Ons kuier altyd lekker in ons huisie-by-die-see, span rustig in die Bosveld uit, of geniet die stilte van die Karoo, maar somtyds is dit goed om ’n bietjie uit jou gemaksone te klim en nuwe avonture aan te pak. LekkeSlaap is altyd op soek na nuwe wegbreekmodes, en hier is ’n nuwe gier wat begin kop uitsteek: houerhuise! Die herbenutting van skeepsvraghouers blyk deesdae die in-ding te wees, en dit raak wêreldwyd al hoe meer gewild om dit as bekostigbare en unieke verblyf in te rig. Daarom het LekkeSlaap vyf houerhuisies gaan soek, sodat jy volgende keer nuwe opwinding by jou vakansie kan voeg.

The Riverstone House

Dié bekoorlike eenheid skuil net 15 minute se ry van Tulbagh en Ceres af. Die eienaars wou die eenheid graag met kontemporêre en industriële dekor versier om by die styl van ’n skeepsvraghouer te pas. Hiér hoef jy nie luuksheid prys te gee net omdat jy die platteland besoek nie! The Riverstone House bied ’n eg plattelandse, tog stylvolle, wegbreek vir stadsjapies wat die vars lug en doendinge in die Witzenbergvallei sal geniet. En moenie vir Ore by die huis vergeet nie ─ jy kan jou vierpootkinders saambring wanneer jy die Riverstone’s Fam Tin bespreek!

Die eienaar, Claire, is gaande daaroor om ou items nuwe lewe te gee. Toe die gastehuis moes uitbrei en nuwe idees vergelyk is, het ’n houerhuis al die boksies getiek ─ dis herwinbaar, uniek, modern en kontemporêr. Die plaas voer boonop vrugte uit, so dit het die ideale geleentheid geskep om skeepsvragshouers te herbenut.

Selfs met die regte ambagsman, het elke projek egter sy uitdagings en moes hulle ’n paar hindernisse oorkom. Ons is baie bly hulle het deurgedruk en die skeepsvraghouer in só ’n pragtige eenheid omskep!

Ligging: Wolseley, Wes-Kaap
Koste: R1600 (seisoenale tarief)
Slaapplek: 4 gaste
Troeteldiervriendelik: Ja

“Fantastiese omgewing, luukse verblyf. Absoluut ’n lekke plek! Hoogs aan te beveel. Wens ek kan meer gereeld daar uitspan.” – Annelise B

Golden View Luxury Self Catering

Golden View Luxury Self Catering is sommer stapafstand vanaf Clarens se middedorp met oulike winkeltjies, kunsgalerye en restaurante. As jy eerder tuis wil ontspan, kan jy jou skoene uitskop en die pragtige 180°-uitsig op die Maloti-berge geniet.

Al die kreatiewe houerhuis-ontwerpe op die internet het die eienaars aangespoor om iets uniek in dié Vrystaatse dorpie op te rig.

Die grootste uitdaging was om die twee skeepsvraghouers teen die helling op te vervoer en bo-op die fondasie te plaas, maar met die regte argitek en bouer byderhand, is dié pragtige houerhuis baie vinniger as ’n gewone boustruktuur opgerig en het dit tot groot nuuskierigheid onder die plaaslike inwoners gelei.

Ligging: Clarens, Vrystaat
Koste: Vanaf R1450 (seisoenale tarief)
Slaapplek: 4 gaste
Troeteldiervriendelik: Nee

“Hierdie was regtig so ’n aangename verblyf. Ons het ons tyd by Golden View Luxury Self Catering ongelooflik baie geniet. Hierdie plekkie het al ons verwagtinge oortref. Die plek was so ongelooflik mooi, en netjies. Ons beplan definitief om terug te gaan en het dit reeds vir familie en vriende aanbeveel. Stunning plek!” – Lee-ann H

The Square Elephant

Wil jy aldag oor die see, strandmeer, berge, fynbos, velde en woude uitkyk? Jy hoef nie verder te soek nie ─ dié eenheid is op ’n privaat natuurreservaat naby Hermanus geleë en spog met ’n stoep waar gaste lekker in die son kan baai, terwyl hulle die uitsig oor die ongerepte omgewing bewonder.

Dié eienaar het besef ’n houerhuis sal die Kaapse winde en storms kan weerstaan en, terselfdertyd, elegante en knus verblyf aan gaste bied. Terwyl die eienaar op die Karibiese See geseil het, het hy besluit om die seilboot-interieur as inspirasie te gebruik om die beperkte spasie in die houerhuis te optimaliseer. Die eienaar het die projek vreeslik geniet, omdat daar so baie vryheid met betrekking tot ontwerp en dekor is.

Die eenheid maak van sonkrag, reënwater en gas gebruik en het selfs ’n houtvuurwarmbad. Nou kan jy dit ook geniet met ’n pragtige uitsig oor die see en op die omliggende berge!

Ligging: Hermanus, Wes-Kaap
Koste: R1986 (seisoenale tarief)
Slaapplek: 4 gaste
Troeteldiervriendelik: Ja

“Rus vir jou siel! Die Square Elephant het ’n geweldige indruk op my gemaak. Om so naby aan die natuur te wees met die uitstekende diens van die gashere, het hierdie wegbreek ’n wonderlike ervaring gemaak!” – Annemie C

Drayton Guest Farm

Die Drayton-plaas is een van die oudste plase in die Overberg. Die oorspronklike wapad en meule, wat uit die middel 1700’s dateer, is steeds op die plaas te sien.

Alternatiewe boumetodes is die eienaar, René-Louise, se passie. Houerhuise is nie net koste-effektief nie, dit kan ook lekker vinnig opgerig en ingerig word. Die eienaars het die regte mense geken en moes net die grond voorberei en sorg dat daar koppelpunte vir elektrisiteit en water is. Die eenheid beskik oor 4 slaapkamers wat die gebruik van ’n badkamer deel en ’n volledig toegeruste gemeenskaplike kombuis. Die verblyf is ideaal vir avontuurlustige gaste wat naby die natuur wil wees.

Ligging: 8 km buite Caledon, Wes-Kaap
Koste: R600
Slaapplek: 2 gaste per kamer
Troeteldiervriendelik: Nee

“Iets anders met ’n pragtige uitsig op die berge. Hier kan jy kom rustig raak. Luister na al die voëls se gekwetter, hoor die kraanvoëls en uile en kyk vir die berge en mooi sonsondergang.” – Anton B

The Amberley Annex

Dié privaat eenheid is langs ’n 120 jaar oue huis wat destyds ’n oorlogskantoor was en tans deur die eienaars bewoon word. Dit is ’n paar minute se ry vanaf die gewilde Surfer’s Corner en 70 m vanaf Muizenberg se stasie.

Alhoewel die eenheid eintlik ’n houtstruktuur is, het dit die kenmerke en gevoel van ’n houerhuis ─ ons kon dit eenvoudig nie weerstaan om dit by die lysie te voeg nie! Die eienaars was gelukkig om dié struktuur reeds op hulle perseel te hê en het die geleentheid raakgesien om dit in ’n lieflike eenheid te omskep. Hulle het die eenheid ’n verfrissende wit geverf en vir hom ’n afdakkie gebou. Met die eerste oogopslag het dit maar snaaks gelyk langs die 120 jaar oue kliphuis, maar die eindresultaat is ongelooflik!

Ligging: Muizenberg, Wes-Kaap
Koste: R675 (seisoenale tarief)
Slaapplek: 2 gaste
Troeteldiervriendelik: Nee

Watter houerhuis sal jy graag wil besoek? Laat ons weet in die kommentaar-blokkie hieronder!

Let wel tariewe is onderhewig aan verandering.

Hooffoto: The Riverstone House (LekkeSlaap)