Soos gesien op Maroela Media.

Die somervakansie is nog vars in ons geheue, maar nog voor jy jou strandhanddoek finaal kan wegpak, is Paasnaweek al weer hier! Weet jy al in watter rigting jou voertuig mik? Of sukkel julle steeds om op ’n bestemming te besluit? Rol af en loer gerus na dié handjievol bestemmings wat steeds beskikbaarheid het en ideaal is vir ’n groepwegbreek hiérdie Paasnaweek.

Limpopo

Bellerive Guesthouse

Die idilliese Magoebaskloof wag op jou! Hiér kan julle rustig tussen die natuurskoon ontspan of ’n bietjie avontuur by jul naweek voeg. Die huis is omring deur ’n inheemse denneboomwoud wat meer as 300 hektaar groot is en wag om verken te word, so bring jou visstok, stapskoene en verkyker saam!

Aantal gaste: 10
Prys: R3500 vir die eenheid
Doendinge: Forel- en baarshengel, voetslaan, bergfietsry en voëlkyk

“Bellerive is ’n klein paradys.” ─ Wilsia M


Pavetta Country House

Dié pragtige plaashuis is ver van die stad se gedruis en reg langs die inheemse denneboomwoud met ’n lieflike uitsig oor die Haenertsburg Forelvereniging se trofeedam. Saans kan julle ’n vuurtjie aansteek en bedags langs die water gaan piekniek hou. Én met geen selfsoonsein is daar niemand wat jou gedurende jou wegbreek kan pla nie.

 Aantal gaste: 8 tot 10
Prys: Vanaf R2200 tot R3100 per eenheid
Doendinge: Kunsvlieghengel, visvang, forelhengel en voëlkyk

“Die huis het alles wat mens nodig het en nog meer. Die perfekte plek vir ’n groep mense om te ontspan.” ─ Vernon F


Kwê Kwê Private Game Lodge

Net 200 kilometer vanaf Johannesburg, lê Kwê Kwê Private Game Lodge op ’n 135 hektaar-wildsplaas. Elke kamer het ’n en suite-badkamer en daar is ’n swembad op die perseel. Julle kan lekker tussen die wild gaan wandel en selfs kameelperde, wildebeeste, sebras, koedoes, impalas en waterbokke gewaar.

Aantal gaste: 9 tot 13
Prys: Vanaf R1500 tot R4000 per eenheid
Doendinge: Voetslaan, bergfietsry, wildkyk, voëlkyk en sterrekyk

“Ons was 8 volwassenes en 6 kinders, verblyf was ruim en skoon, puik diens van personeel en lekker aande om die vuur.” ─ Rabe P


Lady Africa Bush Lodge

Wou jy nog altyd in ’n safari-tent in die bos vakansiehou? Nou is jou kans! Lady Africa Bush Lodge spog met safari-tente of seiltente met en suite-badkamers op ’n privaat wildsplaas. Dit is ideaal as julle die privaatheid van julle eie tent verkies, maar tog lekker saam by die onderdak-lapa en swembad wil kuier. Bonus ─ Ore kan ook saam kom kuier!

Aantal gaste: Elke eeheid het slaapplek vir 2
Prys: Vanaf R550 tot R1095 per eenheid
Doendinge: Bergfietsry, swem, fietsry en voëlkyk
Troeteldiervriendelik: Ja

“Ons het ons tyd hier verskriklik baie geniet. Naby genoeg, maar ver genoeg om van die stad se lawaai af weg te breek. Rustig en veilig en gee vir ’n mens weer die geleentheid om net als in die lewe te waardeer.” ─ Tania V


Mpumalanga

Buffalo Thorn Private Camp

By Buffalo Thorn Private Camp in die Taba Tholo Wildreservaat het julle eksklusiewe gebruik van die kamp met 5 groot koepeltente en ’n safari-tent. Die kamp is omgewingsvriendelik en maak nie van elektrisiteit gebruik nie ─ jou water word met ’n donkie verhit. Onthou asseblief dat 4×4-voertuie benodig word om die kamp te bereik en dat buffels en luiperds vrylik hiér rondloop.

Aantal gaste: 14
Prys: R3500 tot R4900 vir die kamp
Doendinge: Voëlkyk, wildritte, wildkyk en bergfietsry

“Die stukkie hemel tussen die berge verfris jou siel en gemoed. Die natuurskoon is amper onaangeraak en die vryheid wat ons gehad het om die reservaat te verken was welkom.” ─ Minette en Hendrik D


Tau Self-catering House

Dié pragtige selfsorg-bosveldlodge skuil in die gewilde Marlothpark aan die oewer van die Krokodilrivier. Bo kan julle lekker op die ruim stoep kuier terwyl julle julle oë oophou vir die wild wat tussen die bosse skuil ─ daar is min plekke soos dié waar jy die Groot 5 sommer van jou stoep af kan dophou! Daar is ook ’n lapa met braaigeriewe en ’n privaat swembad-area, en begeleide wildritte kan gereël word om wild in die Krugerwildtuin te gaan kyk.

Aantal gaste: 10
Prys: R3950 tot R4250 vir die eenheid
Doendinge: Wildkyk, bergfietsry en voetslaan

“Ons was 9 mense en die huis is definitief toegerus om soveel mense te huisves sonder dat mense onder mekaar se voet die heeltyd is.” ─ Carol D


Klipfontein Bushcamp

Dié boskamp bied absolute privaatheid op ’n 160 hektaar-plaas in die Kwena-kom met ’n pragtige uitsig op die Steenkampsberge. As jy ’n natuurliefhebber is en ’n luidrugtige groep wil saambring, is dit nét vir jou! Jy kan selfs jou vleis vooraf by die slaghuis op die dorp bestel en by die kamp op jou inklokdatum laat aflewer. Kom koel lekker in die dam saam met jou geliefde vierpootkinders af ─ ja, hulle kan saam kom vakansiehou!

Aantal gaste: 16
Prys: R3900 vir die kamp
Doendinge: Voëlkyk, sterrekyk, voetslaan en ontspan in die pragtige omgewing
Troeteldiervriendelik: Ja

“Klipfontein Bushcamp was ’n absolute verrassing. Die foto’s doen nie reg aan die natuur se skoonheid nie. As jy ’n natuurmens is en van jou privaatheid hou is dit die plek vir jou.” ─ Sjs V


KwaZulu-Natal

Star Dam Estate

In die KwaZulu-Natalse Middellande, naby die ikoniese Inhlosane-heuwel, lê dié pragtige selfsorglodges. Elke lodge kan apart of as ’n geheel bespreek word en is minder as 400 m van mekaar af. Daar is beslis iets om almal besig te hou, van begeleide perdrytoere tot motorboot-uitstappies om vis te gaan vang ─ hiér kan julle luilekker langs die water kom uitspan.

Aantal gaste: 6 tot 8 per eenheid
Prys: R3500 tot R5500 per eenheid
Doendinge: Perdry, kunsvlieghengel, forelhengel, voëlkyk, fietsry, bergfietsry en swem


Experience 1880

Dié 19de eeuse kliphuis skuil op ’n plaas net 50 kilometer van Underberg af. Geen selfoonsein of elektrisiteit waarborg jou ’n toevlugsoord waar die buitewêreld net ’n vae herinnering is. Behalwe vir die hele rits doendinge op die plaas kan julle ook die nabye Coleford Natuurreservaat, Ntsikeni Wildreservaat en Pennygum Rafting and Tubing gaan besoek.

Aantal gaste: 10
Prys: R3000 per eenheid
Doendinge: Voëlkyk, voetslaan, perdry of pieknieks op die plaas geniet

“Realiteitsterugblik, lekker rus sonder telefoon en TV, ideale wegbreek.” ─ Andre W

So, waarvoor wag jy? Beplan nóu jou roetereis en kom vier Paasnaweek by een van dié bekoorlike bestemmings! Watter een van dié bestemmings is op jou lysie? Laat ons weet!

Hooffoto: Pavetta Country House (LekkeSlaap)

Let asb. op dat die pryse onderhewig is aan verandering en dat die eenhede beskikbaar was ten tyde van publikasie.