ʼn Groot deel van my familie spruit daar uit Clanwilliam se geweste. My ma vertel dat ons een keer gaan blomme kyk het en dat ek haar nog gevra het: “Mamma, wie het al die blomme geplant?”.  Hierdie wêreld, wat ek so goed geken het van elke jaar se Kersfees vier saam met die familie, het vir my so anders gelyk onder die blommekaros dat ek dit skaars herken het. Dié verwondering is nie iets wat sommer gou verlep nie en blommekyk is iets wat ek by ieder en elk sal aanbeveel.

Die beste tyd om te gaan is gedurende Augustus en September (soms is daar nog ʼn paar blomme in Oktober ook). Jou blommekyk-ervaring is wel ook baie afhanklik van die weer op daardie spesifieke dag. Die blommetjies hou van die son, so as dit bewolk is, kruip hulle gewoonlik weg. Tog kan hulle ook vinnig verlep as hulle te warm kry, so mik vir ʼn dag waarop die kwik by ongeveer 14 °C gaan draai. Kliek hier vir ʼn volledige blommekyk-gids.

Jy kan teen die Weskus en in dele van die Karoo gaan blommekyk, maar in dié blog gaan ons fokus op blyplekke in Namakwaland wat ideaal is om dié skouspel te aanskou. 

Hierdie bekoorlike dorp is ʼn bobaas-bestemming vir blommekyk. Die Ramskop Natuurreservaat wat uitkyk oor die Clanwilliamdam is ʼn absolute móét gedurende die blomtyd! Verder kan jy gerus ʼn draai gaan maak by die Veldblomskou wat hierdie jaar van 26 Augustus tot 3 September in die welbekende Blomkerk plaasvind.

Die Skilpad Veldblomreservaat is so 17 km wes van Kamieskroon geleë. Dis ʼn gerieflike bestemming vir ʼn daguitstappie en die reservaat beslaan 1000 hektaar wat van Augustus tot Oktober in asemrowende plate veldblomme getooi is.

Springbok is nie net ʼn oorslaapplek op pad na Namibië nie ─ gedurende die veldblomseisoen is dit ʼn bestemming in eie reg. Die Goegap Natuurreservaat is omtrent 15 km suidoos van Springbok en die Hester Malan Veldblomtuin is ook in die reservaat geleë. Daar is nie net blomme te bespeur nie, maar ook springbokke, gemsbokke, sebras en meer!

Vanrhynsdorp is ʼn uitstekende basis vanwaar jy die Namakwaland se blomme kan bekyk. Ons beveel aan dat jy die 182 km lange sirkelroete van Vanrhynsdorp na die Weskus toe en terug aanpak vir ʼn blommerit soos min. Besoek ook die Kokerboom Kwekery ─ een van die grootste vetplantkwekerye in die wêreld.

So, waarvoor wag jy? Bespreek NOU jou lekke lêplekkie tussen die blomme!