Het jy al ooit die Bosveld met sy uitgestrekte vlaktes en grootwildtroppe beleef? Het jy al werklik gaan stil staan en luister na Moeder Natuur se gefluister? Noordwes is dalk nie die eerste bestemming waaraan jy dink wanneer jy julle wittebrood beplan nie, maar die lodges wat soos oases in dié geharde landskap skuil, sal jou sommer gou van plan laat verander! Dis hiér waar jy saans in ’n boma by lanternlig kan ontspan terwyl jy ’n leeu in die verte hoor brul.

Om jou te help om daardie spesiale wegbreek te beplan, het LekkeSlaap 20 wittebroodbestemmings in Noordwes opgespoor wat elke sak en smaak sal pas!

Hartbeespoortdam het gewildheid onder Gautengers verwerf as ’n vinnige wegbreekplek uit die stad, en die allerlei watersportsoorte hier is menige adrenalienvraat se droom. Die oorvloed romantiese doendinge en die pragtige uitsig oor die dam en op die Magaliesberge maak dit egter ook ’n goeie wittebroodbestemming.

Romantiese doendinge by Hartbeespoortdam

  • Verken die omgewing met ’n bootrit wat allerhande bederfies insluit, soos vingeretes, buffet-etes of vonkelwyn met sonsondergang.
  • Neem die Dassieloop-kabelkar vir ’n onvergeetlike uitsig oor die dam. Die uitsig bo van die kroeg en restaurant af is ook asemrowend.
  • Sweef in ’n lugballon! Die verrigtinge begin om 05:00, so paartjies kan knus teen mekaar staan in die vroegoggendkoue. Die avontuur word met ’n heilsame ontbyt afgesluit.

Daar is wittebroodverblyf om te kus en te keur in die Hartbeespoortdam-omgewing:

1. Hartbeespoortdam Lodge

Hiér kan julle ’n piekniekmandjie bestel en dit in die suite geniet terwyl julle oor die dam en op die berg uitkyk.

Voorgestelde eenheid: Timbavati Suite ─ Dié wittebroodsuite is meer privaat en beskik oor ’n gesellige kaggel en spa-bad.

2. Oxwagon Lodge

Is julle op soek na ’n ietwat onkonvensionele wittebrood met ’n tikkie geskiedenis? Kom slaap dan in ’n outentieke gerestoureerde ossewa by dié lodge met sy ononderbroke uitsig oor die dam! Geniet ’n piekniekmandjie op die terras, en leer meer oor die destydse Voortrekkers se gekose vervoermiddel in die Ossewa-museum.

Voorgestelde eenheid: Wa 1 ─ “Romantiese Ossewa”

Wittebrood-aanbod: Paartjies wat in dié wa bly, kan van die weeksdag-wittebroodpakket gebruik maak. Dit geld vir twee nagte se verblyf tussen Donderdag en Sondag en sluit die volgende in:

  • roosblare, sjokolademandjie, ’n bottel wyn of vonkelwyn op ys
  • vonkelwyn-ontbyt by die Wagon Deck-restaurant met ’n uitsig oor die dam

’n Paar ander opsies is ook teen ekstra koste beskikbaar:

  • roosrangskikking
  • skemer-piekniekmandjie met ’n bottel vonkelwyn, aarbeie, room en ander romantiese goedjies
  • Voortrekker-skemerkelkies

3. Ostrich Manor

Dié plekkie skuil reg teen die Magaliesberge in die Silkaatsnek Natuurreservaat en paartjies kan hulself verheug in doendinge, soos wildritte, saalsafari’s en voetslaan-uitstappies. Reël sommer ’n masseersessie ook!

Voorgestelde eenheid: Sebra Wittebroodsuite of Romantiese Rondawel

4. B’sorah Luxury Tented Camp

Elke luukse tent is strategies geplaas sodat julle jul eie stukkie bosveld het en dit voel asof daar niemand anders naby is nie. Daar is heelwat wild te sien en talle koppies in die area om te voet of met ’n fiets te verken ─ genoeg om pasgetroude avonturiers besig te hou.

Voorgstelde eenheid: Swempie Wittebroodsuite ─ Die kombuis buite op die dek sal vele selfsorg-plesier verskaf.

Wittebrood-aanbod: ’n Bottel vonkelwyn en roosblare.

’n Piekniekmandiie kan ook teen ekstra koste by julle tent afgelewer word.

5. El Shadai Guesthouse

Dié gastehuis skuil in die Magaliesberge en bied ’n Jacuzzi en rotspoel met ’n asemrowende uitsig op die berg en oor Hartbeespoortdam.

Voorgestelde eenheid: Suite 4 ─ Van al die suites by El Shadai is dié een die hoogste geleë met die mooiste uitsig. Die privaat balkon, plonspoel, en spa-bad maak dit beslis die moeite werd.

6. Mountain Mala Game Lodge

Dié privaat wildlodge buite Brits bied uiters bekostigbare chalets waar julle tog te lekker na die voëltjie-orkes kan luister.

Voorgestelde eenheid: Chalet 6 – Selfs met eenvoudige verblyf kan jy steeds die bosveld op sy beste ervaar. Sit op die stoep, kyk hoe wild verbyloop, en deel saans geheime onder die sterrehemel langs die boma-vuur.

Wittebrood-aanbod: Teen ekstra koste kan julle op ’n skemer-wildrit gaan en ’n piekniekmandjie met vonkelwyn vir die geleentheid reël.

7. Tentetoe

’n Mens mag maar kamp op jou wittebrood! Dié wildkamp buite Potchefstroom gebruik warmwaterdonkies en sonkragligte. Wildritte is ingesluit, of jy kan sommer net wag tot ’n bok of kameelperd ’n draai by jou tent kom maak.

Voorgestelde eenheid: Safaritent

8. Bona Bona Game Lodge

Jy weet jy kry waarde vir geld as jy ’n bekostigbare wildlodge met ’n spa vind. Bona Bona is naby Klerksdorp en al die kamers het uitsigte oor die watergat sodat julle heeldag die diere kan dophou.

Voorgestelde eenheid: Wittebroodsuite ─ die bad sal nie teleurstel nie.

Het jy geweet dat Pilanesberg Nasionale Park in ’n 1300 miljoen jaar oue uitgestorwe vulkaan geleë is? Dié vulkaankrater is blykbaar een van die grootstes ter wêreld!

Wat dié Groot 5-wildreservaat interessant maak, is dat dit die oorgangsone tussen die Kalahari en Bosveld is, en dus een van die min plekke is waar springbokke en gemsbokke ontmoet! Verder is daar talle skuilings vanwaar julle wild en voëls kan dophou en die oomblik in ’n kiekie kan vasvang. Aangesien die park kleiner as die Krugerwildtuin is, is jou kans om wild te gewaar ook soveel groter.

9. Bakubung Bush Lodge

Al die kamers by Bakubung bied ononderbroke uitsigte oor die Pilanesberg Nasionale Park.

Voorgestelde eenheid: Eenslaapkamer-chalet

10. Kwa Maritane

’n Mengeldrankie op Kwa-Maritane se restaurant-dek is nét wat julle nodig het!

Voorgestelde eenheid: Cabana ─ dié eenheid is op die boonste verdieping met ’n balkon wat ’n uitsig oor die reservaat bied.

11. Black Rhino Game Lodge

Die wildkyk-ervaring by die Swartrenoster-reservaat noordwes van Pilanesberg is meer eksklusief en “persoonlik” met dié dat julle deur julle eie veldwagter vergesel word. Die bosveld is reg voor jou suite se deur waar wild graag kom gesig wys. Die tarief sluit twee wildritte in, asook etes wat deur ’n wêreldklas-sjef voorberei word en op ’n dek met ’n uitsig bedien word.

Voorgestelde eenheid: Dubbelsuite ─ stap sommer van jou stoep af in die bosveld in.

12. Morokolo Game Lodge

Hiér sal julle julself trommeldik eet, want ontbyt, aandete en ’n teemaaltyd is ingesluit. Twee daaglikse wildritte, ’n Jacuzzi en ’n swembad met ’n uitsig op die Pilanesberge is ook op die spyskaart.

Voorgestelde eenheid: Dubbelsuite ─ Die buitestort is om van te droom!

Wittebrood-aanbod: bottel wyn (en ’n paar verrassinkies)

13. Tambuti Lodge

Tambuti is nóg ’n plek waar wild volop is. Kom sit luilekker en lees by die bibliotekie, of ontspan in die Jacuzzi of op die verhewe dek met ’n plonspoel en sonstoele.

Voorgestelde eenheid: Wittebroodsuite

14. Finfoot Lake Reserve

Aangesien dié privaat wildreservaat langs die Vaalkopdam is, kan julle ’n kanovaart by die wildrit voeg.

Voorgestelde eenheid: Deluxe of Super Deluxe

15. Thaba Khaya Lodge

Sable Ranch is ’n natuurlike erfenisgebied naby Brits en bied nog ’n luukse lodge in die Bosveld.

Voorgestelde eenheid: Luukse Suite.

Wittebrood-aanbod: Doen gerus navraag oor Thaba Khaya se wittebroodpakket vir twee nagte se verblyf. Alle etes, twee wildritte en romantiese kamervoorbereiding met sjokolade is ingesluit.

Talle ander ekskursies is ook teen ekstra koste beskikbaar, waaronder ’n piekniek, vonkelwyn-ontbyt, romantiese bosveld-aandete, en romantiese kamervoorbereiding met roosblare, sjokolade, kerse, ’n bos blomme en ’n bottel rooi- of witwyn.

Madikwe, ’n privaat reservaat wat aan Botswana grens, is veral bekend vir sy trop wildehonde. Daar is net ’n paar duisend van dié woewe in die wêreld oor en ’n spesiale bewaringsprojek is in 1994 hier geloods om hulle van uitwissing te red. Hoewel die lodges hoofsaaklik vier- en vyfster-graderings het, sal die grondpaaie jou noop om maar liefs jou luukse voertuig tuis te los. Die wildkyk-ervaring is intiem ─ wanneer een wildvoertuig iets besonders gewaar, word die ander voertuie met ’n radio gekontak om te verseker dat julle niks mis nie.

16. Jaci’s Tree Lodge

Luuksheid hoef nie ingeboet te word vir ’n bietjie kinderlike avontuur nie. Dié boomhuise is op stelte bo boomtoppe verhewe.

Voorgestelde eenheid: Boomhuis-suite ─ Die luukse klipbad en privaat buitestort maak die verblyf net nog meer opwindend.

17. Rhulani Safari Lodge

Elke chalet het sy eie plonspoel en kaggel. As wildritte vir jou ou nuus is, pak eerder ’n wilduitstappie te voet saam met ’n wildbewaarder aan.

Voorgestelde eenheid: Luukse Chalet

Wittebrood-aanbod: Die kamer word romanties voorberei met vonkelwyn en ’n borrelbad. Die hoogtepunt is egter die privaat romantiese aandete in julle kamer teen geen ekstra koste nie!

18. Royal Madikwe Luxury Safari Lodge

Buiten al die gewone bederfies wat julle by ’n luukse lodge te wagte sal wees, bied dié lodge net daai tikkie ekstra! Verblyf sluit drie maaltye, ’n teemaaltyd en twee wildritte per dag in.

Voorgestelde eenheid: Wittebroodsuite – die privaat dek met ’n plonspoel is voorwaar iets om na uit te sien.

19. Jaci’s Safari Lodge

Hier hoef jy nie eers uit die bed op te staan om die wild wat kom water drink te sien nie! Maaltye is ingesluit, word oor die vuur gaargemaak en onder die sterre bedien.

Voorgestelde eenheid: Starbed Suites ─ Dis beslis iets besonders om onder die sterrehemel te kan slaap!

20. Kedar Heritage Lodge, Conference Centre & Spa

Dié lodge het ’n ryk geskiedenis ─ dis op Boekenhoutfontein, die plaas buite Rustenburg wat aan Paul Kruger behoort het. Privaat wildritte en ’n spa word hier aangebied.

Voorgestelde eenheid: Royal Suite

Wittebrood-aanbod: Wittebroodpaartjies wat in die Royal Suite bly, kan Kedar Lodge se Africa Explora-pakket benut wat die volgende insluit: mengeldrankies met aankoms, ’n piekniekmandjie, ontbyt, aandete, ’n warmklip-massering, ’n gesigbehandeling en ’n kopmassering.

Wie’t gesê Noordwes is nie ’n wittebroodbestemming nie? Dié lieflike lodges sal jou beslis oortuig om jou geliefde Bosveld toe te bring. So, as julle besig is om daardie groot dag te beplan, bespreek sommer nóú ’n wittebroodwegbreek in Noordwes.

N.S. Ons land is natuurlik propvol romantiese doendinge, wat baie kan help as jy op soek is na wittebrood-idees. Kliek gerus hier vir ‘n lekker omvattende lys romantiese doendinge regoor die land.

Hooffoto: Rhulani Safari Lodge (LekkeSlaap)