Soos gesien op Maroela Media.

Jy is pootuit ná ’n eindelose week op kantoor, maar om nóg ’n naweek met Jan Tuisbly se karretjie te ry gaan nie die gewenste uitwerking op jou gemoed hê nie ─ jy het ’n blaaskans nodig! Daarom stel LekkeSlaap voor jy verruil Gauteng se asvaal wolkekrabbers vir Noordwes en Limpopo se manjifieke bergpieke.

Magaliesberg

Die Magaliesberg-area is minder as 50 minute se ry van Pretoria af en as jy uit Johannesburg vertrek, sal jy slegs ’n uur op die pad wees. Hartbeespoort en Magaliesburg is beslis ’n besoek werd wanneer jy in Noordwes kom rondrits.

Matlapa Lodge

Absolute sielsrus wag by Matlapa Lodge net buite Magaliesburg, vanwaar jy ver oor die vallei kan tuur. Hiér slaap jy in ’n losstaande eenheid met ’n buitestort en soggens dien kwetterende voëltjies as jou wekker. Smiddae kan jy in die swembad baljaar en die omgewing te voet of te perd verken.

Dream Lodge

Klink ’n wildrit op ’n pragplaas, rotskuns in ’n grot en ’n glasie wyn voor die kaggel romanties? Dan is Dream Lodge jou droombestemming! Dié plaas bevorder volhoubaarheid en die twee klipkothuise gebruik sonkrag en kerslig. Ontbyt en aandete is ingesluit en kan enige tyd by jou kothuis bedien word ─ ál wat jy hoef te doen is ontspan.

Saamrus Guest Farm

Saamrus Guest Farm skuil in ’n woudagtige vallei tussen ’n kabbelende stroompie en die Magaliesbergheuwels. Dié gasteplaas bied nege selfsorgkothuise met braaigeriewe en ’n plaashuis met slaapplek vir tien. Selfs Wagter en Trixie is welkom en hulle kan sonder leibande saam met jou langs die rivier gaan wandel.

Pilanesberg

Die Pilanesberg Nasionale Park is minder as 200 kilometer van die Jakarandastad af en net ’n bietjie meer as 200 kilometer vanaf die Goudstad. Dié pragstreek lok natuurliefhebbers van heinde en verre en sluit ook die immergewilde Sun City en Bojanala in.

Bakubung Bush Lodge

Bakubung Bush Lodge bied pret en plesier aan oud en jonk ─ van ’n swembad, vlugbalbaan, tennisbaan en restaurant, tot ’n Groot Vyf-wildrit en ’n spa. Die chalets verskil in grootte en is geskik vir paartjies en gesinne. Kom vergeet jou sorge en bewonder die Pilanesberg Nasionale Park om elke hoek en draai!

Kwa Maritane

Kwa Maritane beteken “plek van die rots” en is op die randjie van ’n dormante vulkaan geleë. Dié luukse bos-lodge bied ’n hele rits kamers wat elke sak en smaak sal pas. As jy net wil ontspan en jou aan die omgewing verkyk, kan jy op die restaurantdek aan ’n skemerkelkie teug. Hier is ook konferensiegeriewe wat aan sakemanne se vereistes sal voldoen.

Finfoot Lake Reserve

Finfoot Lake Reserve is langs Vaalkopdam en die Bosveld-atmosfeer is orals te bespeur. Die chalets is gerieflik en ideaal vir paartjies en gesinne. Bedags kan jy waterpret op die dam geniet, ’n magdom bosvoëlspesies in jou voëlkykgids afmerk en ’n wildrit aanpak, en saans kan jy onder die sterrehemel aan ’n tuisgemaakte maaltyd smul.

Waterberg

Die Waterberge is in die hartjie van die Bosveld en ongeveer 300 kilometer van Gauteng se stede af. Bela-Bela, Leeupoort, Northam en Vaalwater behoort op jou reislysie te wees wanneer jou wegbreekwiele in dié rigting draai.

Letlapa Lodge

By Letlapa Lodge kan jy die stadstof van jou skoene afskud en toelaat dat die Bosveld jou siel verkwik. Die luukse en suite-kamers beskik oor kaggels en tee- en koffiemaakgeriewe. ’n Smaaklike ontbyt, middagete, aandete en drankies word in die eetarea bedien. Jy kan ook ’n draai by die plaasdiere maak en kyk hoe bokke in die veld wei.

Thanizimbi Game Farm and Entertainment Venue

Thanizimbi Game Farm and Entertainment Venue lê ’n entjie buite Thabazimbi en is geskik vir groot groepe en gesinne. Hiér is vyf eenhede en slaapplek vir meer as 50. Geniet ’n wildrit en skemerkelkie langs die berg terwyl jy jou aan die Bosveld verkyk of durf die 20 kilometer lange bergfietsroete aan. Swem is aan die orde van die dag en saans kan jy jou avonture langs ’n gesellige vuurtjie afsluit.

Waar jy jou ook al in Gauteng bevind, breek ’n bietjie weg na van Suid-Afrika se besonderse bergreekse en wys daai stadsverkeer en nimmereindigende e-posse wie’s baas!

Hooffoto: Thanizimbi Game Farm and Entertainment Venue (LekkeSlaap)