Eindelose oop vlaktes, lang uitgestrekte grondpaaie, ’n kokerboom elke nou en dan, bekoorlike dorpies en ongerepte natuurskoon… Ons is in die suide van Namibië! Droom jy al lank van ’n vakansie in Namibië of sukkel jy bloot om te besluit waarheen om te mik in hierdie pragtige land? Die suide van Namibië is ’n baie gewilde bestemming vir toeriste en is maklik bereikbaar vir Suid-Afrikaners. Die //Kharas-streek bied baie om te sien en doen en is die ideale bestemming as jou tyd om dié land te verken beperk is. LekkeSlaap wys jou hoe om die beste van ’n kort tydjie in een van die mooiste plekke op aarde te maak!

B4 op pad na Lüderitz. Daniëlle Terblanche

Sodra jy die grens by Noordoewer oorsteek, lê daar hope avontuur en lang grondpaaie vir jou voor. Die eerste dorpie wat jy ná Noordoewer op die C13 gaan teëkom, is Aussenkehr — ’n immergroen plaasstreek wat meestal uit wingerde bestaan. As jy jou voorrade moet aanvul, stel ons voor jy maak ’n draai by Aussenkehr se Spar wat al die nodige items bied. Van hier af kan jy die C37 verby Ai-Ais na die pragtige Visrivier-canyon volg.

Visrivier-canyon

Die immergewilde Visrivier-canyon is net om die draai van Ai-Ais en dis ’n lekker daguitstappie as jy in dié omgewing bly. Die canyon lok jaarliks miljoene besoekers en nadat jy dié skouspelagtige natuurverskynsel aanskou het, sal jy verstaan waarom! Die massiewe canyon is sowat 160 km lank en 27 km wyd en die tweede grootste canyon in die wêreld naas Amerika se Grand-canyon. Jy kan van uitkykpunt na uitkykpunt loop of ry om dié verstommende uitgestrekte landskap vanuit alle hoeke te bekyk. Onthou jou piekniekmandjie ─ daar is lieflike piekniekbankies in die skadu by die hoofuitkykpunt, 10 km van Hobas af.

As jy op soek is na iets meer avontuurlustig kan jy die 5 dae lange voetslaanroete van sowat 85 km in die Visrivier-canyon aanpak. Dié roete neem jou na plekke wat jy nie andersins sou sien nie en is beslis ’n onvergeetlike ervaring in die natuur. Hou in gedagte dat stappers hul eie rugsakke met alles wat hulle vir dié opwindende tog gaan nodig hê moet saamdra, en dat ’n mens lank vooruit moet bespreek omdat dit só gewild is.

Visrivier-canyon. Daniëlle Terblanche

Canyon Roadhouse

Die Canyon Roadhouse naby die Visrivier-canyon spog met ’n bekoorlike restaurant waar jy beslis kan gaan aanklop om daardie leë kol in jou maag te vul voor jy weer in die pad val. Maak jou tuis tussen die ou motors en motorparte, smul aan ’n heerlike hamburger of een van hulle ander lipleklekker maaltye en bestel iets koel by die “pompstasie” om die dors te les.  

Canyon Roadhouse. Daniëlle Terblanche

Keetmanshoop

Keetmanshoop is die hoofstad van die //Kharas-streek en spog met heelwat historiese en natuurlike besienswaardighede in en om die dorp. Die nasionale monument en immergewilde kokerboomwoud lê sowat 18 km noordoos van Keetmanshoop op Gariganus-plaas. Daar is om en by 250 van dié merkwaardige bome wat in die geharde omstandighede van die area groei en dit bied puik fotogeleenthede — veral wanneer die son ondergaan. Die Giant’s Playground op dieselfde plaas is ’n geologiese verskynsel met majestueuse dolerietrotse wat lyk of dit deur ’n mens op mekaar gestapel is. Jy kan vir ure lank tussen dié rotse rondwandel en jou aan die raaiselagtige natuurverskynsel vergaap. Hou net kop van waar jy begin het, want jy kan maklik verlore raak in die doolhof van rotse!

Kokerboomwoud. Bigstock

Aus

Aus lê op die B4 op pad na Lüderitz en jy kan gerus afdraai om dié afgeleë maar bekoorlike woestyndorpie te verken. As jy nie hier oorbly nie, moet jy definitief aansit vir ’n lekker ete by die historiese Bahnhof Hotel. Ontspan rustig op die hotel se stoep en geniet die uitsig oor die dorpie voor jy weer die pad vat. Daar is ook ’n hele rits historiese besienswaardighede in die omgewing, soos oorlogsgrafte van die Eerste Wêreldoorlog en ’n oorlogsgevangene-kamp.

Bahnhof Hotel Aus. LekkeSlaap

Wilde Perde

Die wilde perde van die Namib word al vir baie jare bestudeer en daar is talle stories oor die oorsprong van hierdie perde. Onlangse navorsing het gewys dat die perde ná die oorlog deur Suid-Afrikaanse soldate in die area agtergelaat is. Hulle woon al vir meer as 100 jaar in die woestyn tussen Aus en Lüderitz in ’n streek wat as Garub bekend staan. As jy nie so gelukkig is om die perde langs die pad raak te sien nie, kan jy jou geluk by die uitkykpunt naby ’n watergat in Garub op die B4 vanaf Aus gaan beproef.

Wilde perde. Daniëlle Terblanche

Lüderitz

Die kleurevolle Duitse geboue van Lüderitz verwelkom jou aan die einde van ’n lang, reguit pad vanaf Aus. Dié stil hawedorpie skuil tussen die duine van die Namibwoestyn en die ysige Atlantiese Oseaan. Sit ’n volle dag opsy om alles in en om Lüderitz te verken — onthou, dis ’n klein dorpie so alles maak vroeg toe. Voor jy té besig raak in dié karaktervolle dorpie moet jy jouself eers met vars seekos en ’n koue drankie by een van die restaurante in die dorp bederf. Ritzi’s in die hoofstraat bedien lekker groot porsies seekos, pizza’s en ander maaltye waaraan jy behoorlik sal smul.

Historiese geboue in Lüderitz. Daniëlle Terblanche

Lüderitz se historiese geboue en Duitse bekoorlikheid bied uitstekende foto-geleenthede en insigte tot die interessante geskiedenis van dié dorp. Die besige middedorp bestaan uit eeue oue Duitse geboue wat vandag as winkels en ander geriewe gebruik word. Gaan stap gerus ook in die stiller stofstrate rond om die kleurvolle huisies te bekyk.

Een van die mees prominente geboue in Lüderitz is die Felsenkirche — ’n Evangelies-Lutherse kerk op Diamond Hill. Dié kerk op die koppie is in 1911 opgerig en spog steeds met sy oorspronklike kleurglas én die mooiste uitsig oor die dorp.

Die indrukwekkende Goerke Haus is in 1910 vir Luitenant Hans Goerke gebou en is vandag beslis een van die mooiste huise in die dorp. Jy kan dié huis Maandae tot Vrydae tussen 14:00 en 16:00 en Saterdae en Sondae tussen 16:00 en 17:00 besoek.

Dias Cross, net ’n entjie buite Lüderitz, is waar Bartolomeus Dias die eerste keer in Namibië aan land gekom het. Klim met die trappe na die bo-punt van die rots en vergaap jou aan die pragtige uitsig oor die Atlantiese Oseaan en Lüderitz in die verte.

Bo links: Goerke Haus. Onder links: Diaz Cross. Regs: Felsenkirche. Daniëlle Terblanche

Kolmanskop

Kolmanskop net buite Lüderitz is die oorblyfsels van ’n spoggerige myndorpie in die woestyn wat in die 1950’s deur honderde inwoners verlaat is. ’n Toer deur hierdie merkwaardige dorpie sal beslis ’n hoogtepunt wees en jy kan dit nie misloop nie! Dis amper ondenkbaar dat daar eens ’n florerende dorpie met ’n hospitaal, slaghuis, winkel, kroeg, bakkery en ’n teater hiér was. Vandag is die meeste van hierdie vervalle geboue toegewaai onder sand en jy kan jou net voorstel watse weelderige lewe hierdie mynwerkers geleef het.

Daar is begeleide toere Maandae tot Saterdae om 09:30 en 11:00 en Sondae en openbare vakansiedae om 10:00. Jy moet ’n ingangsfooi by die hek betaal en die res van die toergroep in die teater ontmoet waar die interessante toer afskop.

Kolmanskop. Daniëlle Terblanche

Die suide van Namibië skiet beslis nie te kort as dit by interessante besienswaardighede en opwindende doendinge kom nie ─ jy sal definitief ’n paar dae nodig hê om dié merkwaardige streek te verken. Beplan en bespreek sommer vandag nog jóú wegbreek hierheen! 

Hooffoto: Daniëlle Terblanche