Daar skiet ’n koue rilling by jou ruggraat af, jou palms is klam en jou bene is die ene bewerasies. Verstrak staar jy na die mosbegroeide afgrond en glinsterende blou wat skielik baie verder lyk as met die opklimslag. Een oomblik baklei jy nog teen die hoogtevrees wat bly krap-krap aan jou gemoed, en dan, skielik, word die harde hobbelrige massa onder jou voete met ’n lugleegte vervang. Vir ’n oomblik sweef jy in die niet en dan tref jy die kristalhelder bergwater se koue met ’n magtige plons…

Kloofspring ─ Suid-Afrika se amptelike adrenalieninspuiting vir waaghalse met senuwees van staal! Of jy nou aan ’n harnas hang of vryval, hierdie vyf klowe en kranse sal die avontuurtier in enige waaghals na sy asem laat snak.

5 Vinnige Wenke Vir Kloofspring

  • Hou altyd ’n ogie op die weer. Weersomstandighede in die berge bly onvoorspelbaar en hierdie tipe togte is beslis nie ideaal in reën of swaar weersomstandighede nie. Wees versigtig vir ’n kitsvloed as dit sou reën. Die water kan binne etlike minute meters hoog styg!
  • As jy eers in die kloof is, is die enigste pad vorentoe met die rivier langs. Berei jou dus voor op ’n lang dag. Waarsku altyd ’n vriend of familielid indien jy van plan is om so ’n roete aan te pak en hoe laat jy terug behoort te wees. Daar is geen selfsoonsein nie, so jy is op jou eie.
  • Spring altyd voete eerste, bene teen mekaar en arms teen die sye. Moet nooit duik nie! Jy weet nooit waar die rotse en klippe onder die water skuil nie.
  • Moet nooit by ’n kloof afspring sonder om eers die water te toets nie. Bergwater is dikwels baie donker en soms kan ’n mens nie sien of daar enige hindernisse onder die water skuil nie. Groot klippe en rotse word dikwels deur die water rondgeskuif.
  • Maak seker dat jou gids, indien jy een gebruik, opgelei is en dat daar duikpakke beskikbaar is. Kloofspring in ’n duikpak is nie ’n moet nie, maar is beslis voordelig aangesien ’n koue, nat T-hemp wat die hele dag aan jou klou, nie ideaal is nie.

Crystal Pools

(Steenbras Natuurreservaat, Gordonsbaai)

A post shared by rosswentzel (@rosswentzel) on

Crystal Pools bied ’n gewilde, relatief maklike voetslaanroete na ’n reeks rotspoele in ’n pragtige vallei wat as die Steenbras River Gorge bekend staan. Dit vorm amptelik deel van die Steenbras Natuurreservaat wat net buite Gordonsbaai oor meer as 8 400 ha strek. Op hierdie roete dien die Palmietrivier as jou gids. Die roete begin redelik maklik met ’n kort entjie se stap in die vallei af, waarna die roete al langs die rivier opwaarts neig. Die pad is goed gemerk met kort, rooi pennetjies in die grond om seker te maak jy loop nie die asemrowende rotspoele mis nie. Hierdie roete het ’n paar kranse vir diegene wat kans sien om gravitasie te toets. Die hoogtes wissel tussen 3 m en 24 m. Hierdie spronge is egter nie verpligtend is nie en is slegs vir dié wat die ekstra uitdaging wil aandurf. As jou moed ’n bietjie diep in jou stewels sak, kan jy altyd eers wag dat iemand anders eerste spring om die water te toets.

Die Crystal Pools-voetslaanroete is ’n gewilde bestemming vir abseil, kloofspring en swem in die rotspoele. Die reservaat het ook twee verdere voetslaanroetes, die Danie Miller-roete en die Klipspringer-roete, waar voetslaners op ’n rustiger trant die natuurskoon kan aanskou.

Moeilikheidsgraad: Maklik
Afstand: 8 km (5 tot 6 ure)
Blyplekke: Gordonsbaai

Wondervallei-roete

(Injisuthi-vallei, Drakensberge)

Die Injisuthi-vallei is een van die Drakensberge se versteekte juwele en is in die ongerepte plattelandse gebied, Loskop, geleë. Besoekers wat aan hierdie kranse wil kom hang word aangeraai om verblyf in die Champagne-vallei te bespreek en per motor na die begin van hierdie roete te reis. Die Injisuthi-vallei het tien verskillende voetslaanroetes wat langs die Delmhlwaziwerivier af kronkel. Die Wondervallei-roete via Van Heyningen’s-pas blyk egter die gewildste roete vir avoturiers te wees. Hierdie roete lei jou oor ’n grasheuwel, deur ’n woud met ’n grot en na ’n asemrowende waterval in die berge. Hier kan jy van die voetpad afwyk, jou harnas styf trek en teen die hellings van die kloof afsak tot in ’n kristalhelder rotspoel.

Moeilikheidsgraad: Moeilik
Afstand: 12 km (7 tot 9 ure)
Blyplekke: Champagne-vallei

Riviersonderendroete

(Hottentots-Holland Natuurreservaat, Grabouw)

Die Riviersonderendroete is in die Hottentots-Holland Natuurreservaat geleë en is ideaal vir reisigers wat hul eerste kloofspringavontuur wil aandurf. Die roete beslaan 15 km en verg ongeveer 8 ure. Dit klink dalk effens lank, maar wees gerus: Hierdie roete bied nie veel struikelblokke nie en is ideaal vir beginners. Die eerste paar spronge is nie baie hoog nie en mag dalk ervare waaghalse aanvanklik teleurstel. Sodra jy in die rivier af swem en die asemrowende ravyne rondom jou aanskou, is die teleurstelling egter vergete. Die hoogste springpunt op hierdie roete is 7 m bo die water.

Moeilikheidsgraad: Matig
Afstand: 15 km (7 tot 8 ure)
Blyplekke: Grabouw

Blyderivierspoort

(Panoramaroete)

A post shared by Elandre K Nel (@elandrenel) on

Die Blyderivierspoort is ’n majestueuse kloof wat in die valleie tussen Hoedspruit en Graskop versteek is en as een van die diepste klowe ter wêreld bekendstaan. Hierdie roete neem jou deur ’n doolfhof van grotte met varswaterpoele wat uitendelik tot by die Olifantsrivier lei. Dié mosbegroeide klowe is egter baie glad en die strome baie sterk ─ ’n helm en reddingsbaadjie word aanbeveel vir onervare voetslaners. Die Blyderivier is verder ook gewild vir abseil, aangesien vatplek aan die rotse effens beperk is en jy dalk net ’n tou of harnas nodig sal hê om aan vas te klou terwyl die koel bergwater oor jou stroom. Die kloof se rotsformasies en helder rotspoele is beslis ’n kloofspringervaring wat op enige avonturier se emmerskoplysie hoort!

Moeilikheidsgraad: Matig
Afstand: 8,5 km (5 ure)
Blyplekke: Blyderivierspoort  

Suicide Gorge

(Hottentots-Holland Natuurreservaat, Grabouw)

A post shared by Jeandré Gerding (@umlunguish) on

Suicide Gorge is ’n hindernis wat selfs die kranigste bergklimmer se adrenalien sal laat pomp en oë sal laat rek. Hierdie roete beslaan 17 km en neem ’n volle dag om te voltooi. Dié asemrowende kloof is ook in die Hottentots-Holland Natuurreservaat geleë en bied ’n reeks voetslaanroetes wat na ’n reeks opeenvolgende klowe en rotspoele lei met hoogtes wat tussen 3 m en 20 m wissel. Dié roete word selfs deur gesoute avonturiers as ’n reuse uitdaging beskou, aangesien die aard van die roete geen omdraaikans bied nie. Die roete begin met ’n 8,4 km lange voetslaanroete in die berge, waarna die eerste groot spronge begin. As jy eers een keer gespring het, moet jy egter al die spronge voltooi, aangesien daar nie ’n staproete terug is nie. Dié kloofspronge vereis ook heelwat swemkrag, aangesien die verskeie rotspoele kort op mekaar volg. Jy sal gelukkig gou weer droog raak gedurende die 6,5 km lange staptog terug na jou motor.

Moeilikheidsgraad: Baie moeilik
Afstand: 17 km (9 tot 10 ure)
Blyplekke: Grabouw

Wat om saam te bring:

  • Voetslaanpermit (indien roete dit vereis)
  • Goeie, ligte stapskoene
  • Swembroek en hemp wat gou droog word (verkieslik nie katoen nie)
  • Duikpak (opsioneel)
  • Ekstra klere om na die avontuur aan te trek
  • Genoeg water om te drink
  • Rugsak wat waterbestand is om alles droog te hou
  • Warm baadjie
  • Middagete en peuselhappies vir energie in ’n sak wat geseël is
  • Waterbestande sonskerm
  • Waterbestande kamera
  • Verkyker
  • Sonbril

So, as jy ’n kranige klimmer is, is hierdie vyf klowe nou éérs ’n uitdaging om aan te durf. Onthou om jou oornagverblyf vroegtydig te bespreek ─ na ’n dag van klim en spring verdien jy ’n behoorlike nagrus!

Hooffoto: Bigstock