Vir dié wat die Krugerwildtuin al platgetrap het, of op soek is na plekke ’n bietjie nader aan die huis om wild te kyk, is daar nie ’n tekort aan opsies in Suid-Afrika nie. Die Groot Vyf is nie net tot die Krugerwildtuin beperk nie en dit is soms juis in van die ander parke en reservate in ons land waar gaste die beste besigtigings van die Groot Vyf beleef. Die wintermaande is ideaal om op wildkyk-avonture te gaan ─ die dagtemperature is dan koeler en jou kans om jou gunsteling wild te sien soveel groter.

Sabi Sand Reservaat

Die Sabi Sand Reservaat is reg langs die Krugerwildtuin geleë en daar is nie ’n heining wat hierdie reservaat van die Krugerwildtuin skei nie. Dít beteken die Groot Vyf loop vry tussen hierdie areas rond. Die reservaat is 623,08 vierkante kilometer groot en die Sabierivier en Sandrivier vloei daar deur.

Umkembe Bush Lodge

Umkembe Bush Lodge in die Sabi Sand Reservaat bied twee wildritte per dag, waarna gaste rustig by die privaat boma kan kuier. Dié intieme boskamp het ook ’n dek wat met ’n uitsig oor ’n watergat spog en wild kom drink gereeld hiér water. Mananga Private Bush Retreat bied luukse selfsorgverblyf op ’n privaat wildlandgoed reg langs die Krugerwildtuin se Paul Kruger-hek, in die hartjie van die bosveld. 

Mananga Private Bush Retreat

Addo-olifantpark

Die Addo-olifantpark is die derde grootste nasionale park in Suid-Afrika. Dit word deur die pragtige Zuurberge omring en doen sy naam gestand ─ hierdie park het drie keer soveel olifante as op enige ander plek in Afrika. Die Suidelike noorkapper en die grootwithaai kom ook in die waters langs dié park voor.

Addo African Home, Restaurant and Safari

Daar is ’n verskeidenheid ongekunstelde sowel as luukse, verblyfopsies in en rondom die Addo-olifantpark. By Addo African Home, Restaurant and Safari kan gaste sommer op die perseel Groot Vyf-kyk en hul etes by die restaurant bestel om ’n sorgvrye wegbreek te verseker. De Old Drift B&B is op ’n sitrusplaas net buite die park geleë en begeleide toere in ’n oop voertuig kan op versoek na die park gereël word. 

De Old Drift B&B

Madikwe Wildreservaat

Die Madikwe Wildreservaat is een van Suid-Afrika se grootste Groot Vyf-reservate. Dit is in ’n malaria-vrye area, naby Botswana se grens en die Kalahari geleë, en is een van die gewildste plekke in die land om wildehonde te besigtig. Dit is ook net ’n halfuur se ry vanaf Sun City!

Mawuya B&B

Mawuya B&B in die Madikwe Wildreservaat bied voetslaanpaadjies in die kamp, ’n swembad, ’n kroeg en ’n mini-gimnasium op die perseel. Elke kamer het ook ’n stoep waarop gaste kan ontspan. Weeksdagtariewe sluit alle maaltye ook in en naweektariewe sluit alle maaltye sowel as wildritte in. 

Hluhluwe Imfolozi Wildreservaat

Die Hluhluwe Imfolozi Wildreservaat is die oudste wildreservaat in Afrika en veral bekend vir die bewaring van witrenosters. Die reservaat is in die hartjie van die ou Zoeloeland geleë, met verskeie historiese besienswaardighede om te besoek, en is net drie ure se ry vanaf Durban. Hiér kan gaste rondry om wild te kyk, op begeleide staptoere gaan, piekniek hou en selfs op boottoere gaan. 

Wendy’s Country Lodge

Hluhluwe Backpackers is die naaste verblyf aan die reservaat en is net een kilometer vanaf die hoofhek geleë. Tradisionele braai-etes, potjiekos en ander geregte is hier beskikbaar en wildritte na die reservaat word ook gebied. Wendy’s Country Lodge kan doendinge soos bootritte op die meer, voëlkyk en uitstappies na die Zoeloe-kunsmark reël. Alle maaltye, verversings en hektoegangsgelde is hiér ingesluit.

Hluhluwe Backpackers

Pilanesberg Nasionale Park

Die Pilansberg Nasionale Park is die vierde grootste nasionale park in Suid-Afrika en is in ’n krater geleë, wat meer as een biljoen jaar gelede geskep is toe ’n vulkaan ontplof het. Daar is meer as 7 000 wildspesies en 360 voëlspesies in dié park en dit is net drie ure se ry vanaf Johannesburg. Hierdie park is enige fotograaf se droom, met foto-skuilings wat reg oor die park gevind kan word.

Tented Adventures Pilansberg

Verblyf by Tented Adventures Pilansberg sluit ’n volledige Engelse en kontinentale ontbyt in, sodat gaste genoeg energie het vir ’n dag se wildkyk. Pilanesberg Private Lodge bied luukse verblyf en is só ontwerp om gaste die geleentheid te gee om wild te sien, selfs wanneer hulle nie op ’n wildrit is nie. Hierdie instansie het, onder andere, ’n swembaddek, TV-kamer, boma en ’n uitkykdek ─ ideaal vir wildkyk!

Pilansberg Private Lodge

As die Krugerwildtuin volbespreek is, of as jy nie lus het om nie die hoofstroom te volg om die Groot Vyf te sien nie, is hierdie reservate en parke ideaal. Opsies om die Groot Vyf van nader te sien, is reg oor die land versprei ─ perfek vir ’n langnaweek-wegbreek of ’n skoolvakansie saam met die kleinspan!

Hooffoto: Nyumbani Estate Safari Bush Lodge op LekkeSlaap.co.za