Droom jy van ’n naweek weg van alles en almal? Wil jy net so bietjie wees? Wel, LekkeSlaap het onlangs die voorreg gehad om by Cederkloof Botanical Retreat net buite Citrusdal te gaan kuier en kan met alle eerlikheid sê dat dit vir ieder en elk aanbeveel word.

Van die oomblik wat ons uit die kar geklim het, het die stad se geraas in die teerpad weggesmelt. Met die intrapslag is dit tjoepstil, behalwe vir die sonbesies wat die sonstrale skel, maar hoe langer jy by Cederkloof vertoef, hoe meer dinge begin jy hoor. Dis asof die kloof jou eers skaam-skaam dophou en soos dit jou gewoond raak, maak die inwoners ’n verskyning. Eers is dit ’n voëltjie wat sing, dan ’n geritsel van ’n akkedissie wat in die fynbos iewers heen skarrel en dan is dit Basjan en Leah wat in die paadjie af draf om jou te kom groet.

Cederkloof Botanical Retreat | Willemien Engelbrecht

Die knus huisies is in die kloof tussen fynbostuine versteek en as jy nie mooi kyk nie, sal jy dalk verby jou huisie ry. Daar is parkeerplek onder ’n afdakkie langs die huisie, sodat dit nie jou uitsig bederf nie. Nadat ons afgepak het en die wyn in die yskas gesit het, was dit eers tyd om op die stoep te sit en alles om ons te bewonder. En glo my, stoepsit is ’n gereelde gebeurtenis in dié kloof.

Cederkloof Botanical Retreat | Gert Engelbrecht

Die huisies is toegerus met alles wat jy sal nodig kry vir so ’n rustige naweek. Daar is selfs koffiebone en ’n koffiemeul sodat jou koppie boeretroos ekstra vars is wanneer jy saam met die voëltjies opstaan!

Cederkloof Botanical Retreat | Adriëtte le Roux

Daar is braaigeriewe en ’n privaat Jacuzzi by elke huisie en ’n swembad by die opstal onder in die kloof as jy behoorlik wil gaan afkoel.

Cederkloof Botanical Retreat | LekkeSlaap.co.za

Die koninggrootte-beddens met spierwit linne is stylvol dog eenvoudig opgemaak ─ dit pas perfek by die omgewing. Daar is egter nie tyd vir in die bed lê as die koppies om jou al vroegoggend begin roep nie.

Aktiwiteite

Ons het die eerste middag die langer Klein Olifantsroete aangedurf en dit was maar ’n gesukkel tot bo. Toe ons eers daar uitkom, was die kortasem egter beslis die moeite werd. Van bo af kan jy oor die kloof met sy jong sederbome en die buurplaas se lemoenboorde tot op die berge in die verte tuur.

Die Olifantsroete by Cederkloof | Willemien Engelbrecht

Hulle het al ’n paar bergluiperdspore op die wandelpaadjies gevind, so ons wou nie juis wag tot die son sak om die pad aan die anderkant af te vat nie. Die afdraande was heelwat makliker en met die son op ons rûe kon ons die magdom fynbosplantjies om elke hoek en draai van nader bekyk.

Fynbos by Cederkloof | Willemien Engelbrecht en Adriëtte le Roux

As jy by die laaste lot klippe afklim sien jy die jong sederbome staan. Die span het hulle sowat drie jaar gelede geplant om dié inheemse boom weer in die omgewing te probeer vestig nadat dit in die 1920’s uitgeroei is. 

Yvette en Basjan hou wag oor die jong sederbome | Adriëtte le Roux

Die volgende oggend het ons die korter en heelwat makliker Feetjie-roete saam met Yvette (mede-eienaar en bestuurder) aangepak en Basjan en Leah het die weg al stertswaaiend aangedui. Yvette het vir ons die rotstekeninge gewys en vertel van ander wat hoër op in die berg te siene is.

Cederkloof het eers in 2017 sy naam gekry nadat hulle die jong sederbome geplant en vir ’n jaar of wat versorg het. Nadat die nuwe span oorgeneem het, het hulle aan die werk gespring om die kloof weer in ’n gelukkiger en gesonder landgoed te omskep. Die grasperke wat begin oorneem het is vervang met pragtige inheemse fynbostuine wat die voëltjies en insekte terug verwelkom het. Die bobbejane het teruggekeer nadat hulle uit die kloof gedryf is en die balans is herstel. Dít is vir my wat Cederkloof is ─ ’n plek van balans, van herstel en net wees.

Cederkloof Botanical Retreat | Adriëtte le Roux

Gaan wéés net vir ’n rukkie by Cederkloof Botanical Retreat. Ons kan jou waarborg jy sal terugverlang sodra jy weer op daai teerpad klim!

***

Baie dankie aan Yvette, Anja en die span by Cederkloof vir hulle gasvryheid.

Hooffoto: Adriette le Roux

Ander foto’s: Willemien Engelbrecht, Gert Engelbrecht, Adriette le Roux en LekkeSlaap.co.za