Jy lê op jou branderplank en roei terwyl jy op daai grote wag … Dan rol die perfekte golf nader en jy voel hoe die adrenalien deur jou are bruis ─ jy spring opgewonde op jou branderplank en ry sielsgelukkig saam met die brander! Jeffreysbaai is sinoniem met branderplankry en dié watersport se entoesiaste kom van heinde en verre om J’Bay se beroemde branders aan te durf. Branderplankry is egter nie al wat dié kusdorp besonders maak nie. Jeffreysbaai is net sowat ’n uur se ry vanaf Tsitsikamma, Port Elizabeth en die Addo-olifant Nasionale Park ─ ideaal vir daguitstappies. Daar heers ’n vriendelike en ontspanne vakansie-atmosfeer dwarsdeur die jaar en om alles te kroon is Jeffreysbaai vanjaar as Kwêla se gesogte Dorp van die Jaar aangewys! LekkeSlaap het gaan uitvind waarom dié Oos-Kaapse dorpie kop en skouers bo die res uitstaan.

Ruiter van die windjie

Perdry

Die plaas, Papiesfontein, lê sowat tien kilometer buite Jeffreysbaai tussen die Gamtoos- en Kabeljousrivier. Dié unieke plaas is ’n kombinasie van bos, rivier en strand en dis hiér waar jy ’n splinternuwe avontuur kan aanpak ─ perdry op die strand! Papiesfontein Beach Horse Rides is in 1996 deur Frankie en Esré Lötter begin en vandag het hulle meer as 50 opgeleide en saggeaarde perde. Dié perde is ’n kruising tussen boerperde en die Skotse Hoogland-ponie wat jy nét hier sal aantref.

Dié perdritte vind vroegoggend en laatmiddag plaas en duur sowat twee uur ─ dis noodsaaklik om vooraf te bespreek. Die ritte is vir beginners en gesoute ruiters en jy word deur ervare gidse vergesel. Die sirkelroete strek oor ongeveer 13 kilometer waartydens jy deur pragtige fynbos in die rigting van die Gamtoosrivier ry. Die roete bied ook ’n lieflike uitsig oor die sandduine waarná jy via die ongerepte strand terugkeer. Op dié afgeleë strand kan ruiters deur die vlak water draf of oor die sand galop. Jy sal verskeie voëls, skilpaaie en bosbokke op die roete teëkom, en jy kan selfs robbe gewaar. Kyk ook of jy die skaars swarttobie wat by die Gamtoosriviermond voorkom te siene kry.

079 299 8080 | 086 684 1181 | info@horsetrails.co.za  

Tem die wye oseaan

Branderplankry

Branderplankry is beslis die grootste trekpleister in Jeffreysbaai en mense kom van regoor die wêreld om die fynere kunsies van dié watersport te bemeester. Jy hoef nie eens jou eie toerusting saam te bring nie ─ branderplanke en duikpakke is by verskeie plekke te huur. Jeffreysbaai het ses gewilde branderplankry-areas wat wissel van taamlik maklik tot baie moeilik.

Dolfynstrand is Jeffreysbaai se hoofstrand en dis hiér waar beginners in die vlak branders leer branderplankry. Dis die veiligste plek om te leer hoe om jou balans op die plank te hou, maar hou jou oë oop vir die kinders en ander swemmers. Kitchen Window is net regs van die hoofstrand en ideaal as jy sonder steurnis in die branders wil baljaar. Jy hoef nie baie diep in te gaan om golwe te vang nie, maar onthou dat daar skerp rotse net onder die wateroppervlak is. Die wêreldbekende Supertubes is waar die J-Bay Open-kompetisie jaarliks gehou word en dié branders is beslis nie vir sissies nie! Jy kan ook Magnatubes en Point aandurf as jy ’n ervare branderplankryer is en ’n lekker uitdaging soek.

Dapper en stapper

Voetslaan

Daar is drie staproetes in en om Jeffreysbaai wat in enige stapper se smaak sal val. Die Kabeljous Natuurreservaat-staproetes is net buite die dorp en daar is ’n veilige area waar jy jou voertuig kan parkeer. Dié reservaat sluit kort en lang staproetes in en jy kan tot op die strand stap. Die omgewing is ongerep en jy sal ’n groot verskeidenheid voëls en plantegroei raaksien.

Die Seekoei Natuurreservaat-staproete strek verby die Seekoeirivermond en daar is ook ’n voëlskuiling waar die flaminke veral besonders is. Die Noorsekloof-staproete is lekker kort en is in ’n kloof wat deur die middel van die dorp loop. Dis voorwaar ’n ongelooflike ervaring en daar is baie noorsdorings en selfs bokkies langs die pad.

’n Versamelaar se droom

Museums

Jeffreysbaai het twee unieke museums waarby jy definitief moet inloer. Die skulpiemuseum bied die grootste versameling skulpe ter wêreld. Jy kan ’n daaglikse toer deur die museum bywoon waartydens jy meer oor die skulpe se geskiedenis kan uitvind. Het jy geweet skulpe was destyds gebruik om lobola te betaal? Die museum se skulpe kom van regoor die wêreld, maar die grootste deel is plaaslike skulpe. Jeffreysbaai staan ook as die skulpiestrand bekend en jy sien dikwels mense met sakkies vol skulpe.

 

View this post on Instagram

 

A post shared by Tami, Anton and the Zs (@tazzdiscovers) on

Omdat Jeffreysbaai ’n wêreldberoemde branderplankry-bestemming is, is dit g’n wonder dat hier ’n branderplankmuseum is nie. Dié museum bied aandenkings, foto’s, koerantuitknipsels en branderplanke van bekende branderplanktoernooie en ander gebeure. Dit vertel ook meer oor branderplankry se ontstaan in Jeffreysbaai.

Smul na hartelus

Restaurante

Jeffreysbaai het geen tekort aan heerlike eetplekke nie ─ van koffiewinkels, ’n Griekse restaurant en boetiekbierrestaurant, tot ’n hele rits seekos- en strandrestaurante.

The Bay Pasta Co móét op jou lysie wees ─ dis die enigste restaurant op die dorp met twee groot bome onderdak en op Sondae is daar lewendige musiekvertonings. Probeer gerus ook Tapas Beach Restaurant, Tasty Table en Kitchen Windows Beach Restaurant.

Ander pret en plesier

Doendinge

Tydens die Desembervakansie word verskeie doendinge, soos skattejag en musiekoptredes, vir oud en jonk op die strand aangebied. As dit reën kan die jongspan putt-putt in die mall speel en op ’n sonnige dag kan dit op die hoofstrand gespeel word.

Boonop bied die waterpark ekstra vermaak oor Desember, soos skuimglybane. Sandplankry, kajakvaar, visvang en seilplankry is ook gewild.

Snoesig en salig

LekkeSlaap-blyplekke

Jeffreysbaai is ’n vakansiebestemming in elke sin van die woord en die warm Indiese Oseaan lok besoekers selfs in die koeler maande. Hier is ’n klompie verblyfopsies:

Selfsorg

20 Houtbosch Bay

As jy julle wittebroodwegbreek wil bespreek, is 20 Houtbosch Bay die antwoord. Dié lieflike suite skuil in ’n natuurreservaat net buite Jeffreysbaai en bied ’n houtdek vanwaar jy die dolfyne en walvisse se kaperjolle kan dophou. Die strand kan via ’n plankpaadjie bereik word.

Seashells Holiday Apartments and Conference Centre

Seashells Holiday Apartments and Conference Centre is oorkant Magnatubes waar branderplankryers en dolfyne dikwels in die branders baljaar. Elke vakansie-eenheid is uniek en het slaapplek vir vier of ses. Strandsambrele is te huur en ontbyt is op versoek beskikbaar.

La Caribe 55

La Caribe 55 is ’n knus selfsorgwoonstel en ook op die Marina Martinique-landgoed geleë. Daar is slaapplek vir 4 en die stoep het ’n braai-area vanwaar jy die unieke waterweë kan sien. ’n Kajak met roeispane waarmee jy op die waterweë kan vaar is beskikbaar.

Ander selfsorgopsies

Améri Place | Hummingbird Flat, 23 Houtboschbay | Surfpoint 9

Gastehuise

Dio Dell ‘Amore

Dio Dell ‘Amore is ’n elegante Toskaanse gastehuis aan die oewer van die Kabeljousriviermond. Daar is agt luukse en suite-dubbelkamers en elke kamer het lugversorging, DStv, vinnige internet, ’n yskassie, tee- en koffiemaakgeriewe, ’n kluis en ’n balkon of stoep met ’n pragtige uitsig. Jy kan met ’n glasie wyn voor die kaggel ontspan of op die dek sit en aan ’n mengeldrankie teug terwyl jy die uitsig oor die strandmeer bewonder.

Ander gastehuise

On the Beach | All Seasons Guesthouse | Valparaiso Guesthouse

B&B’s

Die Finken

Die Finken is net ’n entjie vanaf die strand en Jeffreysbaai se middedorp. Dié B&B sal jou behoorlik bederf met ’n smullekker ontbyt en ’n aandete op versoek. Elke kamer het ’n dubbelbed en ’n en suite-badkamer en daar is ’n gemeenskaplike sitarea en kombuis.

Ander B&B’s

Aquarius B&B | Aston Woods Bed & Breakfast | Sea Siesta

So, of jy heeldag in die branders baljaar, ’n unieke perdrit op die strand ervaar, die omgewing invaar of net salig op die strand lê en na die pragsee staar ─ Jeffreysbaai is beslis jou droombestemming! Was jy nóg nie hier nie? Dis dan hóógtyd om ’n draai aan die Oos-Kaapse kus te kom maak!

Hooffoto: Estelle de Beer