Die mens is gemaak vir stories – die bewyse is om elke kampvuur waar verhale die geselskap laat lag, huil, jil of ril te vind. LekkeSlaap het dit goedgedink om ’n paar van Suid-Afrika se spookstories te gaan opskryf vir lesers se grillerige genot. En, as jy die stories eerstehands wil ervaar, kliek gerus deur – ons het ook verblyf in die dorpe en streke om ’n spookagtige element by jou volgende vakansie te voeg.

De Vliegende Hollander

De Vliegende Hollander is een van die wêreld se bekendste spookstories. Wat dié legende se bekendheid waarborg, is hoe gereeld die gloeiende spookskip al gesien is, een keer glad deur Koning George V van Brittanje toe hy in 1881 nog deel van die Britse vloot was.

Hendrik van der Decken, ’n skeepskaptein van die VOC en sy bemanning was in 1641 op pad terug Nederland toe ná ’n suksesvolle Indonesiese handelsekspedisie, toe ’n erge storm by Kaappunt opsteek. ’n Wyser kaptein sou gewag het dat die storm homself uitwoed, maar Van der Decken het uit arrogansie, ongeduld of dwaasheid, ondanks die desperate pleidooie van sy bemanning, midde die verskriklike branders hardop gesweer dat hy die Kaap sou omseil, al het dit hom tot die oordeelsdag toe geneem. Ongelukkig vir die kaptein het sy eed nie op dowe ore geval nie … Skielik het die storm stil geraak, maar die gedoemde skip sou nooit verder as Kaappunt vorder nie en seil vandag nog verbete iewers tussen die dood en die lewe in die Valsbaai-area rond, vervloek tot die oordeelsdag toe. Blykbaar sien soveel mense die spookskip omdat die bemanning al die jare sonder sukses probeer om boodskappe aan hulle familie aan ander skepe te oorhandig ─ as jy een van die briewe aanvaar, is jy egter verseker gedoem. So seil De Vliegende Hollander vandag nog verbete rondom Kaappunt, sy seile altyd spookagtig gebol soos ’n skip midde ’n storm, al is dit ’n windstil dag in die Kaap

Skielik het die storm stil geraak, maar die gedoemde skip sou nooit verder as Kaappunt vorder nie en seil vandag nog verbete iewers tussen die dood en die lewe

Kunstenaarsinterpretasie van Van der Decken se skip midde die storm | Foto: Myths and Legends of Southern Africa deur Penny Miller

Die Kasteel de Goede Hoop

Dis vanselfsprekend dat die oudste gebou in Suid-Afrika wat steeds in gebruik is ’n paar spoke sal huisves, veral ’n fort soos dié waar honderdes aangehou en gemartel is. ’n Besoek aan die Donker Gat, waar gevangenes in stikdonkerte en koue moes sit, terwyl die branders woes teen die kasteelmure breek, sal enigiemand rillings gee en kan op ’n toer van die Kasteel De Goede Hoop in die Kaapse middestad besoek word.

Een van die spoke wat al hier gesien is, is ’n hartseer grys dame wat ook al in die Tuynhuys gesien is, want daar is blykbaar ’n geheime tonnel wat die twee geboue verbind. Nadat ’n vrou se geraamte in die 1900’s naby die kasteel se ou uitvalpoort opgegrawe is, is die dame se spook egter nog nie weer gesien nie – haar identiteit bly ’n geheim. Dan is daar die spook van Lady Anne Barnard wat graag in die Dolfynpoel bad en die spook van ’n groot, swart hond met bloedrooi oë wat saans in die kasteel se gange waghou. Die bekendste kasteelspook is egter dié van Goewerneur Pieter Gysbert van Noodt, ’n wrede man wat bekend was vir sy mishandeling van slawe en soldate. Sy ongenaakbare behandeling van sy soldate het daartoe gelei dat sewe soldate in 1729 gedros het en vier van die mans toe ter dood veroordeel is in ’n hangseremonie wat Van Noodt nie eens bygewoon het nie. Na oorlewering het een van die vier mans die goewerneur luidkeels vervloek net voor sy doodsvonnis uitgevoer is. Later daardie selfde dag het knegte die niksvermoedende Van Noodt in sy studeerkamer met bloedbelope oë aangetref, morsdood by sy lessenaar ─ daar was vooraf geen teken dat die goewerneur siek was nie. Blykbaar het Van Noodt ’n groot begrafnis gehad wat sy amp gepas het, maar sy kis is met sandsakke gevul en sy lyk is in werklikheid elders begrawe oor sy meerderes hom ná sy vervloeking nie in ’n heilige graf wou begrawe nie. Miskien is dit daarom dat die iesegrimmige goewerneur tot vandag toe vloekend op die kasteel se gronde rondloop en dan net verdwyn …

Later daardie selfde dag het knegte die niksvermoedende Van Noodt in sy studeerkamer met bloedbelope oë aangetref, morsdood by sy lessenaar.

Castle of Good Hope
Die buitekant van die fort, oftewel die Kasteel de Goeie Hoop. | Foto: Victor Bergmann op Flickr

Die grusame verhaal van Jan Prinsloo se Kloof

Jan Prinsloo se Kloof is ’n versteekte stuk aarde in die Gamtoosriviervallei, tussen Patensie en die Kougadam, en kan slegs deur ’n rowwe, gevaarlike bergpas bereik word. Die kloof is sedert die 1860’s onbewoon, maar die plaashuis en perdestalle se ruïnes staan steeds as herinnering aan die ysingwekkende gebeure wat hier plaasgevind het.

Stephen Goodrick, ’n jong Engelse setlaar, het dié kloofplaas in 1860 teen ’n steelprys aangeskaf. Dit was egter nie lank nie, of Goodrick het die storie van die oorspronklike eienaar, Jan Prinsloo, gehoor en besef waarom die plaas so goedkoop was. Prinsloo was bekend vir sy wreedheid en, sonder kind of kraai, het hy graag met boewe skouers geskuur wat van tyd tot tyd in die afgeleë kloof kom wegkruip het. Prinsloo het sy plaaswerkers soos gemors behandel en op ’n dag ná ’n dorpsuitstappie, verneem hy dat twee van sy slavinne en hul kinders sonder sy toestemming ’n siek familielid gaan besoek het. Hulle straf was dat die vrouens se mans vasgebind en met sambokke geslaan is tot hulle skaars kon loop. Dieselfde is met die vrouens gedoen en hulle huilende kinders is toe sondermeer doodgeskiet. Daardie aand het ’n verskriklike stilte oor die kloof gedaal en Prinsloo het besef dat hy soos sy vinger alleen op die plaas was ─ tot sy spogperde is deur die slawe gebuit. Hy besluit toe om maar ook die pad te vat voordat die slawe kom wraak neem, maar dit was te laat … Net soos Prinsloo wou vlug het sewe slawekrygers op perde oor die donker horison aangekom, hom in die stalle vasgekeer en op onnoembaar grusame wyse vermoor. Die bloedstollende gebeure het in die kloof ingesypel en sedertdien, elke jaar op die 15de Januarie, herhaal die skoktoneel homself. Goodrick en sy vrou was die laaste inwoners van die kloof. Hulle het hulle vinnig uit die voete gemaak sodat Prinsloo se grusame dood voortans in die stil kloof tussen die ruïnes kon uitspeel waar niemand dit meer hoef te beleef nie.

Daardie aand het ’n verskriklike stilte oor die kloof gedaal en Prinsloo het besef dat hy soos sy vinger alleen op die plaas was

Gamtoos River Valley
Die Gamtoosriviervallei bestaan uit vrugbare, golwende heuwels wat vandag nog redelik ongerep is. | Foto: Stompiesland Lodge op LekkeSlaap.co.za

 Die Spook van Uniondale

Geen versameling spookstories sal volmaak wees sonder die wêreldbekende Spook van Uniondale nie. Net buite Uniondale op die N9 is daar ’n afdraai na Barendas. Jy sal sukkel om iemand te oortuig om hier ’n ryloper op te tel – veral nie oor Paasfees nie!

Oor Paasnaweek in 1968 het Marie Charlotte Roux, ’n jong verpleegster wat vermoedelik in Riversdal gewerk het, en haar verloofde in ’n wit Volla op hierdie pad verongeluk. Hulle was op pad na Bloemfontein om vir haar ouers te gaan kuier en Marie het by die eerste Barendas-afdraai in die passasiersitplek aan die slaap geraak. Sy is by die tweede Barendas-afdraai met die slag uit die kar geslinger. Miskien is dit juis oor sy aan die slaap was toe hulle verongeluk het, dat sy in die hiernamaals wakker geraak het sonder om te besef dat sy dood is. Wat ook al die rede, Marie stap vandag nog langs die pad met haar donker langbroek en hemp, verward en alleen. Sy gooi glad nie duim nie, maar het al stilletjies by motoriste wat stop om te hoor wat fout is ingeklim en so ’n paar kilometer saam gery voor sy by die volgende afraai na Barendas verdwyn. Sommige sê die geur van appels hang in die lug wanneer sy verdwyn en ander sê dat sy net vra om by Porterstraat 2 afgelaai te word, maar nooit sê in watter dorp nie. Intussen loop Marie Roux alleen langs die pad buite die dorp, skadeloos vir enigiemand wat haar optel, maar tog ’n hartseer prentjie van ’n vrou in die fleur van haar lewe wat nooit haar bestemming sal bereik nie.

Miskien is dit juis oor sy aan die slaap was toe hulle verongeluk het, dat sy in die hiernamaals wakker geraak het sonder om te besef dat sy dood is.

Uniondale road
Die N9 net buite Uniondale. | Foto: Adriëtte le Roux

Tokai Herehuis

Aan die bopunt van Tokai-weg waar die straat teen Tafelberg se rugkant doodloop, staan dié indrukwekkende herehuis met sy hoë stoep, vandag die Tafelberg Nasionale Park se hoofkantoor. Meestal lyk Tokai Manor net soos ’n elegante ou Kaaps-Hollandse gebou in die Suidelike Voorstede en op die meeste aande van die jaar is dit nét dit, maar nié op Nuwejaarsaande nie … 

In die vroeë 1800’s is die herehuis deur meneer Hendrik Oswald Eksteen besit. Hendrik en sy seun, Frederick, was gaande oor oproerige partytjies en Nuwejaar was veral ’n groot gedoente ─ al die Kaapse elite wou na ’n Eksteen-nuwejaarspartytjie toe gaan. Een jaar het die wyn ’n bietjie té sterk gevloei. Die windmakerige Frederick het by die gaste gespog oor wat ’n goeie ruiter hy is. Natuurlik het een van die gaste die pierewaaier uitgedaag om dit te bewys deur met sy perd by die steil stoeptrappe op te ry en in die onthaalkamer ’n draai te maak en Frederick was natuurlik tog te gretig. Nie lank daarna nie het die gaste gehoor hoe klein-Eksteen sy perd by die trappe opry en by die eetkamer inbars. Vol bravade het hy sommer ’n bottel wyn oopgemaak en vir die perd ’n sopie aangebied, maar die verskrikte dier wou niks weet nie. Daarna het die skouspel na die voordeur se kant toe weggetrek, maar, in sy dronkenskap, op die rug van ’n vervaarde perd en met min houvas op die houtvloer wat vroeër die dag blinkgepoets is, het die paartjie oor die eetkamer se vloer gegly en oor die rand van die hoë stoep getuimel. Die nuwejaarskare se luide toejuiging het vinnig in ’n geskokte stilte verander en van Frederick en sy hings se kant af was daar ook geen geluid meer nie. Frederick se nek het in die val gebreek en sy arme perd moes net daar voor die stoep uitgesit word, die Nuwejaar is met ’n sombere skoot ingelei. Tot vandag toe weergalm die onreëlmatige galop-geluid van die verskrikte perd se hoewe op die houtvloer en die toejuiging van die skare op Nuwejaarsaande deur die herehuis se vertrekke. Die enigste blywende bewys van die tragedie wat hier afgespeel het, is die merk van ’n perdehoef wat nog steeds op die eetkamervloer sigbaar is.

Die nuwejaarskare se luide toejuiging het vinnig in ’n geskokte stilte verander en van Frederick en sy hings se kant af was daar ook geen geluid meer nie.

Tokai Manor
Tokai Manor voordat dit opgeknap is. | Foto: Wikimedia Commons

Die heks van Hexrivier

Die Hexrivier-vallei net duskant De Doorns op die N1 is sekerlik een van ons land se mooiste valleie met wingerd op wingerd en die persblou Matroosberge se pieke wat in die winter wit bo die plase uittoring. Op maanverligte nagte dra die windjie egter Eliza Meiring, oftewel die heks van die vallei, se huil-geroep. Dan raak die krieke en paddatjies stil en trek die inwoners maar hulle deure dig teen die eensame geluid.

Eliza Meiring, die dogter van ’n gesiene boer in die distrik, was in die laat 1700’s oraloor vir haar oorweldigende skoonheid bekend en die distrik se mans het gereeld ’n oorlas van hulself gemaak. Haar irritasie met die stringe vryers was van só ’n aard dat sy naderhand ’n belaglike huweliksvoorwaarde gestel het: sy sou nét met ’n man trou wat tot op die randjie van die hoogste piek sou klim om vir haar die enkele rooi disa te pluk wat daar groei. Daarsonder kon die vryers maar vergeet, en baie van hulle het, want al die distrik se mans het geweet dat die taak eintlik ’n doodsvonnis was. Daar was egter een man, Frans, van ’n ander distrik, op wie Eliza ten spyte van haar hoogmoed verlief geraak het. Frans het ook van Eliza se huweliksvoorwaarde gehoor en, aangespoor deur sy liefde, die Matroosberg bestyg. Op die laaste oomblik van die klim, net soos hy uitgereik het om die disa te pluk, het die aarde onder hom verkrummel. Frans se stukkende liggaam is gevind, die rooi disa al die tyd styf in sy hand geklem. Toe Eliza hiervan te hore kom het sy waansinnig geraak. Haar ouers het gehoop dat sy naderhand sou bedaar, maar die jong vrou se berou was só groot en haar hart só gebreek dat hulle haar in ’n kamertjie bo in die huis moes toesluit waar, kenmerkend van die sielsiekes, haar skoonheid naderhand in versonke oë en wange, ’n bleek gelaat en vuil, verslonste hare verdwyn het. Een aand het sy haar kamervenster oopgekry en was op pad na die berge toe toe haar nagrok vashaak en sy haar nek op die stene onder die venster breek. Haar voorletters en die jaar 1768 is vandag nog op Buffelskraal se vensterbank ingekerf.

Frans se stukkende liggaam is gevind, die rooi disa al die tyd styf in sy hand geklem.

Hex Rivier Valley
Die lieflike Hexriviervallei. | Foto: South African Tourism op Flickr

Verlange by die Dullstroom Inn

Dullstroom is ’n gunsteling-bestemming onder kunsvlieghengelaars en, verloor jy ’n bietjie tred van waar jy is, sou jy uit die mis wat skynbaar onophoudelik uit die aarde uit opslaan kon sweer dat jy in Skotland is. Die platteland rondom die dorpie is eintlik heel spookagtig, maar blykbaar is Dullstroom se bekendste spoke nie langs sy mere of in die mis te vind nie. Nee, dit is eerder by die dorpshotel, die Dullstroom Inn, waar hulle wag.

Die Dullstroom Inn was al ’n rusplek vir menigte moeë reisigers, maar dit is ook die gekose wagplek van die dorp se bekendste spoke, ’n vrou genaamd Magda, wat al deur verbygangers in die dorpshotel se venster gewaar is en haar geliefde Sersant Larley. Tydens die Anglo-Boereoorlog is Larley, ’n jong Britse sersant, in ’n veldslag beseer. Magda, die jong, Afrikaanse dogter van ’n plaaslike gesin het in die sersant se sorg gestaan, na sy wonde omgesien en in die proses op hom verlief geraak en hy op haar. Natuurlik, toe Magda se gesin van die bloeiende liefde tussen hulle dogter en “die vyand” te wete kom, is sy van dislojaliteit beskuldig en in die gesinshuis toegesluit om haar van Larley af weg te hou. Sonder die nodige sorg, en met die bydraende las van sy gebroke hart, het die sersant aan sy wonde beswyk. Die jare het aangestap en Magda, lojaal aan Larley tot die einde en onbewus dat hy afgesterf het, het altyd gehoop dat hy haar sou kom haal en het vir baie jare by die houtvuur in die Dullstroom Inn gesit en wag. Selfs na haar dood kon Magda se gees nie afstand neem van die hoop dat Larley sou opdaag nie en sit en wag sy steeds by die vuur wat die hotelpersoneel al vir veertig jaar pligsgetrou stook en nooit laat doodgaan nie. Maar Larley het ook nooit vir Madga vergeet nie. As jy vandag op die hoek buite die Dullstroom Inn staan, is daar die kans dat jy net na sonsondergang die gedonder van perdehoewe sal hoor soos die sersant straataf galop om vir Madga weg te neem en die storie loop dat as jy die soldaat raaksien, jy vir ewig in jou liefdeslewe gelukkig sal wees.

Magda, lojaal aan Larley tot die einde en onbewus dat hy afgesterf het, het altyd gehoop dat hy haar sou kom haal en het vir baie jare by die houtvuur in die Dullstroom Inn gesit en wag.

dullstroom inn
Die bordjie bo die Dullstroom Inn se kaggel lees: “English Spoken Here” – miskien meer oor die “spoke(n)” as oor die “English”. | Foto: Wikimedia Commons

Lus vir ’n spooktoer?

Ailsa Tudhope, oftewel The Story Weaver, bied elke aand van die week op versoek ’n spooktoer deur Prins Albert se strate aan. Hier leer jy van die Swartbergpas se spoke, spoke wat in skilderye wegkruip, op beddens spring en sorg dat lewende inwoners hulle huise mooi onderhou, want selfs die spoke op Prins Albert is trots op hulle dorp! Kontak vir Ailsa by story@storyweaver.co.za of 084 673 1710 om te bespreek.

Marchelle van Zyl is weer Montagu se spookstorie-verteller en bied op versoek ’n spooktoer te voet of op ’n fiets aan – ’n mens wil mos vinnig wegry as jy werklik iets sien! Montagu se spoke is egter meestal net misverstane geeste wat dwaal sê Marchelle, soos die jong vrouefiguur wat in haar dun kortmourokkie in stormagtige weer in Langstraat staan en wag … en dan verdwyn. Kontak Marchelle by +27 76 891 3623 of marchellevanzyl@yahoo.com om ’n toer te bespreek.

Montagu Ghost Tour
LekkeSlaap het onlangs saam met Marchelle van Wyk ‘n Montagu spooktoer gedoen. | Foto: Daniëlle Terblance

Wat is jou gunsteling-spookstorie en het jy vir ons nog stories? Lees weet ons dan gerus in die kommentaarboksie hieronder.

Hooffoto: Bigstock

Hierdie blog is oorspronklik deur Frances Strooh geskryf en in 2021 hersien en bygewerk.