Elke Matie ken dié bekende straat en ’n besoek aan Stellenbosch is nie volmaak sonder ’n wandeling al langs die Eersterivier in die skadu van die eikebome nie. Dit was só lekker om terug in die pragtige Laan te wees ─ nie om die Varsity Cup te kyk, of haastig op pad na een van jou klasse in die Kweekskool te wees nie, maar om toeris te speel in die tweede oudste dorp in Suid-Afrika. 

Stellenbosch staan hoofsaaklik as ’n studentedorp bekend, maar aan hierdie kant van die dorp is dit asof tyd stil gaan staan het. Die oeroue eikebome gooi nog hulle skadu oor die wandelpad en die rivier kabbel steeds in die agtergrond voort. Van swierige koetse en pronkperde tot dorpskinders en gesinne op pad kerk toe ─ almal het al dié pad gedeel. In die leivore vloei die water steeds voor die huise verby en dis nie moeilik om jou te verbeel hoe die buurman skel wanneer sy leibeurt gesteel word nie. Eensklaps is jy terug by die kermis en jy sien hoe die floral fête in blomme getooi in die Laan afkom, terwyl jy koes vir mnr. James Rattray se koeie wat op pad is na hulle weiveld op die vlakte.

Maar helaas is dit 2018 en daar is nie meer perdekarre en koeie in die Laan te sien nie. Ek het aan die oewer van die Eersterivier gaan kuier om te sien waarom die Laan 26, oftewel Laanhof, vandag so spesiaal is.

Die eerste opsie is die pragtigste Victoriaanse skakelhuis met al die tierlantyntjies wat jy van so ’n ou gebou sou verwag. My gunsteling was die voordeur se posgleufie en deurklopper wat die eertydse glorie van hierdie straat en sy huise vasvang. Die allermooiste houtvloere verwelkom jou wanneer jy die voordeur oopmaak. Aan jou regterkant is die eerste en grootste van die drie suites. Dié een spog met die mooiste kunswerk teen die muur agter die bed, ’n pootjiesbad en ’n dakvenster. As die waterbeperkings nie so streng was nie het ek dalk die hele naweek in dié bad gelê en sterre kyk.


Daar is nog twee suites. Die tweede een is oorkant die eerste suite en die derde een langs die leefarea. Albei suites is effe kleiner as daardie eerste suite, maar nét so pragtig en minimalisties versier.


Die enorme oopplan-leefarea skuil aan die einde van die gang. Daar is gemaklike rusbanke, ’n SMART-TV, DStv, WiFi en ’n kombuis wat uitstekend toegerus is met al die luukshede wat jy van ’n moderne huis sou verwag. Die leefarea se glasdeure lei na ’n stoep en binnehof ─ ek kan sommer sien hoe lekker ’n mens op ’n sonnige lentedag daar agter braai.

Die kamers kan almal apart bespreek word met die leefarea as ’n gemeenskaplike ruimte, of jy kan die huis as ’n geheel bespreek en luilekker op die rusbank ontspan nadat jy die dorp en omliggende omgewing verken het. Dit is ideaal vir sakereisigers, groepe vriende én families!

Daar is ook vier selfsorgwoonstelle net om die draai in Rattray-laan om van te kies. Dit is in dieselfde minimalistiese styl versier met ’n tikkie moderne flair. Laanhof 1, 2 en 4 het slaapplek vir 2 gaste elk en Laanhof 3 het slaapplek vir 4. Dié woonstelle spog met pragtige kombuisies, braaigeriewe en ’n sitarea elk. Daar is ook gratis WiFi, DStv en veilige parkeerplek agter ’n hek.

Dié pragtige eenhede is so lekker sentraal geleë, so daar is sommer ’n hele klomp doendinge hier op jou voorstoep.

Doendinge in en om die Laan


Wyn vir die pyn
Jy kan nie sê jy het behoorlik in dié pragtige dorp aan die voet van die Simonsberg gekuier as jy nie gaan wynproe het nie. J.C. Le Roux se nougat-ervaring is een van my gunstelinge en dit is só interessant om te hoor watter bestanddele alles gebruik word om almal se gunsteling-bottel borrels te produseer. Bestel Louisvale se koning van ’n kaasbord saam met een van hulle bekroonde bottels wyn. Vredenheim het dié lekkerste druiwesap vir diegene wat terug huis toe moet bestuur, én daar is boonop hope om op die perseel te sien. By Beyerskloof spog hulle met die mooiste proelokale en fokus meestal op Pinotage en Cape Blends. Gaan woon gerus ’n toer tussen die bottels en wynvate in Die Bergkelder aan die onderkant van die dorp by, voor jy by die Wynmuseum gaan inloer.

Eet in die Eikestad
Ná soveel wyn sal jy beslis daardie hol kolletjie in jou maag moet vul ─ gelukkig is daar glad nie ’n tekort aan eetplekke op dié dorp nie. Katjiepiering Restaurant in die Botaniese Tuine, Ya-Ya Cafe in die middedorp en Tokara Delicatessen in die beeldskone Helshoogstepas is net die plek as jy jou dag met ’n ongelooflike ontbyt wil begin. Vir diegene wat ’n fraksie meer vleis op hulle bord nodig het, stel ons voor jy loer in by De Vrije Burger vir die beste burger, by Fat Butcher vir smullekker vleis of by Basic Bistro vir ’n paar goedvoel-gustelinge. Spek en Bone en Craft is ideaal as die hele tafel ’n paar bordjies met peuselhappies wil deel, en as jy ’n soettand het moet jy by The Birdcage of Dorpstreet Deli ‘n draai gaan maak.

Maties en Moeder Natuur
Behalwe vir die eikebome wat die strate belyn, is daar nie ’n tekort aan natuurtonele in en om die dorp nie. Jy kan sommer net oor die straat stap en al langs die Eersterivier gaan wandel. Gaan ry fiets of stap in die Jonkershoek Natuurreservaat, verken die Universiteit se Botaniese Tuine en  hou piekniek in die Jan Marais Natuurreservaat. Dis binnekort aarbeiseisoen, so loer in by Mooiberge in en pluk jou eie mandjie aarbeie.

Kunstige kuiers
As jy jouself eerder met verfkwaste en skilderdoeke besig hou, is daar ’n hele reeks uitstallings en galerye om te besoek. Van Dylan Lewis se Sculpture Garden tot Mok Gallery en Portchie se Red Teapot Gallery ─ daar is iets vir elke smaak.

Oulike oudhede
Daar is omtrent ’n museum om elke hoek en draai, so gaan gerus op reis deur die eeue by die Stellenbosch Dorpsmuseum, The Toy Museum, The Franschhoek Motor Museum of Universiteit Stellenbosch Museum. Jy kan ook ’n soewenier by Oom Samie se Winkel in Dorpstraat koop om jou aan jou wegbreek in Stellenbosch te herinner.

’n Potjie gholf
Stellenbosch Gholfklub en Devonvale Golf & Wine Estate is lekker naby as jou idee van ontspan ’n dag op die gholfbaan is.

Of jy nou op soek is na ’n opwindende naweek in die dorp of ’n rustige wegbreek op die platteland, Stellenbosch is die ideale bestemming! So, waarvoor wag jy? Bespreek sommer nou jou volgende wegbreek by een van Laanhof se pragtige eenhede.

Foto’s: Willemien Engelbrecht of Laanhof se profiel op LekkeSlaap.