Die Gariepdam is die mees sentrale punt in ons mooie land en dus ’n ideale oornagstop op pad na jou volgende bestemming. Met die Oviston Natuurreservaat, Gariepdam Natuurreservaat en volop wild sommer so aan die oewer van die dam, is dié omgewing meer as net ’n oornagstop werd. Die enorme mensgemaakte dam spog met ’n oppervlak van meer as 374 km² wanneer dit vol is en daarom is dit ’n uitstekende bestemming vir visvang, bootry en watersport! LekkeSlaap het al die opwindende doendinge, met lekker slaapplek daarby, gaan uitsnuffel, sodat jy volgende keer jou tydjie hiér behoorlik kan benut!

Natuurreservate

Die Gariepdam spog sommer met twee natuurreservate, die Oviston Natuurreservaat in die suide en die Gariepdam Natuurreservaat in die noorde. Beide dié natuurreservate bied ’n hele rits doendinge vir oud en jonk!

Siloam Village is in die Oviston Natuurreservaat geleë en bied maklike toegang tot dié ongerepte 16 000 ha-reservaat. Neem deel aan die wildkyk-uitstappies, bring jou verkyker saam en hou jou oë oop vir springbokke, blesbokke, wildebeeste, sebras, volstruise en meer. As gevolg van die diverse plantegroei en verskillende terreine van die natuurreservaat, is daar al ’n hele paar verskillende voëlspesies hiér raakgesien. Die reënval, windpatrone en klimaat het elke maand ’n invloed op die hoeveelheid spesies wat jy kan gewaar, maar dis altyd ’n goeie idee om jou voëlkykhandboekie byderhand te hou!

Verder spog die reservaat met opwindende voetslaan- en bergfietsroetes, so onthou jou stapstewels en bergfiets sodat jy nie op dié pragtige landskap uitmis nie. Siloam bied ’n hele klomp doendinge op die perseel. Besoekers kan lekker in die natuurreservaat gaan draf, stap en fietsry terwyl hulle sommer ook wildkyk, langs die dam piekniek hou, braai en lyn natmaak, in die dam swem, roei en ronddryf, of sommer net met die verkyker voëlkyk en saans sterrekyk ─ die skoon sterrehemel by Gariepdam is immers ideaal daarvoor!

 

View this post on Instagram

 

A post shared by YV (@yolande_viljoen) on

Die Gariepdam Natuurreservaat is die Vrystaat se grootste natuurreservaat en bestaan uit die enorme dam, die Oranjerivier en ’n 11 237 ha-wildbewarea aan die noordelike oewer van die dam. Dié wildbewarea is die tuiste van die grootste trop springbokke in die land, sowel as sebras, klipspringers, swartwildebeeste, rooihartebeeste en volstruise. Dit is ook ’n voëlkykersparadys met 242 verskillende voëlspesies, insluitend die skaars witkruisarend, bloukraanvoël, sekretarisvoël en bruinjakkalsvoël, sowel as verskeie visarende ─ spits jou ore vir daardie kenmerkende geroep van die visarend!

Bring jou bergfiets saam! Dit is ’n bergfietsmekka met sowat 100 kilometer lange grondpaaie en tweespoorpaadjies al langs die water wat net wág om verken te word! Vat die pad en gaan kyk ’n bietjie wild. Die Kaapse bergsebra woon in dié bewarea en dis die enigste reservaat in die Vrystaat waar dié bedreigde dier te siene is. Die bewarea spog ook met een van die grootste swartwildebees-kuddes in die wêreld. Daar is ook elande, blouwildebeeste, koedoes, springbokke, rooiribbokke, steenbokke en duikers. Hou gerus ook jou oë vir die skugter silwerjakkals, ystervark, bruin hiëna, verskeie wilde katte en ander klein soogdiere oop.

 

View this post on Instagram

 

A post shared by Dawie Esterhuizen (@dawie_777) on

Watersport

Dis nie moeilik om te glo dat dié enorme dam uitstekende geleenthede vir watersport bied nie. Besoekers keer jaar na jaar terug om in dié dam te baljaar. Van sonsondergang-bootritte tot visvang ─ dié dam bied uitstekende toegang vir seil-, motorboot- en jetski-entoesiaste! Bring daai boot, jetski, kano’s, ski-gereedskap en sleeptjoeps saam vir ’n heerlike dag op die water.

Met so ’n rustige atmosfeer, is sonsondergang-bootritte die ideale geleentheid vir ’n paartjie, of selfs ’n gesin, om gehalte-tyd saam deur te bring. Kom sit in die skadu en tuur oor die water terwyl die son stadig oor die dam sak ─ dis ’n fantastiese manier om die omgewing vanuit ’n ander oogpunt te sien. Moenie jou kamera vergeet nie!

Skakel 051 754 0190 (voorafbesprekings is noodsaaklik) of klop sommer by Tjailatyd Restaurant aan om ’n bootrit te bespreek.

 

View this post on Instagram

 

A post shared by Waldo Kilian (@wkdphotograpy) on

Hengelaars sal glad nie teleurgesteld wees met die visvanggeleenthede langs die Oranjerivier en by die dam nie. Kenners beskou die Oranjerivier as die hengel-mekka as gevolg van die oorvloed geelvisspesies wat hiér voorkom. Hier is oorgenoeg geleenthede vir amateur- en gesoute hengelaars om hulle vaardighede te toets. Onthou ’n sambreel, hoed, sonskerm, stoel en ’n koelboks om jou drinkgoed koud te hou en kom kyk of jy ’n grote kan uittrek. Moet net nie jou hengelpermit vergeet nie!

 

View this post on Instagram

 

A post shared by Karla Schoonwinkel (@karlaschoonie) on

Doendinge

As wildkyk en watersport nie jou nuuskierigheid prikkel nie, sal dié lekker doendinge om die dam beslis!

Bespreek ’n damwaltoer ─ dis nou een ding wat jy nie sommer op ’n ander plek sal kan doen nie. Jy sal verbaas wees om die groot hoeveelheid sale en die 13 kilometer lange gange binne-in die damwal te sien, van ’n ou teater tot ’n onthaalsaal vir tot 400 gaste. Neem die hysbak 6 verdiepings na onder tot by die oorspronklike rivierbedding van die Oranjerivier en kom leer meer oor die geskiedenis van die dam.

Skakel 082 803 7931, maar onthou net dat dit in ’n waterwerke-omgewing is en soms vir die publiek gesluit sal wees.

 

View this post on Instagram

 

A post shared by La-Rochelle Beukes (@larochelle_beukes) on

Die Oranje-Visriviertonnel by Oviston aan die suidelike oewer van die Gariepdam is in 1975 voltooi en voer water vanaf die Gariepdam na die Visriviervallei. Met ’n lengte van 82,2 kilometer en ’n deursnee van 5,35 meter, is dié tonnel een van die langste watergange ter wêreld. Die uitkykpunt by dié tonnel bied ook lekker foto-geleenthede.

 

View this post on Instagram

 

A post shared by Dalize Ludick (@teacherdj_) on

Trekkerritte is beslis ’n unieke manier om die omgewing te verken en die kinders sal mal wees daaroor! Bespreek ’n trekkerrit oor die heuwels al langs die dam na ’n paar van die asemrowende uitkykpunte ─ ’n uitstekende geleentheid om ’n paar foto’s te neem!

Skakel 051 754 0564 of 051 754 0190 vir ’n trekkerrit, maar let daarop dat die ritte onderhewig is aan verskillende tye van die jaar.

Die Gariepdam is welbekend vir sy stil en ontspanne atmosfeer, vars lug en pragtige sterre. Pak vir jou ’n piekniekkombers, warm baadjie en ’n fles koffie in en ontspan op die naat van jou rug onder die sterre.

 

View this post on Instagram

 

A post shared by Alexius (@alexius68_lightning_photograph) on

Sweefvlieg is een van die minder bekende sportsoorte wat in die Gariep-omgewing beoefen word. As gevolg van die vliegveld se ligging in die middel in van Suid-Afrika, ver van beheerde lugruimte af, en met sulke ideale weersomstandighede, word dit as een van die wêreld se beste sweefvlieg-bestemmings beskou. Internasionale sweefvlieëniers keer gereeld terug om hulle sweefvliegrekords te verbeter. Die langste afstand wat tot dusvêr hiér gesweef is, is 1,250 kilometer. Hou gerus een oog in die lug ─ jy sien dalk net een van dié outjies verby sweef!

 

View this post on Instagram

 

A post shared by Stanley Beamish88 (@aufwind_luftbilder) on

’n Besoek aan Gariepdam is nie volmaak sonder ’n foto-geleentheid by die Bethulie-brug nie. Dié brug is ’n pragtige boogvormige brug naby die dorp Bethulie. Die brug bestaan uit ’n pad en ’n spoorweg en strek oor die Oranjerivier. Dit is 1152 meter lank en 51,5 meter hoog ─ die langste brug in Suid-Afrika!

 

View this post on Instagram

 

A post shared by Jonathan Thiart (@jonathan_thiart) on

Verblyf

Met al dié opwindende doendinge wat ’n mens heeldag besig hou, het ’n mens ook ’n plekkie nodig waar jy jou kop kan neerlê. De Stijl Gariep Hotel spog met 41 stylvolle, luukse en gerieflike kamers en is ideaal vir gaste wat op soek is na luukse verblyf saam met hulle troeteldiere. Daar is ook ’n swembad, ’n à la carte-restaurant en spa-geriewe op die perseel.

Siloam Village in die Oviston Natuurreservaat spog met uitstekende doendinge op die perseel. Groepverblyf word in rondawels, kleiner chalets en glanskamptente aangebied. Dis die ideale verblyf vir ’n gesin wat mal is oor die natuur.

Vir ma’s en pa’s wat op soek is na gerieflike verblyf met hope doendinge vir die kinders aan die oewer van die dam, sal die Gariep, a Forever Resort nét die regte blyplek wees. Verblyf word in chalets en op ’n kampeerterrein aangebied. Daar is oorgenoeg geriewe en doendinge om oud en jonk vir dae lank te vermaak. Gaan eet by Quenna Bistro-restaurant op die perseel of drink ’n drankie by die kroeg terwyl die kinders op die trampoliens baljaar, swem, minigholf-, tennis- en vlugbalspeel.

Gariep Inn bied verblyf in 18 troeteldiervriendelike selfsorg-eenhede aan. Kom ontspan op die gras en steek die vuurtjie aan na ’n lang dag op die dam. Die eienaars bestuur ook die Tjailatyd Restaurant op die perseel en besoekers kan hiér navraag doen oor doendinge in die omgewing.

Goeie Gawie, maar die Gariepdam het meer as genoeg doendinge vir die hele gesin! Is die Gariepdam op jou pad dié vakansie? Maak dit meer as net ’n oornagstop en verken die pragtige omgewing behóórlik!

Hooffoto: Meraj Chhaya, Gariep Dam TIme Stacking (Flickr)