“So ry die trein, so ry die trein, die Kimberley se trein.” – Carike Keuzenkamp

Kimberley is soveel meer as net ’n groot gat … Dié stad, wat ook as die Diamantstad bekend staan, is die hoofstad van die Noord-Kaap en spog met ’n roemryke verlede wat terugdateer tot 1871. Kimberley was nie net die tuiste van Suid-Afrika se eerste vliegskool en eerste aandelebeurs nie, dit was ook die heel eerste stad in die suidelike halfrond met elektriese straatligte.

Kimberley se bekoring is histories van aard en deesdae bied die stad talle doendinge en besienswaardighede om die vervloë dae weer behoorlik in die lewe te roep. Ons het 10 besienswaardighede gaan uitsoek en aangesien jy ten minste ’n naweek nodig het om alles te beleef wat dié stad bied, wys ons jou ook ’n paar lekke slaapplekke. So, kom delf saam met ons in Kimberley se verlede, wandel deur die strate in die ou delwers se voetspore en ontdek ’n paar van die blinkste skatte in ons land!

Die Groot Gat is natuurlik boaan ons lys en jy moet dit beslis nie misloop nie! Dié beroemde gat het sy bestaan te danke aan ’n 15-jarige seun, Erasmus Jacobs, wat in 1866 ’n blink klippie aan die oewer van die Oranjerivier naby Hopetown opgetel het. Dié klippie het toe op ’n manier in die regte hande beland en daar is vasgestel dat dit ’n 23,25 karaat-diamant is wat vandag as die Eureka-diamant bekend staan. ’n Paar jaar later is ’n 83,5 karaat-diamant in Zandefontein ontdek en die ganse land was in vervoering. Skielik het al wat leef en beef na hierdie gebied gestroom en die grond begin opgrawe op soek na verborge edelstene. Toe die opgrawings uiteindelik in Augustus 1914 gestaak is, is Moeder Aarde van 2 722 kilogram se diamante beroof en is ’n 214 meter diep gat agtergelaat wat nou as die Groot Gat bekendstaan. Dié gat is die grootste mensgemaakte gat ter wêreld en het ’n oppervlak van 17 hektaar en ’n omtrek van 1,6 kilometer. Dit vorm deel van die Kimberley-mynmuseum wat die verhaal van Suid-Afrika se diamantstormloop vertel.

’n Besoek aan die Groot Gat bied jou die geleentheid om jou lyf delwer te hou. Die delwerservaring sluit ook ’n kort toer deur ’n paar historiese geboue van die ou myndorpie en ’n kykie in die diamantkluis in. Verder is daar ’n restaurant, verblyf en ’n paar winkels in die omgewing wat ’n besoek aan die Groot Gat definitief die moeite werd maak!

5

As jy daarvan hou om rustig in ’n tuin te sit met die tjirp van voëltjies in jou ore, is die Oppenheimer-tuine nét die plek vir jou! Dié tuine is ook die tuiste van die Delwersfontein wat ter ere van alle diamantdelwers opgerig is. Dit is ’n uitbeelding van vyf lewensgrootte delwers wat ’n diamantsif omhoog hou. Die tuine bevat ook ’n borsbeeld van heer Ernest Oppenheimer en die Malay Camp-gedenkteken.

Kimberley se verlede is egter nie net vol blink klippies nie … Die Diamantstad is swaar beleër tydens die Anglo-Boereoorlog, en baie inwoners het gesterf in hul poging om die stad te beskerm. Cecil John Rhodes, een van die land se eerste diamantmagnate, het aan heer Herbert Baker opdrag gegee om ’n gedenkteken ter ere van die stad se helde op te rig. In 1904 is ’n sandsteenmonument met ’n lang Cecil-kanon op die hoogste punt in Kimberley opgerig. Dit staan bekend as die Honoured Dead-gedenkteken en is werklik iets vir jonk en oud om te aanskou.

Toe ons land se diamantkoors op sy hoogste geloop het, moes die ambisieuse fortuinsoekers op ’n manier by Kimberley uitkom. ’n Trem- en spoorlyn is toe in 1897 aangelê en vandag, 129 jaar later, is die bruin-oranje trem steeds daar! Die oorspronklike houtsitplekke en die stuurwiele is steeds in plek en dié treintjie bied deesdae 20 minuut-lange ritte om die Groot Gat. ’n Trem-rit is die beste manier om Kimberley se verlede én hede te beleef, en is boonop hope pret vir die hele gesin!

Die Groot Gat  

As die pad na Kimberley ’n bietjie lank was en jy ’n lafenis vir die keel soek, moet jy beslis ’n draai maak by The Star! Dié kroeg is een van die oudste kroeë in Suid-Afrika en is naby die Kimberley-mynmuseum. Dit is in die vroeë 1870’s van hout en yster gebou en het sy eerste dranklisensie in 1873 gekry. Die trem stop op versoek reg voor die kroeg vir diegene wat die plekkie van nader wil beskou. The Star is ook in 1990 tot nasionale monument verklaar en besoekers kan definitief ’n paar interessante staaltjies uit die ou dae hier te hore kom.

2

Kamfersdam is ongeveer ses kilometer buite Kimberley en is eintlik ’n vlei wat omring word deur Kalahari-grasvlakte, grasveld en Nama-Karoo-plantegroei. Dié vlei is ook die tuiste van die grootste kleinflamink-broeiplek in Suid-Afrika. Ongeveer 80 000 kleinflaminke het al hier uitgebroei ─ dit is meer as 50% van Suider-Afrika se hele flamink-bevolking. Dié pragtige pienk voëls bied voorwaar ’n skouspelagtige ervaring vir die ywerige voëlkyker, en buiten die flaminke is daar nog meer as 200 ander voëlspesies hier te siene. So, pak ’n piekniekmandjie en onthou jou kamera, want ’n uitstappie na Kamfersdam beloof iets besonders.

3

As jy sweer jy het geen bang haar op jou kop nie, daag ons jou uit om dié avontuur te beproef. Die legende lui dat spoke snags deur Kimberley se strate swerf. Die Spooktoer begin by die Honoured Dead-gedenkteken en neem jou na die mees spookagtige hoekies van die stad, soos die Kimberley-klub (die spookhotel) en die Magersfontein Anglo-Boereoorlog-slagveld. Die McGregor-museum het tydens dié oorlog as hospitaal vir die gewonde soldate gedien en daar word beweer dat ’n mens vandag steeds die geween en gekners van tande kan hoor! So, hoeveel murg het jy in jou pype?

11

’n Heuweltjie net buite Kimberley spog met meer as 400 rotstekeninge deur die Xun- en Khoi-San-stamme en is blykbaar ouer as 1 000 jaar. Die Wildebeestkuil-rotskunssentrum bied ’n 800 meter lange reis na die verlede en ’n kykie op die ongelooflike kreatiewe gees van die Khoi-San-gemeenskap. Daar is ook ’n winkeltjie waar Khoi-San-kunswerke en -kunsvlyt te koop is ─ beslis ’n lekke plekkie om ’n Kimberley-aandenking aan te skaf!

6

Kimberley se oorspronklike stadsaal het in 1898 met amptelike dokumente en al afgebrand. ’n Nuwe stadsaal is in 1899 net voor die begin van die Anglo-Boereoorlog gebou en is ewe swierig met ’n bal geopen. Die Neoklassieke-styl stadsaal was ook ’n toevlugsoord tydens die oorlog en het inwoners daagliks van vleis voorsien. Dié gebou het egter byna self nie die toets van tyd geslaag nie en heldhaftige pogings is in die 1970’s aangewend om die gebou tot sy eertydse glorie te herstel. Kimberley se stadsaal is daarna in 1976 tot ’n nasionale gedenkwaardigheid verklaar. Vandag is dié indrukwekkende wit en room gebou ’n gewilde toeristebestemming en spog met burgemeestertogas uit die laat 1800’s, ou foto’s en ander interessanthede wat in die voorportaal te sien is. As jy dus ’n argitektuurliefhebber is of sommer net van mooi oudhede hou, besoek Kimberley se stadsaal gerus!

9

As jy moeg word vir die lewe in die stad en die geskiedenis wat om elke hoek en draai vir jou loer, kies koers na die vreedsame Mokala Nasionale Park, slegs 80 kilometer suidwes van Kimberley. Dié park bestaan uit grasvlakte- en Nama-Karoo en bied ook ’n tuiste vir verskeie wildsoorte, soos buffels, swart- en witrenosters en basterhartbeeste. Mokala Nasionale Park is naby genoeg aan Kimberley vir ’n daguitstappie en is die ideale plek om jou naweekwegbreek of vakansie af te sluit.

10

Kimberley is een van LekkeSlaap se gewildste bestemmings en bied sommer baie wegbreekplekke. Ons het ’n paar gaan uitsoek:

13

Bell-Lu Guest House

12

14

Die wintervakansie is om die draai en ons kan beslis ’n besoek aan Kimberley aanraai! Wie weet ─  dalk ontdek jy self ’n paar versteekte skatte in ons land se Diamantstad!

Hooffoto: Transnet Heritage Class 6J 645 on Kimberley De Aar Line, M Gomersall (Flickr)