Dis laatmiddag en die winterson gooi soel strale oor Moeder Aarde. ’n Trop olifante trompetter uitbundig terwyl hulle mekaar by die watergat natspuit en ’n buffel staan nader om vreedsaam te suip. Daar is ’n geritsel in die vaal ruigte en twee geel oë staar stip na ’n wildsbokkie wat niksvermoedend wei … Nee, jy is nie in die Krugerwildtuin nie, maar in Gauteng se enigste Groot 5-reservaat ─ die Dinokeng Wildreservaat! Dinokeng, wat “plek van twee riviere” beteken, skuil tussen die Olifants- en Limpoporivier, minder as ’n uur se ry vanaf Pretoria en sowat 100 kilometer van Johannesburg af. Buiten die wêreldberoemde Groot 5 bied dié wildreservaat en die omgewing ’n magdom verblyfopsies ─ van kamp en selfsorghuise, tot luukse lodges. LekkeSlaap vertel jou graag meer …

Kampkonings

Thorn Tree Bush Camp

Is jy ’n natuurliefhebber in murg en been? Dan sal dié boskamp so reg in jou kraal pas. Bedags kan jy op ’n wildrit gaan om die Groot 5 te besigtig en saans langs die kampvuur sal die koning van die oerwoud se gebrul, ’n jakkals wat blaf en ’n uil se roepstem jou van die besige stadslewe laat vergeet.

Slaapplek: 12 (Monkey Thorn-kothuis, Fever Tree-tent en Wag-’n-Bietjie-tentkamp)
Geriewe op die perseel: Swembad, boma, braaiplek, kombuis en WiFi
Doendinge: Voetslaan, swem, wildkyk en voëlkyk
Iets ekstra: Twee watergate waar die Groot 5 soms te siene is

Lobatse Camp

As jy jou gesin met ’n naweekwegbreek wil bederf, is Lobatse Camp ideaal. Hiér, omring deur Moeder Natuur, kan julle die stadstof van julle skoene afskud, die vars Hoëveldlug inasem en na hartelus ontspan.

Slaapplek: 12 (plaashuis, boogtent en safari-tente)
Geriewe op die perseel: Gemeenskaplike kombuis, sitkamer, swembad en braaiplek
Doendinge: Swem, voëlkyk, wildritte en wildkyk
Iets ekstra: Privaat watergat en uitkyktoring

Kohandè

Dié luukse kampterrein skuil op die Dinokeng Wildreservaat se drumpel en vorm deel van die Leeuwkloofvallei Bewarea. Dis ’n voëlkykparadys waar neushorings en vlieëvangers dikwels opgemerk word. Koedoes, rooibokke en njalas wei ook in die vallei en saans verf die sonsondergang die Bosveldlug in helderoranje skakerings.

Slaapplek: 6 (luukse safari-tente)
Geriewe op die perseel: Kombuis, boma en braaiplek
Doendinge: Voëlkyk, swem en wildkyk

* Kinders word ongelukkig nie toegelaat nie.

Salige Selfsorg

Abendruhe Lodge

Om ure lank werk toe te kruie maak jou gedaan en jy smag daarna om in onbesoedelde lug aan jou oggendkoffie te teug. Jy benodig beslis ’n blaaskans en Abendruhe Lodge is ’n bobaas-plek om jou gemoed te sus ─ dis boonop minder as ’n uur se ry van die Jakarandastad af, so pak solank jou tas!

Slaapplek: 12 (oopplan-houthutte)
Geriewe op die perseel: Swembad, lapa, WiFi, braaiplek
Doendinge: Fietsry, wildkyk, visvang, voetslaan en swem
Iets ekstra: Elke houthut het ’n privaat boma.

iKhaya LamaDube Game Lodge

Dis soms moeilik om te midde van die daaglikse gejaag tyd vir jou geliefde te maak. Daarom is ’n romantiese wegbreek by iKhaya LamaDube Game Lodge nét wat julle nodig het. By dié lodge kan julle op ’n luilekker wildrit gaan waartydens olifante, leeus, buffels, jagluiperds, kameelperde, koedoes en blouwildebeeste gewaar kan word. Die breëkoparend se enigste broeiplek in Gauteng is ook naby die lodge en douvoordag kan julle na die witborskorhaan en bloukransvoël luister.

Slaapplek: 12 (selfsorg-eenhede)
Geriewe op die perseel: Braaiplek, swembad, WiFi, kombuis en gastesitkamer
Doendinge: Wildritte, swem, voëlkyk en wildkyk
Iets ekstra: Elke eenheid het ’n privaat boma.

* Kinders word ongelukkig nie toegelaat nie.

Dinokeng Hunters Pride Wildlife Estate

Dié vakansiehuis is op ’n privaat landgoed in die reservaat geleë en is geskik vir ’n groot gesin. Die perseel is omhein om wild uit te hou en terwyl die jongspan veilig op die trampolien rinkink, kan jy ’n glasie wyn op die stoep geniet en die bosveld aanskou.

Slaapplek: 8 (selfsorghuis)
Geriewe op die perseel: Lugversorging, kragopwekker, boma, braaiplek, swembadjie, speletjieskamer en trampolien
Doendinge: Wildkyk, wildritte en voëlkyk
Iets ekstra: Mini-gholfbaan

Tjailatyd Bush Camp

As wildkyk vanjaar boaan jou emmerskoplysie is, is Tjailatyd Bush Camp jou droombestemming! Dié ongerepte 3000 hektaar-boskamp is meer as 1200 wilde diere se tuiste en die natuurskoon sal jou kommer soos mis voor die son laat verdwyn.

Slaapplek: 16 volwassenes en 8 kinders (gastekamers)
Geriewe op die perseel: Kombuis, sitarea, lapa, braaiplek en swembad
Doendinge: Fietsry, wildkyk, voëlkyk en swem
Iets ekstra: Klimraam, sandput en vlugbalbaan

* Tjailatyd Bush Camp moet in geheel bespreek word.

Lieflike Lodges

OuKlip Game Lodge

OuKlip kry sy naam by die rotsformasies in die omgewing en wildkyk-geleenthede is legio. Bring ’n kitaar saam sodat jy en jou vriende saans gesellig om die kampvuur kan kuier en die sterrehemel bewonder.

Slaapplek: 32 (luukse selfsorgtente)
Geriewe op die perseel: Kombuis, boma, braaiplek en swembad
Doendinge: Wildkyk, wildritte, swem en visvang
Iets ekstra: Bespied die Groot 5 vanaf jou tent

De Kleine Serengeti Game Lodge

By dié luukse lodge is wildkyk deel van jou stapelvoedsel. Daar is ’n dam met eende op die perseel wat grens aan die grasvlakte waar buffels, koedoes, volstruise, kameelperde, sebras, wildebeeste en verskeie voëlspesies hulle opwagting maak ─ jy hoef nie eens die lodge te verlaat om dit te gewaar nie! Selfry-wildritte is ook moontlik en as jy gelukkig is, kry jy dalk ’n groot kat onder oë.

Slaapplek: 10 (selfsorg-chalets)
Geriewe op die perseel: Braaiplek, swembad en kombuis
Doendinge: Wildkyk, swem en voëlkyk
Iets ekstra: Bespreek ’n twee uur lange wildrit wat drankies en peuselhappies insluit.

Legodimo Game Lodge

Legodimo is ’n Tswana-woord wat “paradys” of “waar God is” beteken en by dié lodge voel dit voorwaar soos hemel op aarde! Bokke, sebras, voëls en pragtige plante dra by tot die vreedsame atmosfeer en die personeel dra jou behoorlik op die hande. Ontbyt, middag- en aandete is beskikbaar en kan in die formele eetkamer, op die stoep of in die boma bedien word. Jy kan jou dis met goeie wyn komplimenteer en ná ete aan ’n glasie konjak of ’n geurige espresso teug.

Slaapplek: 16 (luukse kamers, chalets en wittebroodsuite)
Geriewe op die perseel: WiFi, swembad, kroeg, wynkelder, gastesitkamer en restaurant
Doendinge: Voëlkyk, bergfietsry, wildkyk en swem
Iets ekstra: Troues kan hier gehou word.

* Die perseel bied rolstoelvriendelike geriewe.

Die Dinokeng Wildreservaat is ’n uitstekende bestemming waar uitgeputte stadsjapies die wolkekrabbers vir ’n safari kan verruil en só daai middel-van-die-jaar-mismoedigheid in ’n japtrap kan afskud. So, bespreek nóú ’n wildkykwegbreek en kom beleef ’n besonderse deel van Suid-Afrika!

Hooffoto: Marulani Bush Lodge (LekkeSlaap-instansie)