Ons almal wil ’n huisie by die see hê of ten minste net ’n heerlike seevakansie! As jy egter nie tussen ’n skare wil sonbaai nie, is die vreedsame Arniston in die Overberg die ideale plek. LekkeSlaap het in hierdie dorpie gaan kuier en vertel jou graag van al sy skatte, asook waar jy ’n paar nagte salig kan slaap.

Die pad na Arniston is prentjiemooi en alles behalwe vervelig. Wanneer jy die Overbergstreek binnery, word jy begroet met ’n ongelooflike uitsig oor die see, op die majestueuse berge en oor die goue en groen velde ─ jy sal beslis ’n paar foto’s hiervan wil neem! In Augustus en September is die kanolavelde op hul mooiste en ons raai aan dat jy definitief jou roete so aanpas om deur Swellendam, Caledon en Bredasdorp te reis.

Arniston, wat ook as Waenhuiskrans bekend staan, betower vandag menige besoeker met sy sonderlinge skoonheid en visserdorpie-sjarme. Dié dorpie het sy naam, Arniston, verkry van die skip, Arniston, wat in 1815 hier gesink het. Die naam, Waenhuiskrans, is weer te danke aan die grot wat met laaggety gelyk het soos die strukture waarin die setlaars hulle beeste en ossewaens gebêre het.

Hoogtepunte

Arniston se strand en duine

As jy lus is vir ’n lekker dag op die strand, skop dan jou skoene uit en gaan loop op dié sagte witsandstrand. Jy kan ook die duine uitklim, ’n sandkasteel saam met jou kinders bou en die sonondergang oor die see bewonder.

Waenhuiskransgrot

Noudat jy weet waar die naam vandaan kom, moet jy beslis hierdie grot aanskou. Dié grot kan net tydens laaggety besoek word en die roete daarheen se skoonheid sal jou asem wegslaan!

De Mond Natuurreservaat

Hierdie pragtige kusnatuurreservaat is ’n Wêrelderfenisgebied en sowat 26 km van Bredasdorp af, tussen Arniston en Struisbaai. Hiér kan jy pieknieks onder die lowerryke bome op die rivieroewer geniet en ook die Sterna-voetslaanroete van 7 km aanpak.

De Hoop Natuurreservaat

De Hoop Natuurreservaat is gewild onder avonturiers en bied verskeie doendinge, soos voetslaan, bergfietsry, voël-, wild- en walviskyk. Hiér kan jy die gewilde Walvis-roete volg wat, soos die naam impliseer, verskeie geleenthede bied om walvisse te gewaar. Dié voetslaanuitstappie neem 5 dae en is veral gewild tussen Junie en November. Kontak gerus Cape Nature by 021 483 0190 vir meer inligting.

Ginkgo Spa by die Arniston Hotel

Siende dat jy graag wil ontspan, kan jy jouself en jou geliefdes by die Ginkgo Spa met ’n heerlike spa-behandeling bederf!

Kliek ook hier indien jy by die Arniston Hotel wil oornag.

Kassiesbaai

Indien jy beplan om jou eie huisie by die see te bou, sal Kassiesbaai se unieke boustyl jou beslis inspirasie gee vir die perfekte strandhuis!

Mien se Teetuin

As jy in hierdie geweste is, dan móét jy ’n draai by dié teetuin kom maak. Mien is ’n gesoute besigheidsvrou en haar disse is voorwaar lipleklekker! Kom smul hiér aan ’n heilsame ontbyt of ’n ligte middagete, waarvan die lynvis en kalamari altyd ’n wenner is. Natuurlik kan jy ook ’n heerlike koppie koffie of tee saam met ’n suikersoet nagereg geniet!

Mien het vir 30 jaar by Arniston Hotel gewerk en sy wou graag haar droom bewaarheid om haar eie restaurant te begin. Dié teetuin het in Februarie oopgemaak en vriende en nuwe gesigte loer gereeld hiér in.

Willeen’s Arts and Crafts Restaurant

Dié kothuis was aanvanklik net ’n kunsvlytwinkeltjie met ’n paar lekkernye. Vandag is dit ’n gewilde restaurant wat daagliks oop is en bobaas-Suid-Afrikaanse disse bedien, soos bobotie, hoenderpastei en lamskenkel, asook heerlike visgeregte en garnale.

Die skeepswrakmuseum, Bredasdorp

Dié museum vertel jou van ongeveer 130 skeepswrakke wat sedert 1673 langs die Kaapse Suidkus gesink het. Een van hierdie wrakke is die Meisho Maru 38  wat steeds sigbaar teen Kaap Agulhas se kus is.

Kontaknommer: 028 424 1240
Adres: Independent-straat 6, Bredasdorp
Besigheidsure:
Maandae tot Donderdae: 09:00 tot 16:45
Vrydae: 09:00 tot 16:00
Saterdae: 10:00 tot 16:45
Sondae: 11:00 tot 16:00

Black Oystercatcher Restaurant, Bredasdorp

As jy lief is vir ’n wyntjie in die Kaap, dan kan jy gerus jou ervaring hiér kom opkikker. By Black Oystercatcher kan jy heerlik teug aan wyn vanuit die Elimvallei, asook craft-bier wat deur Fraser’s Folly Craft Brewery vervaardig word.

Kontaknommer: 028 482 1618
Besigheidsure:
Wynproe: Maandae tot Vrydae van 09:00 tot 17:00
Restaurant: Dinsdae tot Sondae van 11:00 tot 14:30

Kapula Kerse, Bredasdorp

As jy ’n kunsliefhebber is, dan is Kapula Kerse net vir jou! Hier kan jy ’n toer by die fabriek geniet waar jy kan sien hoe kerse en keramiekprodukte vervaardig word. Daarna kan jy ook ’n heerlike koppie tee in die teetuin drink.

Kontaknommer: 028 425 1969
Adres: Cereal-straat 13, Bredasdorp
Besigheidsure:
Maandae tot Donderdae: 09:00 tot 17:30
Vrydae: 09:00 tot 17:00
Saterdae: 09:00 tot 13:00
Openbare vakansiedae (behalwe Goeie Vrydag en Kersdag): 10:00 tot 13:00

Struisbaai se hawe

Kom loop gerus op Struisbaai se hawe en gaan drink en eet iets lekker by Pelican’s Harbour Café.

L’Agulhas

As jy nog nie hiér ’n draai gemaak het nie, is dit beslis ’n gulde geleentheid. Dié dorpie is sowat 44 km suidwes vanaf Arniston en het beslis ’n paar van sy eie skatte waarby jy vinnig ’n draai kan maak.

Hiér kan jy die mees suidelike punt van Afrika besoek ─ die plek waar die Indiese en Atlantiese Oseane mekaar ontmoet. Die bekende rooi-en-wit-vuurtoring is ook hier in die Agulhas Nasionale Park, ’n Wêrelderfenisgebied, te sien en word deur baie mense as dié bewarea se baken beskou. Die vuurtoring het in 1849 vir die eerste keer sy lig oor die see uitgestraal en dit is verseker die moeite werd om tot bo te klim sodat jy die pragtige uitsig kan geniet! As jy meer oor hierdie en die ander SANParke wil lees, kliek gerus hier.

Avonturiers moet verseker nie uitmis op die Spookdraai- en Rasperspunt-voetslaanroetes nie en natuurlik sal jy van die beste vis en tjips by L’Agulhas Seafoods vind!

Nou ja toe, bespreek sommer nóú jou volgende seevakansie in Arniston, want dié dorpie bied verseker tonne vermaak vir jou en jou gesin!

Ander verblyfopsies: Bredasdorp, Struisbaai, L’Agulhas

Hooffoto: Arniston deur Arniston Spa Hotel (Facebook)