In ’n klein Swartlanddorpie, net duskant die Kaap, lê ’n ou treinstasie in pienk, wit en blou uitgedos om jou te vermaak. Dié ou treinstasie ─ ’n perron as’t ware ─ is die tuiste van Suid-Afrika se gunsteling-tannie, met rooi lippe en grys hare. Ja, dis Darling se eie diva: Evita Bezuidenhout.

Evita se Perron is die tuiste van Tannie Evita Bezuidenhout, die selfgeproklameerde bekendste wit vrou in Suid-Afrika. Hiér, in die hartjie van Darling, hou Tannie Evita en haar maters heel jaar lank besoekers besig met ’n propvol teaterprogram en ’n tong wat selfs die room van die Parlement kan kwes. Pieter-Dirk Uys (Tannie Evita) laat al vir meer as 40 jaar die Suid-Afrikaanse volk skaterlag met sy uitgesproke karakters en politieke satire. Daar is dus nêrens beter om dié teatermeester te aanskou as in sy eie kraal nie. Wees vir seker, as jy eers by Evita se Perron ingestap het, sal jy nie sommer omdraai nie!

Evita se Perron: Van ’n ou treinstasie na teater-prag

In die vroeë 1990’s besluit Pieter-Dirk Uys om effens noord van die Kaap te reis en skiet uiteindelik wortel in die bekoorlike Weskusdorpie, Darling. Dié klein dorpie is jare reeds bekend vir sy pragtige blommeryk en historiese besienswaardighede, soos die Darling Museum en die Darling Romery. Met Uys se aankoms in dié dorp is dit egter gou duidelik dat groot opwinding op Darling wag.

Nadat Uys na dié dorpie verhuis, let hy op dat die ou treinstasie in Arcadiaweg leeg staan. Die stasie is in die 1970’s gesluit en ’n slopingsbevel het reeds vir ’n geruime tyd soos ’n swaard oor dié historiese baken van Darling gehang. In ’n poging om die sloping uit te stel, versoek Uys om die gebou as ’n stoorkamer te gebruik en in die proses word die idee vir sy eie teater in sy gedagtes verwek. Kort daarna kry dié ou treinstasie ’n nuwe baadjie en in 1996 maak Pieter-Dirk Uys Evita se Perron se deure vir die eerste keer oop. Sedertdien dien dié kabaretteater en restaurant as Tannie Evita Bezuidenhout, Uys se welbekende vroulike karakter, se permanente tuiste.

Dit is sommer met die intrapslag duidelik dat jy nie sonder ’n ordentlike geskiedenisles hiér gaan uitstap nie. As Tannie Evita nie die Suid-Afrikaanse politiek van toeka tot nou van die verhoog af verkondig nie, sien jy dit op die honderde foto’s, kunswerke, beelde en gedenkwaardighede wat elke vertrek versier. Die perron spog met ’n teater, museum, ’n winkel vol rariteite en ’n restaurant waar besoekers van heinde en verre Suid-Afrikaanse gunstelinge, soos bobotie en melktert kan geniet. Tannie se Tuin is ’n gemeenskapstuin op die perseel waar kinders op die speelgrond kan baljaar terwyl Ma en Pa Boerassic Park, ’n kunstuin wat satiries die reuse van die Suid-Afrikaanse politiek uitbeeld, verken.

Evita se Perron gons dwarsdeur die jaar van besoekers wat hier kom afsaal vir ’n unieke Tannie Evita-ervaring. ’n Besoek aan dié teater beloof ’n ervaring te wees wat jy nie sommer sal vergeet nie. Uys se solo-vertonings is regdeur die jaar by die perron te sien, waar hy ’n verskeidenheid politieke figure met satire op die verhoog tem. Pik Botha, Helen Suzman, Jacob Zuma, Winnie Mandela en FW de Klerk is maar net ’n paar name wat dikwels op dié verhoog ‘aangetref’ word. En natuurlik is Tannie Evita self ook gereeld op die perron se planke te sien. Sy bekoor weekliks gehore met verskynings in welbekende produksies, soos “Adapt or Fly”, “When in doubt, say Darling” en “Tannie Evita praat nou Kaktus”.

Evita se Perron is nie verniet een van Darling se grootste suksesverhale nie. Uys blyk altyd drukbesig te wees met nuwe konsepte en uitdagings om op sy verhoog te paradeer. Wanneer hy nie self die planke laat vibreer nie, is talle ander gewilde kunstenaars ook by Evita se Perron te sien. Bekendes soos Koos Kombuis, Jan Blohm, Anton Goosen en Kahn Morbee het al by die perron opgetree en met ’n propvol program gaan Evita se Perron elke jaar van krag tot krag.

Kyk uit vir Darling se gunsteling-geleenthede!

Met die eerste oogopslag blyk Darling maar ’n rustige, eg-plattelandse dorpie te wees. Moet egter nie dat dié skyn jou ’n rat voor die oë draai nie. Darling is beslis veel meer as net ’n ou Weskusdorpie. Dié dorp krioel gereeld van besoekers wat jaarlikse geleenthede bywoon. Kuns en kultuur vorm ’n groot deel van Darling se gemeenskap en is daarom beslis ’n dorpie om dop te hou. Geleenthede wat al ’n Darling-instelling geword het, sluit in:

Rocking the Daisies Musiekfees
Waar? Cloof Wynlandgoed
Wanneer? Eerste naweek van Oktober

Darling Blommeskou
Waar? In en om Darling
Wanneer? Derde week van September

Voorkamerfest Darling
Waar? Evita se Perron
Wanneer? 6 September 2019

Darling Summer Beer Festival
Waar? Darling Brewery
Wanneer? Middel van Desember

Kom dut in Darling

Daar is soveel redes om in Darling besoek af te lê en met so baie dinge om te geniet, is ’n Darling-kuier beslis meer as ’n dag se werk. Nes Darling se baie doendinge, het ons ’n verskeidenheid plekkies om te kies en te keur, sou jy ’n nag of twee in Darling wou dut!

Daisy Darling B&B

Daisy Darling B&B is aan die einde van Darling se stil Hoofstraat geleë. Dit is stapafstand vanaf verskeie unieke besienswaardighede in die dorp.

Daar is 3 groot en suite-slaapkamers wat eenvoudig en elegant gemeubileer is met koninggrootte-beddens, topgehalte-katoenlinne en van Fran, jou gasvrou, se kuns. Geriewe in elke kamer sluit gratis WiFi, lugversorging en tee- en koffiemaakgeriewe in.


’n Groot, verwelkomende en gemeenskaplike sitkamer met ’n kaggel, bied toegang tot die slaapkamers. Die sitkamer se mure bied die perfekte plek om kuns uit te stal en Fran en ander plaaslike kunstenaars se werk word daar uitgestal. Daar is ’n biblioteek met verskeie musiek en films, asook ’n swembad buite.

Maison de L’amour

Maison de L’amour bied gaste die geleentheid om in ’n privaat plattelandse huis in Darling te kuier. Maison de L’amour is in ’n Frans-Provensaalse styl gebou en versier en het ’n uitsig oor ’n prentjiemooi en rustige tuin waar gaste ontbyt kan geniet en behoorlik kan ontspan.


Maison de L’amour bied uitstekende etes ’n paar aande van die week, afhangend van besprekings. Die tuisgekookte maaltye is gewild onder gaste. Klassieke Suid-Afrikaanse en Europese maaltye word gekombineer en slegs vars bestanddele wat in seisoen is word gebruik. Maison de L’amour bied Vrydae en Saterdae driegang-kersligetes in die prentjiemooi tuin.


Gaste kan gerus van die braai-area gebruik maak as hulle self maaltye wil voorberei. Verder kan hulle privaat bespreek, sodat spyseniering vir persoonlike geleenthede teen ekstra koste per persoon gedoen word. Gaste kan ook gerus in die plonspoel afkoel.

Met al dié lekker lêplekke en dinge om te doen, is ’n dag of twee in Darling beslis nie te versmaai nie. Maak Evita se Perron sommer jou eerste stop en maak solank ’n knoop in jou oor vir al Darling se gunsteling-geleenthede ─ die diva van Darling roep!

Hooffoto: Evita se Perron

Alle foto’s is van Evita se Perron se webtuiste verhaal, tensy anders vermeld.