“Nee, dis te ver!” ─ dié woorde het menige besoek aan die Suidelike Skiereiland al in die wiele gery. Ek moet bieg: Voor ek ’n paar jaar gelede Muizenberg toe getrek het, was ek self nog nooit hier nie. Maar as ek soggens die vars seelug inasem wanneer ek my woonstel verlaat en die sonsopkoms oor berg en brander op pad werk toe via Boyes-rylaan aanskou, weet ek ek sal dié geweste nie sommer verruil nie. Die Suidelike Skiereiland se skatte is legio en ek is bevoorreg genoeg om die meerderheid te kan ontdek. Dié fotoreis sal jou wys wat jy op die skiereiland te wagte kan wees.

Aegir Project Brewery

As jy van boetiekbier hou, moet jy by dié brouery onder die bome in Noordhoek kom bierproe.

Branderplankry

Surfer’s Corner in Muizenberg is uiters gewild onder branderplankryers en watersport-entoesiaste.

Cape Point Vineyards

Dié plaas net buite Noordhoek bied ’n markie elke Donderdagaand en jy kan ook wynproe en piekniek hou.

Drankies

Ná werk kan jy ’n drankie en die uitsig by Saveur in Simonstad geniet.

Elephant’s Eye

Dié grot is in die Silvermine Natuurreservaat en die voetpad daarheen is redelik maklik.

Fietsry

Die Kaapstad-fietstoer se roete kronkel jaarliks oor Chapmanspiek tussen Noordhoek en Houtbaai.

Getypoele

Valsbaai se getypoele lok oud en jonk en jy moet beslis ’n piekniekmandjie en sonbrandroom onthou.

Houtbaai-hawe

Hiér kan jy selfs sien hoe ’n “mak” rob vis uit ’n man se mond eet.

Imhoff Farm

Imhoff Farm se kunsgalery sal enige kunsliefhebber bekoor en die jongspan kan die bokkies voer.

Just Nuisance 

Dié merkwaardige vloothond se standbeeld staan trots op Simonstad se Jubilee Square en jy kan sy graf op Red Hill besoek.

Kaappunt Natuurreservaat 

Dié natuurreservaat bied ’n magdom staproetes en die Vlieënde Hollander-kabelkarretjie waarmee jy ’n ongeëwenaarde uitsig oor die omgewing sal kry.

LekkeSlaap

Van selfsorgstrandhuise en sakpas-gastehuise, tot B&B’s en luukse hotelle ─ ’n nag of twee op die Suidelike Skiereiland móét deel van jou planne wees.

52 on Fish Hoek | Aha Simon’s Town Quayside Hotel | St James Manor | Moonglow Guesthouse

Musiekkonserte 

Café Roux in Noordhoek bied nie net smullekker kos nie, maar ook musiekkonserte deur gewilde kunstenaars, soos Koos Kombuis en Jesse Clegg.

Nagtoer

’n Spooktoer deur Simonstad se historiese strate sal jou broek behoorlik laat bewe.

Ontbyt

Olympia Café in Kalkbaai bied romerige koffie en allerlei lekkernye ─ die ideale plek om jou dag op die Suidelike Skiereiland by te begin.

Pikkewynkolonie 

Dié waggelende verebondels woon op Bouldersstrand en jy kan beslis nie Simonstad besoek sonder om hiér in te loer nie.

Quagga Rare Books 

Boekwurms en -versamelaars kan sielsgelukkig in dié Kalkbaaise boekwinkel rondsnuffel.

Roomys 

As die snikhete somersonstrale neerdaal, roep ’n roomys op Vishoek se strand jou.

Slangkop-vuurtoring

Dié Victoriaanse vuurtoring in Kommetjie is die hoogste een in Suid-Afrika en kan via ’n houtpaadjie bereik word.

Teatertyd

Die Kalkbaai Teater bied uitstekende produksies aan diegene wat na ’n tikkie kultuur op soek is.

Uitsig

Die uitsig oor Misty Cliffs tussen Kommetjie en Scarborough sal jou in vervoering laat.

Vis en tjips

Kalkbaai se hawe is sinoniem met vis en tjips en ’n besoek aan die skiereiland is nie volledig sonder dié heerlike happies nie.

Walviskyk 

Jaarliks tussen Junie en November kan jy dié reuse se kaperjolle al langs Valsbaai dophou.

Xpression on the Beach

Dié Muizenbergse winkel verhuur branderplank- en staanroei-toerusting en jy kan lesse neem as jy ’n branderplank wil baas raak.

Yokohama House

Dié Japanese huis is in 1906 uit papier-maché gebou en jy sal dit in Muizenberg se Hoofweg aantref.

Zandvlei Parkrun

Dié vyf kilometer lange roete begin en eindig by False Bay Rendezvous teen die Zandvlei Riviermond Natuurreservaat en is ’n goeie manier om ’n Saterdag op die skiereiland mee te begin.

Het jy ’n gunstelingplek op die Suidelike Skiereiland? Deel gerus jou foto’s en staaltjies van dié prentjiemooi area. As jy nog nie hier was nie, spring in jou motor en kom maak ’n draai ─ dis nie regtig só ver nie!

Hooffoto: Bigstock

Lees ook dié blogs: