Glo jy die maan is van kaas gemaak? Of dat kaas alles beter laat smaak? Is parmesaan jou pasmaat en brie jou beste pêl? Skuif dan ’n bietjie nader sodat ons jou ’n storie kan vertel …

Min dinge is so lekker soos kaas, hetsy dit deel van ’n maaltyd is of op ’n deftige kaasbord voorgesit word. Suid-Afrika se kaasmark is besig om vinnig uit te brei en jy kan op menige plaas heerlike produkte saam met allerlei kase proe. LekkeSlaap het by Suid-Afrika se top-kaasprodusente gaan kuier om meer oor hulle unieke produkte te leer en vertel jou graag waar jy kan gaan aanklop om smaaklike kaas te proe!

 

Healey’s Slow Matured Cheddar, Somerset-Wes

Ons het op ’n sonnige wintersdag by die nuwe Healey’s Deli op die Waterkloof Wynlandgoed in Somerset-Wes gaan kuier om meer oor hulle kaasmaakproses uit te vind. Jy kan ook deur die deli se groot vensters sien hoe hierdie interessante proses in hulle werksarea afspeel, terwyl jy heerlike, stadig verouderde kaas proe én die uitsig geniet!

Healey’s Slow Matured Cheddar het ’n gaping in die kaasmark raakgesien en besluit om ’n cheddar volgens die tradisionele Engelse manier te produseer. Die vars koeimelk word deur ’n melkplaas in die omgewing voorsien en die res van die kaasmaakproses vind in dié gebou plaas. Die kaas verouder tussen 12 en 24 maande in die koelkas om ’n sterk eindproduk op te lewer. Dié eindproduk is hulle gewilde verouderde cheddar wat ’n lekker nasmaak in jou mond laat en saam met ander kaassoorte geniet kan word.

Die deli verkoop ook ander plaaslike produkte en bedien ligte maaltye. Boonop kan jy aan ’n glas van Waterkloof se bekroonde wyn teug of ’n Mad Giant-bier geniet. Dis die ideale plek vir ’n gesinsuitstappie of kuier saam met vriende — ouers kan op die stoep sit en ’n ogie oor die jongspan hou wat lekker op die grasgroen grasperk rondhardloop.

Besigheidsure:
Maandag tot Donderdag: 10:00 tot 17:00
Vrydag en Saterdag: 10:00 tot 17:30
Sondag: 10:00 tot 16:00

Kuier ’n bietjie langer in Somerset-Wes.


Langbaken Karoo Cheese, Williston

Francy Schoeman van Langbaken Karoo Cheese het as ’n stokperdjie begin kaas maak toe sy en haar man, Peter, in Greyton gewoon het. Sy het camembert en feta gemaak en by die plaaslike boeremark verkoop. Die besigheid het vinnig uitgebrei en sy en Peter het besluit om saam met hulle tien Jersey-koeie na die pragtige Karoo te trek. Hulle het in ’n buitegebou begin kaasmaak en het vandag ’n suksesvolle besigheid in Williston in die Noord-Kaap — die geharde Karoo keer hulle nie om heerlike kaas te maak nie.

Hulle bekroonde handgemaakte kaasprodukte sluit ’n bloukaas, verouderde harde kaas, Emmental-kaas, camembert en verskeie ander kaassoorte in. Karoo Ash is camembert wat met as bedek is ─ ja, jy het reg gelees, as! Dié unieke produkte word by talle deli’s en markte in die Kaap en Williston verkoop, maar gaan maak sommer by Peter en Francy ’n draai om kaas te proe wanneer jy in die omgewing is.

Bespreek vooraf ’n kaasproesessie teen R80 per persoon.

Kontakbesonderhede:
langbaken@williston.za.net of 053 391 4161/082 550 4981

Kuier ’n bietjie langer in Williston.


Dalewood Fromage, Simondium

Dalewood Fromage is nog ’n skat in die Kaapse Wynlande! Dié familiebesigheid produseer ’n verskeidenheid gehalte-kaassoorte van die melk van Jersey-koeie wat op die plaas se groen grasvelde wei. Dalewood se versameling handgemaakte kaas sluit verskillende soorte brie, camembert en bloukaas in wat deur die omliggende wingerd geïnspireer word. Dis in enige vorm of grootte by die kaaswinkel op die plaas beskikbaar — ideaal vir ’n kaastoring by ’n troue of funksie.

Jy kan gerus by die Dalewood’s Cheesery Shop gaan aanklop om hulle kaas te proe. Baie van die kaassoorte is net op dié plaas beskikbaar. Smul aan ’n kaasbord met drie soorte kaas, koekies en ’n potjie konfyt. ’n Verskeidenheid kaastoebehore, soos kaasmesse, fondue-stelle, kaasborde, konfyte en vars plaaseiers is ook beskikbaar.

Besigheidsure:
Weeksdag: 09:00 tot 16:00
Saterdag: 10:00 tot 15:00

Kuier ’n bietjie langer in Simondium.


Gay’s Guernsey Dairy, Prins Albert

Gay’s Guernsey Dairy is bekend vir hulle wye reeks handgemaakte kaas en hulle suiwel- en vleisprodukte is nou al ’n instelling onder plaaslike inwoners en besoekers. Dié familieplaas gebruik Guernsey-koeie se vars volroommelk om hulle romerige kaas te produseer. Dié koeie wei sommer so om die kaaswinkel rond!

Gay van Hasselt het in 1990 dié suksesvolle besigheid begin toe sy drie koeie begin melk en besef het dat daar ’n aanvraag na vars melk in die gemeenskap is. Sy het aan ’n paar kliënte begin melk verkoop en jogurt van die orige melk gemaak. Ten spyte van die verkope was daar steeds oorskotmelk en Gay het mettertyd begin kaas maak. Vandag is hulle heerlike kaasprodukte oraloor bekend en dit word by die meeste restaurante op die dorp saam met heerlike maaltye voorgesit.

Die ou plaasgebou wat ook as die kaaswinkel en proelokaal dien, is gevul met groot blokke kaas en yskaste vol produkte, soos feta, mozarella, cheddar, gouda, parmesaan en gruyere. Neem sommer ’n koelsak saam, want jy gaan beslis nie hiér met leë hande wegloop nie.

Besigheidsure:
Weeksdae: 07:00 tot 09:00, 10:00 tot 12:00 en 16:00 tot 17:30
Naweke: 07:00 tot 10:00 en 16:00 tot 17:30

Kuier ’n bietjie langer in Prins Albert.


Indezi River Creamery, Balgowan

Dié familiebesigheid maak al sedert 2004 in KwaZulu-Natal se Middellande kaas. Indezi spesialiseer in handgemaakte koei- en bokmelkkaas met tipiese Suid-Afrikaanse name, asook bokmelkprodukte, soos jogurt, aangesuurde botter en heelmelk. Die kaasmakers kies self die produkte se unieke name en elke naam het ’n spesiale betekenis.

Indezi River Creamery se koeimelkkaas het elkeen ’n unieke tekstuur en bevat geurmiddels soos karwysaad, swartpeper en kruie. Hulle top-verkopers is die gewilde Kwaito, ’n romerige gouda, en Amabutho, ’n semi-harde Tilsit-kaas. Barbara Robertshaw is die hoofkaasmaker en sy het die kuns van bokmelkkaas bemeester en bevorder graag hierdie kaassoort as gevolg van die gesondheidsvoordele. Dis meer geskik vir volwassenes en veral kinders wat sukkel om melkprodukte te verteer of ’n melkintoleransie het. Indezi was een van die eerste besighede wat bokmelkkaas in Suid-Afrika verkoop het en hulle is alewig besig om hulle produkte uit te brei. Indezi is baie opgewonde oor hulle nuutste produk, kefir, ’n moderne gegiste melkdrankie met baie gesondheidsvoordele.

Jy kan jou hande op hierdie gesogte produkte en ander items by The Dairy Shoppe langs die N3 kry. Dis die ideale stopplek as jy tussen Gauteng en Durban reis en jy hoef nie net kaas te proe nie, jy kan ook ’n heerlike melkskommel en wafel geniet!

Besigheidsure:
Maandag tot Vrydag en openbare vakansiedae: 09:00 tot 16:30

Kuier ’n bietjie langer in Balgowan.


Kasselshoop, Stilbaai

Kasselshoop het met baie passie en liefde in ’n ou plaasskooltjie op Klein Soebattersvlakte met die hand begin kaas maak. Hulle het vanaf 1980 ’n geregistreerde Jersey-kudde en gebruik dié romerige melk om hulle heerlike kaas te produseer.

Hulle het ’n verskeidenheid gouda- en cheddar-produkte met verskillende geurmiddels, soos olywe, gepiekelde uie, paprika, peper en rissies, en ’n gerookte gouda. Liesel Kasselman vertel dat die wit cheddar met paprika, naamlik Pepper Thom, haar gunsteling-produk is omdat dit ’n lekker nasmaak laat en heerlik by basiliekruid-pesto pas.

Jy kan aan hierdie produkte smul by Old School@Kasselshoop op Kasselshoop-plaas. Hulle bied smaaklike kaasproesessies met port, wyn, tee en boetiekbier. Daar is ook peuselhappies en kaasborde.

Besigheidsure:
Maandag tot Vrydag: 10:00 tot 15:00

A post shared by kasselshoop (@kasselshoopcheese) on

A Farm Story Country House

As jy nog ’n bietjie langer op die plaas wil kuier, kan jy by A Farm Story Country House, sowat 1,5 kilometer vanaf die kaasfabriek, gaan bly. Dié historiese plaashuis is ’n gastehuis met drie pragtige kamers waar jy kan rus as jy al die doendinge op die plaas kafgedraf het. Jy kan ook ’n begeleide toer deur die kaasfabriek aanpak en na hartelus kaasproe!

A Farm Story Country House (LekkeSlaap)


Klein River Cheese, Stanford

Klein River Cheese is ’n vooraanstaande kaasprodusent wat ook begin het om melk en room te verkoop. Hulle het te veel melk gehad en besluit om die kaasmaakkuns baas te raak. Dié kaasprodukte het baie goed verkoop en hulle versameling het oor die afgelope 25 jaar heelwat uitgebrei.

Klein River se bekroonde kaasprodukte bestaan uit vier style en elf kaassoorte wat deur die plaasomgewing geïnspireer word en vir verskillende tydperke verouder word. Hulle gee baie aandag aan klein detail wat bydra tot die kaas se gehalte — egte kaas wat stadig voorberei word.

Bring jou gesin om ’n heerlike piekniek op die Klein River-plaas te geniet en proe sommer tegelykertyd hulle kaas. Jy kan selfs nader staan vir ’n verduideliking oor die kaasmaakproses. Klein River bied ’n warm kaasbord in die winter met hulle gewilde Gruberg en Raclette, tamatiesop en ander produkte, sowel as ’n koue kaasbord in die somer met plaaslike seisoenale produkte en vyf kaassoorte.

Besigheidsure:
Maandag tot Saterdag: 09:00 tot 16:00

Kuier ’n bietjie langer in Stanford.


Ons weet jou maag grom nou behoorlik vir ’n heerlike stukkie kaas! So, moenie langer wag om by een van dié proelokale uit te kom nie …

Hooffoto: Bigstock