As jy soggens op jou stoep aan ’n koppie boeretroos teug, die vars Weskus-briesie aan jou vel voel streel en die branders in die verte hoor druis, wéét jy jy het ’n vreedsame vakansiebestemming gevind. Maar die jongspan benodig beslis meer as rus en vrede om ’n wegbreek te geniet! Daarom deel LekkeSlaap graag dié pretlysie doendinge naby Dwarskersbos aan die Weskus wat onlangs deur die Kruger-gesin beproef is.

“As ’n tuisonderrig-gesin vir wie ontdekking en verkenningstogte ’n leefstyl is, beleef ons gedurig avonture! Saam met ons kroos van vyf (tussen twee en elf jaar) het ons Dwarskersbos as basis gebruik en ’n kosbare Weskus-ervaring gehad.” ─ die Kruger-gesin

Hou piekniek in Rocherpan Natuurreservaat

Dié kusreservaat is sowat tien kilometer noord van Dwarskersbos en bestaan hoofsaaklik uit ’n seisoenale vlei wat deur winterreënval gevul word. Rocherpan is ’n voëlkykparadys en bied drie voëlkykskuilings waar wit pelikane, flaminke en Suid-Afrika se tweede skaarsste kusvoël, die swart tobie, dikwels te siene is.

’n Piekniekmandjie propvol peuselhappies is ’n móét wanneer julle ’n draai in dié reservaat kom maak. Daar is ’n piekniekplek en braai-area agter die suidwestelike voëlkykskuilings. As die kleinspan dapper is, kan julle die kusvoetslaanroete aanpak, by die uitkykpunt piekniek hou en strandlangs terugstap. Dié roete is sewe kilometer lank en duur ongeveer drie uur ─ maak net seker julle val vroeg in die pad om die snikhete middagson te vermy.

Die Rocherpan-voetslaanroete langs die vlei, walviskyk in seisoen, hengel en bergfietsry is ook gewild ─ kry net ’n permit by die reservaat se kantoor. Al wat julle verder benodig is gemaklike stapskoene, ’n hoed, sonblok en ’n kamera. Laat die pret begin!

Eet ontbyt en wandel in Bokkomlaan

Julle sal Bokkomlaan ongeveer tien kilometer suid van Dwarskersbos in Velddrif vind. Dié grondpaadjie langs die Bergrivier bied ’n hele rits restaurante en aangesien ontbyt die belangrikste maaltyd is, kan ’n oggendmaal in Bokkomlaan beslis boaan julle lysie wees. By Ek & Djy Vissery kan julle op ’n jetty bo-op die Bergrivier aan spek en eiers smul, terwyl ’n eendgesinnetjie waterkant toe waggel en dan luilekker op die rivier wegdryf. Keer sommer die volgende oggend terug om die Vishuis Restaurant of Pelican Trading Post se ontbyt te probeer. Wie wil dan al vroegoggend skottelgoed was as ’n mens met vakansie is?

As julle Velddrif se humorsin en vriendelike gesigte om elke hoek en draai wil ervaar, verken Bokkomlaan verder ná ontbyt. Die woelwaters kan by die Vishoekie baljaar terwyl Ma en Pa in die kunsgalery en kafeetjie rondsnuffel. Boonop is ’n besoek aan Bokkomlaan nie volmaak sonder om ’n bossie egte Weskus-bokkoms te koop nie ─ dit proe lekkerder as wat dit ruik!

Ontdek skatte in die Weskus Nasionale Park

Die Weskus Nasionale Park is 45 minute se ry van Dwarskersbos af en julle sal vroeg uit die vere moet wees om teen 07:00 by die parkhek te wees. Dis ’n goeie idee om teen oopmaaktyd te gaan sodat ’n mens die dag behoorlik kan benut. Pak genoeg proviand in en begin julle ontdekkingsreis met ’n ontbytpiekniek by die beskutte Preekstoel tydens laagwater. Daarna kan julle by Kraalbaai strandmeerskulpies as aandenkings optel, in die kristalhelder water rondplas en die huisbote beloer.

In Augustus en September bedek Moeder Natuur die park met ’n kleurryke blomtapyt en as julle die park in dié maande besoek, kan julle die blommeprag by Postberg bewonder. Wild en voëls is ook volop in die geweste, maar dié area is net gedurende hierdie maande oop vir besoekers.

Plankiesbaai is ’n gewilde plek om ’n vleisie oor die kole te gooi en daai magies vir die middagskof te vul. Daar is hoë rotse waarteen ’n mens kan opklouter, duine om teen af te rol en ’n uitkykpunt vanwaar jy in die verte kan tuur. Tydens hoogwater bied Tsaarsbank ’n kragtige branderskouspel ─ g’n wonder die Pantelis A. Lemos het in 1978 hier skipbreuk gely nie. As dit laagwater is kan julle oor die dik sand tot by dié skeepswrak resies hardloop ─ dit sal die japsnoete lekker uitput en Klaas Vakie sommer vroeg laat aanklop!

Nuttig aandete by die Riviera Hotel & Chalets

Die Riviera Hotel & Chalets is na die Riviera-moddervlakte vernoem en bied ’n uitsonderlike uitsig oor die Bergrivier en vlei in Velddrif. Die hotel se á la carte-restaurant, The Pont, spesialiseer in seekosdisse, soos kalamari en tjips, snoek, mossels en perlemoen. As jy van sport hou kan jy die rugby of krieket saam met die plaaslike inwoners op die platskerm-TV kom kyk en sommer ’n paar staaltjies oor dié vissersdorpie en sy mense by die kroeg uitvis. Boonop lok die Sondag-buffet besoekers regoor die Weskus om vir ’n smaaklike middagete te kom aansit.

As julle nie ná die ete wil terugry nie, is ’n aand in die hotel se en suite-kamers of chalets teen die Bergrivieroewer ’n blinkplan.

Neem kreatiewe sonsondergangfoto’s op Dwarskersbos se strand

’n Weskus-sonsondergang is van die mooiste ter wêreld! Op Dwarskersbos se strand bederf Moeder Natuur jou met ’n skildery wat jou nog lank sal bybly ─ die sonstrale verf oranje, pienk en pers hale deur die helderblou lug en die Atlantiese Oseaan dien as ’n spieël met ’n silwer randjie. As julle ná ’n lang dag van son en see teen 19:00 op die strand gaan stap, neem ’n kamera saam om dié besonderse toneel vas te vang. Die kleingoed sal dit geniet om verskillende skadupatrone te maak en dis ook die ideale geleentheid om gesinsfoto’s te neem. Wie weet, julle sien dalk ook ’n skool tornyne wat met hulle swart vinne in die lug teen die horison rinkink! Onthou net om plakkies aan te trek omdat die skulpe op die droë seesand ’n mens se voete kan seermaak.

Ander avontuur in die omgewing

* Speel skaak en putt-putt in Port Owen
Klim die Cape Colombine Vuurtoring tot bo
* Snuffel rond in Velddrif se visvangmuseum
* Ontdek die storie agter die Da Gama Monument in St. Helenabaai
* Beplan ’n daguitstappie na Vensterklip en Elandsbaai

Dut in Dwarskersbos

Bespreek ’n naweekwegbreek of jou volgende gesinsvakansie in Dwarskersbos!

Huisie by die See | Onstukihemel | @ Dwarskersbos

Die Weskus is sinoniem met sonbaai, seekos, strandwandel en sielsrus, en Dwarskersbos is geen uitsondering nie. Al is Dwarskersbos nie ’n dorp in die ware sin van die woord nie, bars die omgewing uit sy nate as julle op soek is na genotvolle gesinsdoendinge. So, vermy volgende keer die oorvol strande en kom herlaai in Dwarskersbos vanwaar julle dié deel van ons kus met sy sout-van-die-aarde mense kan verken!

Foto-erkenning:

Hooffoto: Kevin Leo
Rocherpan Natuurreservaat-foto’s: Cape Nature
Foto 1, 2 (regs), 6 en 7: Kruger-gesin