Dit begin al hoe vroeër donkerder word, die son begin meer en meer agter die wolke skuil, dis soggens omtrent ’n pyniging om onder jou snoesige komberse uit te klim, en dit voel asof jy jare gelede behóórlik vakansie gehou het  ─ ja, winter is sterk op pad! Sekere aspekte van dié koue seisoen voel soms soos ’n straf, maar dis ook die ideale seisoen om heel aand met jou neus diep in jou gunstelingboek voor die kaggel te lê, heerlike warm bredies op te kook, ’n fliek-maraton te hou en gehalte-tyd saam met vriende en familie en ’n goeie bottel rooiwyn deur te bring! In die Oos-Kaap kan jy ál hierdie winterdoendinge geniet met die provinsie se ongerepte natuurskoon as ’n bonus.

Met die winter in volle vaart en die middel-van-die-jaar-mismoed wat op almal se skouers rus, het LekkeSlaap gaan kuier in 6 wonderskone Oos-Kaapse dorpe wat ’n onvergeetlike winterwegbreek verseker.

Hogsback


Dié sprokiesagtige dorpie is tussen die Amatolaberge weggesteek en omring deur asemrowende inheemse woude en watervalle. Te danke aan die dorpie se byna magiese natuurskoon, sal Hogsback vir ’n wegbreek sorg waar al jou sorge soos mis voor die son verdwyn. Die Amatolaberge spog met meer watervalle per vierkante meter as enige ander plek op aarde! Daar is onder andere die Swaelstert-, Keteltuit-, Madonna en Kind- en 39 Trappe-valle waar jy jou gunstelingboek en ’n bottel rooiwyn kan geniet terwyl jy die natuurprag bewonder. Die stilte en rustigheid word slegs deur die voëlgesang en gedruis van die watervalle verbreek.

In Hogsback sal jy ook die Auckland Natuurreservaat vind wat een van slegs twee eerstegraadse inheemse woude in Suid-Afrika is en dit spog met massiewe bome soos die geelhout-, ysterhout- en stinkhoutboom. Die area is só ongerep dat gelukkige besoekers al uiters skaars spesies soos die grootpapegaai, Knysnaloerie en die samango-apie in dié area gesien het, so hou jou oë oop! Gedurende winter word die omliggende berge en soms selfs die dorpie self met ’n spierwit sneeukombers bedek, wat dit die ideale bestemming vir ’n winterwegbreek maak. Hogsback is nie net enige natuurliefhebber se paradys nie ─ die dorpie loop ook oor van kulturele besienswaardighede wat kuns-entoesiaste se harte vinniger sal laat klop. Dit is ’n fantasiewêreld waar natuurprag ’n wonderlike eenheid met kuns en kreatiwiteit vorm.

Doendinge en besienswaardighede in en om Hogsback: Amathole-perdritte, Hiku Hikes (stap saam met die digter Silke Heiss tot by Swaelstertvalle), Applegarth Tuine en Kwekery, voëlkyk, Camelot Fairy Meander (stap deur ’n pragtige tuin met interessante beeldhouwerke), abseil, begeleide staptoere, weeklikse “parkrun” (elke Saterdag), Mirrors-fotogalery, Crystal Corner, Starways Pottery, voetslaan, bergfietsry, boogskiet, kombinasie-toere met Hogsback Adventures, The Fairy Realm-wandelpaadjie en Eco Shrine (Diana Graham se olieverfskilderye en mosaïekwerke).

Morganbaai


Wie sê ’n vakansie by die see kan net in die somer gebeur? Die vars seelug en gedruis van die Wildekus se branders in die agtergrond is dalk net wat jy nodig het om daardie middel-winter-mismoed te laat verdwyn. Morganbaai is ’n gewilde vakansiebestemming vir talle gesinne elke jaar en daardie egte kleindorpie-bekoorlikheid is juis wat dit so ’n gunsteling maak. Dié vakansiedorpie word omring deur kranse bedek met gras en pragtige veldblomme, en as jy die voetpaadjie op hierdie kranse volg, bevind jy jou op die Strandloper-voetslaanpad wat in Keimond begin en in Oos-Londen eindig. Hiér sal jy met ongelooflike uitsigte oor golwende branders wat teen die rotse slaan en digte woude bederf word, en beslis weggevoer word na ’n towerwêreld.

Morganbaai het net een geriefswinkeltjie, die hoofpad is ’n grondpad wat met huise wat na die see front belyn word, en dan is daar ook ’n paar huisie wat uitgesprei op die heuwels in die agtergrond pronk ─ die ideale opset om van jou middel-van-die-jaar-moegheid ontslae te raak.

Doendinge en besienswaardighede in en om MorganbaaiUitstekende voëlkykgeleenthede (meer as 270 voëlspesies), voetslaan, swem, branderplankry, visvang in die see en rivier, kanovaart, vierwielfietsry, Double Mouth-natuurreservaat, skeepswrak by Double Mouth (het in die 1600’s gesink), rotsklim, abseil, uitstekende fotografie-geleenthede, perdry op die strand, kampeer, Yellowwood Forest Plaasmark en Morganville Motorfiets Museum.

Willowmore


Dié Karoo-dorpie het die vermoë om tyd stadiger te laat verbygaan. Met die Karoo-styl geboue, die ikoniese NG-Kerk in die middel van die dorp, bekoorlike winkeltjies en selfs donkiekarre wat nog hul weg rondom die dorpie baan, sal moeë stadsjapies beslis ’n tipe tydloosheid ervaar wat moeilik in die stad te vinde is. Besoek gerus die bekoorlike koffiewinkel, Sophie’s Choice, in die middel van die hoofstraat en smul aan koffie en kos uit die boonste rakke. Jy mag dalk ook jou volgende waardevolle antiekstuk hiér aankoop!

Daar is ook verskeie historiese geboue in dié dorp om te besoek en die omliggende skoonheid sal sorg dat daar altyd iets is waaraan jy jou kan verwonder. Klim op ’n donkiekar wat jou deur die dorp se strate neem terwyl ’n plaaslike inwoner jou al die fassinerende stories van die dorpsmense vertel ─ ’n egte ouwêreldse ondervinding!  As dít nie jou hart vinniger laat klop nie, kan jy by ’n paar van die verblyfopsies naby Willowmore gaan wildkyk, of die volle 203 kilometer vanaf die dorpie deur die Baviaanskloof Natuurreservaat na Patensie in die ooste met ’n 4×4 aanpak. Dié wat nie gretig is vir ’n 4×4-rit nie, kan bloot deur die Baviaanskloof ry en betower word deur die natuurprag van die vallei van die bobbejane.

Doendinge en besienswaardighede en in en om Willowmore: Voetslaan en bergfietsry op Aasvoëlberg (daar is ook ’n 4×4-roete bo-op die berg), voetslaan deur die Karoo (verby 2 Anglo-boereoorlogforte), Sophie’s Choice-koffiewinkel, donkiekarritte deur die dorp, 4×4-ritte in Baviaanskloofpas, historiese geboue in die dorp, voëlkyk en wildkyk/wildritte.

St Francis


Dié sonderlinge area aan die Sonskynkus staan vandag bekend as meer as net ’n idilliese branderplankrybestemming, soos dit in die ikoniese 60’s film The Endless Summer uitgebeeld word. St Francis spog nou met ’n pragtige kanaalstelsel wat deur kostelike wit huisies omring word. In die rigting van Santareme en Port St Francis verander die huisstyl weer na Mediterreens en Toskaans, omring deur sandduine en fynbos. Kaap St Francis is welbekend vir sy fokus op volhoubare en eko-ontwikkeling en is ook die tuiste van die Seal Point-vuurtoring en die rehabilitasiesentrum vir pikkewyne.

Die kanaalstelsel bied aan inwoners en besoekers ’n eksotiese marina-leefsyl waar jy van jou eie jetty af kan visvang, swem of die kanale met ’n kano verken! In die winter en lente, vanaf Mei tot laat Oktober, kan jy walviskyk tussen Kaap St Francis en St Francisbaai. Port St Francis bied verskeie ontspannings-geleenthede by die hawe en die skilderagtige strande strek kilometers ver waar Bruce’s Beauties, die wêreldbekende branderplankrybestemming, gevind word. Vir dié wat nie in adrenaliensport belangstel nie is daar die groter St Francisbaai wat sake- en winkelsentrums bied. St Francis spog met ongelooflike uitkykpunte waar jy snoesig in jou motor die natuurskoon kan bewonder sonder om deur die koue geteister te word. In Humansdorp by Aqua Spa kan jy ook van die beste spa-behandelings in die wêreld geniet ─ hoe klink dít vir ontspanning om van die yskoue winter te vergeet? St Francis bied alle geriewe vir ’n gerieflike wegbreek, met ongerepte natuurprag wat jy moeilik elders sal vind!

Doendinge en besienswaardighede in en om St Francis95 on Main (Humansdorp se leefstylsentrum), St Francis Links Gholflandgoed, perdry, voetslaan en skemerkelkies op Oesterbaai se strand, bergfietsry, piekniek, sandplankry op die duine, sonsondergang-wildritte, begeleide voetslaanroetes, visvang, walvis- en dolfynkyk, seilplankry, branderplankry, jetski, Kaap St Francis Natuurreservaat, Humansdorp Museum en die Two Harbours Walk (voetslaanroete waar jy ook kan walvis- en dolfynkyk).

Grahamstad


Indien die fantastiese jaarlikse Nasionale Kunstefees, wat dié jaar vanaf 28 Junie tot 8 Julie plaasvind, nie genoeg rede vir jou is om ’n draai in dié historiese dorp te maak nie, is daar vele alternatiewe redes om Grahamstad by jou winterwegbreek-lysie te voeg! Grahamstad se aangrypende geskiedenis maak dié dorp ’n belangrike kulturele gebied. Dit is die grensdorp wat die Britse kolonialiste en Xhosa-stamme in die 19de eeu geskei het, asook een van die hoofsentrums vir vryheidsvegters teen Apartheid. Plaaslike geskiedkundiges bied insiggewende toere deur die dorp wat belangrike gebeure en sentimentele oomblikke in Suid-Afrikaanse se multi-kulturele geskiedenis uitwys.

As geskiedenis nou nie juis vir jou iets is om oor huis toe te skryf nie, is daar verskeie natuurreservate in en naby Grahamstad, soos Groot Visrivier Natuurreservaat, Kariega Natuurreservaat en Pumba Privaat Natuurreservaat wat uitstekende wildkykgeleenthede bied ─ ’n heerlike manier om die gesin bietjie uit die huis te kry dié winter!

Dan is daar natuurlik die Nasionale Kunstefees wat vir 11 dae dié rustige universiteitsdorp in ’n kulturele paradys omskep. Dié multi-kunstefees lok jaarliks meer as 200 000 besoekers, waar meer as 2 000 aanbiedinge plaasvind en die program met meer as 700 geleenthede spog. Die Nasionale Kunstefees het gedurende die Apartheidsera as ’n belangrike forum vir politieke en protes-teater gedien. Dit is sonder twyfel ’n belewenis wat jou dié winter sal warm hou!

Doendinge en besienswaardighede in en om GrahamstadObservatory Museum, Thomas Baines Natuurreservaat, Bucklands Privaat Wildreservaat, Groot Visrivier Natuurreservaat, bergfietsry, begeleide staptoere en wildritte.

Kenton-on-Sea


’n Mens kan sê dat dié beeldskone dorpie aan die Sonskynkus basies perfek geleë is ─ albei kante grens onderskeidelik aan die Kariega– en Boesmansrivier, tussen Oos-Londen en Port Elizabeth. Of jy na ’n idilliese romantiese winterwegbreek smag of bloot die jongspan wil besig hou, Kenton-on-Sea is die ideale bestemming waar jy gehalte-tyd saam met jou geliefdes kan geniet. Die dorp is die toonbeeld van ’n rustige, vervloë era, so beskou dit as ’n geleentheid om jou kop in ’n pragomgewing skoon te kry!

Hiér kan jy die kleiner dinge in die lewe waardeer en salige eenvoud saam met familie en vriende terdeë geniet. Gaan stap langs die afgesonderde strand, vang vis of leer selfs lyfplankry, want die son skroom nie om gedurende winter in Kenton-on-Sea te skyn nie! Daar is wonderskone, maklike voetslaanroetes waar jy afgeleë strande kan verken ─ gaan doen navraag by Kenton Toerisme-kantore om presies uit te vind waar jy al dié spesiale roetes kan vind. Die strande bied uitstekende geleenthede vir verskillende watersporte wat selfs gedurende winter in die matige temperature van die omgewing vir hope pret sal sorg. Anders kan jy ook ’n bootrit op die Boesmans- of Kariegarivier bespreek, jou piekniekmandjie vol pak, jou beste bottel rooiwyn saambring, en kyk hoe die winterson oor die Sonskynkus sak.


Doendinge en besienswaardighede in en om Kenton-on-SeaPerdry op die strand, wildkyk by natuurreservate, bootritte, lyfplank- en branderplankry, waterski, bergfietsry en voetslaan

Daar is beslis geen rede om mismoedig en koud rond te sit dié winter nie! Beplan nóú ’n onvergeetlike winterwegbreek na die wonderskone Oos-Kaap saam met vriende of familie. Ná ’n naweek in dié prentjiemooi provinsie, het jy sommer weer moed om op te staan terwyl dit nog donker is!  

Hooffoto: “Amatola Hiking Trail” deur Alfred Payne (Flickr)
Alle foto’s in die blog is vanaf LekkeSlaap se webtuiste verkry.