Lowergroen grasperke, gesellige samesyn, goeie oefening en luukse verblyf ─ dís onder andere wat jy op ’n gholflandgoed kan verwag! Kranige gholfspelers kan natuurlik na hartelus wedywer, maar selfs al is jou voorgee nie wat wonders nie en jou dryfhou effe verroes, is só ’n praglandgoed steeds ’n luilekker ontspanplek. LekkeSlaap het ’n handjie vol gholflandgoedere in en naby Gauteng gekies waar jy ’n welverdiende naweekwegbreek op die gholfbaan óf by die negentiende putjie kan deurbring!

Silver Palms Gastehuis

Gauteng

Silver Palms Gastehuis is op die pragtige Silver Lakes Gholflandgoed in Pretoria-Oos versteek. Dié landgoed was die eerste van sy soort en is vernoem na die magdom mere wat die gholfbaan omring. Die baan is deur Peter Matkovich ontwerp en sal jou menige uur lank besig hou waarna jy by die negentiende putjie kan uitspan. Daar is ook ’n rits voetslaanroetes as jy die omgewing se fauna en flora wil besigtig.

Van Johannesburg af: Sowat 80 km
Gholfbaan: 18 putjies
Slaapplek: Selfsorgkamers
Kos en kuier: Braaiplek, gastesitkamer, kombuisgeriewe, klubhuis, restaurant en gholfkroeg
Ander geriewe: Wasgoed-, skoonmaak- en lughawependeldiens
Ander doendinge: Voëlkyk, swem, fietsry en tennis

Zebula Gholflandgoed & Spa

Limpopo

Dié gholflandgoed beslaan 1600 ha-bosveld in die Waterberge se skadu net buite Bela-Bela. Hiér kan jy ongestoord by die spa uitrus of ’n rondte gholf op die Peter Matkovich-ontwerpte gholfbaan speel. Saans kan jy op die klubhuisstoep sit en ’n ware Afrika-sonsondergang bewonder. Wild wei ook vrylik op die landgoed rond, so hou jou oë oop en jou kamera gereed.

Van Johannesburg af: Sowat 200 km
Gholfbaan: 18 putjies
Slaapplek: Boslodge-kamers
Kos en kuier: Klubhuis en restaurant
Ander geriewe: Slang- en reptielpark, konferensiegeriewe, swembad, gimnasium en spa-behandelings
Ander doendinge: Voëlkyk, muurbal, tennis, visvang, kleilatgooi, boogskiet, verfbal, vlugbal, wildritte, voetslaan, vierwiel-safari’s en perdry

Elements Privaat Gholfreservaat

Limpopo

Dié unieke gholflandgoed is 495 hektaar groot, skuil in die Waterberge, en word omring deur Bosveldkoppies en bergstroompies. Buiten dié natuurskoon kan jy koedoes, rooibokke, blouwildebeeste, sebras, blesbokke, bosbokke en kleiner wildspesies gewaar terwyl jy gholfspeel ─ dís mos nou wat mens ’n kolhou noem!

Van Johannesburg af: Sowat 200 km
Gholfbaan: 18 putjies
Slaapplek: Selfsorg-chalets
Kos en kuier: Klubhuis, kroeg, gastesitkamer, braaiplek en kombuisgeriewe
Ander geriewe: Swembad en spa-behandelings
Ander doendinge: Voëlkyk, tennis en wildkyk

Drakenzicht The Mountain Links & Lodge

Mpumalanga

Jy sal Drakenzicht teen die randjie van die Drakensberge in Schoemanskloof kry. Die gholfbaan is uitdagend en het ’n effense Skotse gholfbaanstyl met ’n uitsig oor die Schoemanskloofvallei wat jou asem sal wegslaan! Bring die hele gesin en geniet ’n salige naweek omring deur Moeder Natuur se prag en praal.

Van Johannesburg af: Sowat 300 km
Gholfbaan: 9 putjies
Slaapplek: Selfsorg- en B&B-chalets
Kos en kuier: Kroeg, gastesitkamer, kombuisgeriewe en klubhuis
Ander geriewe: Konferensiegeriewe, troeteldiervriendelik, swembad en daaglikse skoonmaakdiens
Ander doendinge: Visvang, bergfietsry, swem, voetslaan, voëlkyk en sterrekyk

Pinehurst Place

Mpumalanga

Witrivier-landgoed op die Panoramaroete is Pinehurst Place se tuiste. Jy kan vroegoggend kom afslaan en heeldag op die gholfbaan kuier of Kaapsehoop, Pelgrimsrus en die Krugerwildtuin verken.

Van Johannesburg af: Sowat 350 km
Gholfbaan: 18 putjies
Slaapplek: Luukse selfsorg-eenhede
Kos en kuier: Restaurant, klubhuis en kombuisgeriewe
Ander geriewe: Swembad, konferensiegeriewe en skoonheidskliniek
Ander doendinge: Voetslaan, fietsry, wildkyk, tennis, muurbal en swem

Lions Rock Gholflodge

Mpumalanga

Dié gholflodge lê hoog teen ’n koppie net buite Hazyview met ’n uitsig oor die Sabievallei en op die omliggende berge. Hiér kan jy na die Sabierivier se gekabbel luister terwyl jy ’n sethou aanpak. Lions Rock Gholflodge is ook ’n romantiese bestemming waar julle in ’n privaat swembad aan skemerkelkies kan teug na ’n prettige dag op die gholfbaan of ’n dagbesoek aan die Krugerwildtuin.

Van Johannesburg af: Sowat 400 km
Gholfbaan: 9 putjies
Slaapplek: Selfsorg-chalets
Kos en kuier: Braaiplek en restaurant oorkant die pad
Ander geriewe: Swembad, spa-behandelings en gholfkarretjies te huur
Ander doendinge: Voëlkyk, hengel, voetslaan, piekniek, swem, perdry, wildkyk, fietsry en tennis

Leriba Kusgholflodge

KwaZulu-Natal

Leriba Kusgholflodge skuil op die Prince’s Grant Gholflandgoed naby Ballito aan die Dolfynkus. Dié gholfbaan is deur Peter Matkovich ontwerp en vorm deel van ’n park met subtropiese plantegroei. Jy kan selfs die see bewonder terwyl jy jou gholfstok swaai! As jy net wil ontspan, kan jy kilometers op die strand gaan wandel.

Van Johannesburg af: Sowat 600 km
Gholfbaan: 18 putjies
Slaapplek: Selfsorglodge met 6 luukse en suite-kamers
Kos en kuier: The Bunkers-restaurant, The Mulligans Pub, braaiplek en kombuisgeriewe
Ander geriewe: Swembad en wasgoeddiens
Ander doendinge: Tennis, muurbal en swem

Selborne Gholflandgoed, Hotel & Spa

KwaZulu-Natal

Of jy wil wegbreek uit die stad, jouself met spa-behandelings bederf, ’n saketransaksie beklink, die jawoord gee, of net jou vernuf op die gholfbaan beproef ─ dié spoglandgoed in Pennington aan die Suidkus is jóú droombestemming!

Van Johannesburg af: Sowat 600 km
Gholfbaan: 18 putjies
Slaapplek: B&B-gastekamers en ’n presidensiële suite
Kos en kuier: Restaurant, kroeg en gastesitkamer
Ander geriewe: Konferensiegeriewe, klipkapel, kamerdiens, swembad en spa-behandelings
Ander doendinge: Voëlkyk, tennis en swem

San Lameer Gholflandgoed

KwaZulu-Natal

Op die San Lameer Gholflandgoed naby Southbroom kraai gholf beslis koning! Die kampioenskap-gholfbaan is rondom ’n vleiwoud ontwerp en sal jou behoorlik uitdaag. Saans kan die 9 putjie-gholfbaan se ligte op versoek aangeskakel word sodat jy jou sethou onder die sterrehemel kan verfyn.

Van Johannesburg af: Sowat 700 km
Gholfbaan: 9 en 18 putjies
Slaapplek: Selfsorgvillas
Kos en kuier: Klubhuis, restaurant, kroeg en braaiplek
Ander geriewe: Spa-behandelings, wasgoeddiens, swembad, speletjieskamer en gimnasium
Ander doendinge: Voëlkyk, wildkyk, swem, visvang en tennis

So, as jou gholfsak begin stof vergader of die stadslewe se gejaag jou weer begin onderkry, is ’n blaaskans en potjie gholf op ’n bobaas-gholflandgoed ál wat jy nodig het!

Hooffoto: Selborne Gholflandgoed, Hotel & Spa (LekkeSlaap-instansie)