Die tyd vir winterwegbreke is vir eers verby. Oor ’n paar dae is die lente in al haar glorie hier. LekkeSlaap het 9 van die mooiste lentebestemmings gaan uitsoek, so kom vier die nuwe seisoen by ’n prentjiemooi plek in jou provinsie!

Gauteng

Jakarandastad

Elke jaar in September kondig duisende pers jakarandabloeisels die koms van die lente luidkeels aan. Die jakarandas is op hul mooiste in Waterkloof, Eastwoodstraat in Arcadia naby die Uniegebou (die uitsigte van hier af is fantasties!), en Soutpansbergweg in Rietondale. Beleef hierdie jaar een van die skouspelagtigste lentetonele in Suid-Afrika. En klik hier vir uitstappie-idees in die Jakarandastad.

Mpumalanga

Laeveld Nasionale Botaniese Tuin

Die Laeveld is aljaar mooi, maar daar is tog iets spesiaals aan die groenigheid ná die eerste lentereën. Gaan maak ’n draai by die Laeveld Nasionale Botaniese Tuin en vind rus en vrede langs die Krokodilrivier. Dié tuin is oop van Maandag tot Sondag en die broodboomversameling is beslis iets om te aanskou. Nelspruit en die Krugerwildtuin is ook net om die draai.

Limpopo

Wolkberg Natuurreservaat

Dié natuurreservaat spog met piekniekplekke, riviere, watervalle, staproetes, en tientalle voël- en soogdierspesies, en in die lente kan mens sien hoe al die babadiertjies baljaar. Verken die kranse, skeure en grasveld, en hou jou oë oop vir die ribbokke, klipspringers, duikers en bosbokke wat hier voorkom. Benewens swemklere vir al die veilige strome en bergpoele, is ’n verkyker ’n móét ─ witkruisarende, kroonarende, hamerkoppe, en vlermuisvalke sweef in die lugstrome bo die reservaat. Bespreek ’n plekkie in Haenertsburg en doen ’n daguistappie na dié sonderlinge reservaat.

Noordwes

Parys

Dié skilderagtige dorpie skuil in die Vredefortkoepel op die oewer van die Vaalrivier. Die grasveld en wilgerbome is op hul mooiste na die eerste reën. Stadsjapies kom klop gereeld hier aan om die vrede van die rivier en die wilgerbome te ervaar. Dié dorp is veral bekend onder kunsliefhebbers, riviervlotvaarders en hengelaars, en moenie vergeet om bessies te gaan pluk by Bon-Af Landgoed nie! Wat is nou lekkerder as ’n lentepiekniek in die skadu van ’n wilgerboom langs die reuse Vaalrivier!

Vrystaat

Clarens

Die Clarensvallei lê in die Oos-Vrystaatse Hoogland, net 20 km vanaf Golden Gate. Die wilgerbome se liggroen blare en bloeisels aan al die vrugtebome maak dit definitief die moeite werd om die pragtige Hooglandroete tot hier te ry. Dan is daar nog die interessante sandsteenformasies van die Malutiberge, van die beste kunsvlieghengelplekke in die land, eindelose perdry-roetes, en al die kunsgalerye, restaurante en koffiewinkels wat Clarens besonders maak. Dié juweel van die Vrystaat is gemáák vir ‘n lentewegbreek. Klik hier vir meer inligting.

Wes-Kaap

Kirstenbosch

Dié lushof teen Tafelberg se suidelike hang spog met meer as 7000 plantspesies. Net die erikas en proteas se pastelkleure maak dit alreeds die moeite werd om Kirstenbosch in die lente te besoek. Dit is onmoontlik om hierdie tuin se skoonheid en grootsheid onder woorde te bring, en foto’s laat ook selde reg geskied aan die werklikheid. UNESCO het dit in 2004 tot Wêrelderfenisgebied verklaar en in 2014 is die Boomslang voltooi. Dié loopbrug bied ’n boomtop-perspektief op die tuin en dit is ook rolstoelvriendelik.

Noord-Kaap

Namakwaland

Die Namakwalandse veldblomme is wêreldbekend. Elke jaar kom natuurliefhebbers van heinde en verre om dié blommetapyt te beleef. LekkeSlaap weet van honderde lêplekkies van Malmesbury tot Springbok vir almal wat nog nie hierdie uitstappie op hul emmerskoplysies afgemerk het nie. Onthou om jou blommetoer voor die einde van September te reël en moenie vergeet om ’n draai te maak by die Weskus Nasionale Park nie. Klink hier vir ’n lekke blommekykgids.

Oos-Kaap

Wildekus

Die Wildekus strek van die Mtamvunarivier in die noorde tot by die Groot Keirivier in die suide. Dié ongetemde kus is ’n lente-lushof vir stappers, duikers, voëlkykers en 4×4-entoesiaste. Meer as 300 voëlspesies is al hier geïdentifiseer en die golwe verbloem skeepswrakke uit die 17de eeu.

KwaZulu-Natal

St. Lucia

Danksy KwaZulu-Natal se subtropiese klimaat is dit heeljaar mooi. KZN se hoë humiditeit kan ’n somervakansie ietwat ongemaklik maak, vandaar die voorstel om dit eerder in die lente te besoek. St Lucia is sowat 240 km noord van Durban en dit was ons land se eerste Wêrelderfenisgebied. Dié omgewing se strande, kuswoude, vleilande, wild, en seelewe maak dit ’n vakansieparadys. Dit vorm deel van die iSiMangaliso Vleilandpark waar ’n mens 4 van die Groot 5 kan gewaar.

Roep die winter vaarwel by een van hierdie luisterryke lentebestemmings!

Hooffoto: Skilpad Farm