Die nuwe jaar is goed op dreef en jy sien seker al uit na jou volgende vakansie! Jy hoef gelukkig nie té lank te wag nie — daar is heelwat langnaweke in 2018 waarvoor jy solank kan beplan. LekkeSlaap wys vir jou lieflike bestemmings regoor die hele land waar jy en jou gesin ’n welverdiende blaaskans gedurende dié jaar se langnaweke kan geniet.

Maart en April is om die draai en as jy goed beplan, kan jy sommer lekker baie langnaweke geniet. Sit vroegtydig jou verlof in sodat jy die eerste vakansiedag op 21 Maart behoorlik kan benut — jy kan ’n vyfdag-naweek hê as jy die Donderdag en Vrydag verlof vat! Paasnaweek is kort op sy hakke en blyplekke is gewoonlik lank vooruit volbespreek, so moenie té lank wag voor jy jou wegbreek saam met jou familie bespreek nie. Later in April is daar weer ’n geleentheid vir ’n lekker lang wegkomkans van 5 dae as jy verlof insit vir Maandag, 30 April sodat jy vir oulaas die somerweer kan geniet. As avontuur in die tweede helfte van die jaar roep, kan jy op 10 Augustus verlof vat om vir vier dae lekker weg te breek. In September kan jy gelukkig weer die kar pak vir die tweede laaste langnaweek van die jaar — die vakansiedag op 24 September is perfek vir ’n vinnige ruskans! Daarna sal jy tot 17 Desember moet wag voor jy weer kan gaan uitspan.

Wonder jy nou nog waarheen jy vir een van dié luilekker langnaweke moet gaan? Van die Weskus tot die Panorama-roete — ons wys jou waar jy rus kan vind vir jou siel én jou voete!

Die Tuinroete se pragtige kusdorpies is bekend onder reisigers van oraloor en ons verstaan presies hoekom. Dié streek spog met ’n skouspelagtige kuslyn van Witsand tot by Plettenbergbaai, en die magiese Tsitsikammawoud sal jou behoorlik bekoor. Die pragtige natuurskoon om elke hoek en draai beloof om jou asem weg te slaan, so onthou om jou kamera in te pak.

Kliek hier vir verblyfopsies in Wildernis en Keurboomstrand as jy die Tuinroete behoorlik wil verken.

Die wonderskone Overberg is sowat 2 uur se ry vanaf Kaapstad en dis die ideale bestemming vir ’n naweekwegbreek. Die majestueuse berge wat jou omtrent oral in dié streek omring, bied tientalle doendinge, soos wynproe, eetplekke, voetslaan- en bergfietsroetes. Dié kuslyn staan ook bekend as die walvisroete en die jaarlikse walvismigrasie van Junie tot Desember is regtig iets om te sien!

Loer na hierdie lieflike blyplekke in Onrus en Greyton as jy op soek is na rustigheid in die Overberg.

Die Oos-Kaap se Sonskynkus is die ideale vakansiebestemming met sy klein dorpies, pragtige wit strande, ideale weersomstandighede, warm water en talle watersportgeleenthede in die see, riviere, én strandmere. Dis ook naby verskeie natuurreservate waar jy die Groot 5 kan aanskou as jy nie in die water baljaar nie.

A post shared by Amy MacFarlane (@amy_joy_mac) on

Laat St. Francisbaai se wit grasdakhuise en waterweë jou bekoor met verblyf in een van dié mooi blyplekke.

Die Drakensberge vorm die grens tussen KwaZulu-Natal en Lesotho en is maklik bereikbaar vanaf Johannesburg, Durban en Bloemfontein. Dis ’n opwindende wegbreekplek vir die hele gesin met verskeie doendinge — van ongelooflike watervalle en grotte tot voetslaanroetes in dié majestueuse berge. Terwyl jy daar is, kan jy ook die wêreldbekende Sani-pas van jou emmerskoplysie afmerk met ’n opwindende rit tot heel bo.

Kom kuier sommer vir ’n hele naweek by een van dié topblyplekke in Underberg, want hierdie bestemming bied oorgenoeg besienswaardighede om te verken!

Die Dolfynkus se lieflike sonskynweer en warm water regdeur die jaar maak dit die ideale naweekbestemming aan KwaZulu-Natal se noordkus. Die lieflike strande en puik branderplankrygeleenthede sorg vir ure se pret in die son en die water, en die getypoele is veilig vir die kinders om lekker te baljaar. Daar is ook talle oulike dorpies en pragtige strande aan dié kus om te verken.

A post shared by Julio Martins (@jm2_images) on

Kliek hier vir lieflike vakansieverblyf in Ballito en Umdloti as jy ’n eindelose somer wil geniet.

Die Panorama-roete is een van Suid-Afrika se natuurlike skatte en spog met topbesienswaardighede. Dit dek Mpumalanga se hooglande en die noord-oostelike deel van die Drakensberge met die Blyderivierspoort as ’n onvergeetlike hoogtepunt! Laai die kinders in die kar en hou jou kamera byderhand, want jy sal jouself vergaap aan die skouspelagtige uitsigte en natuurskoon van dié streek.

Geniet ’n naweek by een van dié prentjiemooi blyplekke in Sabie of Witrivier wanneer jy dié roete verken.

Die ongekunstelde kusdorpies van Namakwaland sal dit laat voel of tyd gaan stilstaan het aan die Weskus en as jy op soek is na ’n wonderlike wegbreek waar rus en vrede seëvier, is dit die ideale bestemming vir jóú langnaweek. Daar is min plekke waar jy só lekker kan afskakel soos aan die Weskus en jy kan ’n rustige dag afsluit met een van die mooiste sonsondergange oor die Atlantiese oseaan.

A post shared by Wicky Saric (@wickysaric) on

Loer na dié verblyfopsies in Port Nolloth as die stilte van die Namakwa-Weskus jou roep.

Sien jy ook nou reeds uit na die eerste langnaweek van die jaar? Met hierdie lieflike bestemmings hoef jy definitief nie met Jan Tuisbly se karretjie te ry nie. Bespreek sommer dadelik jou wegbreek om teleurstelling te vermy en dié jaar se langnaweke behoorlik te benut!

Hooffoto: The Retreat on Cliff (LekkeSlaap.co.za