Ons ry nou dalk vir ’n paar weke met Jan Tuisbly se karretjie, maar voor jy weer jou oë uitvee het jou wegkomkans aangebreek. Dán is dit die perfekte tyd om Suid-Afrika se ontelbare wonderskone bestemmings en asemrowende natuurskoon te gaan verken!

LekkeSlaap het gaan ondersoek instel na vyf unieke bergpasse in Suid-Afrika waar daar nie net skouspelagtige uitsigte langs die pad te siene is nie, maar ook verskeie doendinge en blyplekke in die omtrek is om die beste van jou langpadrit te maak. Dis immers nie net die bestemming wat belangrik is nie, maar die reis ook!

Kogmanskloofpas, Roete 62

Kogmanskloof is die prentjiemooi, 6,5 km lange bergpas op die wêreldbekende Roete 62 tussen Montagu en Ashton, sowat 180 km vanaf Kaapstad. Dié bergpas loop al langs die Kingnarivier af en word gekenmerk aan die majestueuse rotsformasies en die “gat” in die berg waardeur jy ry ─ die sogenaamde “poort” na die Klein Karoo.

Dié bergpas word gekenmerk aan die “gat” in die berg waardeur jy ry ─ die sogenaamde “poort” na die Klein Karoo.

Dié 16 m lange tonnel in die berg is tussen 1873 en 1877 deur die beroemde pad-ingenieur Thomas Bain ontwerp en is gevorm deur ’n klein dinamiet te skiet. Kyk op nét voor jy deur die tonnel ry ─ aan die bokant van die tonnel sal jy ’n fort sien wat deur die Engelse gedurende die Suid-Afrikaanse Oorlog in 1899 gebou is. Alhoewel dié bergpas nie baie lank is nie, het dit wel ’n ryk geskiedenis en bied dit vele doendinge in die omgewing vir die hele gesin!

Doendinge in die omtrek:

As jy nie nét deur die bergpas wil ry nie en eerder die omgewing behoorlik wil verken, is daar talle doendinge naby die pas wat op jou wag.

* Vir avonturiers is daar rotsklim in die pragtige Langeberge rondom Montagu wat as een van die land se top bergklimbestemmings bekendstaan.

* Montagu is ook bekend vir sy warmwaterbronne wat sonder twyfel die gewildste besienswaardigheid in die omgewing is. Hier kan jy jou skoene uitskop en ontspan!

* Wynliefhebbers sal beslis nie verveeld wees in dié omgewing nie: Roete 62 is deur die wêreldbekende Roete 66 in die VSA geïnspireer en produseer van die land se beste wyn.

Pretfeit: Roete 62 is die langste wynroete ter wêreld!

Verblyf naby Kogmanskloofpas:

Breek weg tussen uitstekende wynplase op die wêreld se langste wynroete, of ervaar eerstehands die vreedsame plaaslewe aan die voet van die Langeberge. Kyk gerus na verblyfopsies in Montagu, Ashton en Robertson.

Vanrhynspas, Namakwa-Weskus

Dié bergpas is op die R27 tussen die dorpies Vanrhynsdorp in die Wes-Kaap (Namakwa-Weskus) en Niewoudtville in die Noord-Kaap geleë. Wat hierdie bergpas besonders maak is nie net die manjifieke uitsigte wat dit bied nie, maar ook die feit dat dit die Wes-Kaap met die Noord-Kaap verbind ─ ’n lekker bederf vir reisigers wat die provinsiale grens oorsteek! Vanrhynspas is boonop in ’n uitstekende toestand en is dus geskik vir enige voertuig.

Wat hierdie bergpas besonders maak is die feit dat dit die Wes-Kaap met die Noord-Kaap verbind ─ ’n lekker bederf vir reisigers wat die provinsiale grens oorsteek!

Doendinge in die omtrek:

* Veldblomliefhebbers sal gedurende die skouspelagtige blomseisoen ná die winterreën (tussen Augustus en September) in die sewende hemel wees soos hulle Nieuwoudtville, die dorpie net ná Vanrhynspas, in verwondering binnery. Daar is ook verskeie voetslaanroetes in die Oorlogskloof Natuurreservaat naby Nieuwoudtville vir dié wat graag die veldblomspesies van naby wil bekyk.

* Beplan jou reis só dat jy teen sonsondergang teen die Vanrhynspas opry ─ dié tyd van die dag beloof panoramiese uitsigte oor die Knersvlakte wat beslis ’n belewenis is voor jy die langpad verder aandurf!

Verblyf in die omgewing:

Vir dié wat ’n lang reis na die Karoo beplan, is daar verskeie oornagplekke in Vanrhynsdorp ─ ’n ouwêreldse dorpie net langs die N7 voordat jy Vanrhyspas bereik. Loer ook gerus na oornagplekke in Nieuwoudtville net ná Vanrhynspas waar jy die vars lug en stilte van die Boesmanland kan ervaar.

Sanipas

Sanipas is die koning van alle bergpasse in Suid-Afrika. Dié betowerende pas, wat vanaf Underberg in die weste van KwaZulu-Natal tot by Mokhotlong in Lesotho strek, laat elke pas in Suid-Afrika les opsê in terme van hoogte, afstand en steilte! Dié ikoniese pas spog met ongeëwenaarde uitsigte oor die pieke van die Drakensberge en die groen landskap van Die Vallei van ’n Duisend Heuwels.

Sanipas begin met ’n hoogte van 1544 m bo seespieël en styg 1332 m vertikaal tot ’n indrukwekkende hoogte van 2876 m (die hoogste in Suid-Afrika!) Wat dié pas nog meer merkwaardig en opwindend maak, is die feit dat dit steeds net grondpaaie het, en dus 4×4-entoesiaste van heinde en ver lok om dié opwindende uitdaging aan te pak. Ongelukkig word gewone voertuie nie op die pas toegelaat nie, maar met goeie rede ─ dié terrein is nie vir sissies nie!

Dié pas is merkwaardig omdat dit steeds net grondpaaie het, en dus 4×4-entoesiaste van heinde en ver lok om dié opwindende uitdaging aan te pak.

Doendinge in die omtrek:

* Uitdagende 4×4-ritte net 20 km vanaf Underberg wat tot by Lesotho strek: Hierdie roetes is ’n opwindende kombinasie van rots, klippe, grys, modder en selfs areas waar daar rotsstortings was. Gedurende die winter maak sneeu dié roete selfs meer uitdagend vir diegene wat waag om dit aan te pak.

* Giant’s Castle (in sentrale Drakensberge) het meer as 25 voetslaanpaaie wat wissel van 3 km tot 30 km en wat ’n paar uur of dae kan neem om te voltooi, afhangend van die moeilikheidsgraad:

* Verder kan jy ook voëlkyk en die Dragon Peaks Restaurant besoek wat deur die Drakensberge omring word.

* Besoek gerus die Giant’s Castle Natuurreservaat waar jy elande en baardaasvoëls kan gewaar, of Injisuthi Natuurreservaat as jy lief is vir kamp en voetslaan.

Verblyf in die omgewing:

As jy rustig die Drakensberge en Sanipas wil verken, is daar verskeie wildreservate en oornagbestemmings in die omgewing om van te kies. Underberg het talle rustige verblyfopsies wat ongelooflike uitsigte op die berge en avontuurdoendinge waarborg.

Magoebaskloofpas, Magoebaskloof

Dié bergpas is ’n toonbeeld van Suid-Afrika se kontrasterende landskap: Dit strek van pragtige, lowergroen inheemse woude tot die Bosveld en oneindige bergreekse. Dié prentjiemooi subtropiese bergpas tussen Tzaneen en Polokwane in Limpopo kronkel deur digte, inheemse woude, verby avokado- en teeplantasies en watervalle (soos die Debengeni-valle) en is omring deur denne- en bloekomboomlanings. Dit is geskik vir alle voertuie, so die hele gesin kan die skoonheid van hierdie bergpas saam beleef. Vir dié wat die groen plantasies en skilderagtige uitsigte wil bewonder, is daar verskeie piekniekplekke langs die pas, so maak seker jou piekniekmandjie is gepak voor jy dié pas aanpak!

Pretfeit: Daar word geglo dat die gees van die magtige Tlou-stamhoof, Mamphoku Makgoba, wat teen die Boere geveg het toe hulle sy land wou binnedring, steeds in hierdie pas ronddwaal. Hy is in 1895 verslaan en in die omgewing begrawe en daarom bewandel sy rustelose gees glo steeds dié pas. Terloops, die pas is ook vernoem na die verkeerde weergawe van sy naam wat die Boere verkeerd as “Magoeba” in plaas van “Makgoba” uitgespreek het.

Daar word geglo dat die gees van die Tlou-stamhoof, Mamphoku Makgoba, steeds in hierdie subtropiese pas ronddwaal.

Doendinge in die omtrek:

* Magoebaskloofpas is enige avonturier se droom met van die beste voetslaanroetes in Suid-Afrika van tot 53 km lank (4 dae) in die Soutpansberge. Dié roete loop deur die streek waar Venda-stamleiers begrawe is. Ziplining is ook gewild in dié streek.

* Verken gerus die bergfietsryroetes soos Cheerio/Sequoia, Stanfordmeer/Ebenezerdam en Magoebaskloof Adventures waar jy ook kan voetslaan. Hierdie roetes kronkel deur woude, oop plaaspaaie en openbare grondpaaie. 

*Die Debegeni-watervalle is ook ’n moet-sien!

Verblyf in die omgewing:

Avonturiers kan hul moeë bene by verskeie tipes verblyf soos kampeerterreine, gastehuise, hotelle en kothuise in Magoebaskloof rus. Daar is ook talle oornagplekke in Tzaneen en Polokwane waaruit jy kan kies en keur as jy dié dorpe wil verken of bloot wil uitrus voor jy ’n lang reis aandurf.

Long Tom-pas, Panoramaroete

Dié bergpas is tussen Lydenburg en Sabie en die omliggende area vergestalt ’n asemrowende sprokieswêreld! Long Tom-pas is na die Long Tom-kanonne vernoem wat gedurende die Suid-Afrikaanse Oorlog gebruik is en dit was die oorspronklike pad vir pionier-ossewareisigers wat goedere van Mosambiek na Lydenburg vervoer het. Dié pas het oor die sogenaamde Devil’s Knuckles getuimel en was só steil en gevaarlik dat verskeie ossewaens skoonveld verdwyn het. Die pad was ook nie beskore vir bangbroeke nie aangesien wild vrylik in die area rondbeweeg het.

Dié pas het oor die sogenaamde Devil’s Knuckles getuimel en was só steil en gevaarlik dat verskeie ossewaens skoonveld verdwyn het.

Vandag is Long Tom-pas egter geteer en glad nie so gevaarlik soos 100 jaar gelede nie. Die area is oortrek met denne- en bloekombome en die bergtoppe van Mount Anderson en die Mauchsberge verseker ’n pragtige rit deur die pas. Dit is ook besonders omdat die Suid-Afrikaanse Natuurerfenisgebied, Misty Mountain, hier geleë is. Dié erfenisgebied bied uitsigte oor die laeveld-vlaktes. Volgens plaaslike inwoners is die beste tyd om dié area te besoek gedurende die somer wanneer die watervalle in volle glorie neerstort en die omliggende omgewing groen en welig is.

Doendinge in die omtrek:

* Horseshoe-waterval (Sabie): Hierdie waterval is iets besonders aangesien dit die vorm van ’n perdeskoen aanneem en as nasionale monument verklaar is. Die poele rondom die waterval is gewilde swem-, braai- en visvangbestemmings wat dit die ideale kuierplek vir die hele gesin maak.

* Die Mac Mac-waterval (13 km buite Sabie op die Panorama-roete): Die omgewing rondom Sabie is oortrek met watervalle, so jy sal nie maklik verveeld wees as jy dié geweste besoek nie! Mac Mac het tweelingwatervalle van 70 m hoog en is ook tot nasionale monument verklaar. Dié omgewing is ’n gewilde voetslaan- en voëlkykbestemming en voëlliefhebbers sal dalk selfs die geroep van ’n sekretarisvoël of koekoek hoor.

Pretfeit: Dié waterval was nie altyd in twee verdeel nie, maar gouddelwers in die area het die waterval verdeel sodat hulle die gouddraende rif waaroor die strome geval het makliker kon bereik.

Verblyf in die omgewing:

Hierdie streek bied heelwat verblyfopsies vir dié wat ’n bietjie van hulle sorge wil vergeet. Gaan loer gerus by bestemmings soos Misty Mountain, Lydenburg en Sabie vir lekker blyplekke.

Toe, pak jou tasse en beskou ons prentjiemooi land vanuit ’n ander oogpunt wanneer jy weer jou bene buite die huis kan strek!

Hooffoto: “The road ahead” deur Maarten Elings (Flickr)