As ’n mens aan die Noord-Kaap dink is kleurvolle veldblomme, rooi duine, eindelose grasvelde en kokerbome al wat jy voor jou geestesoog sien. Iets wat jy dalk nié weet nie is dat daar sommer ook ’n hele rits feeste is wat hier en daar soos oases in die woestyn hulle verskyning maak. LekkeSlaap het ’n bietjie gaan uitvind na watter feeste in die Noord-Kaap jy vanjaar kan uitsien!

Kalahari Desert Festival

Die Kalahari Desert Festival vind jaarliks in die noordelike deel van die provinsie plaas. Die naam vertel jou presies wat by dié fees gevier word: die Kalahari-mense se kenmerkende gasvryheid word met die pragtige woestynlandskap gekombineer om ’n feesgevoel te skep waar internasionale, nasionale en plaaslike kunstenaars die feesgangers behoorlik op hulle voete hou!

Eetgoed, drinkgoed en kunsvlyt word in oormaat verkoop en daar is donkiekarritte deur die woestyn, interessante praatjies, ’n Kalahari’s Got Talent én ’n kulturele uitstappie saam met die plaaslike San-mense.

Wanneer: 21 tot 24 Maart 2018
Waar: Askham
Verblyf: Selfsorg

AfrikaBurn

Hier word die vryheid van uitdrukking gevier! AfrikaBurn se doel is om ’n tydelike gemeenskap, naamlik Tankwa Town, van gesamentlike kunsprojekte te bou waar feesgangers saamwerk en omgewingsbewustheid bevorder deur daarna geen spoor van dié gemeenskap agter te laat nie.

Wat dié fees so uniek maak is dat daar geen kommersiële uitruiling of aktiwiteite plaasvind nie – geen verkope, geen kontantkroeë en geen bemarking van dienste of produkte nie. Daar bestaan nie iets soos kontant in Tankwa Town nie ─ dit is bloot ’n geskenk-ekonomie waar geskenke uitgeruil word. Feesgangers moet vir hulleself sorg, so onthou jou eie water, tent, kos, noodhulpkissie, kampligte en swartsakke!

Wanneer: 23 tot 29 April
Waar: Tankwa
Verblyf: Selfsorg

Hantam Vleisfees

Vanjaar vier die Hantam Vleisfees sy 28ste verjaarsdag! Calvinia is skaapwêreld en op die 24ste en 25ste Augustus is dié dorp in rep en roer wanneer die jaarlikse Vleisfees aangebied word. Die doel van dié fees is om die heerlike, geurige skaapvleis van die streek te bemark. Daar word vleis gebraai, bredies gemaak, kerrie gemaak, in pita-broodjies bedien, op sosatiestokkies geryg, in potjies gooi – jy kan selfs ’n hele skaapkop koop!

Die twee dae lange fees spog met ’n musiekkonsert deur kunstenaars soos Ricus Nel, Klipwerf, Gert Koevert, en meer! Daar is ook ’n vleiseet-kompetisie, ’n rieldansvertoning, ’n optog van veteraan-motors en -trekkers, en natuurlik die Mej. Vleisfees-kompetisie. Dit is ’n hoogtepunt op die kalender en beslis ’n besoek werd!

Wanneer: 24 en 25 Augustus
Waar: Calvinia
Verblyf: Selfsorg | B&B | GastehuisHotel

Williston Winterfees

Vanjaar vier Williston sy 9de Winterfees. Die dorpsmense vier die dans, musiek, gebruike en kos van die kontrei, en sommer ook die einde van die winter by die Williston Mall. Die hoogtepunt by dié fees is natuurlik die Nama-rieldansers, maar daar is ook optredes deur ’n paar groot name en ander plaaslike kunstenaars. Feesgangers kan vanjaar hulle heupe losmaak op die maat van Dewald Dippenaar, die Williston Stoftrappers, Anais, Tommy Dell, en ander se musiek.

Bring die kleingoed saam, want die kettieskiet-kompetisie, mini-gholfbaan en talentkompetisie sal vir ure se pret sorg. Só ’n paartie het natuurlik ook verversings, so kom smul gerus aan al die heerlike Karoo-disse en ander lekker eet- en drinkgoed.

Wanneer: 30 Augustus tot 1 September
Waar: Williston
Verblyf: Selfsorg | B&B | Gastehuis

Kalahari Kuierfees

Die Kalahari Kuierfees is ’n fees vir gesinne en bied verskeie sportgeleenthede, topklas-vermaak en Karoo-kookkuns aan besoekers. Die fees lok jaarliks meer as 30 000 besoekers en vanjaar vier hy sy 25ste bestaansjaar. Feesgangers kan uitsien na ’n hele paar van Suid-Afrika se gunsteling-musikante wat by die hooftent sal optree, én die meer as 170 stalletjies wat kreun onder die eetgoed, drinkgoed en plaaslike kunsvlyt.

Die Kindertent sorg vir ure se pret met interaktiewe vertonings dwarsdeur die fees en daar is ’n babafoto-kompetisie, so moenie vir kleinding by ouma los nie! Verder is daar ’n pretpark met ritte vir oud en jonk, sportbyeenkomste, danskompetisies en natuurlik muskiekvertonings deur jou gunsteling-bekendes!

Wanneer: 1 tot 3 November
Waar: Upington
Verblyf: Selfsorg | B&B | GastehuisHotel

!NABA Food & Wine Festival

Die !NABA Food & Wine Festival is wel die Noord-Kaap se eerste en enigste kos- en wynfees, maar dit bewys beslis dat die Groen Kalahari een van die land se beste kos- en wynbestemmings is! Die fees spog met egte Noord-Kaapse gasvryheid, kookkuns en lekkernye, plaaslike en nasionale wyne, sowel as ’n legio musiekvertonings.

Vanjaar kan feesgangers uitsien na uitstallings deur Miss J.L. Hall’s Worcester Sauces wat 8 verskillende Worcester-souse ten toon gaan stel, Gonedsa wat ook weer gesig gaan kom wys met hulle gewilde Hollandse kase, en musiekvertonings deur Chris Rain, Stephan Visagie en Jan Rhaap. Dis beslis nie al nie, so maak seker jy woon dié fees by!

Wanneer: 31 Augustus en 1 September
Waar: Upington
Verblyf: Selfsorg | B&B | GastehuisHotel

Victoria-Wes Wildsfees

In die 1990’s was Victoria-Wes se Wildsfees reeds ’n reuse-treffer en het mense van ver na dié Karoo-dorpie gereis om dit by te woon. Nadat daar in 1999 vir die laaste keer fees gehou is, het daar in 2015 ’n groep nuwe inwoners besluit om dié gewilde fees nuwe lewe te gee. Die doel daarvan is om die dorpie weer na sy eertydse glorie te herstel. Die fondse wat gedurende die fees ingesamel word, word gebruik om die plaaslike ouetehuis en privaatskool se deure oop te hou, ou geboue op te knap en die dorp se netheid en veiligheid op te skerp. Verder poog hulle ook om met behulp van die fees behoeftiges in die dorp van vars produkte te voorsien.

Die fees beloof om oud en jonk te vermaak, so bring die kinders saam – hulle word in die pretsaal besiggehou terwyl daar ’n 4×4-hindernisbaan, skietkompetisie, praatjies, damesoggend en meer vir die ouers aangebied word. Vanjaar tree kunstenaars soos Ampie Du Preez en Jay ook op, so moenie jou dansskoene by die huis vergeet nie!

Wanneer: 22 tot 23 Junie
Waar: Victoria-Wes
Verblyf: SelfsorgGastehuis 

Nou ja toe, met so ’n hele rits feeste sal jy beslis vanjaar ’n draai in dié mooie provinsie moet gaan maak. Die dorpies is klein, so onthou om betyds jou verblyf in die dorp te bespreek.

Hooffoto: “Calvinia – South africa” deur South African Tourism (Flickr)

Ander foto’s: Facebook-profiel, tensy anders aangedui