Was jy al ooit in die besigste stad in Suid-Afrika sonder ’n idee oor waar om te gaan of waarmee om jouself besig te hou? Johannesburg is nie net die ekonomiese kern van Suid-Afrika nie, maar bied besoekers die geleentheid om iets anders as die gewone see-vakansie te beleef. Tussendeur die gejaag van die Goudstad is daar verskeie kulturele, geskiedkundige en natuurlike besienswaardighede wat selfs met die see sal kan kompeteer, en LekkeSlaap wys vir jou waar jy hierdie opwindende besienswaardighede kan ervaar!

Johannesburg is in sewe streke opgedeel wat uit verskillende buurte bestaan. Elke streek bied ’n unieke ervaring en met die Gautrein tot jou beskikking is dit lekker maklik om van streek tot streek te reis. Deur tyd in hierdie kulturele smeltpot deur te bring mag jy dalk net opnuut waardering vir ons land kry!

Streek A

Midrand, Fourways, Lanseria

Die Wieg van die Mensdom. Foto: Bigstock

Hierdie streek is naby die Wieg van die Mensdom, wat die Sterkfontein-grotte insluit. Hierdie gewilde bestemming staan as die geboorteplek van die mensdom bekend, en oud en jonk sal vir ure lank hier kan rondloop. Die Kyalami Grand Prix Circuit is die enigste resiesbaan in Afrika wat internasionaal geakkrediteer is en besoekers wat adrenalien-behep is kan gaan kyk hoe resieskarre rondom die baan jaag. Natuur- en diereliefhebbers sal ook besienswaardighede soos die Glen Austin Voëlreservaat geniet. 

The Wodehouse

Ipe Tombe Guest Lodge is net sewe kilometer vanaf Midrand se Gautreinstasie en gaste kan tuisgemaakte aandetes en ’n kamerdiens-spyskaart hier geniet. Acacia Rock is net 5,5 kilometer vanaf die Mall of Africa en daar is ’n rotspoel naby waar gaste kan afkoel. Die gashere het ook ’n groentetuin en hoenders op die perseel, so gaste kan organiese, seisoenale groente en plaaseiers by hulle koop om ’n stukkie plaas in die stad te beleef. The Wodehouse, wat op ’n 1,3 hektaar-kleinhoewe is, bied ook ’n geleentheid om te midde die stad se gejaag asem te skep.

Acacia Rock

Streek B

Randburg, Rosebank, Emmarentia, Greenside, Northcliff, Parktown

Johannesburg se Botaniese Tuine. Foto: Bigstock

Hierdie streek is in die middel van Johannesburg en besoekers kan behoorlik die gewoel van die stadslewe hiér beleef. Van Johannesburg se gewildste en beste restaurante is hier te vinde. Diegene wat lief is vir inkopies sal ook dae lank in die vele winkelsentrums, soos Rosebank Mall en die Cresta-winkelsentrum, kan deurbring. Emmarentia-dam, Johannesburg se Botaniese Tuine en Zoo Lake is ideaal vir besoekers wat ’n deel van die natuur in hierdie beton-oerwoud wil beleef.

Fever Tree Suite

Vir gaste wat op soek is na luukse verblyf, bied Rosebank verskeie opsies, soos Home Sweet Hotels Rosebank en Clico Boutique Hotel. Remote Corner in Randburg is stapafstand vanaf Zoo Lake en Parkview Gholfbaan en Fever Tree Suite in Northcliff het ’n swembad om na ’n dag se verkenning in die middedorp af te koel.

Remote Corner

Streek C

Roodepoort, Constantia Kloof, Northgate, Florida, Bram Fischerville

Rotsformasies by die Magaliesberge. Foto: Bigstock

Hierdie area bied maklike toegang tot die gewilde Magaliesberge en die Pilanesberge, waar besoekers kan wildkyk, op staproetes kan gaan en tyd in die natuur deurbring. Die Walter Sisulu Botaniese Tuine pronk in hierdie streek en dit word as die stad se vooraanstaande park gesien. Die streek spog ook met die bekende Coco-Cola Dome waar daar oor die jare heen nasionale en internasionale kunstenaars al opgetree het. Die Witwatersrand-area spog met allerhande voetslaanpaadjies wat verken kan word.

Milly’s Touch B&B Studios

By Hillary Guest Cottage is daar ’n stoep met meubels en ’n braai, en gaste ontvang ’n komplimentêre bottel water, tee, koffie en beskuit. Milly’s Touch B&B Studios bied gratis WiFi en daar is drie bekoorlike ateljeewoonstelle om van te kies.

Streek D

Doornkop, Soweto, Dobsonville, Protea Glen

Markies langs die pad in Soweto. Foto: Bigstock

Diegene wat ’n ryker Suid-Afrikaanse ervaring wil beleef kan op ’n toer van Soweto gaan. Hierdie informele nedersetting het in onlangse jare een van die gewildste toeristebestemmings in Johannesburg geword. Besoekers kan in Soweto op fietstoere gaan, kunstoere onderneem, verskillende kossoorte by verskeie restaurante eet en op geskiedenistoere gaan. Vir dié wat ’n bietjie brawer is, is daar selfs die geleentheid vir reksprong by die Soweto Towers. Soweto het ook die enigste straat in die wêreld waar twee Nobel Vredeprys-wenners gewoon het ─ Desmond Tutu en Nelson Mandela. Die Hector Pieterson Gedenkmuseum kan ook hier besoek word.

Geniet ’n tradisionele potjiekos-ete by Lebo’s Soweto Backpackers.

By Lebo’s Soweto Backpackers kan gaste ’n ware Soweto-ervaring kry. Hierdie rugsakreisigerslosies bied iets vir almal met slaapsale, privaat kamers, kampeerplek en selfs ’n boomhuis. Daar is ’n speletjiesarea buite met ’n pooltafel, tafelsokker, hangmatte en braaigeriewe, asook ’n buitelug-restaurant wat eg Suid-Afrikaanse disse bedien.

Streek E

Alexandra, Sandton, Wynberg, Orange Grove, Houghton

Die bekende Nelson Mandela Square. Foto: Bigstock

Die wêreldbekende Nelson Mandela Square en Sandton City-winkelsentrum in Sandton bied fantastiese geleenthede vir inkopies en jy moet beslis ’n kiekie by die reusagtige standbeeld van Nelson Mandela wat hiér staan, neem. Sport-entoesiaste sal dit geniet om by die Alexandra-stadion of die Liberty Life Wanderers-stadion ’n draai te maak. Oor naweke is dit heerlik om die Bruma Lake-vlooimark, met allerhande interessante items om te koop en lekkernye om aan te smul, te verken.

Sandton Executive Suite

Sandton Executive Suite is naby Sandton se sakekern en dit bied pendeldienste na die lughawe en die Gautreinstasie. Gaste kan ook ontbyt en aandete hier geniet. Festina Lente bied maklike toegang tot Sandton City, sowel as winkelsentrums, sypaadjie-kafees en restaurante.

Streek F

Middestad, Johannesburg-Suid, Maboneng

Maboneng is ’n kunstenaarsparadys. Foto: Bigstock

Die Newtown-distrik is ryk aan geskiedenis en kultuur en daar is talle museums, kunsgalerye en teaters om te besoek. Dit word as een van die belangrikste kunsareas in Johannesburg beskou, aangesien dit ’n gewilde area is vir opkomende kunstenaars om uit te stal. Die bekende Market Theatre-kompleks in Newtown is ideaal vir diegene wat teatervertonings wil bywoon en Suid-Afrikaanse disse wil geniet. Hierdie streek is ook ryk aan parke om te besoek, soos die Joubert Park, Mitchell Park, Edith Cavell Park en die JL de Villiers Park. Die Maboneng-buurt is nog ’n kunstenaarsparadys en dis vol lewe met restaurante, kroeë, kleurvolle straatkuns en interessante vertonings wat gereeld hier plaasvind.

Curiocity Joburg

Stesh Maboneng Loft is in die hartjie van Johannesburg en word deur restaurante, kroeë, kunsgalerye en nagklubs omring. Curiocity Joburg het ’n kroeg, Jacuzzi, balkon, ontspanningsarea en gratis WiFi.

Streek G

Orange Farm, Weilers Farm, Ennerdale, Lenasia, Eldorado Park, Protea-Suid

Road Lodge Southgate

Hierdie streek is aan die onderkant van Johannesburg geleë en gemeenskap-ontwikkelingsprogramme word hiér geïmplimenteer. Daar is verskeie gemeenskapsentrums wat hier besoek kan word, soos die Poortje Gemeenskapsentrum en die JD Opperman-aktiwiteitsentrum. Die Olifantsfontein Natuurreservaat is ideaal vir diegene wat ’n stukkie van die bosveld in die middel van die stad wil beleef.

Road Lodge Southgate

Road Lodge Southgate bied daagliks ’n ligte ontbyt en daar is ’n lieflike swembad om in af te koel na ’n warm dag. Daar is ook ’n TV en tee- en koffiemaakgeriewe in elke kamer.

Daar het jy dit! Bly ’n bietjie langer as jy weer in Johannesburg ’n draai maak en verken al die unieke ervarings en besienswaardighede wat hierdie stad bied!

Hooffoto: Sandton Executive Suite (LekkeSlaap.co.za)