Is jy ’n kranige stapper en ’n regte avontuurdier? Hou jy van swoeg en sweet met ’n swaar sak op jou rug terwyl jy jou verkyk aan die mooi natuur? Dan is dié blog nét vir jou! LekkeSlaap het ’n lys  van ses skouspelagtige staproetes wat op jou emmerskoplysie hoort gemaak, so lees ’n bietjie, pak jou sak en voorwaarts, mars!

1. Die Otter, Oos-Kaap

Stappers durf reeds sedert 1968 die klipperige kranspaadjies langs die kus by Stormsrivier vreesloos aan. Dié paadjies kronkel vanaf die Stormsrivier-ruskamp tot by die Grootriviermonding in Nature’s Valley en vorm die gewildste staproete in Suid-Afrika. Aan die een kant kyk jy uit oor die skilderagtige see en aan die ander kant sien jy weer die immergroen Tsitsikamma-woud … Dis g’n wonder dat dié roete die eerste plek op tientalle stappers se emmerskoplysies beklee nie!

Die Otter, Oos-Kaap
Foto’s: Rick McCharles op Flickr.

Die beste tyd om dié roete aan te pak: Die roete is ideaal buite die reënseisoen in die herfs of lente wanneer dit nie té warm is nie. In dié woud kan dit egter enige tyd reën, so bring jou reën-poncho saam.
Bespreek: minstens ’n jaar vooraf
Afstand: 42,5 km
Aantal dae: 5 dae
Slaapplek: ongekunstelde houthutte met ablusiegeriewe
Moeilikheidsgraad: Die roete is uitdagend, die bulte is steil en die Bloukranskruising verg stapervaring.
Bespreek: Gebruik Sanparke se webtuiste en gee dan die kantoor by 012 426 5111 elke nou en dan ’n luitjie om te hoor of daar kansellasies was.

Spaar jou kragte in Stormsrivier onderweg na die Stormsrivier-ruskamp, en skep ’n bietjie asem in Nature’s Valley ná die staproete.

2. Die Fanie Botha, Mpumalanga

Die Fanie Botha word as die groenste voetslaanroete in die hele land beskou en kronkel vanaf Sabie deur denneplantasies, grasvelde en inheemse woude tot in Graskop. Die houtbruggies en mosbegroeide klippe skep ’n sprokiesagtige prentjie wat jou aan die feetjiewoud uit jou kleintyd sal herinner! Soggens is dit soms lekker mistig in dié geweste, maar smiddae word ’n mens met asemrowende uitsigte oor groen valleie beloon en die watervalle wat jy padlangs raakloop is nóg hoogtepunte.

Die Fanie Botha, Mpumalanga
Foto’s: Bernard DUPONT op Flickr.

Die beste tyd om dié roete aan te pak: Die roete kan enige tyd van die jaar gestap word, behalwe in die snikhete somermaande.
Bespreek: minstens ’n jaar vooraf
Afstand: 72 km
Aantal dae: 5 dae
Slaapplek: afgesonderde houthutte met ablusiegeriewe
Moeilikheidsgraad: Die roete is straf en stappers moet fiks en gesond wees om dié roete kaf te draf.
Bespreek: Gebruik SAFCOL Ecotourism se webtuiste en gee dan die kantoor elke nou en dan by 013 754 2724 ’n luitjie om te hoor of daar kansellasies was.

Slaap salig in Sabie onderweg na die beginpunt en herwin weer jou kragte ná die staproete in Graskop.

3. Die Amatola, Oos-Kaap

As jy lief is vir fantasieflieks soos The Lord of the Rings, The Hobbit en Narnia is die Amatola-staproete so rég in jou kraal — geilgroen velde en hoë bergspitse lê eindeloos voor jou uitgestrek en dit voel asof jy pens en pootjies in ’n feëverhaal is! Dié roete begin sowat 23 km vanaf King William’s Town en eindig 100 km verder in Hogsback. Dis ’n meneer van ’n roete met steil opdraandes en diep dale wat jou nogal dikwels sonder asem sal laat, maar daar is gelukkig ’n paar ontsnappingsroetes vir diegene wat nié die mas kan opkom nie. Nadat jy dié strawwe roete voltooi het, sien jy dalk selfs kans vir Kilimandjaro!

Die Amatola, Oos-Kaap
Foto’s: Alfred Payne op Flickr.

Die beste tyd om dié roete aan te pak: Dis baie koud in die winter en die dae is korter, en in die somer kan reën ’n probleem wees, so bespreek jou plek in die herfs- of lentemaande.
Bespreek: minstens ’n jaar vooraf
Afstand: 100 km
Aantal dae: 6 dae
Slaapplek: rustieke houthutte met bostoilette
Moeilikheidsgraad: Die roete is uiters uitdagend en jy moet ’n gesoute stapper wees om dié roete aan te durf.
Bespreek hiér: Gebruik Amatola Trails se webtuiste.

Lus om lekke te ontspan voor jy met die roete wegspring? Slaap by dié salige rusplekkies in en om King William’s Town, en skop dan jou skoene ná die Amatola by een van die snoesige slaapplekkies in Hogsback uit.

4. Die Tsitsikamma, Oos-Kaap

Die Tsitsikamma-staproete word soms as die stiefsussie van die alombekende Otter-staproete beskou, maar moet jou beslis nie laat flous nie — die Tsitsikamma is nié vir sissies nie! Dié roete lei vanaf die De Vasselot-ruskamp in Nature’s Valley oor berge en dale tot by Stormsrivier. Dis nie net die bulte wat jou na asem sal laat snak nie, maar ook die uitsonderlike uitsigte en prentjiemooi natuurtonele wat jou om elke hoek en draai begroet.

Die Tsitsikamma, Oos-Kaap
Links: SANParks Natures Valley Rest Camp | Regs: Esther Westerveld op Flickr.

Die beste tyd om dié roete aan te pak: herfs of lente
Bespreek: minstens ’n jaar vooraf
Afstand: 62,5 km
Aantal dae: 6 dae
Slaapplek: rustieke houthutte met spoeltoilette
Moeilikheidsgraad: uitdagend
Bespreek hiér: Gebruik MTO Ecotourism se webtuiste.

Klim met die regte voet uit die bed by een van dié slaapplekke in Nature’s Valley voor jy die Tsitsikamma-staproete aandurf, en span ná die staproete lekker by een van dié rusplekkies in Stormsrivier uit.

5. Giant’s Cup-staproete, KwaZulu-Natal

Sien jy nie kans vir ’n strawwe staproete nie? Dan is die Giant’s Cup-roete nét vir jou! Dié makker roete is perfek vir oud en jonk, en kronkel vanaf die Sanipas tot by die Boesmansnek aan die voet van die toweragtige Drakensberge. Dis mistige valleie, golwende groen heuwels en salige stroompies net waar jy kyk!

Giant's Cup-staproete, KwaZulu-Natal
Foto’s: Rick McCharles op Flickr.

Die beste tyd om dié roete aan te pak: herfs of lente
Bespreek: minstens ’n jaar vooraf
Afstand: 60 km
Aantal dae: 5 dae
Slaapplek: ongekunstelde houthutte, baksteenhuisies en rondawels
Moeilikheidsgraad: matig
Bespreek hiér: Kontak Ezemvelo KZN Wildlife by 033 845 1000.

Begin die Giant’s Cup-roete op die regte noot en slaap voor die tyd in Himeville, en kuier ná die staproete by die Bushman’s Nek-hotel.

6. Die Swart Tobie, Wes-Kaap

Is slenterstap meer jou tipe ding? Dan is die Swart Tobie-slenterstaproete aan die Weskus perfek vir jou! Dié sirkelroete begin en eindig by die Boesmangrot anderkant Lutzville naby Koekenaap en ’n mens stap vir kilometers op spierwit strande langs die see of op stofpaadjies in die binneland! Jy hoef gelukkig nie té swaar te dra nie, want jou proviand, tent, matras en ander kamptoerusting word vir jou rondkarwei en jy kan net ’n dagsak saamdra. Los al jou sorge by die huis, vergeet van die stad se gedruis en kom op dié stapavontuur — die uitsigte is ongeëwenaard en die terrein ongerep, so jy voel sommer baie na aan Moeder Natuur!

Die Swart Tobie, Wes-Kaap
Foto’s: Wilhelm van Zyl van Collected Pix

Die beste tyd om dié roete aan te pak: Stap tydens die veldblomseisoen in Augustus en September, of tydens die kreefseisoen van November tot April (onthou dan jou permit).
Bespreek: So gou moontlik
Afstand: 42 km
Aantal dae: 4 dae
Slaapplek: tente wat self voorsien moet word
Moeilikheidsgraad: matig
Bespreek hiér: 071 481 7096

Bespreek ’n lêplek in of naby Lutzville as jy voor én na die staproete ’n salige nagrus wil geniet.

Nou ja toe, waarvoor wag jy nog? Bespreek blitsvinnig jou plekkie op een van dié roetes sodat jy dit van jou emmerskoplysie kan aftiek!

Hooffoto: Sean Finaughty

Hierdie blog is oorspronklik deur Daleen Venter geskryf, en in April 2022 deur Nanje Lourens opdateer.

Vrywaring: Let dat die lengte van ’n roete mag verskil afhangend van hoe julle die roete aanpak en watter beginpunt julle kies. Die meeste roetes het verskeie begin- en eindpunte. Dit is daarom raadsaam om altyd met roete-administrasie of die geskikte kontakpersoon vir die roete in verbinding te tree om seker te maak julle verstaan die uitdagings van die roete ten volle.