strepe iets om te beleef. Hierdie bokkie is met goeie rede ons nasionale dier en ’n embleem wat al ons nasionale presteerders met trots dra.

10. Die diepste donker kan by die !Ae!Hai Kalahari Erfenispark gevind word. Dié park is een van net twee plekke in Afrika wat Internasionale Dark Sky-status geniet, wat beteken dat daar amper geen lig- of lugbesoedeling is nie. Die park het ’n donkertemeting van 21,9 ─ die hoogste moontlike lesing is 22!

11. Die helderste sterre kan in Sutherland gesien word. Dié Karoodorp is een van die wêreld se top-sterrekykbestemmings weens sy besoedelingsvrye, droë lug en hoogte bo seespieël. Daarom is dit ook die tuiste van die SALT-navorsingsteleskoop, die grootste teleskoop in die Suidelike Halfrond. 

12. Jy kan soos ’n koning kamp, want Suid-Afrika het glanskampe tot ’n kuns vervolmaak. In die wildreservaat, langs ’n rivier, hoog bo die takke, met ’n warmbad, ’n privaat swembad, spa-behandelings of ’n buitestort — daar is beslis iets wat selfs kieskeurige kampeerders breed sal laat glimlag. 

Glamping South Africa
Jy kan glanskamp by Bushwa Game Lodge. Foto: LekkeSlaap

13. Pinotage is uniek aan Suid-Afrika. Dit is vir die eerste keer in 1925 uit ’n Pinot-noir- en Cinsaut-kruising vervaardig. 

14. Suid-Afrika is wêreldbekend vir sy wyn, nie net vir die groot verskeidenheid nie, maar ook vir sy lekker wynproe-opsies. Ons spog ook met die langste wynroete ter wêreld (dit begin in die Kaap en eindig in Port Elizabeth!) asook die oudste wynroete buite Europa.

15. Die Fynbos-blommeryk is die kleinste, maar ook die mees biodiverse blommeryk ter wêreld! Dié plante is nie net pragtig en interessant nie, maar het ook talle kulinêre en medisinale gebruike. 

fynbos protea
Van al ons fynbosspesies is die protea sekerlik die bekendste. Foto: Camissa Cottage op LekkeSlaap

16. Die Wieg van die Mensdom is ’n UNESCO Wêrelderfenisgebied, ’n uur se ry vanaf Johannesburg en Pretoria, wat van die oudste hominiedfossiele óóit opgelewer het — sommiges is sowat 3,5 miljoen jaar oud — en is van groot belang in die menslike ewolusie.

17. Dis nie drie minute nadat iemand iets vreemd op die nuus kwytgeraak het, of Marlize in ’n paal vasgery het nie, of ons Whatsapp-groepies en Facebook-blaaie word met spottende remixes en kettinggrappies bestook. Met ons skerp humorsin kan Suid-Afrikaners ’n silwerrandjie om enige ramp of rariteit sien. 

18. Nie net is die Bo-Kaap se bont huisies die beste plek vir ’n veelkleurige fotosessie nie, maar die kerrie en koesisters wat jy hier kan eet én leer maak is nxa! 

Bo-Kaap
Die Bo-Kaap se bont huisies. Foto: Bigstock

19. Wanneer die Weskus se sardiens in die winter na die warm waters van KwaZulu-Natal se Suidkus beweeg, wemel ons kuslyn van walvisse en haaie wat die enorme sardienloop volg. Dit is een van die wêreld se grootste migrasies en lok jaarliks duisende toeskouers en hengelaars. 

20. Die walvisseisoen is een van Suid-Afrika se mooiste gesigte soos noorkapperwalvisse van Junie tot November van die Kaapse Suidkus tot in KwaZulu-Natal migreer, hul kleintjies in die vlakwater kalf en ten aanskoue van die toeskouers toertjies doen.

21. En wat van skeepswrakstories? Omdat ons kuslyn die tuiste van meesleurende seestrome, storms en rotsriwwe is, en verskeie skepe deur die eeue onderweg na Indië om die suidpunt van die kontinent moes seil, is ons kus met skeepswrakke van toentertyd tot nou gestip, die een se tragiese verhaal so interessant soos die volgende. 

22. Van die Tugela-waterval, die tweede hoogste waterval ter wêreld, tot die Augrabieswaterval se asembenewende gedruis tydens die vloedseisoen en die 22 watervalle wat jy op een staproete in Porterville kan sien — Suid-Afrika is ryk aan wonderskone watervalle

23. Ons is trots op Tafelberg. Dié ikoniese berg bied nie net talle staproetes, verstommende biodiversiteit en die mooiste uitsig nie, maar met die rype ouderdom van 240 miljoen jaar is dit ook een van die oudste berge. Die Alpe is maar net viermiljoen jaar oud en dus ’n bababerg in vergelyking!

Tafelberg
Tafelberg is een van Suid-Afrika se bekendste en geliefste landmerke. Foto: Bigstock

24. Die Bloukransbrug naby Nature’s Valley bied die hoogste brugspringplek ter wêreld — dis 216 meter se val, so jy beter ’n haarrekkie en al jou moed saambring!

25. Karoolam word oor die wêreld heen as van die sappigste, geurigste vleis geag. Dis oor Karookudde sulke geurige bossies vreet! 

26. Die Vredefortkoepel in die Vrystaat is die grootste meteoriet-impakkrater op aarde en bied belangrike bewyse oor hoe ons planeet geëwolueer het. Dié meteoriet se impak het die aarde se suurstofvlakke laat styg wat lewe op ons planeet moontlik gemaak het. 

27. Die riel is een van die oudste danse van Suid-Afrika se inheemse bevolkings, die San, Nama en Khoi, en kan nog in heelparty dorpies in die Karoo, Namakwaland en by die jaarlikse ATKV-Rieldanskampioenskappe gesien word. 

riel dans
Die rieldans is ’n inheemse feesvieringsdans. Foto: Wikimedia Commons

28. Daar is soveel maniere om Suid-Afrika te verken, maar ’n ziplyn-toer is een van die bestes en hierdie prettige, gesinsvriendelike doending is volop — van ritsblits oor die Skurweberge buite Ceres of naby Magaliesburg, tot boomtoptoere in Karkloof, Tsitsikamma en die Drakensberg, in Suid-Afrika kry jy jou gly!

29. Die mooiste langpadroetes deurkruis ons land en sal enigeen met ’n liefde vir reis bederf. Roetes sluit ondermeer Roete 62, die Weskusroete, Rooibosteeroete, kronkelpaaie deur KwaZulu-Natal se Middellande, die Kaap-Namibië-roete, die Tuinroete en die Johannesburg-Kaapstad-roete al langs die N1 in.

30. SANParke se toegewyde span help om groot dele van ons land se natuurerfenis te beskerm. So word talle asemrowende natuurlike verskynsels binne ons bereik geplaas, dog bewaar vir diegene wat ná ons kom.  

31. Vriendelike petroljoggies is te vinde waar ook al jy jou motor moet vol maak. Dan word jou ruite sommer gewas en jou bande met ’n glimlag en ’n vinnige geselsie gepomp!

32. Die Oos-Kaap se golwende groen heuwels vol helderkleurige Xhosa-kaias en bestaansboerderye staan as die lalis (la-lies) bekend en roep jou om aan die Wildekus te kom kuier. 

lali's oos-kaap
Die golwende groen lali’s van die Oos-Kaap. Foto: Adriëtte le Roux

33. Durban se Zoeloe-rickshaws is ’n unieke manier om die Goue Myl te verken, al is daar deesdae baie minder van die kleurvolle koetse langs die kuslyn te vind.

34. Nou gaan ons braai, want dit gaan nie net oor die heerlike vleis, braaibroodjies, aartappelslaai of pap en smoor nie, maar ook oor die vuur en die geselligheid wat van dié gunstelingtydverdryf meer as ’n maaltyd maak.

35. Kimberley se Groot Gat is die grootste handgegroude gat ter wêreld en The Big Hole Centre se toere word deur vriendelike, ingeligte toergidse aangebied wat die belang van die Diamantstormloop in Suid-Afrika en in die wêreld in perspektief kan plaas.

36. Die Uilhuis in Nieu-Bethesda is só merkwaardig dat dit dié Karoodorpie laat herleef het. Hier het Helen Martins haar blydskap en seer in mure vol glasstof en meer as driehonderd vreemde, fantastiese sementstandbeelde uitgedruk.  

Owl House Helen Martins Nieu Bethesda
Standbeelde in Helen Martins se agtertuin by die Uilhuis in Nieu-Bethesda. Foto: Wikimedia Commons

37. Die Sederberg se kenmerkende, rooi rotsformasies en grotte is die perfekte plek vir stap, sterrekyk en sielsrus en lok ook talle vryklimmers wat hul matrasse onder die vreemde formasies neerlê en dan loshande tot bo klouter (ja, ons is ernstig)!  

38. Die Sederberg is ook die enigste plek op aarde waar rooibostee verbou word. Dié heerlike tee is gesog vir sy soet smaak en gesondheidsvoordele in die buiteland, maar in Suid-Afrika is dit oral beskikbaar, spotgoedkoop en word in baie huishoudings selfs méér as gewone Ceylon-tee gedrink.   

39. Kom stap tussen die reuse-broodbome in Modjadjiskloof se broodboomwoud! Hierdie kloof in Limpopo is ’n magiese, mistige area waaroor vyf generasies se reënkoninginne geheers het. 

40. Die Brandwagkrans in die Golden Gate Highlands Nasionale Park wat met sonsopkoms en sonsondergang goud gloei is ’n skouspelagtige gesig en verleen aan hierdie asemrowende natuurreservaat sy naam.

golden gate highlands nature reserve
Die Golden Gate Highlands Nasionale Park se Brandwagkrans gloei goud. Foto: SANParks Glen Reenen Rest Camp op LekkeSlaap

41. Suid-Afrika se mineraalrykdom is onteenseglik een van die grootste dryfvere in ons geskiedenis en ekonomie. Diamante en goud, maar ook platinum, ystererts en chroom is al deur die jare uit ons aardkors gehaal. Deur ’n goudmyntoer by Kromdraai in Johannesburg te doen kan jy spesifiek die goudbedryf se interessante geskiedenis ervaar.

42. Die Panoramaroete verdien sy eie plekkie op ons lys omdat dit propvol skouspelagtige stopplekke is. Besienswaardighede op hierdie roete sluit die Lisbon-waterval, Blyderivierspoort, Bourke’s Luck-kolkgate en God’s Window in.   

43. Die veldblomprag van Namakwaland lok tussen Augustus en Oktober skares van reg oor die wêreld.

Namaqua flowers
Namakwaland se veldblomprag. Foto: Bigstock

44. Daar is soveel bewareas in ons land wat ’n toevlug vir uitgebuite wilde diere en voëls bied. Sulke bewareas minimaliseer die interaksie tussen mens en dier sodat die diere so natuurlik moontlik kan leef. Ons dink byvoorbeeld aan Monkeyland, Birds of Eden, die Knysna Olifantpark en Jukani op die Tuinroete om net ’n paar te noem. 

45. Die Midlands Meander se kunsvlytwinkels bied allerlei unieke, handgemaakte produkte wat net bydra tot dié streek se natuurprag. 

46. Ons land is propvol spookstories en legendes. Van die Vlieënde Hollander en Van Hings en die Duiwel tot Antjesomers en die Krugermiljoene, daar is altyd ’n storie wat jy rondom die vuur kan vertel.

47. St. Lucia se seekoeie en seeskilpaaie is maar ván die redes waarom hierdie UNESCO Wêrelderfenisgebied op jou reislysie hoort. Die seeskilpadtoere begin in November wanneer karet- en leerskilpaaie hul eiers aan die kus kom lê. Die seekoeie kan egter regdeur die jaar op toere gewaar word.   

St lucia hippo
Die seekoeie by St. Lucia speel heel jaar vir besoekers konsert. Foto: Bigstock

48. Paternoster se afgewitte kothuisies, wit sandstrande en asuurblou-see maak van dié bekoorlike vissersdorpie aan die Weskus ’n regte Afrika-Griekeland. 

49. Met elf amptelike landstale het Suid-Afrika die meeste landstale van enige land ter wêreld!

50. Die Afrikaans Taalmonument in die Paarl is die enigste monument in die wêreld wat ter ere van ’n taal opgerig is. Afrikaans, jy’s darem maar net lekker!   

51. Die Sanipas wat Underberg aan Lesotho verbind is alles waarna ’n avonturier in ’n bergpas soek: Dit beslaan nege kilometer se kronkelrige grondpad, styg tot 2876 meter bo seespieël met asemrowende uitsigte aan alle kante! Jy sal ’n 4×4-voertuig benodig om hier te ry. 

Sani Pass
Die Sanipas. Foto: Wikimedia Commons

52. Die Tankwa Camino-roete, beter bekend as die R355 wat Ceres en Calvinia verbind, is die langste grondpad in Suid-Afrika sonder ’n vulstasie of dorp en is ’n gunstelingroete onder motorfietsryers. As jy regtig glo dat “die lewe begin waar die teerpad eindig”, moet jy hierdie bielie aanpak!

53. Feeste op feeste beteken dat Suid-Afrikaners nooit ’n rede het om tuis te bly nie! Jy kan kus en keur van die kunstefeeste, kos-, vleis-, wyn- en kersiefeeste, om nie te praat van die skrywersfeeste, dank- en musiekfeeste nie.

54. Suid-Afrika se windpompe is ’n pragtige, nostalgiese verskynsel vir enige langpadreisiger. Dié staalblomme het dit moontlik gemaak vir mense om in die droër Karoo en noorde van die land te vestig deur water uit die aarde  te tap. Vandag is windpompe vir reisigers maar ’n fotogeleentheid op pad na hul bestemming of ’n rede om medereisigers wakker te skree met “WINDPOMP!”  

Sutherland windpomp
Windpompe is tuis langs Suid-Afrika se paaie. Foto: Discover Sutherland verskaf

55. Kersmarkte. ’n Dorp is nie ’n dorp sonder ’n jaarlikse kersmark nie. As jy nie weet wat om vir jou geliefdes te koop nie, sal ’n tannie by jou naaste kersmark beslis ’n oplossing hê en sy sou dit ook self gehekel, gebak of geb(r)ou het. 

56. Privaat treintoere is besig om volstoom te herleef, soos gesien aan die Ceres Railway Company, die Magaliesburg Express en die Elgin Spoorwegmarkie. Daar is ook die luukse Bloutrein en Rovos Rail vir diegene met dieper sakke en sjampanjesmaak.

57. Die gekrys van hadedas en tarentale. Ja, hulle maak jou dalk soggens wakker en blerts op jou motor, maar ons kan jou waarborg dat jy die “ha-haaa” van ’n hadeda en die spikkelspoed van ’n tarentaal wat oor die pad snel sal mis as jy moet emigreer.

58. Die Hole in the Wall naby Koffiebaai lyk kompleet soos ’n poort na ’n ander wêreld. As jy die staproete vanaf die Ocean View Hotel oor die heuwels, verby strandwatervalle en koeie doen, gaan jy ook in die rivierwater voor die gat wil afkoel. 

hole in the wall
Hole in the Wall. Foto: Adriëtte le Roux

59. Mpumalanga se kosmosvelde is ’n fotogeleentheid so rég uit ’n sprokie. Moet dit nie volgende somer misloop nie!

60. Wanneer die wilde-aalwyne in die winter blom, lyk dit kompleet of die Oos-Kaap se berge en heuwels aan die brand is met rooi-oranje vuurpyle.

61. Fynbos-gin het met goeie rede die afgelope paar jaar ’n groot oplewing gesien — dis heerlik, plaaslik en volhoubaar! Die bessies, wortels, blomme en blare van verskeie fynbosspesies word geoes en in groot koperketels tot gin gebrou om hierdie verfrissende drankie te skep! 

62. Die volkome vrede van ’n afgeleë Karookothuis is darem maar weergalloos. Ons mooie land bied ’n magdom sulke sielsverkwikkende wegbreke met uitgestrekte vlaktes om in te stap.  

Karoo kothuis
Karoo-kothuise is versteekte juwele wat die platteland vol lê. Foto: Snyderskloof Karoo Cottage op LekkeSlaap

63. Eklektiese boustyle, waaronder Victoriaanse, Edwardiaanse, Kaaps-Hollandse, en Art Deco-argitektuur (om net ’n paar te noem), is ’n teken van ons ryk geskiedenis en uiteenlopende invloede. In sommige dorpies vind jy oorwegend een boustyl, waar daar byvoorbeeld op een straatblok in die Kaapse middestad voorbeelde van ál hierdie boustyle te sien is!

64. Willowmore se Karoo-engeltjies is net een voorbeeld van ’n liefdadigheidsprojek wat deur vindingryke, passievolle mense aangepak is om werkskepping en armoedeverligting te bewerkstellig. Dié ougat draad-en-kraal-engeltjies word in Willowmore met die hand  gemaak en het al na die uithoeke van die aarde “gevlieg”.

65. Magoebaskloof se tuine is tydens die jaarlikse Lentefees op hul heel mooiste wanneer landgoedere soos Sequoia, Kuhestan en Cheerio Gardens se tuine in volle bloei is, maar jy sal regdeur die jaar in hierdie pragtige streek se feetjietuine kan verdwaal.

Cheerion Gardens Magoebaskloof
Magoebaskloof is ’n lushof van kleure. Foto: Cheerio Gardens op LekkeSlaap

66. Padstalle en die skatte wat ons daar vind. Die padstalonderwerp kan Suid-Afrikaners vir ure aan die gesels hou, want elkeen weet waar sy gunsteling-padstal is en watter spesialiteitsproduk daar gekoop kan word — van kaiings, slaphaakskeentjies, koeksisters en pasteie tot gemmerbier, melktert en moskonfyt. 

67. Terwyl ons aan ons mae dink, wat van padkos! Ander lande het nou maar een maal nie die frikaddel-en-gekookte-eier-tradisie waarmee Suid-Afrikaners gebore en getoë(r) word nie. Gooi ’n driehoekige toebroodjie en ’n koppie koffie uit ’n fles daarby, en die kinders op die agtersitplek is tjoepstil.

68. Pretoria se strate vol lilapers Jakarandabome is so mooi, Jak de Priester het ’n liedjie daaroor geskryf en ons luister al vir jare daarna op die kassie as Binnelanders se kenwysie. 

Pretoria se jakarandabome
Pretoria se Jakarandabome. Foto: Bigstock

69. Inkopies by verkeerskruisings. Het jou kar se sonskerm of selfoonlaaier gebreek? Is jy skielik lus vir druiwe of bokkoms (of albei)? Het jy nog nie daardie nuwe karlisensie teen jou ruit geplak nie of jou dogtertjie se sandkasteelstelletjie by die huis vergeet? Geen probleem! Rol net jou motor se ruit af. 

70. Zoo Biscuits is lekker én leersaam en die vervaardiging daarvan het in die 1880’s in Suid-Afrika begin. Weet jy wat die beste ding van Zoo Biscuits is? As Suid-Afrikaners kan ons almal teen driejarige ouderdom die versiersuikerdiere op hierdie kleurvolle koekies noem en hulle klanke namaak. 

71. Biltong en droëwors is stapelvoedsel by enige sportwedstryd en, nee, jy het beslis nie lank genoeg in ’n nuwe dorp gekuier as jy nog nie weet waar om die lekkerste biltong te koop nie. Nat, droog, met of sonder vet, ons oordeel nie, solank ons ook ’n bietjie kry! Dankie. 

72. Gepraat van stapelkosse, sekere eg Suid-Afrikaanse produkte soos Mrs Balls, Ouma Beskuit, Wilson-toffies, Jungle Oats, Amanzi en Amarula proe sommer soos huis.

73. Die bekoring van ’n Bosveldvuur is iets wat LekkeSlaap vir ieder en elk toewens. Of dit nou in ’n lapa by die lodge, voor jou tent of rondom ’n boma is, die Bosveld se naggeluide wat meng met die geknetter van ’n vuur is darem maar mooi.  

’n Bosveldvuur het ’n besonderse bekoring. Foto: TenteToe op LekkeSlaap

74. Of dit nou amptelik is of nie, elke streek het ook sy eie, kenmerkende dis. Gatsbys en vis en tjips is byvoorbeeld groot in die Kaap, afval in sekere dele van die Noord-Kaap en bunny chow in KwaZulu-Natal.

75. Ons is groot op familiekuiers, gaan almal saam met vakansie en maak saam kos. Daarom maak ons gasvryheidsbedryf hiervoor voorsiening met verskeie kuierhuise vir groot groepe

76. Boererate is dertig persent van die tyd hulpvaardige (dog ongevraagde) gesondheidsadvies en sewentig persent van die tyd pure plasebo, maar dit maak die lewe interessant, en om ’n boegoe-aftreksel vir babelas af te sluk of met ’n aartappel onder jou matras te slaap vir spierpyn kan nie skade doen nie. 

77. Vreemd en vrolik, dís hoe jy Suid-Afrika se snaaksste, afgeleë kroeë kan beskryf. Wat is dan nou lekkerder as ’n drankie en ’n interessante storie?  

Tjol se gat buite Sutherland
Tjol se Gat is een van verskeie vreemde kroeë waar jy in Suid-Afrika ’n glasie kan klink. Foto: Schalk Schreuder

78. Soveel van ons dorpies het ontstaan weens die behoefte aan ’n plek om te aanbid. Daarom is Suid-Afrika propvol pragtige kerke, die een groter en met ’n ryker geskiedenis as die ander.

79. Grote griet, ons kan nie van ons grotte vergeet nie! Van die Kangogrotte se indrukwekkende stalagmiete en stalaktiete en die Sterkfonteingrotte se wêrelderfenisstatus tot die oudste grotte op aarde by Sudwala in Mpumalanga en die Sederberg se asemrowende Stadsaalgrotte! Kry ’n bietjie vonk en besoek ’n Suid-Afrikaanse spelonk! 

80. Almal is mal oor ’n Jacuzzi, maar as die krag af is (soos gereeld die geval is), sit jy basies met ’n koue bad water. Daarom is houtvuurwarmbaddens, soos die kenmerkende Kol-kol-baddens, ’n eg Suid-Afrikaanse produk, aan die toeneem en kan jy al by verskeie vakansieplekke jou warmbad met hout stook!

Travelling tortoise wooden house on stilts hot tub
Kyk net daardie lekker houtvuur-warmbad! Foto: The Travelling Tortoise Retreat op LekkeSlaap

81. Ry jy twee uur in enige rigting, lyk die landskap amper totaal anders en onderhou die omgewing ’n heeltemal ander tipe ekologie. So, al weet ons dit almal, moet ons weer stilstaan by die indrukwekkende verskeidenheid landskappe en natuurlike diversiteit van ons land. 

82. Soms moet jy maar net lag vir ons vreemde plekname en ander kere afdraai en self gaan ondersoek instel. Dink byvoorbeeld aan Ogies in Mpumalanga, Klein-Mier-Nommer-Een in die Noord-Kaap, Fort Mistake in KwaZulu-Natal en Die Hel, Karatara en Tietiesbaai in die Wes-Kaap. 

83. Die mees suidelike punt van Afrika en die plek waar die Indiese en Atlantiese Oseaan koppe stamp kan by L’Agulhas gevind word. 

84. Vir so ’n jong land, is Suid-Afrika se geskiedkundige rykdom merkwaardig. Die meeste dorpies het ’n museum, historiese toer of ’n straatgids. Monumente soos die Voortrekker- en Vrouemonument neem jou terug in tyd en is ’n leersame gesinsuitstappie. Erfenisroete soos die Slagveld– en Vryheidsroetes stip belangrike historiese gebeure op ’n streep uit.

Women's Monument South Africa
Die pragtige Vrouemonument in Bloemfontein. Foto: Wikimedia Commons

85. Gaan ons nog verder terug in die geskiedenis, is Suid-Afrika ook vol San-rotstekeninge waarvan die mooistes aan die Weskus, in die Sederberg en langs pragtige staproetes in die Drakensberg gesien kan word. Hierdie tekeninge gee ’n mens ’n blik op die San se ongelooflike leef- en denkwyse, jagkuns en godsdiens.

86. J.R.R. Tolkien se Lord of The Rings is deur Hogsback se lowergroen prag geïnspireer en besoek jy hierdie pragtige, woudagtige dorpie in die Oos-Kaap se Amatholestreek sal jy sommer sien hoekom. 

87. Dullstroom is met goeie rede Suid-Afrika se kunsvlieghengel-hoofstad. Hier kan kranige hengelaars varswatervis soos forel en baars uittrek en selfs al is jy nie een vir lyn natmaak nie, bied Dullstroom genoeg te kus en te keur, asook prentjiemooi landskappe wat aan die Skotse Hooglande herinner.  

Dullstroom
Die beste kunsvlieghengel-geleenthede wag op jou in Dullstroom. Foto: Hartfell Farm op LekkeSlaap

88. Van groot deurbrake, soos die eerste hartoorplanting tot uitvindings soos dolosse, die Kreepy Krauley, die Wonderbag en CT-skanderings (CAT scans), spog Suid-Afrika met verskeie noemenswaardighede uitvindings.

89. Die “extreme 19th”-putjie by die Legends Gholfbaan in die Waterberg is die wêreld se mees ekstreme gholfputjie. Hier slaan jy daai klein wit balletjie vanaf ’n krans wat slegs per helikopter bereik kan word!

90. Met ons mooi weer en pragtige landskappe, is dit tog net gepas dat Suid-Afrika ’n groot verskeidenheid skouspelagtige staproetes bied. Van korter staptogte wat jy in ’n oggend kan voltooi, tot bielie-roetes soos Boesmanskloof, die Otter, Swart Tobie en Giants Cup — daar is iets vir elke fiksheidsgraad.

91. Kaapstad is in 2019 vir die sewende opeenvolgende jaar deur The Telegram se lesers as die beste stad ter wêreld bestempel. Met sy matige klimaat, eklektiese, kosmopolitaanse styl, ongelooflike buitelugdoendinge, ikoniese besienswaardighede, mooi mense en fynproewerrestaurante is daar geen twyfel waarom nie.

Groentemarkplein
Groentemarkplein is een van Kaapstad se bekende gesigte en skuil tussen ’n eklektiese versameling geboue. Foto: Flatrock 505 by CTHA op LekkeSlaap

92. Net vir ingeval jy vergeet het, Suid-Afrika is een van slegs twee lande wat al die Rugbywêreldbeker drie keer gewen het. Die ander land is Nieu-Seeland, maar moenie bekommer nie, ons sal daardie rekord sommer vinnig reg-tackle.  

93. Ons landsvlag is die enigste een ter wêreld wat ses kleure het. Dis mos ’n gepaste stand van sake vir ’n reënboognasie soos ons s’n! 

94. So gepraat van die reënboognasie, hoe ongelooflik is ons mense se gasvryheid?! Ons kleindorpiemense is veral bekend vir hulle gulhartigheid en heel bo aan die lys is die inwoners van die Karoo wat lyk of hulle met ’n spesiale gasvryheidsgeen gebore word. Hier sal jy selde van die tafel af opstaan sonder dat jy gevra word of jy nog ’n skeppie soek of ’n pakkie biltong onder die arm gestop word, ’n ou “ietsie vir die langpad”. 

95. As jy ’n adrenalienvraat is, is daar nie ’n beter bestemming as Suid-Afrika nie. Bykans al die avontuursportsoorte kan tussen die grense van ons land beoefen word — en dan nog in van die mooiste landskappe in die wêreld! Ons het reeds brugspring en vryklim genoem, maar daar is ook vryval, vlieërbrandderry, rotsklim, abseil, valskermsweef, riviervlotvaar, kajakvaar, diepseeduik, branderplankry, skubaduik, diepseehengel, bergfietsry en selfs ski.

96. Suid-Afrika spog met ’n allemintige 45 Blouvlagstrande: Skoon, gesinsvriendelike strande met lewensredders wat sal sorg dat enige stranddag een vir die boeke sal wees!

Kampsbaai se strand is net een van 45 Blouvlagstrande in Suid-Afrika en daar is nog verskeie ander met lieflike getypoele ook! Foto: Bigstock

97. Enige gesoute reisiger sal vir jou sê dat Suid-Afrika se hartklop eintlik in haar klein dorpies, elk met sy eie karakter en moet-sien-en-doendinge. Van boetiekdorpies soos Swellendam, Darling, Greyton en Parys, tot Karoo-skatte soos De Rust, Steytlerville en Loxton, kusdorpies soos Hondeklipbaai, Jacobsbaai en Jeffreysbaai en noordelike juwele soos Clarens, Bethulie en Hazyview, daar is ’n dorp vir elke naweek van die jaar en meer!

98. Daar is soveel lekker saamsing-liedjies waarvan Suid-Afrikaners die woorde ken (of verkeerd saamsing …), maar nie weet waar hulle dit die eerste keer gehoor het nie. Dink maar aan Laurika Rauch se Stuur groete aan Mannetjies Roux, Karen Zoid se weergawe van Afrikaners is plesierig, David Kramer se Meisie sonner sokkies, Johnny Clegg se Impi en Mandoza se Nkalakatha wat altyd so kwart voor twaalf by ’n troue gespeel word. Of laat iemand nou net waag ’n sin met “Ek het ’n vriendin …” begin, en almal in die kamer antwoord tegelyk met “ver oor die blou see, teen die hang van Tafelberg.”

99. Nou dat ons amper aan die einde van ons lys gekom het, voel ons dis tyd vir ’n snytjie melktert. Só gewild is hierdie Suid-Afrikaanse soetigheid dat daar tót ’n nasionale dag, die 27ste Februarie, daaraan gewy is!

melktert
Wat is middagtee dan sonder ‘n stukkie melktert? Foto: The Richmond Café and Rooms op LekkeSlaap

100. Ons moet darem één plekkie vir jou oophou! Laat weet ons waarom jy vir Suid-Afrika lief is deur vir ons ’n boodskap in die kommentaarboksie hieronder te los.

Hooffoto: Verberg Herberg op LekkeSlaap