Die nuutste toevoeging tot die Kaapse stadsprofiel is dié helderkleurige rooi-en-blou gebou in Kasteelstraat. Hier in die hartjie van die middestad is Kaapstad se nuutste en luuksste (en enigste) hondehotel pas geopen! Dié unieke vyfster-hotel bied alles wat jy sou verwag van ʼn instansie met só ʼn hoë stergradering – van kamers wat uniek opgemaak is, tot DStv, tot ʼn spa! Die enigste verskil is dat dié hotel natuurlik effe meer eksklusief is as ander hotelle, aangesien dit ʼn baie spesifieke teikenmark het. So, as jy graag by dié hotel wil inklok vir ʼn nag, moet jy vier pote en ʼn swaaiende stert hê. Die eerste hondehotel in Kaapstad – dis nou vir jou ʼn ding!

Die opening van @Frits Hondehotel en Dagsorg was ʼn swierige geleentheid met flitsende kamera’s, honde wat stertswaai en verskeie oulike peuselhappies wat by die tema pas. Kelners met skinkborde vol miniatuur “hot dogs”, “corn dogs” en tortillas in die vorm van bene het deur die skare gevleg. Pienk sjampanje en potblou mengeldrankies het gaste by die deur ingewag waar Frits, die hoof-uitvoerende beampte, op ʼn gemakstoel van blou fluweel langs sy mens-mamma en eienares van die hotel, Yanic Klue, gesit het.

@Frits is die eerste van sy soort en neem die 5-ster-gradering baie ernstig op. Die kamers het elk ʼn ander tema en ʼn bekoorlike, bypassende naam wat woordspeel op bekende terme en eiename, byvoorbeeld: Sweety Paw, Dogald Trump, Hollywoof en Jurassic Bark. Die redes vir die verskillende versierings in die kamers is glo dat alle honde nie eenders is nie, en net soos mense, verskillende voorkeure het.

Elke kamer het ook ʼn spesiale hondebedjie, kussings, persoonlike kos- en waterbakke en speelgoed. In die twee Platinum-suites is daar TV’s met DStv, want wat sou ’n 5-ster-hotel sonder DStv wees? Boonop kan die brakkies dan ook lekker Animal Planet en National Geographic kyk.

Die hotel bied ook ʼn “Doggy Dormitory”, wat ’n goedkoper opsie is as die enkel-suites. Die Doggy Dormitory bestaan uit ʼn paar afgebakende slaapareas op die boonste verdieping, met spesiale honde-toilette en dieselfde oulike bedjies. Die honde-toilette is baie modern met vals gras en besproeiing wat dit skoonwas (direk in die rioolstelsel van die hotel in). Dié slaap- en speelsaal dien ook as dagsorg waar honde saam kan kuier of selfs net besoek kan aflê as mamma en pappa ’n bietjie besig is gedurende die dag of nag. Daar is ook uitstappies, speeltyd en selfs ʼn spa waar jou viervoetige maatjie ʼn borrelbad of masseersessie kan geniet.

Yanic is ʼn honde-mens en dit is uit dié liefde dat haar idee vir ʼn hondehotel oorspronklik gespruit het. Sy wou ʼn plekkie hê waar alle honde soos belangrike gaste hanteer word. Alle honde is welkom solank hulle aan die gesondheid- en temperament-vereistes voldoen. Volgens Yanic het Kaapstad so ʼn hotel dringend nodig gehad. Dis haar liefde vir honde (sy het ses van haar eie!) wat haar oortuig het dat mense veel eerder hul brakkies in iemand se sorg sal wil laat wat nét so passievol is oor troeteldiere.

Die hotel is natuurlik nie al waarmee @Frits besig is nie! Selfs vóór die hotel sy deure geopen het, het @Frits al begin naam maak met spesiale klere vir honde! Die nuutste modegiere vir woefies is beskikbaar by @Frits en kan ook by die hotel gekoop word. Enige iets van ʼn reënbaadjie tot ʼn skouerbroek en selfs ʼn spesiale Kersfeesjassie is beskikbaar! As jy graag vir jou brakkie ʼn spoggerige strikdas of parmantige pakkie wil aantrek, klop gerus aan by @Frits in Kasteelstraat!

Daar is iets wat elke viervoetige karnallie sal pas!

Frits is natuurlik die grootmeneer in die besigheid, maar daar is ook ʼn hele paar ander pote aan die stuur.

Daar het jy dit ‒ Kaapstad bied nou uiteindelik ’n luukse dakkie vir jou brakkie!

As jou heel beste maatjie graag die hotel op die proef wil stel, kontak die hotel via @Frits se webtuiste of stap sommer by die voordeur in om by ontvangs navraag te doen.

Let wel: Die hotel se “amptelike” adres is Kasteelstraat 121, maar om seker te maak dat die stem op jou GPS jou tot by die voordeur lei, moet jy maar “117 Castle Street” intik. Anders kan jy net jou ore spits en mooi luister vir die uitbundige geblaf van ʼn hondjie in ʼn strikdas wat pas die vreugde van ʼn borrelbad, DStv of heerlike peuselhappies ontdek het.

Hooffoto: @Frits Dog Hotel and Daycare Centre.