Dis ’n nuwe jaar en dit beteken een ding: die jaar se feeste is binnekort weer hier! Om seker te maak dat jy niks misloop nie, het LekkeSlaap ’n feeslysie vir die eerste ses maande opgestel sodat jy jou kaartjies en verblyf betyds kan bespreek ─ indien jy dit nog nie gedoen het nie!

Stellenbosch Woordfees – Stellenbosch

6 – 15 Maart

Dié tyd van die jaar pronk die Eikestad behoorlik! Dis witwyn-weer en daar is Afrikaanse kuns, musiek en toneel om elke hoek en draai. Kry so gou moontlik ’n program in die hande, koop jou kaartjies en bespreek jou verblyf ─ ’n onvergeetlike kuier in Matieland wag op jou! 

Foto’s: LekkeSlaap

Bonne Esperance Guest House | Longfield House | Laanhof

GWK Karoofees – De Aar

12 – 14 Maart

Mik noord in Maart vir ’n heerlike fees in die Karoo. Dié fees bied ’n lieflike hoeveelheid stalletjies sowel as die jaarlikse Middas Damestee, die Sterkman-kompetisie, Novels Mej. Hoërskool De Aar, die Madeira-beesloopkompetisie, ’n foto-kompetisie en nog vele meer!

Foto’s: LekkeSlaap

Boutique Guesthouse Manor De Aar | Inn Excellence | Potties Guesthouse

Klein-Karoo Nasionale Kunstefees – Oudtshoorn

24 – 29 Maart 

Hulle sê dat Oudtshoorn ’n volstruisparadys is, maar een keer ’n jaar maak die groot voëls plek vir teater, biertente, gees en alles wat ’n oorwurm is. Of jy daarvan hou om te kamp of ’n en suite-badkamer twee meter van jou bed af geniet, is dit slim om jou verblyf vir dié fees vroegtydig te bespreek. Pak jou sonhoed, plakkies en waterbottel in en maak reg vir ’n makietie in C.J. Langenhoven se dorp! 

Foto’s: LekkeSlaap

Bella-Vue | De Zeekoe Guest Farm | Berluda Farmhouse & Cottages

Kosterdam Eisbeinfees – Koster

3 – 4 April

Die Kosterdam Eisbeinfees is ’n geleentheid wat ’n mens nie mag misloop nie, want wat wil jy nou meer hê as ’n fees vir eisbein? ’n Mens kort nie veel meer rede om Noordwes toe te ry met kunstenaars soos Snotkop, Lizz Meiring en Dewald Wasserval, stalletjies, ’n bergfietswedren en ’n biertent nie. Het ek genoem dat daar eisbein gaan wees?

Foto’s: LekkeSlaap

Shammah Game Lodge | Over Tuin Gastehuis

Oppiwater Kunstefees – Kaapstad, Lüderitz, Walvisbaai

5 – 10 April 

RSG neem die kunste water toe! Oppiwater bied ’n luukse bootvaart vanaf Kaapstad na Walvisbaai en Lüderitz en weer terug (vyf nagte) met bekendes soos Jak de Priester, Frank Opperman, Rocco de Villiers, Matthys Roets, en, natuurlik, die RSG-familie! Buiten die produksies is daar verskeie doendinge aan boord, sowel as ekskursies in Lüderitz en Walvisbaai

Foto’s: LekkeSlaap

Bay Villa | Cormorant House | 48 on 9th Self Catering Apartments

Suidoosterfees – Kaapstad

27 April – 3 Mei

Die Kaapse Dokter waai weer die Suidoosterfees na die Kunstekaap! Tussen toneel, gesprekke en musiek is daar iets vir almal. Lag saam met ou Casper of Marc Lottering, luister na insiggewende gesprekke oor aktuele kwessies, en word bekoor deur die menige verhoogproduksies. Bespreek nóú jou kaartjies en oornagverblyf in die Moederstad om teleurstelling te voorkom. 

Foto’s: LekkeSlaap

Kaapstad Huis | Welgelegen Boutique Guest House | Rosedene

Innibos Laeveld Nasionale Kunstefees – Nelspruit

24 – 27 Junie

Kies koers na die Laeveld in Junie vir ’n bietjie kuns en kultuur Innibos. 2020 se program word eers in Maart bekendgestel, maar dit beteken nie jou verblyfbespreking hoef tot dan te wag nie! 

Foto’s: LekkeSlaap

Sheppard Boutique Guesthouse | Zebrina Guesthouse

Feeste later die jaar om ’n ogie op te hou:

25 Junie – 5 Julie: Nasionale Kunstefees, Grahamstad
26 Junie – 5 Julie: Knysna Oesterfees, Knysna
29 Junie – 5 Julie: Vrystaat Kunstefees, Bloemfontein
23 – 25 Julie: Bastillefees, Franschhoek   
28 – 29 Augustus: Hantam Vleisfees, Calvinia 
24 – 29 September: Aardklop Kunstefees, Potchefstroom
24 – 27 September: Hermanus Walvisfees, Hermanus
1 – 4 Oktober: Die Groot Plaasproe, Stellenbosch

Watter feeste gaan jy bywoon? Ons wil graag van jou hoor! 


Hooffoto: BigStock