Reg oor die wêreld is daar eienaardige besienswaardighede te sien, soos die 20 meter hoë robot in Japan, die Groot Aartappel in Nieu-Seeland en die wêreld se grootste dinosourus in Kanada. Vreemde trekpleisters soos dít is ook in Suid-Afrika te sien en LekkeSlaap het op ’n soektog deur die land gegaan om van die vreemdste besienswaardighede beter te leer ken. Van ’n skoenhuis en ’n pynappel, tot ’n sonbril ─ hou jou kamera gereed om dié snaakse strukture af te neem!

Die Skoen

Ohrigstad, Limpopo

Ons almal ken die bekende kinderrympie van die ou vrou in die skoen deur Mother Goose, maar sou nooit in ons wildste kinderdrome kon raai dat daar werklik só ’n huis bestaan nie! The Shoe is ’n twaalf meter lange gebou in die vorm van ’n skoen in Ohrigstad, Limpopo. Dié eienaardige trekpleister is reeds in 1990 gebou en word deur The Shoe Ministries, ’n nie-winsgewende organisasie, besit. Die instansie het ook ’n versteekte Geocach op die perseel vir diegene wat ’n lekker skattejag geniet en besoekers kan ’n begeleide toer na sewe ondergrondse kamers verwag. Verblyf word sommer op dieselfde perseel by The Shoe Guest House gebied as jy ’n aand daar wil deurbring. Lees gerus Raar maar waar: buitengewone blyplekke in SA en die opvolg-blog vir ander vreemde verblyf-opsies in Suid-Afrika.

The Shoe | LekkeSlaap


Simonsvlei se lewensgrootte wynbottel

Paarl, Wes-Kaap

Die Wes-Kaap is sinoniem met wyn en dis daarom geen verrassing dat Simonsvlei Wynlandgoed net buite die Paarl met ’n massiewe wynbottel op die perseel spog nie. Reisigers wat gereeld in dié area ry het dit sekerlik al vanaf die N1 besigtig. Hierdie wynbottel is in 1988 opgerig en is hol aan die binnekant. Dit kan daarom as ’n régte wynbottel met ’n volume van 60 000 liter gebruik word! Dié bottel se voorkoms verander gereeld om aandag aan verskeie aspekte rondom Simonsvlei te bring, insluitend nuwe wynsoorte, geleenthede en seisoene. Besoekers kan gerus ’n kiekie of twee by dié lewensgrootte wynbottel neem nadat hulle iets by die restaurant geëet het of die proe-lokaal besoek het.

Simonsvlei Groot Wynbottel Big Wine Bottle


Die onderstebo-huis

Broederstroom, Noordwes

Noordwes het ’n verskeidenheid trekpleisters in die omgewing, maar wie sou kon raai dat daar ’n onderstebo-huis in Broederstroom is? Alhoewel daar vyf onderstebo-huise in Amerika te sien is, is The Upside Down House die eerste van sy soort in Suid-Afrika. Dié huis is in nege maande gebou en beskik oor twee slaapkamers, een badkamer, ’n kombuis, eetkamer, sitkamer en ’n kroeg. Elke meubelstuk is onderstebo en besoekers loop op die plafon as hulle deur die huis stap. Dié unieke trekpleister is kindervriendelik en nooi gesinne uit om op die perseel piekniek te hou. Daar is groot springkastele, klimrame en skopfietse vir die kinders en gesinne kan hul eie piekniekmandjies en drankies teen ’n ekstra koste saambring. Daar is ook ’n toegangsfooi aan die huis verbonde wat op The Upside Down House se webtuiste besigtig kan word.

Upside Down House Broederstroom Onderstebo-huis


Seepunt se sonbril

Seepunt, Wes-Kaap

Die reusesonbril op Seepunt se promenade is ongetwyfeld een van die bekendste kunswerke in die Wes-Kaap. Dié kunswerk deur Michael Elion is in 2014 opgerig en staan as Perceiving Freedom bekend. Dis van vlekvrye staal gemaak en is ongeveer 60 m² groot. Volgens Elion is dié bril ’n hulde aan oud president Nelson Mandela. As ’n mens vanuit die bril se lense oor die see staar, sal jy Robbeneiland in die verte sien. Elion hoop dat dit besoekers oor Mandela se siening oor die wêreld en vryheid sal laat nadink. Die beeld is op ’n ou foto van Mandela, waar hy ’n soortgelyke sonbril dra, gebaseer. Besoekers aan die area kan gerus ’n kiekie of twee by dié gewilde sonbril neem en dan verder langs die see stap en ’n roomys geniet.

Sunglasses Sea Point Perceiving Freedom Sonbril Seepunt Pieter Wolhüter


Die Rooi Posbus

Calvinia, Noord-Kaap

Die besienswaardigheid wat die meeste in Calvinia afgeneem word, is die reusagtige rooi posbus in Hoopstraat. Volgens My Hantam is dié posbus in 1995 opgerig. Dis heel moontlik die grootste posbus ter wêreld, met ’n hoogte van 6,17 meter en ’n omtrek van 9,42 meter ─ hoër as die gemiddelde dubbelverdiepinghuis! Daar word berig dat die posbus eers ’n watertenk was en dat die plaaslike dokter se vrou genoem het dat dit soos ’n posbus lyk. Dié einste dokter het toe die besigheidskamer genader om dit werklik in ’n reuseposbus te omskep. Die poskantoor het ook hiertoe ingestem en die verf vir die projek verskaf. Dit is egter nie net ’n trekpleister nie, maar dien steeds as ’n werkende posbus. Besoekers hoef gelukkig nie op ’n leer te klim om ’n brief te pos nie, aangesien daar ’n klein gaping binne maklike bereik aan die kant van die massiewe posbus is. Hierdie posstukke kry elkeen ’n spesiale blomstempel wat die blommeseisoen in die Namakwaveld verteenwoordig. Besoekers kan ’n paar pragfoto’s by die posbus neem, ’n brief aan ’n geliefde pos en dan verder in die straat af stap om die plaaslike restaurante en historiese geboue te verken.

Die Rooi Posbus in Calvinia Red Post Box Life Size Postbox


Die Groot Pynappel

Bathurst, Oos-Kaap

Die Groot Pynappel in Bathurst is die grootste mensgemaakte pynappel in die wêreld. Dis van veselglas, staal en sement gemaak en is 16,5 meter hoog. Dié trekpleister het drie verdiepings en besoekers het toegang tot al drie. Die pynappel is in die 1980’s gebou en simboliseer ’n suksesvolle pynappeloes ná jare se gesukkel om die regte gewas in die area te plant. Daar is ’n kuriowinkel binne die pynappelstruktuur wat verwante vrugprodukte, soos konfyt, sap, t-hemde, legkaarte en geskenkies verkoop. Die middelste verdieping spog met ’n uitstalling van die pynappelindustrie in die omgewing en die derde verdieping bied ’n uitkykdek met ’n pragtige uitsig oor die plaas en die omliggende area.

Die Groot Pynappel in Bathurst Lifesize Pineapple Big


Die groot rooi stoel

Robertson, Wes-Kaap

Die groot rooi stoel op die Rooiberg Wynlandgoed in Robertson is die grootste stoel in Afrika. Dit is al in 2012 opgerig, maar die amptelike opening was eers in Maart 2013. Die stoel is hiér as ’n verhoog vir ’n optrede deur Danie Niehaus en Christo en Cobus Snyman gebruik. Hierdie reusestoel is nege meter hoog en besoekers kan 4,5 meter met ’n leer tot op die sitplek van die stoel klim. Daar is selfs ’n tafeltjie met stoele bo-op waar jy ’n glasie wyn met ’n uitsig op die Langeberge kan geniet. Rooiberg se restaurant bedien ook soms etes en vonkelwyn aan romantiese paartjies op die stoel. Die rede waarom dié yslike struktuur juis ’n stoel is, word deur Marianne Lochner, Rooiberg se woordvoerder, beantwoord. Sy sê dat die stoel mense nooi om by dié landgoed te kom sit en saam met vriende en familie te ontspan. Gaste kan ook iets by die restaurant eet of vars gebak by die bakkery koop.

groot rooi stoel Rooiberg Winery Robertson Chair


’n Mens kan nie help om jouself te verwonder aan die interessante strukture wat Suid-Afrikaners kan uitdink nie. Dis selfs nóg meer verbasend as só ’n struktuur lewensgroot is. Is daar ’n eienaardige besienswaardigheid in jou tuisdorp wat ons nie genoem het nie? Ons sal graag daarvan wil weet hieronder!

Hooffoto: Die groot rooi stoel in Robertson | Rooiberg