Kry jy óók ’n koue rilling as jy aan winter dink? Om die ysige koue uit jou are te verdryf, stel LekkeSlaap ’n waaghalsige 4×4-roete en verblyf met ’n knus kaggel en braai-area in elke provinsie voor!

 

Wes-Kaap

Biedouwvallei 4×4-roete, Clanwilliam


Roete-afstand: 30 km

Dié vallei is in die Sederberge op die Pakhuispad tussen Clanwilliam en Uitspankraal geleë. Teen die einde van die nat winter begin duisende tipes veldblomme hier blom. Die roete bied ’n ongelooflike uitsig oor die groen vallei, Biedouwrivier, natuurlike poele en watervalle. Die laaste deel van die roete is steil en bereik ’n plato vanwaar jy die Sneeukop-, Krakadouw-, en Citadelkopberge, en ook die Tankwa-Karoo kan sien.

 

Pak hiér af:

 

De Pakhuys

Net 26 km vanaf Clanwilliam, op pad na Wupperthal, bied De Pakhuys verblyf wat elke smaak en sak pas! ’n Huis, kothuis, karavaan of tent ─ elkeen bied ’n mooi uitsig oor die dam, velde en op die berg.

 

Noord-Kaap

 Caracal 4×4 eko-roete, Namakwa Nasionale Park 

 

Roete-afstand: 175 of 200 km (alternatiewe roetes)

Namakwa Nasionale Park spog met berg én see. Dié roete begin by Skilpad Rest, volg oor die Soebatsfonteinpas waar springbokkies, steenbokke en klipspringers vanaf die rotsagtige koppies gewaar kan word, en die caracal (rooikat) agter die rotse skuil. Die Swartlintjiesrivier se bedding kan in die nat wintermaande ’n lekker glyerige uitdaging wees! Van fynbos tot vetplante, duine, die Spoegrivier-grotte en ’n ryk voëllewe ─ dié roete het alles! Die langer roete het ’n ongelooflike uitsig oor die see. In die winter verander die bruiner landskap na groen en begin voorberei vir blommetyd! Die roete eindig by Groenriviermond.

 

Rus hiér voor jy ry:

 

Brandrivier

Dié privaat selfsorgtente is in die hartjie van Namakwaland op ’n vrugteplaas in Springbok. Dis die ideale oornagplek waar jy jou salig kan voorberei op die lang rit deur die Namakwa Nasionale Park.

 

 Oos-Kaap

Baviaans-Kouga 4×4-roete, Baviaanskloof

Roete-afstand: 33 km

Baviaanskloof is ’n Wêrelderfenisgebied. Hiér kan jy tussen Baviaanskloof se tipiese Oos-Kaapse bosveld, Langkloof se groen vallei en die Kougaberge se fynbos rondrits! Bewonder sewe bergreekse, riviere, voëls, en wild. Proteas, broodbome en heuningbostee groei langs hierdie pragtige roete. Dié rustige en vreedsame 4×4-roete is ideaal vir natuurliefhebbers, maar die oorgroeiede paaie en grond met erosie moenie onderskat word nie!

 

Bly in die Baviaans:

 

Baviaans Lodge

Dié lodge is op die grens van die Baviaanskloof Wêrelderfenisgebied, en baie na aan die begin van die Baviaans-Kouga 4×4-roete.  Die kothuise is knus met kaggels en daar is geen elektrisiteit wat jou aandag van die natuurskoon sal aflei nie.

 

Vrystaat

Bergwoning 4×4-roete, Golden Gate Hoëveld Nasionale Park

 

Roete-afstand: 6 km of 26 km

Dié roete is sowat 15 km vanaf Clarens, baie naby die Golden Gate Nasionale Park. Durf die pad alleen aan of volg ’n kenner op ’n langer roete! Die roete word nie sommer toegemaak nie, en elke seisoen bied nuwe uitdagings omdat die terrein verander. Bergwoning kan sommer vier maal ’n jaar besoek word om die natuurverskynsels van elke seisoen te waardeer. Die roete maak ’n sirkel en eindig weer waar dit begin het.

 

Knus in Clarens:

 

Dynasty Red Mount Ranch

Die selfsorghuis lê tussen Clarens en die Golden Gate Nasionale Park, so dis die ideale plek as jy graag albei wil verken! Dis ook lekker naby Kiara Lodge se spa en kinderspeelterrein.

 

KwaZulu-Natal

Sani-Pas 4×4-roete, Drakensberg

Roete-afstand: 45 km

Die roete is nét 20 km vanaf Underberg, strek tot by Lesotho se grens en terug. Die ligging naby Lesotho maak dit moontlik om sneeu in die winter te sien ─ dié glyerige toestande en mis is beslis vir die dapperder bestuurders! Die mooiste van alles is die uitsig op die Drakensberge wat skilderagtig in die agtergrond uittroon.

 

Dut tussen die Drakensberge:

 

Over The Edge Cottages

Vir ware 4×4-entoesiaste begin die roete al op die grondpad op pad na Over The Edge Cottages. As jy gelukkig is kan jy in die winter sneeu op dié kothuise se dakkies in Underburg sien!

 

Gauteng

Hennops 4×4-roete, buite Pretoria

Roete-afstand: 9 km

Dié lekker roete vol hindernisse skuil tussen Pretoria en Hartbeespoort. Dis ’n goeie uitdaging vir kenners, maar vir beginners kan die moeiliker dele oorgeslaan word. Die landskap word versier met koedoes, sebras, blouwildebeeste en selfs zonkeys (sebra-donkies)! Dit kan gedurende die winter baie modderig raak met die Hennopsrivieroewer wat water opstoot!

 

Jy moet stop ná Hennop:

 

Hills and Dales Accommodation cc

Net buite Pretoria en Johannesburg bied Hills en Dales Accommodation cc ’n toevlugsoord met ’n plattelandse atmosfeer. Dis op ’n 23 hektaar-erf omring deur heuwels en riviere.

 

Noordwes

Doornrivier 4×4-roete, buite Zeerust

Roete-afstand: 12 km

Doornrivier bied ’n ware bosveld-belewenis met ’n veeleisende terrein. Noordwes het droë winters wat die pad makliker kan maak, maar die rivieroewer se vlak speel altyd ’n rol! Daar is ’n verskeidenheid roetes om op die plaas te verken. Die hoofroete is hoofsaaklik sirkelvormig.

 

Gaan slaap in Groot Marico:

 

Evergreen River Guest Farm

Dié plaas is aan die oewer van die Groot Marico-rivier en het ’n privaat, natuurlike rotspoel op die perseel. Daar is ’n groot vuurput waar julle heerlik onder die sterre kan kuier.

 

Limpopo

Schamach 4×4-roete, Modimolle

 

Limpopo se ongerepte natuurskoon en volop wild bied opwindende avontuur aan 4×4-entoesiaste. Al die 4×4-roetes in Limpopo bied ‘n prentjiemooi uitsig op die bulderende berge en oor die welige valleie. Schamach 4×4-roete naby Modimolle lei mens op en af van die een mooi uitsig na die ander. Die pragtige rivieroewers, soliede klip en veral die Waterberge maak hierdie roete ekstra spesiaal.

 

Moeg in Modimolle:

 

Village d’Afrique

Die lodge skuil tussen Modimolle en Bela-Bela op Shakila Wildplaas. Daar is verblyf in luukse tente wat lei na ’n houtdek waar ’n warm vuurtjie, skemerkelkie en ’n asemrowende uitsig op jou wag.

 

Mpumalanga

Lebombo eko 4×4-roete, Nasionale Krugerwildtuin

Roete-afstand: 500 km (oor 5 dae)

Die eko-roete word die wilderness experience on wheels genoem. Dis ’n baie lang roete wat strek vanaf die oostelike grens van die Krugerwildtuin tot by die teenoorgestelde kant by die Lebombo-koppies. Dit raak ook aan Mosambiek én Zimbabwe se grens. Drie lande ontmoet dus op hierdie ongelooflike roete. Onthou jou eie kampgereedskap! Voertuie word aangeskakel by Komatiepoort en eindig by Pafuri met ’n lekker piekniek. Die droë wintermaande is ideaal, aangesien die pad gereeld gedurende reënval toegemaak word. Die diverse fauna en flora maak dit een van die beste eko-roetes in Suid-Afrika.

 

Kuier langs Komatiepoort in Marlothpark:

 

Foxy Crocodile Bush Retreat

Dié ruim chalets is in die bosveld, teen die oewer van die Krokodilrivier en langs die Krugerwildtuin geleë ─ ’n beter ligging sal jy nie sommer kry nie!

 

Dit maak nie saak waar jy in Suid-Afrika van winterkoue kwyn nie,  een van dié bestemmings is beslis naby jou. Maak seker jou 4×4 is gereed, winter lê om die draai en een van die roetes sal definitief die adrenalien deur jou are laat bruis!

Hooffoto: Sani Pass – 15 deur fiverlocker (Flickr)