Jy het seker al van Kenton-on-Sea aan die Sonskynkus gehoor? Dié deel van die Oos-Kaapse kus strek van Port Elizabeth tot Oos-Londen en word só genoem weens die lang sonskyndae. Buiten sonskyn is daar egter baie meer wat Kenton spesiaal maak ─ sy ligging tussen die Boesmans- en Kariegariviermondings bied legio swem-, bootvaart- en ander watersportgeleenthede. Hoewel Kenton halfpad tussen die Oos-Kaap se twee bekendste stede is, moet jy tog ’n redelike entjie van die hoofpad afwyk om die dorpie te bereik en sodoende bly die plattelandse karakter behoue. Die Boesmans- en Kariegarivier se direkte toegang tot Groot 5-wildreservate maak dié kusdorpie nog meer uitsonderlik. LekkeSlaap vertel jou meer …

Luilekker strande

Tussen die twee riviermondings lê ’n breë sandstrook met drie heerlike swemstrande en groot sandduine wat ideaal is vir sandplankry. Een van die strande, Kariegastrand, het Blouvlag-status met lewensredders wat in die somer seker maak almal swem veilig. Die twee strandmere bied vlak watertjies waarin die kleinspan kan rondplas, maar dis ook lekker vir diegene wat effe katvoet is vir branders.

A post shared by @journeyofeden on

Boonop is daar meer afgesonderde strandjies verder van die gewoel af as jy bereid is om ’n entjie te voet af te lê. Shelly Bay is so 20 minute se stap oor die duine. Aan die bopunt, voordat jy neerdaal tot onder in die beskutte baaitjie, kan jy die uitsig oor Kenton en Boesmansriviermond aanskou!

A post shared by Megan Heine (@megheine) on

Jy kan ook ’n entjie stap na Carriage Rock, Kenton se ikoniese statussimbool, om ’n oulike kiekie of twee te neem.

Wil jy graag tydens jou vakansie in Kenton so na as moontlik aan die see bly? Oorweeg dan The Oyster Box Beach House ─ ’n gastehuis reg langs die Boesmansriviermond. Die uitsig oor die ellelange kuslyn word deur sommige beskou as die beste kus-uitsig in die land! Hou gerus hulle wittebroodsuite in gedagte waar ’n kersligaandete op die privaat balkon vir julle voorgesit kan word.

Wildkyk

Kenton-on-Sea bied die rare geleentheid om ’n wildkykvakansie met ’n strandvakansie te kombineer. Nie net kan jy die Groot 5 vanuit jou eie voertuig in die Kariega- en Sibuya-wildreservate gaan opsoek nie ─ jy kan ook hierdie reservate vanaf Kenton met ’n boot bereik. Verder is daar wildkyk-bootritte wat allerlei pakette vir dag- of oornagbesoekers insluit.

Sibuya Wildreservaat

Sibuya Game Reserve & Lodge is 45 minute per boot vanaf Kenton-on-Sea en bestaan uit drie lodges wat op verskeie plekke langs die Kariegarivier gerangskik is. Dagbesoekers kan tussen ’n standaard-riviervaart, ’n dag-uitstappie, of voldag-uitstappie kies. Laasgenoemde duur sowat sewe tot agt uur: Jy meld in die oggend by Sibuya se ontvangs in Kenton aan, gaan op ’n drie uur lange wildkyk-bootvaart, smul aan ’n heerlike middagete by die kamp, geniet nóg ’n twee uur lange wildrit, en neem dan aan die einde van die dag die boot terug na ontvangs. Drankies is ingesluit!

Kariega Wildreservaat

Jy kan gerus ’n bietjie navraag doen oor Kariega Wildreservaat se dagritte en om hier oor te bly is beslis nie iets wat jy wil mis nie! Hulle lodges bied pragtige uitsigte oor die Katiegariviervallei en verblyf sluit twee wildritte per dag, alle etes, riviervaarte, begeleide wandelinge, visvang-geleentheid en die gebruik van kano’s in.

Kariega Wildreservaat se uiteenlopende blyplekke is op verskillende dele van die reservaat geleë. Dit bestaan uit die Main Lodge se chalets, Ukhozi Lodge se luukse houtsuites, River Lodge met sy fantastiese ligging teen die Boesmansrivier, en The Homestead. By laasgenoemde het ’n familie of groep vriende die hele lodge vir hulself en ’n persoonlike wildgids en sjef is ingesluit!

Kariega Wildreservaat bied selfs safari-aktiwiteite vir die jongspan: Opvoedkundige sessies om van plante, insekte en dierespore te leer, en handwerkklasse om dieremaskers of dierespore wat uit vorms gegiet is, as aandenkings huis toe te neem.

Emlanjeni Privaat Wildreservaat

Die Emlanjeni Privaat Wildreservaat is ’n afdeling van die groter Kariega Wildreservaat, ook aan die oewer van die Boesmansrivier, en sy afgeleë selfsorgverblyf sal beslis jou sak pas. Emlanjeni Lodge het verhewe eenhede wat met houtdekke en paadjies verbind is sodat jy die wild sommer onder jou kan sien wei, en Emlanjeni Cottages bied 2 rustieke kothuise ’n entjie verder van die rivier af.

Alhoewel dit tans droog is, kan die pragtige Ghio-vleiland in Emlanjeni Wildreservaat tydens ’n reënseisoen ’n fees vir die oog wees ─ tot 73 watervoëlspesies, soos flaminke, is al hier gewaar. Jy kan met jou eie voertuig hier rondry om die wild te besigtig en aan die einde van jou dag van avontuur die helder sterrehemel bestudeer. En as jy nie kans sien om die grondpad na Emlanjeni aan te durf nie, kan jy dit ook met ’n boot bereik.

Voetslaan

Kenton-on-Sea bied stapgeleenhede vir almal ─ maak nie saak hoe onfiks jy is nie. Wat jy heel eerste moet doen is om die drie strande vanaf Boesmansriviermond tot by Kariegariviermond oor te steek. Sodoende maak jy Homewood’s Restaurant jou eindbestemming sodat jy met ’n bier in die hand ’n terugblik kan kry op die afstand wat jy sopas afgelê het.

As jy kans sien vir ’n paar uur se stap, kan jy die skilderagtige kusroete suidwaarts aflê wat jou oor die Boesmansrivier al die pad na Dias-kruis by Kwaaihoek sal lei. Hou net die laagwater dop! Langs die pad, afhangend van die duinverskuiwings, kan jy dalk die Volo-skeepswrak teëkom. Nadat dié Noorweegse skip in 1896 daar op die rotse geloop het, is dele van die wrak gebruik om huise in die omgewing te bou.

A post shared by Peta Edwards (@heartypeta) on

Dias-kruis is ’n huldeblyk aan Bartolomeus Dias ─ ’n skeepsvaarder wat in 1488, na hy weens storms die pad byster geraak het, die Suidelike Afrikaanse kuslyn per toeval ontdek het. Tydens sy terugtog vanaf Afrika se Ooskus het hy drie kruise opgerig waarvan die eerste die een by Kwaaihoek is. Die kruis wat vandag daar staan is net ’n replika en die oorspronklike oorblyfsels is tans by die Universiteit van Witwatersrand. Tog verteenwoordig hierdie replika moontlik die heel eerste Europese besoek aan die Suidelike Afrikaanse kus. Maar selfs al is jy nie so geïnteresseerd in geskiedenis nie, is die uitstappie na Dias-kruis steeds die moeite werd omdat daar ’n dek met ’n pragtige uitsig aan weerskante oor Boesmansrivier en Boknesstrand is.

Perdry

Beach Comber Horse Trails gee jou die kans om een van ons land se mees ongerepte kusstreke te perd te verken. Jy hoef nie uitgesluit te voel as jy nie veel van perdry af weet nie. Die geduldige, ervare gidse neem jou graag op korter strandritte as jy ’n beginner is. Daar is ook ’n agt dae lange perdrytoer waartydens jy oor strande gallop, riviere met laagwater oorsteek, en kan wildkyk.

A post shared by Demi (@xdeeems) on

Rivier-avontuur

Kenton se twee riviere bied bootvaart-geleenthede soos min. As jy nie soos die plaaslike inwoners jou eie boot het nie, gaan klop ’n bietjie aan by Kenton se toerismekantoor om uit te vind oor bote wat jy kan huur (mits jy ’n skipperlisensie het) of bootvaarte wat vir toeriste gebied word. Ander gewilde rivierdoendinge hier sluit waterski, kano- en kajakvaart in. Seisoentyd sal die verkeer op die rivier dalk druk wees, maar buite seisoen het jy moontlik die hele rivier vir jouself.

Voëlkyk

Teen dié tyd het jy seker al afgelei dat Kenton-on-Sea ’n bobaas-voëlkykbestemming is. Kenton se water-ekosisteme, waar die see en rivier ontmoet, is ’n teelaarde vir vissies en goggatjies en lok dus allerlei voëls wat kom vreet en baljaar. Dit sluit waadvoëls, seevoëls, visvangers, bosvoëls en roofvoëls in. Spesies soos die swarttobie, Knysnaloerie, kroonarend, koningvisvanger, reier en omtrent nege uilspesies is dikwels in Kenton se reservate te sien.

A post shared by Inben Naidoo (@inben_naidoo) on

Die wildreservate, riviere, riviermondings en moerasse lok so baie voëls dat Kenton een van die top-bestemmings is vir deelnemers aan Birding Big Day, ’n kompetisie wat jaarliks op die laaste Saterdag in November gehou word. Jy kan deelneem ongeag waar in die land jy is. Al wat jy hoef te doen is om binne 24 uur te kyk hoeveel voëlspesies jy kan gewaar en identifiseer en dit op ’n app in te voer. Hou gerus birdlife.org.za dop om op hoogte te bly van die volgende Big Birding-geleentheid.

Eetplekke

Al is Kenton lekker afgeleë en ongerep met ’n kleindorpse-atmosfeer, is daar geen tekort aan eet-, drink- en kuierplekke nie. Hieronder is net ’n paar:

Homewood’s Restaurant and Pizzeria

Homewood’s Restaurant is reg langs die Kariegariviermond op die strand. Hier kan jy die innerlike kom versterk met ’n koue bier en aan houtoond-pizzas en seekosdisse smul terwyl jy die uitsig bewonder. In seisoentyd kan jy selfs hier die walvisse dophou! Homewoods se direkte toegang tot die strand is ideaal vir ouers met woelwaters.

Stanley’s Restaurant

Stanley’s se asemrowende uitsig oor die kronkelende Kariegarivier is iets wat jou nog lank sal bybly. Skemer is ’n lekker tyd om hier in te loer sodat jy die sonsondergang met ’n skemerkelkie kan begroet en dan sommer nog tot 23:00 kan kuier. Op Sondae word ’n heerlike Sondagmiddagmaal voorgesit. Bespreek net vooraf, want dit kan nogal besig raak in die spitsseisoen.

A post shared by Kelly (@ca2nyc) on

Sandbar Floating Restaurant

Dis nie aldag dat jy die kans kry om by ’n restaurant en kroeg aan te doen wat permanent op ’n rivier vasgemeer is nie. As daar nie ’n lewendige vertoning is om jou te vermaak nie, kan jy jou altyd verkyk aan die voëltjies se manewales – iets waarvan besoekers gereeld getuig.

A post shared by Leon Bosman (@itsmeleeds) on

Voila

Dis wonderlik om by só ’n skilderagtige toevlugsoord ook by ’n kunstige koffiewinkeltjie gesellig te kan verkeer! Kom geniet ’n lekker ontbyt en cappuccino by Voila waar jy kan rondsnuffel vir geskenkies, meubels, klere en kunswerk. Jy kan ook die vars seebriesie saam met jou koffie in hulle feetjietuin geniet en sodoende kennis maak met die groepie wilde katte wat deur die eienaars aangeneem is. ’n Persentasie van die restaurantfootjies word aangewend om dié wollerige kinders te steriliseer en na hulle om te sien.

The House Kitchen

Meeste mense is dit eens dat The House Kitchen die prima-koffiebestemming in Kenton is ─ nie net omdat die koffie heerlik is nie, maar ook weens sy uitsig oor die Kariegarivier en see. Dié eetplek vorm deel van die elegante B&B, The House Quarters, met ryklike suites vir elke moontlike smaak en gier. Dit sluit ’n dakwoonstel, herehuis-suite, meenthuis en strandsuite in, asook drie suites wat spesiaal voorsiening maak vir sakereisigers. Buiten die luukse verblyf en fynproewersdisse bied die instansie selfs ’n spa!

Daar is sommer nog baie ander fantastiese blyplekke in Kenton-on-Sea. Kliek hier om nóú ’n gesinsvakansie of romantiese wegbreek te begin beplan:

Gastehuis | B&B | Selfsorg | Lodge

Van wildkyk tot waterpret ─ Kenton-on-Sea bied voorwaar iets vir ’n ieder en ’n elk. So, wanneer julle volgende keer nie tussen ’n bos-, strand- of riviervakansie kan kies nie, is dié Oos-Kaapse dorpie die ideale bestemming!

Hooffoto: The Stables (LekkeSlaap.co.za)