Die winter het sy kloue nou behóórlik ingeslaan en wat is dan nou lekkerder as om ’n heerlike warm wintergereg saam met jou gesin te geniet? LekkeSlaap het ’n lysie van lekker warm resepte bymekaar gemaak om die winterkoue te klop.

11_1

Bestanddele:
25 ml sonneblomolie
10 ml botter
1 gekapte ui
2 gekapte selderystele
500 g botterskorsie (butternut), geskil en in blokkies gesny
2 mediumgrootte aartappels, geskil en in blokkies gesny
4 x 250 ml kits-hoenderaftreksel (of 1 liter kookwater en 2 hoenderaftrekselblokkies)
2 ml (van elk) sout, borrie en gemaalde gemmer
5 ml suiker
1 dik kaneelstokkie
1 lourierblaar
250 – 300 ml melk
25 ml sjerrie
Geklopte room en paprika of gemaalde gemmer vir garnering

Metode:
Verhit die olie en botter in ’n groot kastrol. Voeg ui, seldery, botterskorsie en aartappels by. Bedek die pan en laat die groente vir sowat 10 minute teen ’n lae hitte kook. Skud die pan elke dan en wan om te keer dat dit vasbrand. Voeg die oorblywende bestanddele, buiten die melk en sjerrie, by die groente. Bring dit tot kookpunt en bedek die pan. Laat dit prut tot al die groente sag is. Verwyder die kaneelstokkie en lourierblaar en laat dit effens afkoel. Maak dit fyn (puree) in ’n menger. Roer die melk by en verhit, verkieslik in ’n dubbelkoker. Voeg die sjerrie by en garneer.

2 2_1

Bestanddele:
1 heel hoender
1 ui, fyngekap
½ hoenderblokkie, verkrummel
1 pakkie kitsroomhoendersop
1 knoffelhuisie, fyngedruk
1 eetlepel pietersielie, fyngesny
½ eetlepel botter
1 teelepel olie
1 vel fillodeeg

Metode:
Plaas die hoender in ’n oondbraaipan en voeg 500 ml water by. Strooi die pietersielie, ui, knoffel en hoenderblokkie oor die hoender en oondbraai teen 180°C vir 1½ uur. Laat dit afkoel as dit gaar is en verwyder die vel, ontbeen die hoender en snipper. Meng die soppoeier tot dit ’n pasta vorm, voeg dit by die hoenderaftreksel en kook dit op die stoof tot dit verdik. Voeg die versnipperde hoender by en kook vir 10 minute. Laat dit afkoel en plaas die hoendermengsel in ’n pasteiskottel en bedek met die fillodeeg. Verhit die olie en botter en verf dit oor die fillodeeg. Bak teen 180°C vir sowat 30 minute tot dit bruin is.

Wenk: Jy kan ook uie en sampioene braai en saam met die hoender voeg voor jy die pastei met fillodeeg bedek.

3 3_1

Bestanddele:
2 beessterte
’n Handvol koekmeelblom, met sout en peper gegeur
Bietjie braaivet of olie om te braai
3 uie, gesny
4 tot 5 wortels, in wieletjies gesny
Sout en peper, na smaak
1 liter aftreksel
30 ml tamatiepasta
Worcestersous, na smaak
’n Kruiesakkie (bouquet garni)

Metode:
Voorverhit die oond tot 160°C. Rol die stukke beesstert in die gegeurde koekmeel. Verhit die olie of braaivet in ’n groot braaipan en verbruin die stukke gelykmatig. Lig dit uit die pan en plaas in ’n diep oondkastrol. Voeg die uie en wortels by die oondkastrol en geur. Giet genoeg aftreksel by om dit te bedek en voeg die tamatiepasta en worcestersous by. Voeg die kruiesakkie by. Oondbraai dit tot die vleis sag is en maklik van die been afval (sowat 6 uur lank). Laat dit afkoel en skep die vet af. Verhit en verwyder die kruiesakkie voor jy dit opdien.

#PretFeit: Die term “bouquet garni” verwys tradisioneel na ’n kruiesakkie wat bestaan uit 2 tot 3 pietersielietakkies, ’n tiemiestokkie en ’n lourierblaar. Die kruie kan óf saamgebind word met ’n tou óf in ’n moeseliensakkie toegebind word. ’n Marjoleintakkie en ’n bietjie grasuie kan ook bygevoeg word. 

44_1

Bestanddele:
1 dik sny witbrood
1 koppie melk
1 ui, gekap
1 eetlepel olie
1 eetlepel kerriepoeier
1 teelepel borrie
2 eetlepels asyn
2 teelepels appelkooskonfyt
500 g maalvleis (jy kan ook volstruis- of wildsvleis gebruik)
2 teelepels sout
¼ koppie sultanas (opsioneel)
½ koppie amandels (opsioneel)
1 eetlepel blatjang
2 eiers
3 lourierblare

Metode:
Voorverhit die oond tot 180°C. Week die brood in die melk. Druk die melk uit en verkrummel die brood. Hou die melk vir die bokant. Soteer die uie in olie. Meng die kerrie, asyn en suiker en voeg dit by die uie. Kook vir 2 minute en haal dit van die stoofplaat af. Voeg die maalvleis, sout, 1 eier en brood by die uiemengsel. Meng goed en plaas dit in ’n 2 liter-oondpan. Klits die ander eiers en meng dit met die melk. Giet dit bo-oor die maalvleismengsel. Rangskik lourierblare bo-op. Bak dit vir 45 minute.

5 6_1

Bestanddele:
3 kg wildsvleis
2 uie, gekap
2 lourierblare
25 ml asyn
Kruienaeltjies
250 ml wyn
100 ml sago wat vir 20 minute in koue water geweek is.
Vir die deeg:
625 ml koekmeelblom
20 ml bakpoeier
2 ml sout
50 ml kookolie
1 eier
500 ml melk

Metode:
Plaas die vleis in ’n groot pot en voeg die uie, lourierblaar, asyn, kruienaeltjies en wyn by. Kook totdat die vleis so sag is dat dit van die been afval. Voeg water by indien nodig. Meng die sago by die vleismengsel.

Vir die deeg:
Sif al die droë bestanddele saam. Meng die olie, eier en melk. Meng die nat en droë bestanddele saam tot dit ’n sagte, slap deeg vorm. Giet dit oor die vleis. Bak in die oond teen 200°C vir 10 tot 12 minute.

65_1

Bestanddele:
1 koppie koekmeelblom
1 teelepel koeksoda
’n Knippie sout
1 koppie suiker
1 koppie melk
1 eetlepel botter, gesmelt
1 teelepel asyn
1 eier
Vir die sous:
1 koppie room
1 koppie melk
1 koppie botter
½ koppie suiker
Vanieljegeursel

Metode:
Sif die droë bestanddele saam. Meng die oorblywende bestanddele saam en voeg die droë bestanddele hierby. Bak vir 25 na 30 minute teen 200°C. Haal dit uit die oond sodra dit gebak is en gooi die sous, wat saam gesmelt is, oor. Bedien met heerlike vla.

Bron: Al dié lekker resepte kom uit die Karoo Family Favourites-kookboek (5de uitgawe) wat deur Union Preparatory School in Graaff-Reinet gedruk en uitgegee word. Die resepte is ’n samestelling van die gemeenskap se gunsteling Karoo-resepte. Die boek is beskikbaar teen R150 by Union Preparatory School, Graaff-Reinet of skakel 049 892 3843.