Wat is beter as ’n fees? ’n Fees in die Karoo, natuurlik! Dié geweste is mos bekend vir sy gasvryheid en lekker mense. Gooi ’n feesprogram en ’n spitbraai daarby en jy het ’n resep vir die lekkerste naweek. 

LekkeSlaap het gaan kyk waar in die Karoo die stof in 2020 gaan spat. So, rol af en kyk, en onthou om jou verblyf vroegtydig te bespreek sodat jy nie net lekker feesvier nie, maar ook lekker slaap.

Hierdie jaar se Karoofeeste

  • GWK Karoo Fees, De Aar, 12 tot 14 Maart
  • Klein-Karoo Nasionale Kunstefees, Oudtshoorn, 23 tot 29 Maart (gekanselleer weens COVID-19)
  • Karoo Kosfees, Cradock, 24 tot 27 April
  • Cockscomb Classic, Steytlerville, 9 Mei
  • Schreiner Karoo Skrywersfees, Cradock , 8 tot 11 Junie
  • Nasionale Kunstefees (Grahamstadfees), Grahamstad, 25 Junie tot 5 Julie
  • Hantam Vleisfees, Calvinia, 28 en 29 Augustus
  • Williston Winterfees, dié fees vind nié vanjaar plaas nie weens die droogte
  • De Rust-Meiringspoort Fees, De Rust, 24 tot 26 September
  • Dankfees, Merweville, 25 tot 27 September
  • Samil Karoo Challenge en basaar, Steytlerville, 3 Oktober
  • Prins Albert Leesfees, Prins Albert, 6 tot 8 November
  • Nieu-Bethesda Liggiefees, Nieu-Bethesda, 31 Desember

GWK Karoofees

De Aar

12 tot 14 Maart

GWK De Aar Fees
Foto: GWK Karoofees Facebookblad

Dié fees in die piepklein dorpie, De Aar, is al vir langer as ’n dekade aan die gang en bied aan feesgangers die kans om plaaslike disse, musiek, dans en sport te ervaar. Dit vind by Hoërskool De Aar plaas en sluit onder andere stalletjies, ’n damesoggend met Amoré Bekker, musiek deur Dirk van der Westhuizen en Early B, kindervermaak, verfbal, ’n sterkmankompetisie en ’n beesloop in.  

Koste: R20 tot R110

Kaartjies beskikbaar by Computicket.

Kontak vir Miné by 053 631 3691 vir meer inligting.

De Aar

_______________________________

Klein-Karoo Nasionale Kunstefees

Oudtshoorn

23 tot 29 Maart

Let asb. dat die KKNK ongelukkig vir 2020 gekanselleer is weens COVID-19.

Klein-Karoo Nasionale Kunstefees Oudtshoorn
Foto: Hans van der Veen, voorsien deur KKNK.

Ervaar die room van Afrikaanse kuns en kultuur in al sy vorme by hierdie immergewilde kunstefees in die Grootvoëlparadys. Dit is ’n móét op elke kunsliefhebber, feeskat, musiekfoendi en teaterganger se kalender en gaan al vanaf 1995 van krag tot krag. Al kyk jy nie eens ’n produksie nie (a-nee-a!) is die gees en stalletjies wat die dorp se strate tydens die fees vul iets om te beleef. 

Koste: Vertonings op die program se pryse verskil.

Kaartjies te koop by Computicket.

Besigtig die program hiér

Oudtshoorn

_______________________________

Karoo Kosfees

Cradock

24 tot 27 April

Karoo Kosfees Karoo Food Festival
Foto: Sarina Engelbrecht, voorsien deur Karoo Kosfees

Aangesien die Karoo vir sy kos en gasvryheidskultuur bekend is, is die Kosfees op Cradock die beste manier om dié streek te leer ken! Kom vier kos en Karoo-kultuur by die gesinsvriendelike fees-venue propvol musiek en stalletjies waar jy plaaslike disse, wyn en bier kan geniet. Daar sal ook kosdemonstrasies en -klasse, plaastoere, geskiedkundige toere, bergfietsuitdagings, pekanneut- en okkerneutpluksessies, tjoepvaart op die Groot-Visrivier en feestelike aandetes by plaaslike restaurante tydens hierdie spesiale naweek wees. 

Koste: Items op die program se pryse verskil, maar begin by R30-toegang vir die kosmarkie.

Sien die program hiér.

Bespreek by karoofoodfestival@gmail.com, skakel 083 257 8601 of besoek die fees se webtuiste vir meer inligting.

Cradock

_______________________________

Cockscomb Classic 

Steytlerville

9 Mei

Cockscomb Classic Steytlerville
Foto: Matty van Rensburg

Dié naweek vol avontuur en inspanning vind vanjaar vir die derde keer op die Bucklands Gasteplaas plaas. Wat destyds as ’n bergfietsnaweek begin het, sluit nou ook roetedraf in sodat deelnemers hul staal in die onderskeie sporte of ’n mengsel van die twee kan toets. Die groot item op die program is steeds die uitdagende Conqueror-bergfietsroete, vanjaar 77 kilometer lank, maar hierdie jaar is daar ook korter roetes en selfs prettige roetes wat die kinders sal geniet. Daar sal ook oorgenoeg waterpunte langs elke roete wees. Maak seker dat jy die Vrydagaand saam braai, Saterdag en Sondag die kosstalletjies besoek en onthou om aan die gelukkig trekking vir ’n splinternuwe bergfiets deel te neem! 

Koste: Tussen R50 en R500 per item.

Kontak vir Hannes Horn by 082 497 2372 of besoek die webtuiste om te registreer en meer inligting te bekom.

Steytlerville

_______________________________

Schreiner Karoo Skrywersfees

Cradock

3 tot 7 Junie

Schreiner Karoo Skrywersfees
Foto: Voorsien

Hierdie jaar se feesprogram sluit oudergewoonte boekbekendstellings, -aanbiedings, -besprekings, -voorlesings, -verkope en -werkswinkels in ─ alles waarvan ’n boekliefhebber en vrydenkende persoon kan droom. Dan praat ons nie eens van die musiek, staproetes en hartlike gasvryheid wat feesgangers so in die middel van die winter in hierdie pragtige Karoodorpie kan verwag nie. 

Koste: Items op die program se pryse verskil.

Besoek die webtuiste of skakel 082 932 8864 vir meer inligting.

_______________________________

Nasionale Kunstefees (Grahamstadfees)

Grahamstad

25 Junie tot 5 Julie

Grahamstadfees Graham's Town Festival National Arts Festival
Foto: Voorsien

Dié fees is nie net ’n belangrike datum op die Karoo se feeskalender nie, maar dit is ook die grootste viering van die kunste op die ganse Afrika-kontinent! As jy ’n kunssinnige streep het, moet jy beslis na hierdie universiteitsdorpie keer. Tydens die weeklange viering van alles wat kuns is, bars Grahamstad behoorlik uit sy nate met visuele kunstenaars, akteurs, musikante en diegene wat ’n waardering vir die heerlike kulturele hutspot het! 

Koste: Items op die program se pryse verskil.

Die program sal binnekort beskikbaar wees. Volg die fees op sosiale media

Grahamstad

_______________________________

Hantam Vleisfees

Calvinia

28 en 29 Augustus

Hantam Vleisfees
Foto: Hantam Vleisfees Facebook

Dit is nie die tiende of selfs die twintigste keer wat Calvinia vir die Vleisfees regstaan nie, maar die 31ste keer! Jy kan dus weet, teen dié tyd het hulle die perfekte resep vir ’n groot makietie! Die hoofdoel van die Vleisfees is om die heerlike, geurige skaapvleis van die streek te bevorder en feesgangers kan gereed maak vir die gebruiklike fietswedren, pretloop, sterkmankompetisie (wat tot bakkietrek insluit), vleis-eetkompetisie, karkasontbeningsdemonstrasie en ’n optog veteraanvoertuie. Kunstenaars sal nader aan die tyd bekendgestel word, so hou die fees se sosiale media dop!

Kaartjies is slegs by die hekke beskikbaar, maar die koste is nog nie bevestig nie.

Kontak vir Lizette by 027 341 8200 of stuur ’n e-pos aan vleisfees@klk.co.za vir meer inligting.

Calvinia

_______________________________

Dankfees

Merweville

25 tot 27 September

Dankfees Merweville
Foto: Voorsien

Kom in dankbaarheid as vreemdeling en vertrek as vriend! Die Dankfees op Merweville word  deur die NG Kerk georganiseer as dankgebaar vir al die seëninge wat dié droogtegeteisterde streek deur die jaar ontvang het en om fondse vir die behoud van die gemeente in te samel. Van boerekos, sop-en-brood-aande, ietsie te koop, snoek- en steak-etes, tot konserte, fietsry, veilings, ’n kerktoringbesigtigingstoer en ’n orreluitvoering ─ dis ’n naweek met groot hart wat jy nie mag misloop nie. 

Koste: Items op die program se pryse verskil.

Kontak vir Esther by ngkerkmerweville@gmail.com vir meer inligting.

Merweville

_______________________________

De Rust-Meiringspoort Fees

De Rust

24 tot 26 September

De Rust-Meiringspoortfees Meiringspoort De Rust
Foto: Adriëtte le Roux

Alhoewel die program vir hierdie jaar se fees nog nie gefinaliseer is nie, beloof dit om hope pret te wees as laasjaar se feesvieringe ’n maatstaf is! Van kuns deur plaaslike kunstenaars, ’n straatmark, uitstappies in die omgewing, ’n langtafelete en sonsaksopies in die pragtige Meiringspoort, is die De Rust-Meiringspoortfees die beste manier om dié bekoorlike Karoodorp te leer ken.

Koste nog nie bevestig nie.

Kaartjies sal by winkels in die dorp en by die toerismekantoor beskikbaar wees.

Besoek die fees se Facebook-blad of skakel die toerismekantoor by 044 241 2109 vir meer inligting.

De Rust

_______________________________

Samil Karoo Challenge en Basaar 

Steytlerville

3 Oktober

samil challenge steytlerville
Foto: Karoo Cycling Challenge Facebook

Met die oorvloed mooi vlaktes en koppies in Steytlerville se geweste is die Samil Karoo Challenge in die lentetyd die beste manier om die mooi van hierdie streek te ervaar. So, kom ry fiets of hardloop saam! Op die feesdag hou die NG en Metodistekerk op die dorp ook ’n groot basaar en is daar hope vir die kleinspan om by die kleinveeskou te doen.

Koste: Nog nie bevestig nie.

Hou gerus die fees se Facebook-blad dop vir meer inligting en om te sien wanneer registrasie open.

Steytlerville

_______________________________

Prins Albert Leesfees

Prins Albert

6 tot 8 November

Prins Albert Leesfees Prince Albert leesfees
Foto: Prins Albert Leesfees Facebook

Die Leesfees het in 2012 saam met Prins Albert se 250ste verjaarsdagviering ontstaan en, omdat dit so lekker was, vind dit sedertdien jaarliks plaas. Kom skuur skouers met skrywers, woon boekpraatjies en -bekendstellings by, besoek die boekwinkel en leer hierdie allermooiste Karoodorpie ’n bietjie beter ken. Hou gerus die fees se Facebook-blad dop ─ daar sal teen April meer inligting wees. 

Kaartjies sal later by die biblioteek en aanlyn te koop wees. 

Kontak die dorpsbiblioteek by 023 541 1014 vir meer inligting.

Prins albert prince albert

_______________________________

Nieu-Bethesda Liggiefees

Nieu-Bethesda

31 Desember

Nieu-Bethesda Festival of Lights liggiefees
Foto: Graaff-Reinet Toerisme

Lui die nuwe jaar in deur deel te wees van ’n lanternparade deur Nieu-Bethesda se strate. Dié toweragtige skouspel vind jaarliks op Oujaarsaand plaas en word deur ’n konsert in die Bethesda Kunssentrum se binnehof voorafgegaan. ’n Raps voor middernag word die lanterns aangesteek en beweeg die parade deur die strate, die township en terug tot by die sentrum waar die aand met ’n gedans en ’n feesmaal afgesluit word. Jy kan ’n lantern by die sentrum koop of ’n dag of twee vroeër na die dorpie kom en jou eie lantern maak. Sodoende kan jy ook jóu lig by hierdie vreugdevolle viering voeg.  

Kostes is nog nie bevestig nie, maar het verlede jaar tussen R90 en R180 beloop. 

Kontak die Bethesda Kunssentrum by 073 028 8887 vir meer inligting of stuur ’n e-pos aan info@bethesdatower.co.za. 

Nieu-Bethesda

_______________________________

Wil jy ons van nog ’n Karoofees vertel? Los dan vir ons ’n boodskap in die kommentaarboksie hieronder. Ons hoor graag van jou!

Hooffoto: Hantam Vleisfees Facebook

Alle ander foto’s: Soos aangedui