Suid-Afrika bied soveel asemrowende natuurtonele in verskillende dele van die land dat ’n roetereis beslis op elke Suid-Afrikaner se emmerskoplysie moet wees. Van die mooie Moederstad, lowergroen Tuinroete, die Karoo se vergete vlaktes, tot die manjifieke Drakensberge ─ daar is ’n bestemming wat diep in elkeen van ons se hart sal kruip.

Om jou te inspireer, het LekkeSlaap vir dié wat ons land op wiele wil verken ’n roetereis vanaf die Kaap tot in die Drakensberg saamgestel!

Begin jou roetereis in die Moederstad


As jy en jou medereisigers beplan om julle roetereis in Kaapstad te begin, is daar tientalle doendinge wat julle die dag voor julle vertrek kan besig hou. Gaan doen inkopies, verken die middestad, geniet ’n gratis staptoer, of smul selfs net rustig aan ’n heerlike aandete in die gewilde Kloofstraat.

Of jy nou saam met vriende of familie die land verken, die blote feit dat julle gedurende die alledaagse gejaag bymekaar kon uitkom, is iets om te vier. En wat is lekkerder as om wêreldklas-wyn op een van die spogplase in Groot Constantia te gaan proe? Dié prentjiemooi vallei is slegs 20 minute se ry van die middestad af en is dus die ideale plek om heerlik te kuier sonder om te ver te reis. Hou egter in gedagte dat daar ’n lang pad vir julle voorlê, so moenie te laat kuier nie!

Kaapstad spog met eindelose verblyfopsies, maak nie saak hoeveel tyd jy en jou familie en vriende nog nodig het om julle reis se details te beplan nie.

Die weg na Wildernis


Die voordeel van die Tuinroete van die Kaap af aanpak, is dat daar verskeie oulike dorpies op pad daarheen is waar jy ’n bietjie bene kan rek. As jy brand om die see al die pad tot daar dop te hou, kan jy kies om kuslangs te ry, maar dit sal egter baie meer tyd opneem. Dorpies soos Hermanus, Stilbaai en Mosselbaai in die rigting van Wildernis is ideale bestemmings indien jy in ’n kusdorp wil oornag.

Wildernis is sowat vyf ure se ry van Kaapstad af as jy die kortste N2-roete neem. Dis ’n gewilde vakansiebestemming en bied doendinge vir oud en jonk. Ons raai aan dat jy hiér oornag, omdat jy reeds ’n lang pad agter die rug het en daar meer as genoeg vermaak is waarmee jy jou in dié prentjiemooi dorp kan besig hou. Julle kan, onder andere, die Tuinroete Nasionale Park besoek, in die pragtige woude van Wildernis gaan voetslaan, of by die Hoekwil Country Café stop vir koffie en eetgoed.

Een van die mees gesogte besienswaardighede in dié area is natuurlik die Kaart van Afrika-uitkykpunt langs die Sewepasse-pad. Hiér word jy met ’n uitsig oor die Kaaimansrivierkloof wat dieselfde vorm as die kaart van Afrika het betower. As jy ’n avonturier is, kan jy ook valskermsweef hiér aandurf!

Slaap hiér in Wildenis oor.

Maak ’n draai in Jeffreysbaai


Vanaf Wildernis kan jy na hartelus stop-stop ry en by oulike kusdorpies inloer, soos Plettenbergbaai, St. Francisbaai en Jeffreysbaai. Laasgenoemde is ’n bietjie minder as drie ure se ry van Wildernis af en die ideale plek om vir ’n stomende koppie koffie te stop. Gaan loer gerus by Machine Coffee House in vir die beste wafels in die dorp! As jy ’n kranige branderplankryer is en ’n bietjie van die lang pad wil vergeet, kan jy natuurlik by J-Bay se gewilde branderplankrystrande gaan lyf natmaak.

As jy nie genoeg van dié paradysdorpie kan kry nie, kan jy hiér blyplek bespreek.

Pret in Port Elizabeth


Suid-Afrika se vriendelikste stad is slegs sowat ’n uur se ry vanaf Jeffreysbaai, maar beslis die moeite werd om ’n bietjie te verken. Jy kan op die Donkin Erfenisroete wat met verskeie merkwaardige historiese geboue spog in die hartjie van die stad gaan stap, ’n bootrit op die Sondagsrivier geniet, of die Nelson Mandela Metropoliaanse Kunsmuseum besoek. Daar is ietsie van als in dié hawestad! Hiervandaan kan jy verder kuslangs na Port Alfred of Oos-Londen reis, of ’n effense ompad van sowat drie en ’n half uur na die sprokiesdorpie Hogsback neem …

Indien jy meer tyd nodig het om Port Elizabeth beter te leer ken, kan jy gerus blyplek hiér bespreek.

Verken Hogsback saam met die locals


Vir ’n outentieke Hogsback-ervaring, bespreek gerus verblyf by die unieke Elundi Backpackers, slegs 20 minute se ry buite dié rustige dorpie. Elundini Backpackers waarborg gasvryheid wat jy nie sommer elders sal vind nie, met eienaars wat dikwels gewillig is om enige ete van jou keuse te kook as hulle nie té besig is nie. Moenie vergeet om een van hulle smullekker, tuisgemaakte vetkoeke te bestel nie! Durf gerus ’n prentjiemooi voetslaanroete van die verblyf af tot in Hogsback aan, of geniet ’n sterrekyk-aand saam met die eienaars.

Natuurlik is dit nie al wat dié droomdorpie bied nie. Kliek hier vir ’n hele rits ander verblyfopsies in Hogsback.

Kuier in Koffiebaai


As jy die bekoring van die Wildekus wil ervaar, dan is Koffiebaai die plek vir jou! Dié dorpie is wel sowat 380 kilometer van Hogsback af, maar moenie dat dit jou afskrik nie. Koffiebaai is bekend vir ongelooflike uitsigte en strande, die beste branderplankry-geleenthede en kampeerterreine, en ’n rustige atmosfeer waaroor ’n mens net kan droom. Hiér sal jy die plaaslike kultuur eerstehands ervaar en moenie die Gat in die Muur misloop nie!

Wenk: Ry dié pad wanneer dit nog lig is ─ die paaie is nou en vol diep slaggate, en mense en diere loop gereeld oor die pad.

Een dag is beslis nie genoeg om die prag van Koffiebaai behoorlik te ervaar nie. Bly hiér vir ’n paar dae sodat jy soveel as moontlik kan inneem!

Jy het jou eindstemming bereik: die majestueuse Drakensberge


Sowat 380 kilometer noord van Koffiebaai sal jy die onvergelykbare landskap van die Suidelike Drakensberg binnery. Hiér sal jy om elke hoek en draai deur die uitsigte wat jou omring bekoor word. Die Sani Pass-area bied toergidse wat jou op ’n daguitstappie deur die indrukwekkende Sanipas tot by die grens van Lesotho sal neem. As julle self deur die area wil ry, word ’n 4×4-voertuig vir veiligheid vereis. Dié area spog met ’n paar oulike winkeltjies waar jy allerhande oulike aandenkings kan aankoop. Jy kan ook middagete by die restaurante in die Malutiberge geniet, of die hoogste kroeg in Afrika besoek!

Indien jy nog verder deur natuurskoon bekoor wil word, kan jy vanaf die Sanipas na KwaZulu-Natal se Middellande ry vir nog ’n unieke avontuur! Die Amphitheatre-berge bied uitstekende voetslaangeleenthede.

Die voordeel van ’n roetereis is dat jy kan kies watter paaie jy wil volg en wat jy op jou roete wil verken, en die Kaap-Drakensberg-roete is slegs een van vele wat jy kan aandurf. Suid-Afrika bied soveel prag en natuurskoon, die pad is (letterlik) wyd voor jou oop om jou volgende avontuur aan te pak!

Hooffoto: Bigstock

Spesiale dank aan Rochelle Nel vir al die foto’s en inligting vir dié roetereis!