Voel jy soms vasgevang deur tegnologie? Die wêreldwye web slaap nooit nie. Facebook, Whatsapp, en Instagram is altyd wakker, en voor jy jou kom kry, is jy toegespin in ’n FOMO-kokon ─ al laai jy self niks op nie, maak die wete dat jy dalk iets gaan mis jou senuweeagtig. Wat van ’n wegbreek waar daar nié WiFi is nie? Waar jy net in die oomblik kan leef en weer opnuut versoen kan word met Moeder Aarde.

LekkeSlaap weet van 10 hemelse plekke tussen niks en nêrens wat moeite doen om hul koolstofvoetspore so klein as moontlik te hou. Dié bestemmings bied nie net ontvlugting van jou Facebook-vriendin se honderdste vakansiefoto nie, hier is dit net jy en die natuur. En al verpligting wat jy het, is om na die horison te tuur.

Wolwekrans Eco Lodge, Mpumalanga

Wolwekrans lok besoekers met sy eindelose uitsig oor die Laeveldvallei en die Schoemansberge. Dié hemelse blyplek is net ’n bietjie meer as 2 uur se ry van Pretoria af.

Omgewingsvriendelik: Wolwekrans maak uitsluitlik van sonkrag en gas gebruik.

Doendinge: Wildkyk, voëlkyk, voetslaan.

Maak gerus ’n draai by: Die Makobulaan Natuurreservaat.

Platbos Log Cabins, Wes-Kaap

Platbos se houthuisies staan op die rand van ’n spieëlgladde dam in die Slanghoekvallei. Al wat tussen Kapenaars en dié rusplek staan, is 1 uur en 20 minute agter die stuur.

Omgewingsvriendelik: Gas en sonkrag voorsien die lig en die hitte.

Doendinge: Kunsvlieghengel, voëlkyk, voetslaan, swem, bergfietsry.

Maak gerus ’n draai by: Die Fonteintjiesberg Natuurreservaat.

Karoo Eco Reserve, Oos-Kaap

Karoo Eco Reserve lê hoog in die Sneeuberge. Stadsjapies wat wil wegkom van die geraas en besoedeling, kom klop gereeld hier aan. Dié stil toevlugsoord is net 44 km vanaf Graaff-Reinet.

Omgewingsvriendelik: Slegs sonkrag en gas, en die water kom direk uit die berg.

Doendinge: Voetslaan, wildkyk, bergfietsry.

Maak gerus ’n draai by: Die Kamdeboo Nasionale Park.

Rametsi Eco Game Farm, Noordwes

 

Vind rus en vrede langs die Lyndleyspoortdam op Rametsi Eco Game Farm. Dié wildplaas is minder as 3 uur se ry van Johannesburg af.

Omgewingsvriendelik: Geen gif word op die plaas gebruik nie en badkamers se water besproei die boorde.

Doendinge: Vlugbal, hengel, bergfietsry, voetslaan, voëlkyk, 4×4.

Maak gerus ’n draai by: Die Marico-Bosveld Natuurreservaat en Pilanesberg Natuurreservaat.

Eco Eden Bush Lodge, Mpumalanga

Eco Eden is naby die Krokodilriver Bewarea. Koedoes, bosbokke, rooiduikers, en ’n magdom voëlspesies is by hierdie lodge te vinde. Eco Eden is net bietjie meer as 3 uur se ry vanaf Pretoria.

Omgewingsvriendelik: Die bewarea bied beskerming vir inheemse fauna en flora.

Doendinge: Voetslaan, voëlkyk, bergfietsry.

Maak gerus ’n draai by: Die Krugerwildtuin en die Panorama-roete.

Hitgeheim Country Lodge & Eco-Reserve, Oos-Kaap

Hitgeheim Country Lodge troon uit bo die Sondagsriviervallei minder as ‘n uur se ry vanaf Port Elizabeth. Stadsmense stroom hierheen om te luister na die stilte en die visarend se kenmerkende roep.

Omgewingsvriendelik: Inheemse fauna en flora word bewaar in die reservaat.

Doendinge: Voetslaan, voëlkyk.

Maak gerus ’n draai by: Die Addo Olifantpark.

De Kombuys, Wes-Kaap

De Kombuys lê in die Kangovallei naby C.J. Langenhoven se tuisdorp. Die kothuise se uitsigte is liggroen in die voorjaar en wynrooi in die najaar. Dié omgewingsvriendelike plaas is net ’n bietjie meer as 2 uur vanaf Beaufort-Wes. Dis ongetwyfeld ’n ompad om te oorweeg op pad Gauteng of Kaap toe!

Omgewingsvriendelik: De Kombuys is ’n organiese plaas.

Doendinge: Voetslaan, bergfietsry, plaasaktiwiteite.

Maak gerus ’n draai by: Oudtshoorn, die Kangogrotte en die Groot Swartberg Natuurreservaat.

Sunplace Lodge, Noordwes

Sunplace Lodge skuil in die kloof tussen die Magalies- en die Witwatersberge minder as 40 minute vanaf Pretoria. By dié sonderlinge lodge kan ’n mens sien hoe Paul Mikula sonkrag gebruik om yster te smee.

Omgewingsvriendelik: Slegs reënwater en sonkrag word hier gebruik.

Doendinge: Voetslaan, bergfietsry, yster smee-demonstrasie.

Maak gerus ’n draai by: Die Hartbeespoortdam en -sweefspoor.

Platbos Forest, Wes-Kaap

Platbos Forest Reservaat bied rus en vrede in ’n lowerryke woud. Al wat tussen Kapenaars en dié 800 jaar oue wilde-olyfboom staan, is bietjie meer as 2 uur agter die stuur.

Omgewingsvriendelik: Sonkrag, gas, kompostoilet, en ’n donkie.

Doendinge: Voetslaan, bergfietsry, en wynproe in die Uilkraalvallei.

Maak gerus ’n draai by: Dyer Eiland en kyk vir die walvisse.

Ontvlug vir ’n naweek na die platteland, ver van die stad en die Internet se ewigdurende gedruis. Maak ’n afspraak met Moeder Aarde!

Al die foto’s is verkry van LekkeSlaap-instansieprofiele; Hooffoto: Platbos Log Cabins