Soos gesien op Maroela Media.

Baie van ons se enigste herinnering aan die jaarlikse veldblomseisoen is ’n ou, verrimpelde foto van jou wat verbouereerd tussen die blomme poseer terwyl ma of pa allerhande snaakse streke uithaal om jou aandag op die kamera te hou. Of dalk het jy nog nooit eerstehands die Weskus en Namakwaland se blommeprag aanskou nie? Hoe dit ook al sy ─ dié blommekykgids vir beginners sal jou help om jou eie blommekykreis behoorlik voor te berei.

Wanneer is die beste tyd vir blommekyk?

Gewoonlik het Namakwaland teen dié tyd lankal sy blommetapyt oopgerol vir reisigers wat van wyd en syd kom om dié kaleidoskoop te bewonder. Die blomme begin vroeg in Augustus kop uitsteek en verwelk gewoonlik teen einde September. Kort daarna, teen middel September, is dit die Weskus se beurt om te blom. Volgens die Darling Veldblomvereeniging het daar reeds rondom Darling ’n paar gesiggies in die veld verskyn!

Die blommeseisoen verskil natuurlik jaar na jaar subtiel na gelang van klimaat en reënval. Die intensiteit van die blomme se kleurpalet hou byvoorbeeld verband met die hoeveelheid reën wat in die winter geval het, so sommige jare is die oranjes en gele helderder as ander jare. Die blomme wag natuurlik vir die son om uit te kom voor hulle hul gesiggies wys, so wag vir ’n lekker matige sonskyndag en gaan kyk dan tussen so 10:30 en 15:30 wanneer hulle op hul mooiste sal wees. Dit moet ook nie te vinnig warm word nie, anders verwelk hulle. Veldblomme is op hulle gelukkigste as die temperatuur so 14 grade Celsius is.

Waar kan ek gaan blommekyk?

Weskus:

> Rondeberg Privaat Natuurreservaat in Malmesbury
> Postberg Natuurreservaat (net in Augustus en September) in die Weskus Nasionale Park buite Langebaan
Darling-omgewing
> Columbine Natuurreservaat buite Paternoster
> Biedouwvallei in die Sederberge
> Ramskop Natuurreservaat in Clanwilliam
Tankwa Karoo Nasionale Park

Namakwaland:

> Hester Malan Veldblomtuin en Goegap Natuurreservaat buite Springbok
> Skilpad Veldblomreservaat in die Namakwa Nasionale Park (wat 103 000 hektaar beslaan) buite Kamieskroon
> Die kokerboomwoud, Hantam Nasionale Botaniese Tuin, Nieuwoudtville se Blommereservaat en die Oorlogskloof Natuurreservaat buite Nieuwoudtville
> Akkerendam Natuurreservaat in Calvinia

Let wel: Weens die groot tekort aan reën het die Namakwaland se blomme nie vanjaar in al hulle gewone glorie verskyn nie. Daar is wel genoeg ander doendinge in dié geweste dat ’n Namakwalandreis nie tevergeefs sal wees nie:

Bergfietsry: Daar is talle bergfietsroetes in die omgewing, byvoorbeeld die Viswater-roete wat by Doringbaai begin en tot by Papendorp strek. Dis ’n heerlike manier om die buitelug te geniet en die omgewing te verken!
Sterrekyk: Lankverwacht-gasteplaas in Vanrhynsdorp bied die beste sterrekyk-geleenthede aan op ʼn wolklose aand.
> Voëlkyk: Voëlliefhebbers kan gerus die uitkykpunt by Papendorp besoek en die diverse voëllewe bewonder. Kontak Salome Willemse by 027 219 1202 of stuur ʼn e-pos na japiewillemse@telkomsa.net vir meer inligting.
4×4-roetes: Maskam-gasteplaas buite Vanrhynsdorp het heelwat 4×4-roetes, soos die 80 km lange sirkelroete by Gifberg.
Watersport: Die Namakwalandse kus bied lekker watersportgeleenthede soos byvoorbeeld kanovaart en riviervlotvaart by Papendorp.
Wynproe: Maak ’n draai by Teubes Familiewyne vir wynproe en middagete of gaan proe gratis wyn by Die Keldery. Daar is selfs ’n speelpark en alkoholvrye proe-opsies vir die jongspan. Klawer Wynkelder op die N7 bied ook gratis wynproesessies tot 13:00 op Saterdae.

Hoe gaan kyk ek blomme?

Die meeste plaaslike toeriste verkies om selfry-roetes te volg aangesien dit meer vryheid bied. Daar is wel ander interaktiewe maniere om die meeste van jou blommekykvakansie te maak!

Blommekyktoere:

As jy nie lus is om self brandstof uit te ry nie en eerder jou oë ten alle tye op die blomme wil hou, is dit ’n goeie plan om eerder ’n begeleide blommekyktoer te bespreek. Ervare toergidse sal weet presies waarheen om te ry om teleurstelling te vermy én boonop interessante brokkies oor die blommeryk met julle deel. Bespreek ’n halfdag- of voldagtoer en gaan slaap dan na die tyd by een van ons oulike blyplekke aan die Weskus of in Namakwaland oor.

Staptoere:

Buiten self rondry van bestemming tot bestemming, kan reisigers ook talle staproetes deur die blomroetes se gewildste reservate aanpak en as’t ware tussen die blomme oornag voor hulle die volgende dag verder stap.

> Die Postberg Tweedag-staproete is ’n luisterryke staproete wat minder as 30 km lank is. Stappers bring ’n nag tussen die veldblomme deur. Onthou om jou eie tent en proviand saam te bring.
> Die Steenbok Eendag-staproete is ’n 14 km lange staproete wat dieselfde roete as die Postberg Tweedag-staproete volg.
> Die Swart Tobie-staproete laat jou toe om ongeveer 80 km van ’n afgeleë gebied in die Weskus naby die dorp Koekenaap te verken. Wandel deur die veldblomme, al langs die strande, en as jy gelukkig is, sal jy selfs ’n walvis of twee in die water sien baljaar.
> Die Sevilla Rotskuns-roete strek 4 km ver in die Sederberge verby 9 rotskunsplekke.
> Die Five Bay-roete kronkel 28 km lank al langs die Weskus tussen Paternoster en Jacobsbaai. Stappers stop by 5 baaie en leer sommer langs die pad iets van die geskiedenis van die visbedryf.

Blommeskoue:

Daar is ook ’n paar jaarlikse blommeskou waar besoekers ’n allesomvattende ervaring van die blommeseisoen kan beleef en boonop met ’n klein toegangsfooi tot die bewaring van die blommekoninkryk kan bydra.

Darling Veldblommeskou: Een van dié feeste is die eeu-oue Darling Veldblommeskou wat vanjaar van 14 tot 17 September deur die Darling Veldblommevereniging aangebied word. ’n Hele saal word uitgevoer met Darling-veldblomme en daar is kos- en handwerkstalletjies. Jou toegangskaartjie sluit ’n paar doendinge in, so gaan loer gerus hier vir meer inligting. Kyk gerus ook uit vir ons bloginskrywing oor dié skou en oor Darling self wat later dié maand op ons blog sal verskyn.

Clanwilliam Veldblommeskou: Die Clanwilliam Veldblomskou sou vanjaar van 25 Augustus tot 2 September plaasvind, maar is ongelukkig weens die droogte gekanselleer. Volgens Alida Stone, voorsitter van die Clanwilliam-blommeskou-komitee, het “[d]ie erge droogte, wat die hele land ervaar, […] veroorsaak dat baie van [die] blomme en plante eers veel later sal blom. [Daar is] nie genoeg blomme om ʼn goeie vertoning vir die skou saam te stel nie.” Gewoonlik word daar gedurende dié fees meer as 400 spesies, waarvan baie nêrens anders in die wêreld voorkom nie, onder een dak uitgestal. Hou dit gerus in gedagte vir volgende jaar se blommeseisoen ─ hopelik is Clanwilliam se veldblomme weer volop teen 2018!

Hier is nog ’n paar wenke om ’n bobaas-blommekyksessie te beplan!

> Pak ’n piekniekmandjie en klink ’n glasie tussen die blomme.
> Die blomme gaan net oop as die son skyn, so luister ’n bietjie vir die weerman voor jy vertrek.
> Reis eers noord en begin dan blommekyk soos wat jy suid beweeg, want die blomme kyk altyd vir die son – en só sal hulle vir jou ook kyk.
> Kry gratis toegang tot die nasionale parke gedurende die SANParks-week (vanjaar van 18 tot 22 September) of neem jou WildCard saam as jy een het.
> Moenie jou kamera vergeet nie. Neem ’n driepoot saam om gesinsfoto’s tussen die blomme te neem.

Met dié blommekykgids behoort jy nou ’n behoorlike blommekykwegbreek te kan beplan! Wonder jy waar om te begin? Loer dan gerus solank op LekkeSlaap vir verblyf al langs die blomroetes sodat jy weet jy gaan lekker kan rus ná ’n prettige dag van rondrits en blommekyk in die son.

Namakwaland | Springbok | Kamieskroon | Nieuwoudtville | Vanrhynsdorp | Clanwilliam | Sederberg | Weskus | Darling |  Langebaan | Paternoster | Malmesbury

Hooffoto: Bigstock