“Klein bietjie wyn, klein bietjie wyn, klein bietjie wyn vir my,
klein bietjie wyn vir my, klein bietjie wyn vir my.
Klein bietjie wyn, klein bietjie wyn, klein bietjie wyn vir my
Klein bietjie wyn vir my en ook vir jou.”

Anton Goosen was duidelik nie in die Robertson-wynvallei toe dié lirieke geskryf is nie, want met só ʼn verskeidenheid wynplase in die omgewing is ʼn “klein bietjie wyn” eenvoudig nie genoeg nie … Dít het ek gou besef toe ons onlangs vir ʼn naweek in McGregor gekuier het en die kans gekry het om van die wynplase in die omgewing te verken! Nou ja, ons het as’t ware ʼn voorsmakie gekry van hoeveel pret Wacky Wine Weekend (WWW) dié naweek gaan wees. Ons wys jou hoe 5 van die WWW-wynplase lyk en waarom elkeen beslis die besoek werd is.

2Wanneer die aangename wintersonnetjie die groen en bruin skakerings van die wingerde beklemtoon, is Arendsig Wines op sy heel mooiste. Hier was ons so gelukkig om op ʼn luilekker Sondagmiddag ʼn privaat wynproesessie onder leiding van Lourens van der Westhuizen, die wynmaker self, te beleef. Hy het ons met trots ingelig dat elke bottel wyn besonders is ‒ dit is nie net enkelwingerdwyn wat “met die hand gemaak” is nie: Elke bottel word individueel genommer en geëtiketteer aangesien net ʼn beperkte aantal bottels van dieselfde wyn op ʼn slag gemaak word. Nes jy oortuig is die een glas wyn is jou gunsteling, oortref die volgende een al jou verwagtinge! Tog het die meeste van ons die chardonnay (sitrus, groen appel en pynappel op die neus) ten einde onweerstaanbaar lekker gevind en moes ons eenvoudig elkeen ʼn bottel koop. Moenie by Arendsig inloer sonder om die chardonnay te proe nie, maar as jy rooiwyn verkies sal jy beslis ook nie teleurgesteld wees nie!

E-pos: info@arendsig.co.za
Tel: 023 616 2835

Kliek hier vir Arendsig se Wacky Wine-program.

esonaEsona kraai beslis koning as dit by die wynproe-ervaring self kom. Rowan en Caryl Beattie, die eienaars, is nie net die dierbaarste paartjie wat moeite doen om jou van só ʼn unieke ervaring te verseker nie, besoekers kan ook hier rustig sit en kuier op die reuse houtdek met byna panoramiese uitsigte oor die skilderagtige wynvallei. Wat ʼn besoek aan Esona werklik besonders maak, is die vertikale wynproe onder in die onopgesmukte, ou kuipkelder. Dis omtrent ʼn intieme affêre soos die wynassistent, Daneen, die wyn en vrugtekonserf by kerslig voorberei. Dié wynproesessie, met die naam “Taste the Difference”, verloop só: Een tipe wyn van ʼn sekere oesjaar word in drie verskillende glase geskink en met ‘n Lindt-sjokolade of vrugtekonserf “gepaar”. Asof dit nie reeds vreemd genoeg is dat elke glas dan ʼn verskillende geur en neus uit dieselfde wyn na vore bring nie, besef jy hoe min smaak die wyn het wanneer jy dit in ʼn gewone sogenaamde “Joker”-wynglas gooi! Dit het ons net weer gewys, behoorlike wynglase is ʼn móét! Besoek Esona as jy vir ʼn slag ʼn buitengewone wynproe-ervaring wil beleef.

E-pos: info@esona.co.za
Tel: 076 343 5833 / 023 616 2023

Kliek hier vir Esona se Wacky Wine-program.

lords11 km buite McGregor lê Lord’s Wines se prentjiemooi en ikoniese grasdakkelder tussen groen laslappieheuwels. Hier het Jacie Oosthuizen, wat die wynplaas gevestig het, en sy dogter Melané Oosthuizen, ons een lieflike Saterdagmiddag vriendelik ingewag en gasvry verwelkom met ʼn borrelende, yskoue glas vonkelwyn (Methode Cap Classique of MCC). Op só ʼn warm dag was dit ʼn absolute lafenis en ons het gretig aan van die droogste tot die soetste staan en teug. Ons het skaars ons glase leeg gedrink toe daar nóg 6 bottels wyn voor ons neergesit word! Om ʼn gunsteling onder dié wyne te kies is byna onmoontlik, maar die bekroonde enkelwingerd pinot noir met sy pruim- en kersiegeure is beslis ʼn voorloper. Die witwyne en pinot noir rosé is ook tops! Gelukkig kan mens ure lank tussen al die egte Franse vate in Lord’s se gesellige proelokaal kuier of buite op die stoep sit en die pragtige, verlate vallei sit en aanskou. Moenie hierdie lekker kuiergeleentheid misloop nie!

Tel: +27 23 625 1265
E-pos: lordswinery@breede.co.za

Kliek hier vir Lord’s se Wacky Wine-program.

tanʼn Drankie met skop wat skrik vir niks … dis nou Grappa daai. Alhoewel Tanagra soos die res van die wyne in die vallei ook heerlike boetiekrooiwyn produseer, is dit beslis dié drankie wat ons aandag getrek het gedurende ons besoek op die plaas. Robert Rosenbach, die trotse Duitse eienaar, het ons selfs ʼn behoorlike demonstrasie van die distillasieproses gegee. Daarna kon ons ʼn paar verskillende variante proe van die sterkwater wat uit druiwedoppe gemaak word, van die ‘Marc’ (Grappa) met wyngeure tot die ‘Eau de Vie’ met vrugtegeure, soos appelkoos, perske en lemoen, blykbaar ʼn gunsteling onder gereelde besoekers. Nou ja, dit ruik dalk soos ʼn soet lemoengeurige likeur, maar moenie dat dit jou fnuik nie … Kom kuier by Tanagra en proe hierdie wilde drankie as jy avontuurlustig voel, of vra net vir ʼn glas van die gewilde enkelwingerdrooiwyne!

Tel: 023 625 1780
E-pos: tanagra@tanagra-wines.co.za

Kliek hier vir Tanagra se Wacky Wine-program.

vlVan Loveren se ikoniese ingang met sy laning palmbome en bloedrooi kannas sal jou absoluut bekoor. Soos jy instap kan jy jou verkyk aan die elegante ontwerp en persoonlike afwerkings van die moderne proelokaal, en dan is daar boonop ʼn lieflike tuin waar jy lekker in die wintersonnetjie kan sit met ʼn glasie van jou gunsteling-wyn. Hier voel jy onmiddellik tuis! Van Loveren en sy restaurant Christina’s spog altyd met lieflike kos- en wynparings, veral gedurende die Wacky Wine Weekend, maar die kersie op die koek is sonder twyfel die lekkerste kaas-en-wynproesessie wat jy in ʼn lang tyd sal beleef! Hier sit ons byna weer met ʼn geval waar die een kombinasie so lekker is soos die ander kombinasie. Einde ten laaste het ek besluit die chardonnay en brie is my gunsteling. Wynliefhebbers wat nie van kaas hou nie kan gerus Van Loveren se sjokolade-en-wynparing of nougat-, neut- en wynparing oorweeg! ʼn Nie-alkoholiese wyn-en-kosparing is ook beskikbaar as jy chauffeur speel vir die dag.

Tel: 023 615 1505
E-pos: info@vanloveren.co.za

Kliek hier vir Van Loveren se Wacky Wine-program.

Maak seker jy loop nie dié wynplase mis gedurende Wacky Wine Weekend, of jou volgende besoek aan die Robertson-wynvallei nie!

As jy nog ʼn paar laaste dinge wil uitvind oor Wacky Wine, of meer wil weet van die Robertson-wynvallei en sy wynplase, kontak  gerus vir Elizma (Spangenberg) Botha by die Robertson-wynvalleikantoor:

Tel: 023 626 3167
E-pos: manager@robertsonwinevalley.com

Weereens dankie aan Mira Weiner by McGregor Country Getaways wat dié naweek moontlik gemaak het!